banner translucent man standing on train tracks
 – jy wil nie regtig dood wees nie – jy wil net nie so seerwees nie - © Jorgan Harris

Selfdood heroorweeg

Inleiding

Selfdood is waarskynlik ʼn meer toepaslike term as die term selfmoord. Die term selfmoord dui op ʼn misdaad en vorm ʼn onnodige stigma aan die daad om jouself dood te maak.

Op ‘n ouderdom wanneer hulle alles moet hê om voor te leef, toon statistieke dat baie tieners en jong volwassenes jaarliks hul eie lewe neem en hierdie getal styg daagliks. Om jou eie lewe te neem, is so onnodig en voortydig. Die persoon wat hul eie lewe neem, ontneem nie net hulself van soveel geleenthede nie, maar laat soveel pyn, vrae en stigma agterna.

Om jou eie lewe te neem is inderdaad ‘n daad van beheer. Jy is in beheer van jou lewe en jy kan selfs besluit of jy met jou lewe wil voortgaan of nie.  Jou lewe is letterlik in jou hande.  Jy het inderdaad al die reg om jouself te dood en niemand kan jou keer om dit te doen nie.  Ek sal altyd jou keuse respekteer om jouself van hierdie pyn te bevry, alhoewel ek tog ook sal poog om jou te laat ontdek dat daar altyd keuses is.  Daar is altyd opsies en daar is altyd ‘n uitweg.  Selfdood is dalk net so onnodig en die tydsberekenning daarvan so verkeerd. Iemand wat hul eie lewe neem, ontneem hulself net van soveel geleenthede.

In ʼn poging om hierdie tragiese onnodigheid te voorkom, deel ek hierdie artikel in twee dele op.

  • Eerstens poog ek om die geliefdes van die persoon wat hulself wil dood, in te lig sodat hulle die tekens van ʼn moontlike selfdood vroegtydig kan identifiseer en betyds hulp kan kry. 
  • Tweedens, rig ek ʼn ope brief aan diegene wat voel dat daar geen hoop meer oor is nie, om weer te dink.

Tekens vir moontlike selfdood

Vir die geliefdes van iemand wat moontlik hul eie lewe wil neem, kyk uit vir die volgende tekens en soek dadelik hulp.

Hoe onderskei ons tussen iemand wat aandag soek en iemand wie regtig hul eie lewe wil neem? Die persoon wat selfdood ernstig oorweeg mag enige van die onderstaande waarskuwingstekens toon. Hulle mag:

