lady free in wind scale and apple weight loss
Dink slank, word slank – die Sielvol Slanke Weg - © Jorgan Harris

Verloor gewig

Het geen verslankingsmetodes al ooit vir jou gewerk nie?

Is jy keelvol ge-dieet. Het jy te veel gehad van ek sal Maandag begin? Is jy dik vir wilskrag? Het jy te veel op jou vurk met maatbande, skale, kalorietellings en alewige nuwe-diëte? Is jy keelvol daarvoor om na elke ete swaar, ongemaklik en opgeblaas te voel? In kort – het jy meer as genoeg gehad van sukkel met jou gewig?

Dink slank, word slank – die Sielvolle Weg

Dink slank, word slank – die Sielvolle Weg is in 2011 deur my ontwikkel om ʼn alternatief te vind vir diëte wat ‘n twee tot vyf persent kans op sukses het. Hierdie Weg is ʼn reis van dekadensie en opwinding. Dit is ʼn reis om jou kop oop te maak, anders te dink en los te breek van jou ou oortuigings rondom verslanking.

Dit is ʼn rewolusionêre reis aangesien jy glad nie dieet, oefening of enige vorm van wilskrag nodig het om te verslank nie. Jy sal verslank deur jou lewe en jou kos dekadent te geniet en op te hou om jouself te bekommer oor jou gewig.

Jou gewigsprobleme het niks te make met wat jy eet, wanneer jy eet of hoeveel jy eet nie. Ook het jou verslanking niks te doen met oefening, genetiese oorerwing of fisiese probleme nie. Wat by jou mond inkom, moet weer by jou liggaam uitgaan in die vorm van uitskeiding. Die vraag is eerder hoekom jou liggaam jou kos terughou en dit in jou liggaam se spense stoor in die vorm van vet.

Oorsaak van gewigsprobleme

Daar is net een enkele oorsaak vir gewig. Ek is seker jy het al slank mense gesien wat eet net wat hulle wil en steeds slank bly.  Dit is nie omdat hulle net gelukkig is nie.  Hulle mag dalk ‘n vinniger metabolisme hê, maar hulle metabolisme is vinniger as gevolg van ‘n rede waaroor ek jou later meer gaan vertel.

In teorie, werk diëte.  Maar in praktyk is dit gans ‘n ander storie.  Iewers in die proses, verneuk jy of jy gee op.  Jy tel gewoonlik meer gewig op na ‘n dieët aswat jy verloor het. Statistieke wys vir ons dat diëte ‘n suksessyfer van tussen twee en vyf present het.  Gevolglik sal daar vir jou gesê word dat die dieet werk, maar dat dit jou skuld is aangesien jy nie wilskrag het nie of moed opgegee het.

Navorsing bewys voorts dat liggaamlike oefening ook minimale effek op jou gewig het.  Mens het ongeveer 20-minute matige oefening per dag nodig. Hierdie oefening kry jy terwyl jy motor toe stap, trappe klim by die werk, ensomeer.

Navorsing wys ook vir ons dat daar net een rede vir oormatige gewig is en hierdie rede is angs.  Wanneer jy jou angs oorwin, is wanneer jy sal verslank.  Ek vertel jou later meer hieroor.  Angs is ‘n toestand waarin jy aan die eenkant maklik gespanne raak of aan die anderkant jouself te maklik bekommer. Om meer te lees oor angs, gaan kyk gerus na my artikel oor Algemene angsversteuring op my webtuiste.

Voor ons verder gaan, kom ons kyk eers hoe jou brein werk. 

Hoe jou brein werk

Opgesom, bestaan jou brein uit drie dele :

  • Jou nuwe brein (neokorteks)

Jou neokorteks is die deel van jou brein waarmee jy dink, redeneer en probleme oplos.  Dit is ook die deel van jou brein waarmee jy waarneem en persepsies vorm. Dus is die neokorteks die abstrakte denke deel van jou brein.

  • Jou emosionele brein (limbiese sisteem)

Jou emosionele brein is verantwoordelik vir geheue en emosies of gevoelens.

