Gedagtes word gevoelens
Die geluk van jou lewe hang van die kwaliteit van jou gedagtes af – Marcus Aurelius
Om die vloer mee te open
Een en elk van ons ervaar van tyd tot tyd negatiewe en ontstellende irrasionele gedagtes. Dalk het jy al gehoor van terme wat verband hou met irrasionele gedagtes soos, oorpeinsing, self-afkeuring of katastrofering.
Ons mag dalk sekere patrone van irrasionele denke ervaar. Gewoonlik is hierdie gedagtes vir ons bekend, maar onbekend aan ons onderbewussyn.
Die hantering van hierdie denke behels al die sogenaamde irrasionele gedagtes wat ek hieronder bespreek.
Wat is irrasionele denke?
Sogenaamde irrasionele denke oorweldig rede, logika en empiriese bewyse om op emosies, persoonlike vooroordele en oortuigings staat te kan maak. Dit is die teenoorgestelde van rasionele denke. Irrasionele denke is ‘n belangrike oorsaak van ons verkeerde, soms impulsiewe besluite. Die gevolge hiervan kan ons lewe so erg benadeel, veral wanneer dit kom by finansiële besluitneming, leierskap, navorsing, ens.
Irrasionele gedagtes is:
- nie gebaseer op geldige of grondige bewyse nie;
- meestal die gevolg van aannames; en
- gegrond op oortuigings wat jy ontwikkel het as gevolg van ervarings uit jou verlede – positief of negatief.
Die verskillende soorte irrasionele gedagtes
Alles-of-niks denke
Jy sien dinge in kategorieë van swart en wit, ekstreme teenpole. As jy dinge nie perfek doen nie, sien jy jouself en jou prestasie as ‘n totale mislukking.
Grys skakerings bestaan bloot nie vir jou in hierdie alles-of -niks denkwyse nie. Jy is neig om dinge in uiteenlopende kategorieë te plaas. As jy nie 100 persent suksesvol is nie, beteken dit dat jy 100% ‘n mislukking is. Indien jy nie absoluut briljant is nie, is jy absoluut onnosel. Indien ‘n verhouding nie absoluut perfek is nie, is dit ‘n totale ramp. Dinge is dus slegs swart of wit, reg of verkeerd, met niks tussen-in nie.
Vriendelike waarskuwing: dinge moet tog sekerlik iewers skadu’s van grys ook toon?
Oorveralgemening
Jy mag dalk ‘n enkele negatiewe gebeurtenis sien as ‘n nimmereindigende patroon van dinge wat verkeerd kan en sal loop. Dit neig jou om te dink dat ‘n enkele negatiewe gebeurtenis ‘n voorspelling is van ‘n reeks ongelukkige gebeure wat eenvoudig net sal gebeur.
‘n Enkele negatiewe gebeurtenis mag jou dalk so deurmekaar maak, dat jy negatief voel oor alles en almal wat jy met daardie negatiewe herinnering assosieer. Jy veralgemeen dus slegs die negatiewe.
‘n Tipiese voorbeeld van oorveralgemening is: ‘n man het my seer gemaak; daarom maak alles mans seer.
Vriendelike gedagte: niks is ooit heeltemal negatief of in geheel sleg nie.
Verstandelike filter – om die positiewe te diskwalifiseer
Positiewe eienskappe en gebeure word afgemaak, verminder en geïgnoreer asof dit nie bestaan nie, of as onbelangrik en onbeduidend gesien.
Jy mag dalk kies om ‘n negatiewe aspek van jou lewe te kies en hierdie hele prentjie met negatiwiteit in te kleur. Selfs ‘n onnadenkende opmerking van iemand mag jou laat dink die hele wêreld is wreed, teen jou en moeilik, dat alles net sleg en negatief is.
Hierdie denkwyse veroorsaak dat jy die heeltyd jou foute groter sien as wat dit regtig is, om jou goeie en sterk eienskappe af te maak as iets duskant van niks, of selfs te ignoreer, mag jy begin om ‘n minderwaardigheidskompleks te ontwikkel, asof alles jou fout of skuld is.
Vriendelike insig: kyk baie mooi na die geheel of groter prentjie; jy mag dalk net iets positiefs in elke situasie vind. Elke donker wolk het immers ‘n silwer randjie.
Gedagtelees (die sprong na gevolgtrekkings I)
Jy glo dat jy ander mense se gedagtes kan lees en jy weet altyd wat hulle van jou dink, ook dat dit altyd negatief is. Jy is so oortuig daarvan dat jy nie eers moeite gaan doen om uit te vind of dit werklik waar is nie. ‘n Tipiese voorbeeld: ek kan sien aan die kyk wat hulle my gee dat hulle nie van my hou nie.
Vriendelike advies: kan jy regtig ander mense se gedagtes lees, aangesien niemand anders kan nie?
