banner human brain graphic of emotional ecosystem
Hoe jou gedagtes jou brein, selle en gene verander - © Jorgan Harris

Neuroplastisiteit

Om mee te begin  

Jou liggaam is elke oomlik van jou lewe besig om te reageer.  Jou liggaam verander letterlik in direkte reaksie op die gedagtes wat deur jou kop gaan.

Navorsing bewys dat wanneer jy aan iets dink, jou brein outomaties neuro-oordragstowwe (chemiese boodskappers) vrystel om met dele van jou brein asook jou senuweestelsel te kommunikeer.  Jou brein gaan dadelik oor tot aksie, ongeag jou gedagtes. Neuro-oordragstowwe beheer letterlik al die funksies van jou liggaam, van jou hormone regdeur tot by jou spysvertering of selfs gevoelens van geluk, hartseer of spanning.

Studies het ook getoon dat jou gedagtes selfs onder andere jou sig, fiksheid en fisiese krag kan verbeter.  Ons praat van die sogenaamde placebo effek. Die placebo effek beteken dat mense soms so sterk in iets glo dat dit waaraan hulle glo vir hulle ‘n realiteit word.  Daar is al studies gedoen waar mense ‘n suikerpil gegee is, maar vertel is dat dit ‘n anti-depressant is. As gevolg van die kragtige denke, vertroue en geloof wat die proefkonyne gedurende die eksperiment in die suikerpil gehad het, het hul depressie verbeter. Verwagtinge en aangeleerde assosiasies het getoon dat die brein chemies verander en dat selfs mens se chemiese samestelling en denke kan verander, soos om minder moeg te voel, ‘n laer immuun reaksie, verhoogde hormoonvlakke of selfs verminderde angs te ervaar. 

In Lynne McTaggart se artikel: The Intention Experiment: using your thoughts to change your life and the world,  gee sy terugvoer oor ‘n belanghebbende navorsingstudie wat die aard van bewustheid oor ‘n tydperk langer as 30 jaar ondersoek het. Hierdie studie het getoon dat gedagtes enigiets van die eenvoudigste masjiene tot die mees kompekse wesens op aarde kan beïnvloed. Hierdie bewyse suggereer dat menslike gedagtes en intensies inderdaad ‘n fisiese iets is met ‘n merkwaardige krag om ons wêreld te verander.  Elke gedagte wat ons het is tasbare energie met die mag om enigiets te verander.  ‘n Gedagte is nie net ‘n ding nie – ‘n gedagte is daardie iets wat alles kan beïnvloed. ‘n Gedagte het die vermoë om die wêreld in en om ons te verander.

Jou gedagtes vorm jou brein

Elke gedagte van jou veroorsaak ‘n neurochemiese verandering – soms tydelik, soms blywend. Wanneer mense, as ‘n voorbeeld, bewustelik ‘n dankbaarheidslewe lei, is daar ‘n vloed van goeie neuro-oordragstowwe, soos dopamine wat ‘n goeie gevoel sowel as ‘n helderheid in jou brein skep wat heel waarskynlik korreleer met een of meer van jou brein se neurochemiese norepinefrien. Hierdie chemiese stof staan soms ook bekend as noradrenalien wat jou liggaam en brein laat oorgaan tot aksie.

‘n Ander studie het getoon dat wanneer verliefde studente foto’s van hul geliefdes gewys word, hul brein meer aktiwiteit in hul koudaatnukleus getoon het.  Die koudaatnukleus is die beloningsentrum in jou brein wat verliefdes in verliefdheid laat swymel.  Sodra hulle ophou kyk na die foto’s, het hul beloningsentrum weer passief geraak.

Die gedagtes wat deur jou brein vloei, verander letterlik jou brein op ‘n permanente basis.  Dink aan jou brein as ‘n beweging van inligting dwarsdeur jou senuweestelsel.  Daar is die heeltyd elektriese seine wat oral in jou liggaam rondbeweeg.  Dit gebeur alles net onder die oppervlak van jou bewuste.  Met ander woorde, in jou onderbewuste.  Wanneer ‘n gedagte deur jou brein gaan, sneller jou neurone die inligting op so ‘n manier dat die vorm van jou brein fisies verander.

Die besige dele van jou brein vorm nuwe kontakpunte met mekaar en die bestaande sinapse (die verbindings tussen neurone) word sterker en die toenemende sensitiwiteit begin om nuwe reseptore te skep. 

‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Londense taxi bestuurders.  ‘n Studie het getoon dat hoe langer taxi-bestuurders bestuur het, hoe groter het hul hippokampus geword.  Die hippokampus is daardie deel van die brein wat jou visuele-ruimtelike geheue vorm.

Hulle brein het letterlik vergroot om die kognitiewe vereistes van al die deurmekaar strate van Londen die hoof te bied. Hierdie navorsing het ook die eindelose voordele van meditasie uitgelig, naamlik dat dit die grys-materie in jou brein verander om die konnektiwiteit van die verskillende areas in jou brein te versterk. 

Jou gedagtes programmeer jou selle

‘n Gedagte is letterlik ‘n elektro-chemiese gebeurtenis wat in jou senuweeselle plaasvind as ‘n neerstorting van fisiologiese veranderinge.  Die gedeelte hieronder beskryf hoe jou gedagtes jou selle programmeer.  

Daar is derduisende reseptore in elke sel in jou liggaam. Elke reseptor kan direk verbind word tot een peptied of proteïne.  Wanneer ons gevoelens ervaar van woede, hartseer, skuldgevoelens, geluk of senuweeagtigheid, stel elke emosie sy eie vlaag van neuropeptiedes vry. 

