Ho'oponopono genesing
Inleiding
Daar is ‘n storie wat die rondte doen oor ‘n sielkundige in Hawaii wat ‘n hele saal van krimineel onstabiele mense genees het sonder dat hy ooit enigeen van hulle persoonlik gesien het.
Hy sou noukeurig elke gevangene se lêer bestudeer en dan binne homself kyk of hy op een of ander manier dalk vir die persoon se probleem verantwoordelik mag wees. Daarna sou hy vir homself besluit tot watter mate hy moontlik verantwoordelik kon wees vir elke gevangene se probleem of uitdaging.
Dr. Ihaleakala Hew Len het egter nooit enige van hierdie pasiënte self gesien nie. Hy het nie uit sy kantoor gekom nie en slegs hulle lêers bestudeer. Soos hy hulle inligting bestudeer het, het hy sekere areas geïdentifiseer wat moontlik ooreenstem met sy eie kwessies of uitdagings. Hy het begin om aan hierdie kwessies in homself te werk. Hy het ontdek dat soos hy aan homself gewerk het, sy pasiënte spontaan begin herstel het.
Na net ‘n paar maande van introspeksie, is selfs die pasiënte wat vasgeboei moes word, toegelaat om vrylik rond te loop. Diegene wat op swaar medikasie was, het hul medikasie gestaak. Laastens was diegene wat geen kans tot vrylating gehad het nie, geskik bevind om vry gelaat te word.
Wat het hier gebeur? Dr. Len het net die woorde: ek is lief vir jou, ek is jammer, vergewe my, dankie, oor en oor herhaal.
In ons tradisionele benadering tot probleemoplossing glo die meeste mense dat die oorsprong van ‘n probleem van ander mense en dinge van buite onsself kom. Ons is geneig om te glo dat as hulle hul probleem oorkom, sal ons probleme ook opgelos word.
Die Franse filosoof Jean Paul Sartre het eenmaal gesê dat die hel ander mense is. Kan dit waar wees? Of is dit dat ons hulle toelaat om ons eie hel te wees?
Ho’oponopono genesing is ‘n mantra van vergewing. Dink aan iemand vir wie jy kwaad is. Herhaal die mantra: ek is lief vir jou, ek is jammer, vergewe my, dankie. Laat dit jou beter voel? Dit moet jou beter laat voel want jy is eintlik besig om jouself te vergewe. Indien nie, kan jy hierdie frase ‘n paar keer herhaal. Die resultaat in die verandering van gevoelens is nogal onverwags.
Die woord Ho’oponopono beteken letterlik om reg te maak, of om ‘n fout te herstel.
Om jouself lief te hê is die ongelooflikste manier om jouself te verbeter en om jou wêreld te verbeter. Hoe is dit moontlik, indien dit enigsins moontlik is? Is daar enige logika agter dit alles, of is dit net hocus pocus? Dit is die moeite werd om verder ondersoek in te stel.
Voorveronderstellings
‘n Voorveronderstelling is ‘n aanname dat dit waarmee ons werk die waarheid is, selfs al is daar geen bewyse daarvoor nie.
Ek sal hierdie voorveronderstellings gebruik om die idee van Ho’oponopono te probeer verduidelik, selfs al maak dit vir jou neokorteks deel, die denkende deel van jou brein, nie sin nie. Dit mag dalk sin maak vir jou limbiese sisteem, jou oer- of reptielbrein waar logiese denke in elk geval nie saak maak nie.
- Plato se Ideëleer
Dr. Len verduidelik dat totale verantwoordelikheid vir jou lewe beteken dat alles in jou lewe, alles wat met jou gebeur, eenvoudig jou verantwoordelikheid is. Letterlik alles in die wêreld is as bloot net ‘n skepping in jou gedagtes.
Dit is presies wat die Griekse filosoof, Plato geleer het. Alles is net ‘n idee, volgens sy Ideëleer.
Dit kom daarop neer dat die enigste ding wat bestaan is jou idees, jou illusies. Dit beteken dat niks anders bestaan as net jou denke nie. Alles en almal om jou, is eintlik maar net skeppings van jou eie denke. Niks bestaan regtig nie. Dit is alles net illusies in jou kop.
Dit kan amper vergelyk word met ‘n droom waarin jy alles ervaar asof dit werklik is, maar sodra jy wakker word, besef jy dit was net ‘n droom, alles ‘n skepping van jou eie gedagtes.