Fortuinvertellingsfout (die sprong na gevolgtrekkings II)
Dit is asof jy ‘n kristalbal voor jou het en die toekoms daarin kan lees. Al wat jy egter sien is duisternis en verdoemenis. Dit is asof jy glo jy weet vooraf dat iets negatiefs in die toekoms gaan gebeur en hierdie voorgevoel beteken dat jy vas glo dat dit presies is wat gaan gebeur. Daarom verwag jy altyd die ergste.
Vriendelike herinnering: al ooit daaraan gedink dat fortuinvertelling soms ook ‘n positiewe betekenis of konnotasie mag hê?
Katastrofering
Enige foute, vrese en mislukkings word uit proporsie geblaas en vergroot asof dit die grootste katastrofe ooit is; asof die toekoms van die mensdom van jou afhang. Asof die toekoms van die wêreld van jou afhang om die atoombom se regte bedrading met mekaar te verbind. Indien jy onsuksesvol is, sal die wêreld tot ‘n einde kom.
Vriendelike gedagte: niks is ooit so verskriklik nie. Gedurende jou lewensreis het jy konsekwent uitdagings oorkom en oorleef en jy sal hierdie een ook oorleef.
Emosionele redenering
Jy beskou jou negatiewe emosies as ‘n feit. Bloot omdat ek so voel, daarom is dit so. As ‘n voorbeeld: ek voel soos ‘n nul, daarom is ek ‘n nul, of jy dit nou aan die werklikheid gemeet het, aldan nie.
Vriendelike realiteitsbesef : moenie alles glo wat jy voel nie. Jou gevoelens mag jou dalk net mislei.
Moets
Hierdie irrasionele gedagte bestaan uit verwagtinge en vereistes wat jy aan jouself en die wêreld stel.
Jy gebruik woorde soos: moet, behoort te, of mag nie. Jy mag dalk van stellings gebruik maak soos: Ek mag of mag dit of dat nie doen nie. Dit of dat moet of mag nie gebeur nie. Al hierdie moets lei tot skuldgevoelens, woede, frustrasie of bitterheid teenoor jouself en ander.
Vriendelike herbevestiging: daar is niks op aarde wat mag of nie mag nie, behalwe vir doodgaan, belasting en beurtkrag.
Etikettering
Etikettering beteken om ‘n negatiewe etiket om jou eie nek of om dié van ander te hang.
Etikettering is ‘n uiterste vorm van oorveralgemening. Normaalweg begin etikettering met die woord is. Jy mag dalk dink: ek het nie ‘n fout gemaak nie – ek is ‘n fout. Of ook: hy is ‘n regte donkie, in plaas van: hy het ‘n donkie-agtige ding gedoen.
Jy is dus nie wat jy reg of verkeerd gedoen het nie. Etikettering is bloot onakkuraat, misleidend en emosioneel gelaai. Dit lei net tot vyandigheid en bitterheid.
Vriendelike idee: jy is nie dit wat jy verkeerd of reg doen nie. Om ‘n fout te maak, beteken nooit dat jy ‘n fout is nie.
Verpersoonliking (personalisasie)
Verpersoonliking beteken dat jy verantwoordelikheid neem vir ‘n negatiewe gebeurtenis; al is daar geen bewyse dat dit jou skuld is nie. Die ander party is altyd reg en jy is dus altyd verkeerd.
Vriendelike leidraad: jy is nie alleen verantwoordelik vir alles wat verkeerd loop tussen jou en ander mense nie. Jy hoef nie altyd die skoen te dra wat jou nie pas nie.
Vergroting en verkleining
Dit word ook die verkyker-truuk genoem. Hierdie irrasionele gedagte beteken dat jy gebeure soms buite verhouding kan opblaas en dit groter kan sien as wat dit regtig is, bloot soos om ‘n verkyker te gebruik om ‘n beeld te vergroot of te verkein, afhangende hoe jy die verkyker op daardie stadium gestel het.
Vriendelike voorstel: dit mag dalk ‘n goeie idee wees om van jou verkyker ontslae te raak. ‘n Molshoop mag dalk soos Berg Everest lyk, maar kan inderdaad net ‘n molshoop wees!
Lae frustrasie toleransie
Dit mag dalk vir jou voel dat jy nie langer iets kan verduur of verdra nie. Dat dit ondraaglik is, net te veel is vir jou om te hanteer.
Hierdie is irrasionele gedagtes en gebeur dikwels wanneer jou frustrasie- of stresvlakke vir jou onhanteerbaar begin voel.
Vriendelike idee: hierdie is nie ‘n eindelose tonnel nie – dit sal ook verbygaan
Wie is meer geneig tot irrasionele denke?