Hierdie peptiedes beweeg deur jou liggaam en maak kontak met daardie reseptore wat die struktuur van elke sel in jou liggaam as ‘n geheel verander.  Wat dit meer interessant maak is dat hierdie selle inderwaarheid verdeel. Sodra ‘n sel meer blootgestel word aan ‘n sekere peptiede as aan ander, sal die nuut gevormde sel meer reseptore bevat wat by daardie spesifieke reseptor pas.  Netso sal daardie sel minder reseptore vir peptiedes hê as sy suster- of moedersel.

Dit beteken dat wanneer jy jou selle bombardeer met peptiedes van negatiewe gedagtes, programmeer jy jou selle om meer van daardie negatiewe peptiedes in die toekoms te ontvang of aan te trek. Wat selfs slegter is, is dat jy die aantal reseptore van positiewe peptiedes in daardie sel verminder en sodoende jouself meer neig tot negatiwiteit. Jy kan meer hieroor lees in my artikel oor Sielvolheid op hierdie webtuiste onder Terapie.  In kort kom dit daarop neer dat wat jy jou gedagtes voer, jy meer tot jouself sal aantrek.  Hoe meer jy, as ‘n voorbeeld, fokus op dankbaarheid in die kleinste vorm hoeookal, hoe meer dinge sal jy raaksien en kry om voor dankbaar te wees.

Elke sel in jou liggaam word ongeveer elke twee maande in jou liggaam vervang.  Die goeie nuus is dus dat jy jou pessimistiese selle kan herprogrammeer om meer optimisties te wees binne sestig dae. Deur postiewe denk-praktyke te aanvaar soos sielvolheid en dankbaarheid vir permanente resultate, kan jy letterlik die chemiese samestelling van jou liggaam verander.

Jou gedagtes aktiveer jou gene

Jy praat letterlik met jou gene met elke gedagte wat jy het.  Die vinnig-groeiende veld van epigenetika  bewys dat jy die produk is van dit wat in jou lewe en omgewing gebeur wat weer ‘n verandering teweeg bring in hoe jou gene funksioneer. Gene word inderwaarheid aan- en afgeskakel na gelang jou lewenservarings.  Jou gene en leefstyl vorm inderdaad ‘n terugvoer siklus. Jou lewe verander nie die gene waarmee jy gebore is nie. Wat wél verander is jou genetiese aktiwiteit wat beteken dat honderde proteïne, ensieme en ander chemikalieë jou selle reguleer.

Ons vermoed dat slegs vyf present van ons selmutasies die direkte gevolg van ons gene is. Dit beteken dat 95% van ons genetiese invloede beïnvloed word deur ons ervaring gedurende ons lewe.

Natuurlik is baie van hierdie faktore buite ons beheer, soos ons trauma in kindertyd. Die meerderheid van hierdie kwessies, soos ons eetgewoontes, oefening, streshantering en emosionele toestande is inderdaad binne ons beheer.  Hierdie faktore is die direkte gevolge van ons gedagtes.

Jou biologie bepaal beslis nie jou bestemming nie.  Jy word nie beheer deur jou gene of jou biologiese samestelling nie.  Jou genetiese aktiwiteit word grootliks bepaal deur jou gedagtes, houding en persepsies.  Epigenetika bewys dat jou persepsies en gedagtes inderdaad jou biologie beheer, wat jou in beheer van jouself plaas.  Deur jou gedagtes te verander, kan jy jou eie genetika verander!

Jy het dus die keuse om te bepaal watter insette jou gene ontvang deur jou gedagtes. Hoe meer positief die insette van jou gedagtes, hoe meer positief sal die uitsette in jou gene wees.  Epigenetika beteken dat jou leefstylkeuses direk terug herlei kan word na jou genetiese vlak en dit bewys dat die verstand-liggaam verbinding taslik bewysbaar is. Terselftertyd bewys navorsing in epigenetika ons dat dit belangrik is om mooi na ons sielkundige gesondheid om te sien, aangesien dit ‘n direkte impak op ons fisiese gesondheid en dus ook ons gene het.

Meditasie en Sielvolheid (Minfulness) plaas jou in kontak met die kern van jou liggaam-verstand stelsel, wat op sy beurt jou gedagtes direkte toegang gee tot voordelige genetiese aktiwiteite.  Hierdie aktiwiteite het verder ‘n effek op hoe goed jou selle funksioneer deur jou genetiese aktiwiteite binne jou selle. Losweg beteken dit dat jou gedagtes jou liggaam kan genees. 

Laat jou gedagtes vir jou werk

Jy het soveel mag in jouself, soveel meer as wat jy ooit sou geglo het, om jou fisiese- en verstandelike realiteite te beïnvloed.  Jou gedagtes word ook bepaal deur jou liggaam – selfs tot sover as jou genetiese vlakke.  Hoe meer jy jou gewoontes verander, hoe meer positiewe antwoorde sal jy van jou liggaam terug ontvang. Jy het geen beheer oor wat met jou gebeur het in die verlede nie. Daardie gebeure het reeds jou brein verander wat op sy beurt jou selle verander het.  

Deur egter jou perspektief te verander, kan jou gedrag verander wat sodoende aanleiding kan gee dat jou brein, selle en gene ook verander.  Sodoende het jy beheer oor die verandering van jou lewe, selfs jou fisiese gesondheid. Jy hou die hele uitkoms van jou lewe, hetsy positief of negatief, inderwaarheid in die palm van jou gedagtes.

Scroll to Top