  • Jou reptielbrein (serebellum, laer brein en breinstam)

Hierdie deel van jou brein se hooffunksie is oorlewing.  Dit beheer jou hartklop, asemhaling, bloeddruk ens. Dit is ook die deel van ons brein wat ons gereed maak om te veg of vlug in gevaarsituasies.

In teenstelling met jou neokorteks, is die taal van jou reptielbrein gevoelens en emosies.  Die reptielbrein is primitief en verstaan nie taal of logika, soos ons neokorteks nie.

Stel jouself voor jou neokorteks-brein ontwikkel ‘n sogenaamde irrassionele gedagte.  Dit is terloops die oorsaak van angs – die sogenaamde irrasionele gedagtes of vrese wat jy letterlik uitdink wat die meeste van die tyd in elk geval nooit gebeur nie – vandaar dat ek dit die wat as siekte noem.  Angs is die gevolg van hierdie irrasionele gedagtes en vrese oor iets wat moontlik kan gebeur en katastrofies sal wees sou dit wel gebeur.

Hierdie boodskap van gevaar beweeg van jou neokorteks na jou reptielbrein.  Soos hier bo verduidelik, verstaan jou reptielbrein nie taal of logika nie.  Dit registreer jou denke letterlik as fisiese gevaar. Met ander woorde: jou reptielbrein registreer dat jou lewe letterlik in gevaar is of bedreig word, wat outomaties oorskakel na jou oorlewingsinstink.  Hierdie reaksie bring teweë dat jou brein dadelik adrenalien en kortisool afskei wat verantwoordelik is vir die sogenaamde veg-of-vlug reaksie. Aangesien hierdie deel van jou brein nie besef dat dit net jou denke of gedagtes is nie, ervaar jy angs en paniek.

Die volgende drie dinge vind nou in jou liggaam plaas:

  • jou liggaam gaan in ‘n staat vir oorlewing. Die mees basiese hulpbronne wat ons nodig het vir oorlewing is voedsel, skuiling en veiligheid.  Ter wille van oorlewewing sal jy geneig wees om meer te eet aswat nodig is. Jou liggaam kodeer honger en sal genoeg voedsel opstoor vir genoegsame energie vir veg of vlug;
  • tweedens word adrenaline deur jou brein vervaardig vir die veg of vlug respons. Om die vervaardiging van adrenaline moontlik te maak benodig jy veral stysel en soetgoed. Jy sal na hierdie kosse bly smag, ongeag jou dieet. Al verstaan jou neokorteks dat jy hierdie kosse nie behoort te eet nie, sal jy dit steeds verorber.  Jou reptielbrein, hoewel die domste deel van jou brein, is die kragtigste deel van jou brein.  Wanneer die veg-of-vlug reaksie intree, neutraliseer dit die logiese denke van jou neokorteks.

As kantaantekening om die krag van jou reptielbrein te illustreer:  het jy geweet dat dit onmoontlik is om jou eie lewe te neem deur ‘n plastieksak oor jou eie kop te trek?  Al het jy al die redes in die wêreld om dood te wil gaan, sal dit met ‘n plastieksak nooit gebeur nie.  Die oomblik wanneer jy benoud raak, neem jou reptielbrein oor en sal jy die plastieksak afruk, ongeag die intensies van jou neokorteks. 

  • Derdens vervaardig jou brein tesame met adrenaline ook kortisol om die stres teen te werk.

Jou liggaam is veronderstel om na ‘n krisis weer terug te keer na normaal. Wanneer ons ‘n krisis suksesvol hanteer het, hoort die produksie van adrenaline en kortisol af te neem.

Kortisol is ‘n hormoon wat jou help om te oorleef ten tye van krisis.  Anders as adrenaline wat jou liggaam se paraatheid vir oorlewing verhoog, help korisol jou liggaam deur alles wat jy nie dadelik vir oorlewing benodig nie, af te skakel. Jou immuunstelsel word onderdruk en jou spysvertering word afgeskakel.

Jy eet jou kos.  Kos gaan na jou maag waarna dit versprei word na al die organe wat dit nodig het.  Die oorblywende kos gaan in een van twee rigtings: 

–  dit beland in jou spysverteringstelsel (spesifiek jou uitskeidingstelsel), of

–  dit word in jou liggaam gestoor in vetselle.

