Banner Narcissistic personality disorder
Narcissistiese persoonlikheidsversteuring - © Jorgan Harris

Narcissistiese persoonlikheidsversteuring (NPV)

Wat is ‘n Narcissistiese of kortweg genoem Naristiese persoonlikheidsversteuring (NPV)?

Narcissistiese persoonlikheidsversteuring (NPV) is ‘n komplekse geestesgesondheidstoestand wat gekenmerk word deur patrone van grootsheid, ‘n konstante behoefte aan bewondering en ‘n gebrek aan empatie. Mense met NPD het dikwels ‘n oordrewe gevoel van selfbelangrikheid en sukkel om gesonde verhoudings te handhaaf as gevolg van hul manipulerende gedrag en emosionele afgetrokkenheid.

Waar kom die term Narcissistiese persoonlikheidsversteuring vandaan

Die term narcisme (of afwisselend gebruik as narcissisme) is afkomstig van die Griekse mitologie, spesifiek die verhaal van Narcissus, ‘n pragtige jong man wat verlief geraak het op sy eie weerkaatsing. Hierdie mite het die grondslag gelê vir die sielkundige konsep van narcisme, wat oormatige selfliefde en ‘n gebrek aan empatie vir ander behels.

Die eerste moderne gebruik van die term narcisme in die sielkunde was om dit te beskryf as ‘n seksuele perversie waar individue hul eie liggaam as ‘n seksuele voorwerp gesien het. Later is die term narcisme gebruik om oormatige selfbewondering te beskryf.

Met verloop van tyd het narcisme ontwikkel van ‘n perversie na ‘n erkende persoonlikheidsversteuring, met Narsistiese persoonlikheidsversteuring (NPV) amptelik in sielkundige literatuur geklassifiseer. Die versteuring word gekenmerk deur grootsheid, ‘n behoefte aan bewondering en ‘n gebrek aan empatie.

Diagnostiese kriteria van Narcissistiese persoonlikheidsversteuring (NPV)

NPV is ‘n voortdurende patroon van grootheidswaan (in fantasie of gedrag), ‘n behoefte vir bewondering en ‘n gebrek aan empatie, wat begin by vroeë volwassenheid wat gesien kan word in 5 of meer van die volgende:

  1. ‘n grootheidswaan vir selfbelangrikheid (soos om byvoorbeeld hul sukses en talent te oordryf en verwag om erken te word as die beste sonder dat hulle noodwendig daardie suksesse behaal het);
  2. voortdurende gedagtes van onbeperkte sukses, mag, briljansie, skoonheid of ideale liefde;
  3. glo dat hul spesiaal en uniek is en net verstaan kan word, of geassosieer kan word met ander spesiale of hoë status mense of instansies;
  4. vereis oormatige bewondering;
  5. het ‘n sin van eie-geregtigheid, soos onredelike verwagtinge om oormatige voorkeurbehandeling te kry of dat ander na hul pype moet dans;
  6. buit ander mense uit: soos om mense te gebruik vir hul eie gewin;
  7. het ‘n gebrek aan empatie: is onwillig om die gevoelens en behoeftes van ander te erken, te herken of om daarmee te kan identifiseer;
  8. is dikwels jaloers op ander of glo hulle is jaloers op hulle;
  9. toon arrogante, hoogmoedige gedrag of houdings.

‘n Kort bespreking van die simptome van Narsistiese Persoonlikheidsversteuring

Narsistiese Persoonlikheidsversteuring (NPV) is ‘n geestesgesondheidstoestand wat gekenmerk word deur ‘n voortdurende patroon van grootsheid, ‘n behoefte aan bewondering en ‘n gebrek aan empatie. Ten diepste sukkel hulle met selfvertroue.  Hoewel hul as ongelooflik selfversekerd voorkom, is hulle ten diepste so onseker van hulself wat lei tot beduidende probleme in verhoudings, werk en algehele welstand.

Belangrike simptome:

  1. Oordrewe gevoel van selfbelangrikheid:

Individue met NPV glo dikwels dat hulle superieur en uniek is en verwag erkenning sonder ooreenstemmende prestasies.

  1. Beheptheid met fantasieë van sukses en mag:

Hulle tob gereeld oor fantasieë van onbeperkte sukses, skoonheid, mag of ideale liefde.

  1. Behoefte aan oormatige bewondering:

Validasie van ander is noodsaaklik, en hulle mag konstante lofprysing, komplimente of aandag soek.

  1. Gevoel van selfgeregtigheid (entitlement):

Hulle verwag spesiale behandeling en buit ander dikwels uit om hul doelwitte te bereik.

  1. Interpersoonlike uitbuiting:

Verhoudings kan soos ‘n transaksie wees, met min agting vir ander se behoeftes of gevoelens.

  1. Gebrek aan empatie:

‘n Baie kenmerkende eienskap – hulle sukkel om ander se emosies te herken of om om te gee daaroor.

  1. Afguns en arrogansie:

Hulle verkleineer dikwels ander en voel afgunstig op hul sukses terwyl hulle ‘n neerbuigende houding toon.

Ten spyte daarvan dat hulle selfversekerd voorkom, kan individue met NPV diepgesetelde onsekerhede koester, wat lei tot hipersensitiwiteit vir kritiek. Terwyl hulle uitdagend en selfversekerd mag voorkom, is hulle so bitter onseker van hulself.