Dr Len het gesê dat die geheim is dat daar niks daarbuite is nie – alles gebeur hierbinne. Alles gebeur binne jou.
Daar bestaan nie iets soos die verlede nie. Die verlede is slegs ‘n herinnnering wat in jou eie kop geskep word. Daar is ook nie iets soos die toekoms nie. Die toekoms is slegs ‘n projeksie van jou eie denke, wense, drome en vrese. Aangesien die verlede en die toekoms slegs in jou kop is, beteken dit dat jy dit in jou gedagtes skep en dat jy dit letterlik in jou kop ook kan verander.
Daardie gevangenes en hulle probleme of uitdagings was uiteraard slegs skeppings in Dr. Len se eie kop.
Volgens Dr. Len, skep ons ons eie realiteite en trek mense, dinge en situasies na onsself aan, reflekterend van wie onsself eintlik is. Ons kan daardie situasie alleenlik genees, waneer ons onsself genees.
Die fisiese realiteit is net ‘n vergestaling van ons eie gedagtes.
Dit bring ons by ‘n ou-bekende beginsel in die sielkunde:
- Projeksie
Projeksie is een van vele sielkundige verdedigingsmeganismes wat ons gebruik wanneer ons iets wat te pynvol vir onsself is om te hanteer of selfs te erken, dan eerder probeer vermy deur dit eerder in ander mense raak te sien, as in onsself.
As ek vir jou sou sê: ek dink jy het ‘n lelike neus, mag dit dalk wees dat ek my eie kwessie, my eie lelike neus, op jou projekteer en dit inderwaarheid in jou raak wil sien, eerder as in myself waar die eintlike probleem of die uitdaging geleë is.
Sou ek as voorbeeld dink jy is pateties: mag dit dalk wees dat ek my eie gevoel van pateties in ander raaksien, maar my eie swakpunte nie teenoor myself wil erken nie?
Wat ons sien in die wêreld rondom ons, is maar net ‘n projeksie van ons eie gedagtes, ons eie innerlike wêreld. As ons net oorloë en gerugte van oorloë sien, is dit maar net ‘n refleksie van ons eie oorlog in ons kop.
Ho’oponopono kom daarop neer dat ek daardie deel van my wat die probleem veroorsaak kan genees.
Dit beteken dat enige misdaad, die regering, die ekonomie, alles wat jy ervaar en nie van hou nie, binne jou beheer is om te verander en te genees. Dit bestaan letterlik nie en is maar net projeksies van binne jouself. Die probleem lê nie by hulle nie, maar by jou en om dit te verander, beteken dat jy jouself moet verander. Ek weet dit bly moeilik om onsself te verander ter wille van ander mense. Hou net vas: hierdie dinge gebeur op ‘n transendentale vlak wat ons met ons neokorteks brein nie verstaan nie.
Ons wêreld is maar net ‘n refleksie van dit wat binne ons gebeur. As jy ontsteld is of ‘n wanbalans ervaar, moet jy binne jouself gaan kyk en nie na buite, na dit wat jou probleem veroorsaak nie. Jy kan al jou stres, wanbalanse of selfs siektes regmaak deur net aan jouself te werk.
Doen dit met liefde.
Dit kom neer op die volgende voorveronderstelling:
Mense word beter wanneer jy beter word
Brian Tracy, Amerikaanse motiveringspreker en skrywer, het eenmaal gesê: mense word beter as jy beter word.
Dit mag wees omdat jy hulle anders sien en besef dat hulle nie daarop uit is om jou te na te kom nie.
Dit mag ook waar wees dat mense anders teenoor jou reageer omdat jou gedrag, jou gesindheid teenoor hulle verander het, of dit mag dalk bloot wees dat hulle beter raak omdat jy beter geraak het!
Dit sluit aan by Plato se idee dat jy jou eie realiteit skep en dat mense se reaksies op jou bloot die gevolg van jou eie reaksies is.
Baie dele van een liggaam
Selfs in die Heilige Christelike Geskrifte, die Bybel, in 1 Korinthiërs 12:12, word daar gepraat van die liggaam wat baie dele het. Soos die gemeente uit baie lidmate bestaan, is elke lidmaat eintlik maar net deel van dieselfde liggaam.
Of jou probleem jou voet of jou hand is, bly dit steeds jou liggaam se probleem. Die hand se probleem, kan nie deur die voet geïgnoreer word nie, want die voet ly ook as gevolg van die probleem van die hand.