  • behep wees met die dood, navorsing daaroor doen, het ʼn spesifieke plan vir ʼn selfdood-poging, die middele en vasberadenheid om dit deur te voer;
  • verskeie selfdood-dreigemente, notas of herhaalde stellings oor hul dood toon en daar was al voorheen ʼn selfdood-poging. Hulle kan nie ophou praat oor ʼn geliefde wat hul eie lewe geneem het nie en tref finale voorbereidings, soos om besittings weg te gee, ʼn testament op te stel en verhoudings in orde te kry;
  • geneig wees om ou kennisse op te soek en om mense te groet;
  • dalk ‘n oënskynlik skielike oplossing vir probleme ervaar, wat ‘n onnatuurlike kalmte meebring wat selfdood as die ideale uitweg mag aandui;
  • redelik onlangs ʼn swaar verlies gely het, hetsy deur dood, egskeiding of vervreemding, of het iets baie dierbaar, soos ʼn troeteldier, verloor;
  • dalk hul werk verloor het of ʼn drastiese verandering in finansiële sekuriteit of status beleef of, skielik verhuis of van werk moes verander;
  • ‘n ernstige siekte beleef met of sonder chroniese pyn;
  • merkbare negatiewe veranderings in motivering en gedrag toon, terwyl hul werk en prestasievermoë daaronder ly;
  • gereeld laat of afwesig wees sonder verskoning;
  • ʼn merkbare afname toon in sosiale aktiwiteite en onttrek hulself doelbewus van ander;
  • hulself nie steur aan stokperdjies of ander belange nie;
  • mag aggresief, buierig, gespanne, senuweeagtig en rusteloos voorkom;
  • verlaagde konsentrasievermoë ervaar en dikwels verstrooid voorkom;
  • hulself fisies skend of beseer;
  • soms roekeloos raak, gevaarlike risiko’s neem, soos om baie vinnig te ry;
  • dwelms en alkohol misbruik;
  • ʼn besliste verandering in seksuele gedrag toon;
  • verslons voorkom weens ʼn gebrek aan belangstelling in persoonlike higiëne en voorkoms;
  • geen toekomsplanne wil maak nie;
  • ʼn merkbare verandering in persoonlikheid toon;
  • gereeld sê dat hulle hulself haat of dat hulle niks beteken nie;
  • wanhopig, hulpeloos, vasgevang, verontreg voel en voel dat niemand hulle waardeer nie;
  • tekens van akute depressie ervaar en die lewe word as te moeilik en pynlik beskou;
  • maklik huil en vind geen plesier in enigiets nie;
  • fisieke simptome ervaar, wat waarneembaar is in aptyt-verlies, veranderde slaappatrone, permanente moegheid en gebrek aan energie;
  • anders as ʼn persoon wat impulsief pille drink, hulself sny of beseer, ʼn besliste plan hê van hoe om hulself te dood;
  • dreig om hulself te skiet, vergas, te spring of op te hang. Hierdie dreigemente moet altyd meer ernstig opgeneem word as metodes waar daar dalk net aandag gesoek word;
  • navorsing doen oor selfdood of reeds hul selfdood goed beplan en seker maak dat hul nie gevind word nie, eerder as sogenaamde selfdoodpogings waar hulle seker maak dat hul wel gevind sal word, wat dan meer ʼn kreet om hulp is.

‘n Boodskap aan hulle wat hul eie lewe wil neem

As jy dan regtig jou eie lewe wil neem, is jy seker welkom en is daar niks wat ek of enigiemand anders kan doen om dit te keer nie. Om jouself te dood is seer sekerlik jou reg en jy mag dit doen. Ek moet erken – selfdood is ʼn moontlike oplossing. Dit is ʼn manier om van jou probleme ontslae te raak. Ek weet dat jy nie so seer wil kry nie en ek weet ook dat jy nie regtig dood wil wees nie. Maar daar mag dalk beter opsies wees.

In ʼn desperate poging om die persoon wat hul eie lewe wil neem te oortuig dat daar ander oplossings bestaan en dat selfdood nie die enigste uitweg is nie, het ek in 2005 ʼn ope brief aan hulle in Huisgenoot gepubliseer. Ek publiseer dit hieronder met die vriendelike vergunning van Huisgenoot.

ʼn Ope brief aan die persoon wat hul eie lewe wil neem:

artikel van selfmoord pleeg Dr. Jorgan Harris

Die idee van selfdood kan selfs jou lewe red!

Ter afsluiting: miskien is die idee van selfdood nie net negatief nie.

Jy het altyd keuses en jy kan kies om soos ʼn slagoffer te voel, of jy kan kies om uitkomste te sien. Indien jy voel jy het nie ʼn keuse nie, mag dit dalk wees omrede jy nie jou hulpbronne gebruik om verder te kyk nie. Daar is nie iets soos mislukking nie, net keuses. Jy het altyd ʼn keuse.

Die eksistensiële sielkundige Rollo May het eenmaal gesê dat die idee van selfdood al soveel lewens gespaar het. As jy daaraan dink dat jy soveel beheer oor jou lewe het dat jy selfs jou eie lewe kan neem, hoeveel beheer het jy dan nie oor jou lewe nie? As jy môre moet sterf, wat wil of moet jy nog voor dan doen? Miskien kry jy dan ‘n idee van hoeveel waarde daar in die lewe is en hoeveel jy het om te doen, om voor te wil lewe. Anders leef ons net van dag tot dag.

 

Scroll to Top