banner German Shepard and Dachshund with big eyes
'n Duitse Herdershond is nie ‘n worshond nie - © Jorgan Harris

Super selfvertroue

Die Worshond en die Duitse Herdershond

As kind het my ouers vriende gehad wat op ʼn nabygeleë plaas geboer het. Oom Bertus het ʼn worshond, met die ironiese naam Pavlov, gehad. Regtig ʼn befoeterde dier wat die hele plaas regeer het en alles en almal letterlik afgeknou het. Later het oom Bertus ʼn nuwe baba-hondjie, ʼn Duitse Herdershond, plaas toe gebring. Die worshond het hierdie baba-hondjie ook afgeknou.

Die Duitse Herdershond het intussen groot geword en ʼn trotse, volwasse hond geword. Ironies genoeg, het die worshond bloot voort gegaan om die Herdershond af te knou. Om een of ander rede het die Herdershond dit toegelaat en so aanvaar.

Een nag was daar ʼn deurmekaarspul op die plaas. As ek die storie reg het, was dit ‘n donker, maanlose nag.  Vreemdelinge het op die die plaas aangekom. Chaos het op die werf losgebreek en die Duitse Herdershond het sonder dat hy geweet het vir Pavlov pragtig tussen die kake beetgekry. Hom goed karnuffel.

Iewers, tussen al die chaos, het die herdershond die worshond herken en hom laat los.  Dit was laaste. Die worshond het daarna nooit weer die herdershond afgeknou nie.

Dit het die herdershond één oomblik, één ervaring, een besef gekos om te besef hy is eintlik ‘n Duitste Herdershond. Aan die ander kant egter, het dit ook die worshond een oomblik en een besef gekos om te weet dat hy eintlik ook maar net ‘n worshond is.

Die keerpunt is wanneer mense besef hulle is nie ʼn slagoffer nie, maar was en is nog altyd ʼn survivor. Jy het soms net daardie a-ha oomblik nodig om tot die besef te kom dat jy ʼn oorwinnaar is en nooit ‘n slagoffer nie.

Selfbeeld is veel meer as net selfvertroue

Self-esteem is veel meer as net selfvertroue. Die woord esteem kom van die Latynse woord aestimare wat letterlik beteken om ʼn waarde op iets te plaas. Dit gaan dus oor die waarde wat jy op jouself as mens plaas. Mense met ʼn hoë self-esteem het ʼn sterk siening van hulself, hou van hulself en hulle kan hul innerlike gevoelens herken en bestuur. Hulle het ook ʼn sterk sin vir sinvolheid, betekenis en doel in hul lewe.

Self-esteem is ʼn manier van dink, voel en optree wat impliseer dat jy jouself aanvaar, respekteer, vertrou en in jouself glo.

Wanneer jy jouself kan aanvaar, kan jy gemaklik met jouself saamleef met jou sterk punte asook jou swak punte sonder om onnodig krities op jouself te wees. Wanneer jy jouself respekteer, erken jy jou eie waardigheid en waarde as ʼn unieke menslike wese. Jy behandel jouself op dieselfde manier as wat jy iemand anders behandel vir wie jy baie respek het. Wanneer jy jouself vertrou, sal jy op jou onderbewuste staat kan maak om vir jou die dinge te doen wat jy gedoen wil hê. Om in jouself te glo beteken dat jy voel jy verdien ook die goeie dinge in die lewe.

Hoe herken jy ʼn goeie self-esteem?

Mense met ʼn goeie self-esteem is mense wat hulself nie hoef te bewys of te regverdig nie. Veronderstel jy is by ʼn geselligheid waar jy na drie spesifieke persone kyk.

  • Daar is die een wat in ʼn hoekie sit en wegkruip. Daardie persoon het duidelik nie ʼn goeie self-esteem nie.
  • Dan is daar die een wat die hart en siel van die partytjie is. Hulle is raserig en almal weet van hulle. Hulle het dalk ook nie ʼn goeie self-esteem nie, aangesien hul miskien agter ‘n masker van raserigheid mag skuil.
  • Dan is daar die een waarvan jy weet dat hulle daar is. Hulle sê nie juis veel nie, maar wanneer hulle wel praat of iets doen is mense geneig om te luister en te reageer.

Iemand met ʼn swak self-esteem is geneig om: 

  • groot te praat;
  • ander af te kraak;
  • vertonerig te wees;
  • mense te etiketteer (name te noem);
  • gesprekke oor te neem;
  • te spog oor hulle prestasies.

Mense met ʼn goeie self-esteem:

  • hou van hulself;
  • is tevrede met wie hulle is;
  • het ʼn sterk sin van hulself;
  • het ʼn duidelike sin vir doel in hul lewe;
  • kan hulle interne staat herken en bestuur;
  • het ʼn stille selfvertroue;
  • soek nie vir komplimente nie, maar weet tog hoe om komplimente te hanteer;
  • is redelik nederig;
  • sien gereeld ander mense se suksesse raak en is geïnteresseerd daarin;
  • het nie nodig om erkenning van ander te kry nie;
  • is bly saam met ander oor hul prestasies.