Die doel van kortisol is om ons te help oorleef. Maar ons oorleef te veel ten koste van ons eie gesondheid. Hierdie verskynsel kan in alledaagse menslike gedrag gesien word. Tydens die Covid-19 pandemie asook tydens die eerste Suid-Afrikaanse demokratiese verkiesing in 1994, was mense so angstig oor hierdie onsekerhede dat hulle kos in grootmaat aangekoop en vir die klaarblyklike kosvoorraad tekort wat sou voorlê, gestoor het. Dit is die taak van jou reptielbrein wat om dieselfde rede ook noodvoorraad in die vorm van vetselle vir die volgende moontlike krisis in jou liggaamspens stoor.  Al is daardie krisis ook net in jou kop.

As kantaantekening om die krag van die onderbewuste hier te illustreer het ek ook kliënte gehad wat gewig wou optel.  Dit maak nie saak hoeveel hulle aan kitskosse ooreet het nie – hulle het nie ‘n enkele gram opgetel nie. Aan die ander kant het ek ‘n kliënt gehad wat net slaai ge-eet het, maar steeds gewig opgetel het.

Dit bewys maar net dat jou gewig niks met kos te make het nie, maar eerder met die oorlewingsinstink van jou reptielbrein as reaksie op die irrasionele denke van jou neokorteks.

Hoekom ons gevestigde idees rondom verslanking nie werk nie

Dalk begin jy die idee te kry waarom diëte of gevestigde idees rondom verslanking nie werk nie. 

  • Diëte

Sodra jy op ‘n dieet gaan, is jou mislukking gewaarborg.  Jou reptielbrein gaan tydens die proses van jou dieet die gevoel van deprivasie ontwikkel.  Jou liggaam begin voel dat dit nie gaan oorleef nie.  Jou reptielbrein registreer dit as hongersnood wat gevolglik angs met die vrystelling van adrenaline en kortisol teweeg bring.  Dink maar net wat gebeur as iemand vir ‘n paar dae in ‘n woestyn, sonder kos en water was en op ‘n oase afkom.  Daardie persoon gaan aanvanklik vraatsugtig begin eet en drink.

Dit is dan presies om hierdie rede hoekom mense tydens ‘n dieet begin verneuk en nog meer as vantevore eet.

  • Oefening

Die reptielbrein registreer oefening as ‘n toestand van inspanning.  Inspanning beteken gevaar.  Die enigste rede hoekom mens en dier hardloop is wanneer hulle iets jaag of self gejaag word.  Terwyl jy oefen en kalorieë verbrand interpreteer jou reptielbrein dit egter as gevaar en sal jou meer laat eet om voedselreserwes in jou spense op te gaar, juis om te kompenseer vir dit wat jy verbrand het.

Ek het ‘n vriend wat ernstig is oor gewig verloor.  Hy gaan gimnasium toe en oefen regtig hard.  Na die tyd sal hy ‘n hele pak aartappel-skyfies by homself opeet.  Sy liggaam moet die energie wat hy verbrand het, vervang.  Hy doen al hierdie moeite, maar versuim om aandag aan die spanning in sy lewe te gee.

    • Skale

Dink daaraan – jy klim op ‘n skaal en jou skaal wys dat jy swaarder weeg as wat jy gehoop het.  Jy kry ‘n paniek-aanval oor jou gewig en jou ewig getroue reptielbrein dink alweer daar is ‘n gevaar.  Daar raak jy weer aan die eet en die res is geskiedenis.

Terloops: ek hou daarvan om na hierdie proses te verwys as verslanking eerder as gewigsverlies. Die brein hou in elk geval nie van verlies nie. Mense verpes dit om te verloor.  Wanneer jy begin verslank mag jou vet omsit in spiere, wat swaarder weeg as vet.  Op sy beste dae sou Sylverster Stallone volgens die Liggaamsmassa Indeks (Body Mass Index -BMI) as obees geklassifiseer word as gevolg van sy magdom spiere! 

Wat jy met hierdie benadering sal ontdek

Psigoterapie, veral hipnose tesame met Die Sielvolle Weg sal jou help om jou kos selfs meer te geniet en terselfdertyd, sonder enige inspanning, maklik en moeiteloos van daardie oortollige vet ontslae te raak.