Enigiemand kan irrasionele gedagtes ervaar en die meeste van ons doen van tyd tot tyd. Sekere mense is egter meer geneig tot bekommernisse, oordink (overthinking) en stres. Sekere geestesgesondheidstoestande, soos dié wat paranoia of obsessiewe gedrag veroorsaak, kan ook met irrasionele gedagtes verband hou.
Irrasionele gedagtes kan van die volgende tot gevolg hê
- angs,
- depressie,
- paniek,
- fobies (insluitend agorafobie en sosiale fobie),
- stres,
- bulimie,
- obsessief- kompulsiewe versteuring,
- posttraumatiese stresversteuring,
- bipolêre versteuring,
- gebrek aan motivering,
- selfbeeldkwessies,
- dwelmmisbruik,
- psigose,
- woede,
- lae selfbeeld of selfs
- fisiese gesondheids-uitdagings, soos pyn of moegheid.
Terapie
Kognitiewe Gedragsterapie (KGT) is ‘n psigoterapeutiese model wat grootliks handel oor hoe jy oor jouself, die wêreld en ander mense dink, asook hoe jy jou denke (kognisies) kan verander om jou optrede (gedrag) te verander ten einde ‘n ander uitkoms te verkry.
Hierdie veranderinge kan jou help om beter te voel. Anders as meeste van die ander sogenaamde praat-terapieë, fokus KGT op die hier-en-nou uitdagings. In plaas daarvan om te fokus op die oorsake van jou uitdagings, ongemak of simptome, deur in die verlede te gaan soek, wil KGT eerder maniere vind om jou gemoedstoestand in die nou te verbeter.
Ten diepste handel KGT oor jou gedagtes. As jy jou gedagtes verander, kan jy jou gevoelens en gevolglik jou reaksies en gedrag verander.
Soos reeds genoem, is ‘n verandering in jou gedagtes in jou denkbrein (jou neo-korteks) nie genoeg om jou gevoelens (in jou primitiewe brein) te kan verander nie. Kognitiewe gedragsterapie (KGT) konfronteer hierdie irrasionele denkwyses en help jou om rasionele maniere te ontwikkel om gebeure in jou lewe op ‘n ander manier te interpreter, wat dan op sy beurt, die lewe vir jou makliker maak.
Om jou gedagtes en gevoelens te verander, is die kern van KGT. As jy jou gedagtes verander, kan jy jou gevoelens en gevolglik jou reaksies en dus ook jou gedrag verander.
Ek glo egter dat die wysheid van jou neo-korteks tesame met die krag van jou reptielbrein vir jou daardie verandering wat jy graag wil hê, teweeg te bring.
Om jou denke te verander, is dit nodig om eers bewus te word van jou irrasionele denkpatrone. Sodra jy die manier waarop jy dink verstaan, kan jy leer om jou gedagtes aan te spreek en te herformuleer.
Wat is Kognitiewe Gedragsterapie (KGT of dan CBT)?
Kognietiewe Gedragsterapie is ‘n psigoterapeutiese model wat die klem lê oor hoe jy oor jouself, die wêreld en ander mense dink en hoe jy jou denke kan verander om ‘n ander uitkoms te verkry.
Hoe werk dit?
KGT kan jou help om sin te maak uit oorweldigende uitdagings deur dit in kleiner, hanteerbare dele af te breek. Dit maak dit vir jou makliker om te sien hoe al hierdie uitdagings met mekaar verbind is en hoe dit jou beïnvloed.
KGT in my praktyk.
Ek raak nie spesifiek opgewonde oor KGT nie. KGT is wonderlik om jou te help om anders te dink, maar die oplossing van jou uitdaging is nie noodwendig geleë in jou neo-korteks, die denkende deel van jou brein nie.
Dit kan soveel help om anders te dink oor ‘n uitdaging in jou denkende brein. Die uitdaging is egter steeds geleë in jou reptielbrein wat nie reageer op jou denke nie, maar slegs op jou gevoelens. Hierdie deel reageer asof jou gevoelens die werklikheid is, ongeag wat werklik die werklikheid is.
KGT en hipnose
KGT is ‘n model wat handel oor die feit dat wanneer jy anders dink oor ‘n saak, jy anders daaroor sal voel en reageer.
Hipnose aan die ander kant redeneer dat wanneer jy anders voel, sal jy anders dink en reageer!
Dit maak dan tog net sin dat ons die logika van jou bewuste tesame met die krag van jou onderbewuste gebruik om ons gedagtes, gevoelens en optrede te verander.
Die drie towervrae
Jy kan jouself die volgende drie vrae afvra. Hierdie drie vrae mag jou dalk net help om al jou uitdagings te oorkom:
- Wat is die ergste wat kan gebeur?
- As dit wel gebeur, hoe erg sal dit regtig wees?
- Wat is die kanse dat dit wel sal gebeur, aangesien die meeste dinge wat ons vrees, in elk geval nooit gebeur nie?