Jy is in beheer van jou lewe

Jy is die heeltyd in beheer van jou lewe, aangesien jy altyd keuses het. Jy is nog altyd ʼn oorwinnaar. Jy het al soveel uitdagings en krisisse ervaar, maar jy is steeds hier. Waarom sal jy nie toekomstige uitdagings ook kan oorkom nie?

Ons is so geneig om eerder soos slagoffers te wil voel. Jy is egter in beheer van jou lewe en dinge gebeur soos wat jy dit toelaat al dan nie.

Om iemand anders te blameer, is om daardie persoon in beheer van jou lewe te plaas. Mense word beter as jý beter word. Mense voel te veel soos slagoffers. Hulle voel dat mense hulle misbruik, dat mense, omstandighede of gebeure hulle ongelukkig maak.

Sodra jy eers besef dat jy in beheer van jou lewe is en dit nie verder toelaat nie, begin mense jou anders behandel. Die eerste verandering sal egter by jou moet begin.

Denke word dinge

Wat jy dink, is wat jy glo en wat jy glo, is wat jy sal wees. As jy glo dat jy minderwaardig, dom en lelik is, is dit presies wat jy sal wees, hoe jy sal optree en hoe ander jou al sien.

Een van die beste bewyse hiervoor is die sogenaamde skynswangerskappe. Indien ‘n vrou vas glo dat hul swanger is, sal hul liggaam die vorm van ʼn swanger vrou begin aanneem. Hul maag mag selfs swel, borste word groter en selfs hul menstruele siklus staak. Dis hoe die krag van verbeelding werk.

Die skoonheid hiervan is dat wanneer jy glo jy is selfversekerd, sal jy selfversekerd begin optree. Wanneer jy so optree, herversterk dit die gevoel van selfversekerdheid en sien ander mense jou as selfversekerd. Dit is so maklik soos dit.

Dinge word egter ook denke en gevolglik ook gevoelens (fisiologie)

Dinge kan egter ook denke raak. Jou gevoel of liggaamlike sensasies – met ander woorde jou fisiologie kan ook jou denke en jou oortuiginge oor jouself beïnvloed.

Dink gou vir ‘n oomblik aan die volgende: soos wat jy daar sit, ontspan nou jou boude, jou bene en jou hele liggaam. Wanneer jy jou liggaam ontspan het, raak bewus van hoe jy voel.

Maak vervolgens jou liggaam nou gespanne en verbeel jou dat jou liggaam gespanne is. Na ʼn rukkie sal jy besef jy begin negatiewe gedagtes en bekommernisse te ervaar. Uit die bloute begin jy jouself bekommer!

Doen nou weer die teenoorgestelde. Ontspan nou weer jou hele liggaam. Kom jy dalk agter dat jy meer begin ontspan en jou denke in ‘n positiewe rigting verander?

Stel jouself ‘n goor dag voor.  Miskien voel jy vandag goor, of dalk wil jy dink aan ‘n goor dag wat jy al gehad het.  Jy besluit om bloot te glimlag, die mooi in die dag raak te sien, dalk te fokus op die dinge waaroor jy dankbaar is en mettertyd kom jy agter dat jy iewers deur die loop van die dag beter voel. Jy mag dalk terloops ook agterkom dat die mense om jou ook beter raak en ook hul houding teenoor jou in ‘n positiewe een verander. ‘n Blote fisiese verandering, waaroor jy ten volle beheer het, het nou ‘n fisiese verandering gemaak en dit het jou gemoedstoestand totaal en al omgedraai.

Voel goed, lyk goed

Wat was dan eerste: die hoender of die eier? Moet jy eers goed voel om goed te lyk, of moet jy goed lyk om goed te voel? As jy goed voel, is jy in ʼn beter gedagteraamwerk om jouself goed te laat lyk. Wanneer jy goed lyk, voel jy gevolglik ook goed. Hierdie twee state vul mekaar konstant aan. As jy beter voel, word jy meer aantreklik en gevolglik ook ietwat misterieus.

Die Franse vroue se styl is sonder enige inspanning en tog foutloos. Hulle lyk net altyd gemaklik in hulle eie vel. Ikoniese voorbeelde is die mode-ontwerper Coco Chanel en aktrise Catherine Deneuve, wie nou nie juis klassiek mooi was nie, maar tog gereken is onder die mees verleidelike, aantreklike en bekoorlike vroue in die wêreld – vroue wat baie mans gebroke gelaat het, selfs in hulle herfsjare.

Dit het niks met DNA te make nie maar bloot hul absolute geloof en vertroue in hulself en in hul eie styl. Die Franse mense, mans en vroue waardeer en ag vroue as lieflik en interessant. Veroudering is vir hulle nie ʼn vervaging van hulle bekoorlikheid nie, maar slegs ʼn teken van volwassenheid, intelligensie en ervaring wat hulle selfs meer bekoorlik maak.