Die Sielvolle Weg werk die beste met mense wat desperaat is om te verslank – juis daardie mense vir wie geen dieët gewerk het nie.  Dit stel jou in staat om ‘n totale verandering rakende jou idee en verwysingsraamwerk rondom verslanking aan te neem. Hierdie verskuiwing is radikaal. Wanneer jy aanvaar dat diëte nie werk nie en die idee dat verslanking ‘n natuurlike proses moet wees, sal hierdie metode vir jou kan werk. ‘n Verslankingsproses waarin jy kan eet wat jy wil, wanneer jy wil, soveel jy wil en glo dat jou onderbewuste verslanking vir jou sal doen sonder dat jy enigiets hoef te doen.

Terugvoer oor Dink slank, word slank – die Sielvolle Weg

Hieronder haal ek mense se terugvoer rakende verslanking en lesers van my boek, Dink slank, word slank, verbatim aan.

(Alle name wat gebruik word, is skuilname).

Hi Jorgan

Ek kry nou al vir weke nie meer angsaanvalle nie. My depressie het ook nie weer sy opwagting gemaak nie. Ek was so verlig dat jy vir my gesê het ek hoef nie my pa te laat gaan nie. Ek kan hom maar in my hart hou. (Nota deur Jorgan: sy kon die dood van haar pa nie verwerk nie en kon hom nie laat gaan nie). Dit het alles vir my verander en ek kan vreemd genoeg nou sy dood aanvaar. Ek hanteer spanningsvolle situasies nou soveel beter. Ek kon nie glo dat ek die lewe soveel anders kan ervaar nie. Aanvanklik was ek kwaad vir jou omrede jy gesê het ek hoef nie terug te kom vir hipnose om te verslank nie. Ek kry deesdae soveel komplimente van mense oor hoe ek lyk en het nie eens besef dat ek gewig verloor nie, totdat ek in ʼn jean ingepas het wat ek seker tien jaar laas kon dra.

Ek sou nooit kon glo dat dit my “issues” was wat my vet gemaak het nie. Ek dra alles net soveel ligter en is letterlik ook soveel ligter!

Lizel

Goeie dag,

My naam is Marilise.  Ek het onlangs die Dink Slank boek aangeskaf en die CD daadwerklik begin gebruik.   ʼn Klein bietjie agtergrond…  Solank as wat ek kan onthou regeer “vet” my lewe… Ek was op my eerste dieet op 10!  Maar saam met dit, ʼn handvol “issues”… wat soos wat die boek tereg noem, waarskynlik die rede vir my gewig is. Ek is gewoonlik net so 5 kilogram van my doelwit af maar dit bly ALTYD ʼn berg…  Dit is seker nodeloos om te noem dat ek al wat boek, al wat pil en al wat middel is al gekoop en probeer het… Ek kan lesings aanbied oor elke moontlike dieet….

Die Dink Slank boek (maar meer die CD…)  het vir die eerste keer in my lewe “iets” vir my gedoen.  Ek voel beter oor myself, ek voel al “mooier”… meer selfvertroue en is op ʼn plek waar ek nou “verslaaf” is aan die CD…(wat reeds voos geluister is…)

Dit voel regtig vir my asof hierdie ʼn lewensveranderende metode is wat ek nie deur my vingers wil laat glip nie.

Marilise

Beste Jorgan

Ek wil vir jou baie dankie sê, al waaraan ek baie van my komplimente kan toeskryf, is na die besoek aan jou.

Vrydag was ek selfs deur vreemdelinge voorgekeer om te sê hoe goed ek lyk. Om herhaaldelik te hoor mense vir my sê was nogal ʼn skok. Hierdie aanhaling is ʼn e-pos wat ek van ʼn vriend ontvang het nadat ek ʼn partytjie by hulle huis bygewoon het.

Ek moet se jy het f****n mooi gelyk nou die aand. Ek weet nie wat dit is nie maar iets het definitief aan jou verander. Jy het definitief gewig verloor dit kon ek sien maar iets anders het ook anders gelyk … he he Nogtans jy het mooi gelyk !!!!