Ons as mense is maar eintlik net soos een liggaam wat uit baie dele bestaan. As ons ‘n ander persoon haat, hetsy as gevolg van die feit dat hulle anders as ons is, of dit nou rassisme, seksisme, klassisme of watookal is, bly dit maar net ‘n refleksie van ‘n deel van onsself wat ons haat.
Outo-immuun siektes
Ons siekte as mensdom kan met ‘n outo-immuun siekte vergelyk word.
In kort is ‘n outo-immuun siekte waar die liggaam ditself begin aanval en die differensiasie begin verloor tussen watter selle goeie en watter vyandige selle is. Dit is amper asof die liggaam hul eie genesende selle as vyandige selle sien en jou liggaam ditself begin aanval uit die wanpersepsie dat jou liggaam se eie genesende selle vyandige selle is.
Hoe meer ons onsself probeer beskerm teen die vreemde magte, hoe meer veroorsaak ons ‘n oorlog teen onsself. Ons sien verkeerdelik die deel van onsself wat ons wil genees as die vyand en sodoende vernietig ons onsself.
Ho’oponopono voorveronderstel dat mense in konstante konflik met hulself is en veral met hul eie onderbewustelike negatiewe herinneringe.
Dit kom eintlik alles daarop neer dat dit wat ons van ander haat, eintlik dit is wat ons van onsself verag.
Miskien is die paranormale gebeure normaal
Daar is in 1993 ‘n eksperiment gedoen onder die toesig van die United States Army Intelligence and Security Command (INSCOM).
In hierdie studie is witbloedselle uit die mond van ‘n vrywilliger geskraap en in ‘n buis geplaas. Hulle het ook ‘n leuenverklikkertoets (‘n poligraaf) in hierdie buis geplaas.
Die skenker van die selle is in een vertrek geplaas en sy geskenkte selle in ‘n ander vertrek. Vir die skenker was daar ‘n geweldadige televisieprogram gewys.
Alhoewel die skenker in ‘n aparte vertrek, verwyder van sy skenking was, het die skenker en die geskenkte selle dieselfde reaksie getoon tydens die vertoning van die genoemde geweldadige tonele. Wanneer die skenker die tonele van gevegte en geweld gesien het, het die poligraaf ongelooflike opwinding geregistreer in die mondselle van die geskenkte selle – selfs al was hierdie selle in ‘n aparte vertrek. Verdere toetse het getoon dat dieselfde resultate bevind was, selfs al was die selle sover as 80 kilometer verwyder van die skenker en tot selfs twee dae na die skenking. Die geskenkte selle het in verbinding gebly met hul skenker en kon hul oorsprong onthou.
Meer as sewentig studies rakende voorbidding het dieselfde resultate gewys as die eksperiment met die mondselle. Een studie, as voorbeeld, is gedoen deur Dr. Randolph Byrd in San Francisco. Hierdie studie het getoon dat pasiënte wat hart chirurgie ondergaan het, aansienlik beter gedoen het as daar vir hulle gebid is deur groepe mense, as diegene waarvoor nie gebid was nie. Tyd en afstand het dus geen verskil gemaak nie.
Maak dit nou meer sin dat Dr. Len wel sy kliënte kon genees al het hy hulle nooit gesien nie? Selfs al was hulle in ander kantore, in hierdie geval, selle?
Neem totale verantwoordelikheid vir jou eie lewe
Jy is verantwoordelik vir alles wat jy dink.
Een van die belangrikste dinge wat die mens ooit kan leer is dat jy en jy alleen in beheer en verantwoordelik vir jou lewe is. Jy is selfs verantwoordelik vir wat met jou gebeur!
Om verantwoordelik te wees vir alles wat jy sê of dink, is een ding. Om verantwoordelik te wees vir wat ander mense in jou lewe sê of doen, is ‘n ander saak. Die waarheid is egter: as jy verantwoordelikheid vir jou eie lewe neem, is alles wat jy sien, hoor, voel, ruik of proe, jou verantwoordelikheid, aangesien dit alles ‘n impak op jou lewe het.
Dit is egter veel makliker om iets of ander te blameer as om totale verantwoordelikheid te aanvaar. Vir Dr. Len en Ho’oponopono beteken genesing om jouself lief te hê. As jy enigiemand wil genees, selfs die gehardste misdadigers, moet jy eers begin om jouself lief te hê en jy doen dit slegs deur jouself te genees.