Die meeste van ons het ook al iemand ontmoet wat glad nie fisies mooi is (wat die definisie van mooi ookal is) nie, maar net daardie iets, daardie je ne sais quois het wat hierdie persoon vir jou ongelooflik aantreklik of onweerstaanbaar maak en jy weet nie eintlik juis hoekom nie.

Super selfvertroue gaan dus nie oor jou voorkoms nie, maar alles oor jou houding. Aantreklikheid word geskep deur jou denkte (states of mind), nie deur duur klere of haarstyle nie, maar deur die gebruik van jou verbeelding.  Wanneer jy jou verbeelding gebruik, maak jy gebruik van dieselfde deel van jou brein wat jy sou gebruik, sou dit in die werklikheid gebeur.  

Jy kan ook hierdie selfde houding modelleer deur net jou verbeelding te gebruik.  Enigiets wat jy oefen deur jou verbeelding te gebruik, gebruik jy dieselfde dele van jou brein wat jy sal gebruik wanneer jy eintlik die gedrag of gevoelens in die werklike lewe uitvoer.

Dink aan iemand wie jy dink aantreklik is. Dit kan vriende of persoonlikhede wees wie jy op televisie of in films sien. Hou hulle gedrag noukeurig dop.

Hulle versterk hul aantreklikheid:

  • met hulle postuur en sal regop staan of regop sit;
  • deur hulle oë groot oop te maak;
  • met hulle glimlag;
  • met die gemaklike en selfversekerde manier waarop hulle kommunikeer.

Wanneer hulle dit doen, begin hulle goed oor hulself te voel en begin hulle goed te lyk. Netso kan jy begin om jouself as aantreklik, selfs onweerstaanbaar te sien.

As ‘n direkte gevolg van die bogenoemde, begin die volgende fisiologiese reaksies plaas te vind.  Hulle:

  • vel verhelder;
  • lyk gesond; en
  • kom meer aantreklik voor.

Hoe beter hulle voel, hoe beter lyk hulle. Hierdie siklus gaan voort om ʼn beeld te skep wat ander as aantreklik sien.

Jy kan nou vir ‘n oomblik dieselfde doen.  Dink weer aan ʼn persoon wie jy as aantreklik en selfversekerd sien. Verbeel jou (denke word dinge) dat jy jouself nou in hierdie persoon se liggaam sit en stel jouself voor dat jy doen en optree soos hierdie persoon doen:

  • sit of staan regop;
  • maak jou oë groter oop;
  • glimlag;
  • verbeel jouself dat jy op ʼn maklike en selfversekerde manier kommunikeer.

Wat ervaar jy? Voel jy dadelik sommer meer selfversekerd?

Jy sal dit kan doen aangesien jy jou selfvertroue kan beheer deur jou fisiologie.

Jy kan verder jou fisiologie beheer deur die volgende:

  • Hoe jy praat:

Jou fisiologie kan ook jou gevoel beheer in hoe jy praat. Dit kan selfs jou vlak van selfversekerdheid bepaal.

  • Praat:

–  sagter

–  stadiger

–  met ‘n dieper of laer stemtoon. 

Dit sê eintlik so lekker in Engels.  Keep you tone of voice softer, slower, lower.  Wanneer jy beheer neem, al is dit net oor jou eie stem sal jy agterkom dat jy soveel meer in beheer van enige situasie is en voel.

  • Jou oogbewegings:

Wanneer jy ʼn onaangename emosie ervaar, kan jy bloot jou emosies met jou oogbewegings beheer. Rol byvoorbeeld jou oë na bo wanneer jy emosioneel of bewoë voel. Wanneer jy opkyk sal jy agterkom dat dit vir jou onmoontlik is om emosioneel te voel en te reageer.

Wanneer jy goed voel, kan jy jou oë na onder toe rol en bewus raak dat al daardie lekker gevoelens weg is.

  • Stadige en diep asemhaling:

Wanneer jy stadig en diep asemhaal sal jy meer ontspan voel en wanneer jy meer ontspanne is, sal jy meer beheer oor jou gedagtes hê. 

  • Liggaamlike onstpanning

Wanneer jy meer onstpan, sal jy ook stadiger en dieper asemhaal, wat jou verder sal help om meer beheer oor jou gedagtes te geniet.

Terapie

Die volgende terapeutiese systeme kan jou help om jou selfvertroue op te bou. 

Jy kan verder op my webtuiste lees vir ‘n beter begrip van die onderstaande afkortings.

  • Hipnose en NLP sal jou help om jou selfvertroue te verhoog.
  • BWRT en hipnose help jou om daardie gebeure wat jou selfvertroue gebreek het, te werk, terwyl;
  • Sielvolheid (Mindfulness) jou sal help om meer in die oomblik te leef.
Scroll to Top