‘n Storie van iemand met Narcissistiese persoonlikheidsverteuring

Schalk* het as student, jare gelede, hierdie vriend ontmoet.  Dit was die ongelooflikste mens.  Hulle het alles gedeel en mekaar op ‘n sielsvlak ontmoet wat geen sterfling ooit sou verstaan nie.  Hul wêreld was gevul met intellek, gedigte, kuns en musiek. Schalk sê hulle het een met mekaar gevoel.  Hy was aantreklik, gevoelvol, simpatiek, opgewek, intellektueel en bloot ongelooflik.

Anton* het vir Schalk so ingetrek in ‘n gedeelde wêreld wat nie van hier was nie.  Skielik was Schalk se jare-lange vriende nie meer goed genoeg nie.  Hulle was nie op dieselfde vlak as hy en Anton nie.  Hulle sou dit nooit verstaan nie. Schalk sou naweke saam met hom spandeer in sy pragtige huis in ‘n ander ongelooflike wêreld. Anton sou hom vertel van ‘n ander vriendskap wat hy gehad het wat net so intiem was, dat hulle soms ‘n bed gedeel het.  Schalk sou nie omgee om selfs ‘n bed met hom te deel, as deel van hul sielsgenootskap nie. Hy het nog nooit nader aan enigiemand gevoel as aan hom nie. Schalk, heeltemal hetroseksueel, sou ook nie omgee om sy siel en lyf met hom te deel nie.

Anton het egter ‘n meisie gehad wat soos ‘n nagtegaal gesing het.  Daar was ‘n onmiddellike aantrekking tussen Schalk en haar.  Anton het besef dat sy verlief op hom was. Een aand, in ongelooflike broederliefde het Anton aan Schalk vertel dat sy eintlik verlief was op hom wat Schalk is en dat Anton haar vir hom wil gee. Wie het al ooit sulke vriendskap ervaar? Dit was werklikwaar die ongelooflikste, mees onvoorwaardelike gebaar. Hulle het mekaar daardie aand omhels soos geen geliefdes ooit het nie, soos Schalk nog nooit ‘n meisie, nie eens sy ma, omhels het nie. Schalk en Lanelle* het kort daarna in ‘n verhouding betrokke geraak met Anton se seën en liefde daarop.

Na hulle broederlike omhelsing die vorige aand het Anton die volgende dag vir Lanelle gebel en gedreig om pamflette te druk om vir die hele kampus te vertel hoe sy meisie en beste vriend hom verloën het.  Schalk kon nie verstaan hoe hierdie wonderlike vriendskap skielik daarmee heen was nie.  Anton het hom skielik gehaat en ondermyn.  Anton het dieselfde patroon gevolg met sy daaropvolgende verhoudinge. Jy mag dalk dink dat jy die verkeerde een is in dit wat tussen julle verkeerd geloop het totdat jy agterkom dat hierdie patroon ditself bly herhaal en dat jy maar net die gemenedeler is.

Anton het intussen in ‘n nuwe verhouding betrokke geraak met ‘n ander man.  Sake tussen hulle het ook skeefgeloop en hy het hierdie man blootgestel in die pers, presies soos hy Lanelle gedreig het.  Die aandag wat die pers gelok het, het ander geraamtes in Anton se lewe blootgelê. Tragies het Anton sy eie lewe beëindig.

Nog ‘n storie van iemand met Narcissistiese persoonlikheidsverteuring

Christine* se man, Nicholas*, sou altyd so ‘n atmosfeer veroorsaak wanneer haar beste vriendin, Stephanie* by haar gaan kuier het. Stephanie het eerder gesorg dat sy ry wanneer Christine se man tuis gekom het.  Christine was net so gespanne as hy tuis gekom het.  As hy by haar is mag sy nie regtig vriende oorgehad het of selfs die telefoon gebruik nie.

Sy moes uiteindelik haar werk bedank en het van hom afhanklik geraak, soveel so dat sy selfs na hul egskeiding vir ‘n ruk nog daar moes aanbly, ten spyte van die feit dat sy weer ‘n onderwyspos gekry het.  Sy moes egter eers spaar om huur en ‘n deposito te kon bekostig.   Hy het haar met die seuns (wat haar alles is) afgepers en gesê dat hy seker sal maak dat sy hulle sal verloor.  Hy het seker gemaak die seuns gaan na ‘n hoërskool waar hy hulle dan ook daar in die koshuis gesit het.  Hy het hulle die grootste leuens rakende hul ma vertel sodat hulle van haar onttrek. Hy wou haar breek en het haar gebreek. 

Die oudste seun is nou 21 jaar oud en kry erge angsaanvalle.  Hy is ook woedend vir sy ma oor sy nooit vir hulle as seuns baklei het nie en hulle aan hul pa oorgelaat het. Dit was natuurlik alles leuens wat Nicholas vir die seuns opgedis het.

Nicholas glo tot vandag toe – en sê dit nou nog vir die seuns – dat Christine na hom toe sal terugkruip. Dit nadat hulle al meer as 12 jaar geskei is.

  • Indien jy wonder hoekom ek hierdie stories vir jou vertel, mag jy dalk weer na die diagnostiese kriteria kyk en kyk hoeveel van die kriteria jy in die bogenoemde stories kan identifiseer.

*Nie hul regte name nie

Scroll to Top