Verantwoordelikheid beteken dat ek besef ek is verantwoordelik vir al die kwessies in my lewe, selfs my gewig, my gerook of watookal.
Dit beteken egter meer as om net verantwoordelikheid vir jou eie optrede te neem – jy neem ook verantwoordelikheid vir die optrede van ander om jou.
Ons moet gewillig wees om te erken dat ons 100% verantwoordelik is vir ons eie probleme. Jy moet dus gewillig wees om te sien dat jy verantwoordelik is vir jou uitdaging as gevolg van jou eie gedagtes en dat ander mense nie noodwendig die oorsaak is nie. Selfs al is jou uitdaging in werklikheid deur iemand anders geskep.
Die belangrike vraag is dus: wat gaan binne my aan wat hierdie spanning veroorsaak? Die doel van hierdie proses is om die interne oorsaak van jou stress te identifiseer en dit te laat gaan.
Dr. Len het bloot voort gegaan om te sê: ek is lief vir jou, ek is jammer, vergewe my, dankie.
Wees eerste lief vir jouself
Om jouself eerste lief te hê is die heel eerste en beste manier om jouself te verbeter. Soos jy jouself verbeter, verbeter jy jou eie lewe. Om ‘n vinnige voorbeeld te noem: iemand het eendag vir my ‘n e-pos gestuur wat my ontstel het. In die verlede sou ek kwaad geword het teenoor die persoon wat vir my die aaklige boodskap gestuur het. Ek sou met hulle geredeneer of terug baklei het. Hierdie keer het ek egter Dr. Len se metode gevolg en stilweg vir myself gesê: ek is lief vir jou, ek is jammer, vergewe my, dankie.
Ek het dit nie vir enigiemand spesifiek gesê nie. Ek het eenvoudig net die gees van liefde in my ontlok om my te genees van dit wat van buite myself gekom het.
Skaars ‘n uur later het ek ‘n verdere e-pos van dieselfde persoon ontvang. Hy het om verskoning gevra vir sy vorige boodskap. Hou in gedagte dat ek geen aksie geneem het om myself te verdedig of te verduidelik nie. Met Dr. Len se metode het ek myself en ook die ander persoon genees.
Hierdie volksvreemde teorie strook selfs met die Christelike teorie van selfliefde (ek sal ook graag wil hoor wat lede van ander gelowe en oortuigings hieroor sê). Wanneer daar na die teksvers in Mattheus 22:37 gekyk word, staan daar in die oorspronklike Grieks dat jy jouself eerste lief moet hê, voordat jy jou naaste (sekondêr) en God lief kan hê. Heel anders as wat die kerk vir Christene geleer het, naamlik dat jy God eerste moet liefhê en dan jou naaste soos jouself.
Om saam te vat: volgens die Ho’oponopono genesing is ons almal maar net deel van dieselfde liggaam. Wanneer ons woede teenoor iemand ervaar, is dit waarskynlik net ‘n projeksie van onsself – ons eie interne woede. Dit is letterlik wanneer ‘n deel van onsself kwaad is vir onsself en onsself aanval. Wanneer ons onsself vergewe deur ‘n ander te vergewe, bring ons vir onsself genesing. Die wêreld is waarskynlik maar net ‘n refleksie van wat binne ons aangaan. Die verrassendste onverklaarbaarheid hiervan, is dat mense se optrede teenoor jou kan verander – selfs vreemdes wie jy nie ken nie.
Hoekom Ho’oponopono so kragtig is
Dwarsdeur die geskiedenis van die mensdom, word ons verdeel deur afstand, taal, kulturele- en godsdienstige oortuigings, klas, velkleur en ons ekonomiese stand. Wanneer iemand met enige perspektief na vore kom, is daar altyd iemand met ‘n teenstrydige opinie. Die ware krag van Ho’oponopono lê in die feit dat die grootste meerderheid van mense saamstem dat hulle nie saamstem nie.
Die konsepte van: ek is lief vir jou, ek is jammer, vergewe my asseblief, dankie word universeel deur almal aanvaar as waardevol en belangrik. As daar iets soos ‘n kollektiewe onderbewuste bestaan, soos wat Carl Gustaf Jung (een van die vaders van die sielkunde en baie oosterse tradisies aan ons voorhou, bly dit waar in die sin dat die meeste mense saamstem dat hierdie beginsels waardevol, belangrik en bruikbaar vir die mensdom is.