Dit is wat mense gereeld sê, iets anderste het ook verander, jy lyk anderster, ek self kan nog nie in presiese woorde omskryf nie, behalwe dat ek rustiger voel, meer selfvertroue het tussen mense, ensovoorts. Al wat ek kan sê, dit is nie ek, dit is jou werk, wat dit moontlik maak.

Baie dankie.

Steffie

Liewe Jorgan 

Ek het vir jou die uitnodiging na my kunsuitstalling gestuur, want jy is beslis verantwoordelik vir my vermoë om weer te kan skilder. Ek het tot dusver ook meer as 20 kg verloor sedert ek jou laas gesien het.

Ek sal jou een van die dae weer kom sien, maar ek wou wel erkenning gee aan die hulp wat jy my gegee het gedurende so ‘n afskuwelike tyd verlede jaar en die vorige jaar. Ek hoop dat ek net kan aanbeweeg na nog groter dinge.

Beste mooiste groete,

Jackie

Goeie môre,

Ek het ek alles geëet wat ek wou sonder om bewustelik daaroor te dink en het opgemerk dat ek natuurlik na gesonder keuses, kliener porsies en die genot van smake geneig het.  My gewig het vir twee maande konstant gebly, selfs al het ek soms te veel geëet, het ek geen gewig opgetel nie.  Ek het in die laaste twee weke weer gewigsverlies opgemerk.  Ek voel goed oor my liggaamsbeeld en is nie te veel bekommerd oor die feit of ander my aanvaar as gevolg van my bou, of nie. Die enigse oefening wat ek doen, is om op strande en in die natuur te stap as deel van my ontspanning.

My selfvertroue het toegeneem en ek is meer assertief teenoor mense rakende wat ek van hulle verwag of nodig het.  Ek is meer gefokus op my besigheidsdoelwitte en dit waaroor ek passievol voel.  Sommige verhouding het geëindig as gevolg van my nuwe sin van self.

Ek hoop dit kan van waarde vir jou wees.

Beste wense,

Wouter

Beste Jorgan

Weet jy, dit is slim geskryf en spaar mens die “patronising” toon van ander boeke wat dieselfde aanspreek. Ek hou van die spirituele aanslag. En dit maak vir my op n dieper vlak sin. Is daar ʼn Engelse weergawe? My kollegas sal mal wees daaroor.

Ek hoop genoeg mense weet van die boek. Jy moet sommer ook ʼn kindle een doen of wat van ʼn iPad app?

Jy is briljant.

Sou graag met jou wou chat oor jou reis met die boek.

Ek hou van die aanhalings en gebruik van die woord vet.

Ek hou van die woord dekadent en dan die perfekte lelie uit die Bybel.

En veral die boodskap wat ek hoor dat die lewe nie is om miserabel te wees nie.

Lise

Hallo Jorgan

Vandat ek kan onthou sukkel ek met my gewig… ek het alles probeer, pille, konkoksies, inspuitings- selfs kalorieë getel. My huisdokter het my na jou verwys, wel wat ʼn verrassing. Ek is bang vir hipnose maar jy het my gehelp, ek het agtergekom na ʼn paar sessies daar is ʼn verandering, ek kon nie my vinger daarop plaas nie. Jy het eers my wat ek noem “my kop uitgesorteer”.  Ons het baie gewerk aan gewigsverlies en weereens ek kan nie my vinger daarop sit nie, maar my gevoel oor kos het net verander! Ek het anders oor kos begin dink, dit het my nie meer gepla nie!

Ek het 17kg verloor en voel soos ʼn nuwe mens, my gewig bly konstant, want dit is nie meer my begin en einde nie.

BAIE DANKIE JORGAN!

Ek is nou halfpad met jou boek – moes net gou  stop om eers vir jou te se:  “AMEN, AMEN, AMEN”!!!!!! – O sorry – Hallo!!

Praat weer later…

Tonne blessings!!

Sonja

Hallo Jorgan

Ek vertrou dit gaan goed.

Ek het jou boek oor verslanking BAIE geniet. Ek dink jy is uitmuntend briljant!

Groete,

Ria

Scroll to Top