Soos met ander Shamaanse tradisies, leer die Hawaiiaanse tradisies dat alle lewens op een of ander manier met mekaar verbind is. Ho’oponopono is daarom nie net ‘n manier om onsself te genees nie, maar ook om ander en die wêreld rondom ons te genees.
Die proses van Ho’onopono genesing
Op die oog af het baie mense Ho’oponopono verstaan as ‘n mantra waar ‘n mens die woorde herhaal: ek is jammer, vergewe my asseblief, dankie, ek is lief vir jou as ‘n vorm van en geestelike reiniging.
Die letterlike vertaling van Ho’oponopono is om reg te stel of om in orde te kry, te hersien, aan te pas, te wysig, te reguleer, te rangskik, op te ruim, ordelik of netjies te maak.
Deur hierdie woorde uit te spreek, is om verantwoordelikheid vir jou eie lewe te aanvaar. Al is dit om die ander persoon te vergewe, asof die persoon bloot maar net nog ‘n deel van jou is. Deur ander te vergewe is om jouself te vergewe. Alles om jou is maar net ‘n projeksie van jouself.
Soos Alice May dit eenmaal gestel het: om wraak te koester, is soos om ‘n gifpil te sluk en te hoop dat die ander persoon dood sal gaan.
Die heel beste deel van Ho’oponopono is dat jy dit op jou eie kan doen. Jy het niks of niemand nodig om daar te wees vir of by jou nie. Jy het niemand nodig om jou te hoor nie. Jy kan die woorde in jou kop sê. Die krag lê in die gevoel dat die Heelal gewillig is om te vergewe en lief te hê.
Deur net hierdie woorde te herhaal, kom jou eie disharmonie, jou eie probleme en kwessies, na vore. Nie net kom al hierdie kwessies na vore nie, maar dit bring ook die innerlike chaos in jou kop tot stilte en kalmte.
Die stappe is:
Ek het jou lief
Om te kan sê: ek het jou lief, is ‘n daad van dankbaarheid.
Om jou lief te hê beteken dat ek myself lief moet hê (vergelyk dit met ons voorveronderstellings).
Bly sê ek is lief vir jou. Sê dit vir jou liggaam, sê dit vir God (of dan die Groot Gedagte). Sê dit vir die lug wat jy inasem, vir die huis wat jou beskerm. Spreek liefde uit oor die uitdagings in jou lewe. Sê dit net oor en oor. Bedoel dit. Voel dit. Daar is niks so kragtig soos liefde nie.
Dit is dit. Alles in ‘n neutedop vasgevang. Dit is so eenvoudig soos dit en so wonderbaarlik effektief.
Ek is jammer
Wanneer jy sê dat jy jammer is, is jy nie noodwendig jammer vir wat jy aan die ander persoon gedoen het nie. Selfs al het iemand anders iets verkeerds aan jou gedoen, is dit eintlik ‘n deel van jou wat iets verkeerd aan ‘n ander deel van jouself gedoen het! Selfs al is dit nie jou skuld nie. Deur steeds jammer te sê beteken dat jy jouself vergewe.
Iemand het eenmaal gesê: om iemand te vergewe, is die selfsugtigste ding wat jy ooit kan doen. Deur nie te vergewe nie, is dit maar net jy wat met al die haat, nyd, seer en ongemaklike emosies sit. Die ander persoon weet dalk nie eens dat jy kwaad vir hul is nie.
Vergewe my asseblief
Dit maak nie saak vir wie jy dit vra nie. Vra net: vergewe my asseblief. Sê dit net oor en oor. Bedoel dit. Wees net jammer en vra om vergewe te word. Sonder om vrae te vra oor hoekom jy vergifnis moet vra. Selfs al voel jy nie dat jy skuldig is aan enigiets nie.
Onthou die stelling: om iemand te vergewe, is die selfsugtigste ding wat jy ooit kan doen. Gaan lees gerus my artikel oor vergewing op hierdie webtuiste vir meer inligting oor hierdie konsep.
Om iemand anders te vergewe, is om jouself te vergewe. Om iemand anders te vergewe, is om daardie deel van jou wat hulle verteenwoordig, te vergewe. Ja, eintlik vergewe jy jouself.
Dankie
Sê net dankie – sê dit net oor en oor. Dit maak nie saak vir wie of wat jy dankie sê nie. Lewe net die lewe van dankbaarheid. Gaan kyk gerus na my artikel oor dankbaarheid op my webtuiste. Bedank jou liggaam vir alles wat dit vir jou doen. Bedank jouself om net die beste te wees wat jy kan wees. Bedank God. Bedank die Heelal. Bedank die Groot Gedagte. Bedank watookal dit is wat jou vergewe het.
Bly net sê: dankie.
Kan Ho’oponopono meer raak as net ons eie interne wêreld?
Die kern van Dr. Hew Len se perspektief is dat jy verantwoordelikheid neem vir meer as jou persoonlike self, in die sin van dat jy in my is, soos ek in jou is.
Die kern van sy teorie is dat die foute wat ons in ander sien, eintlik projeksies is van dit waarvan ons binne onsself nie hou nie en in onsself wil ontken.
Ho’oponopono kom slegs in vervulling wanneer ons ophou om ander mense te blameer vir ons probleme en uitdagings, maar om eerder self verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.
Dit maak nie sin nie
Ek besef die hele teorie mag dalk nie vir jou sin maak nie. Dit maak nie sin vir jou bewuste nie, maar dit maak perfek sin vir jou onderbewuste. Gaan egter net voort om die woorde te herhaal: ek is lief vir jou, ek is jammer, vergewe my, dankie. Jy hoef dit nie eens noodwendig in hierdie volgorde te doen nie. Literatuur verskil hieroor.
Jy sal vir jouself sien, sonder om dit te verstaan, wat hierdie woorde vir jou doen. Dit is immers hoe die onderbewuste werk! Dit is presies hoe hipnose en ander limbiese sisteem terapieë werk – jy word beter sonder dat jy verstaan hoe dit gebeur.
Addendum: aanhalings deur Carl G Jung (rofweg deur my vertaal)
- Niemand word verlig deur hulself as figure van lig voor te stel nie, maar deur die duisternis bewus te maak.
- Alles wat ons van ander irriteer, kan ons tot ‘n begrip van onsself lei.
- Moenie vas bly klou aan iemand wat weggaan nie, anders gaan jy nie die een kan ontmoet wat kom nie.
- Totdat jy die onbewuste bewus maak, sal dit jou lewe beheer en uiteindelik jou lot word.
- Die ontmoeting van twee persoonlikhede is soos die kontak tussen twee chemiese stowwe, indien daar enige reaksie is, word albei getransformeer.
- As jy ‘n begaafde persoon is, beteken dit nie dat jy iets gewen het nie. Dit beteken dat jy iets het om terug te gee.
- Jy is nie wat met jou gebeur het nie, maar jy is wat jy gekies het om te wees.
- Om jou eie duisternis te ken, is die manier om die duisternisse van ander mense te hanteer.
- Foute is uiteindelik die fondasies van waarheid en as ‘n mens nie weet wat dit is nie is dit ten minste leergeleentheid om te weet wat dit nie is nie.
- Jou visie sal eers duidelik word wanneer jy in jou eie hart kan inkyk. Wie na buite kyk, droom en wie na binne kyk, ontwaak.
- Mense sal enigiets doen, ongeag die absurditeit daarvan, om hulself nie in die oë hoef te kyk nie.
- Jou persepsie sal slegs vir jou duidelik word, wanneer jy bereid is om in jou eie siel in te kyk.
- Depressie is soos ‘n vrou in swart geklee. As sy opdaag, moet haar nie wegstoot nie. Nooi haar in, bied haar ‘n sitplek aan, behandel haar soos ‘n gas en luister na wat sy wil sê.
- Eensaamheid kom nie daarvandaan dat daar geen mense om jou is nie, maar omdat jy nie in staat is om die dinge wat vir jou belangrik is, te kommunikeer, of omdat jy sekere sienings het wat ander as onaanvaarbaar ervaar.
- Watookal jy weerstaan sal sterk bly staan.
- Ons mag dink dat ons volledige beheer en kennis oor onsself het. Tog kan ‘n vriend maklik iets oor ons onthul waarvan ons absoluut geen idee het of van kennis dra nie.
- Ek is nie die produk van wat met my gebeur het nie, ek is wat ek kies om te word.
- ‘n Man wat nie deur die inferno van sy passies gegaan het nie, het dit nog nooit oorkom nie.
- Enigiets in ander mense wat ons nie bevediging gee nie, help ons maar net om onsself beter te verstaan.
- ‘n Droom is ‘n klein, verborge deur in die diepste en mees intieme heiligdom van die siel, wat oopgaan na daardie oer-kosmiese nag wat die siel was, lank voordat daar ‘n bewuste ego was.