Briljante verhoudinge
Voorloop
ʼn Olifant is ʼn dier. ʼn Groot dier. ʼn Baie groot dier. ʼn Olifant is ʼn massiewe dier wat soms reg in die middel van die vertrek kom staan met jou in die een hoe ken jou maat in die ander hoek wat kommunikasie tussen julle blokkeer met sy groot, logge lyf. Soms gee ons voor dat die olifant nie daar is nie en soms hoop ons dat die olifant vanself weg sal gaan. Maar die olifant gaan net nie weg nie. In ons poging om konflik te vermy, ontken ons die olifant en bly die olifant daar tussen jou en jou maat staan.
Die doel van hierdie artikel is om jou te help besef dat die sukses van jou verhouding lê uitsluitlik in jul kommunikasie. As jy leer om reg te kommunikeer, het jy ʼn 96% kans om jou verhouding of huwelik te laat slaag. As jy nie kan kommunikeer nie, het jy slegs ʼn 4% kans om jou spesifieke verhouding te red en sal die olifant tussen julle bly staan.
Tydens enige verhoudingsprobleme, of dan uitdagings, word daar gesoek na die oorsaak van die olifant. Die een wat die olifant ingelaat het, is dus die verkeerde een of die een wat fouteer het. As daardie een die probleem kan regstel, is die probleem opgelos. Daar word dan ook van die terapeut verwag om vas te stel wie reg en wie verkeerd is en deur die een wat verkeerd is reg te help, gaan die probleem oplos. Daar word dus van die terapeut verwag om regter te speel. So werk dit nie, vir die redes wat jy hieronder gaan sien.
Die punt is dat olifante in enige verhouding kan kom staan. Hoekom hierdie olifant ontstaan, of wie se skuld dit is, is nie belangrik nie. Dit is niemand se skuld nie. Olifante ontstaan. Dit is nou maar net hoe dit is. Olifante gebeur bloot net.
Olifante is altyd daar, maar hoe jy die olifante hanteer, is dalk die oplossing vir julle olifant. In verhoudingsterapie gaan alles oor kommunikasie. As jy nie kan kommunikeer nie, gaan jou verhouding of huwelik nie werk nie, ongeag die feit of julle dieselfde belangstellings, waardes, norme, kultuur, agtergrond, godsdiens of wat ookal julle deel.
Lees asseblief ook my artikel oor Encounter Centred Couples Therapy (EcCT) op my webtuiste: jorganharris.co.za.
Voorveronderstellings
Wanneer julle verhoudingsuitdagings wil oplos, moet daar effektiewe kommunikasie plaasvind. Vir dit om te gebeur, moet daar eers op die volgende voorveronderstellings gelet word:
Mense is perfek geskape
Jy en dus ook die ander persoon, is geskape met al die talente en gereedskap wat julle benodig om jul doelwitte op aarde te kan bereik. Miskien ken jy die bekende Desiderata. Losweg vertaal kom dit neer op: Jy is ’n kind van die groot heelal. Niks minder as die bome of die sterre nie. Jy het ’n reg om hier te wees. Of dit vir jou duidelik is of nie, die heelal is besig om homself oop te vou op ’n natuurlike manier, op die manier soos wat dit moet gebeur.
Elke mens beskik oor eindelose hulpbronne en talente. Sommige van hulle is net onder die maatemmer versteek. Soms moet jy net die maatemmer oplig, sodat jy kan sien wat daar versteek lê. Jy mag dalk dinge van jouself of die ander persoon ontdek wat jy nie eens gedink het moontlik is nie.
Daar bestaan dus nie iets soos ’n dom of ’n swak mens nie; dit gaan immers oor moontlikhede. Eers wanneer jy begin dink watter moontlikhede daar is, begin daardie maatemmer te lig.
Net so min as wat jy verkeerd is in jou sieninge van dinge, net so min is die ander persoon verkeerd rakende hulel sienings. Julle is beide perfek geskape mense, net met verskillende sienings. Die fout lê dus in die interaksie tussen julle.
Die kernbeginsel om hier te volg is:
Daar is niks verkeerd met die ander persoon nie. Dit is noodsaaklik om hulle siening te respekteer en te aanvaar, selfs al maak dit nie nou vir jou sin nie. Dit maak vir die ander persoon sin net soos dit wat vir jou sin maak, dalk nie vir die ander persoon sin maak nie, maar wel vir jou.
Jy is in beheer van jou lewe
Jy moet eers besef dat jy in beheer van jou eie lewe is, aangesien jy altyd keuses het. Die ander persoon is nie in beheer van jou lewe nie en hulle kan nooit die oorsaak wees van hoe jy voel nie. Hoe jy oor enigiets voel, is altyd jou keuse.
Wat met jou gebeur en hoe jy voel, is nooit iemand anders se skuld nie. Jy is in beheer van jou lewe en dinge gebeur net as jy dit toelaat. Om iemand anders te blameer, is om daardie persoon in beheer van jou lewe te plaas.
En dit bly jou keuse.
Die kernbeginsel wat hier geld is:
Die ander persoon kan nie die oorsaak wees van hoe jy voel nie. Jy kies self jou gevoelens en jy is altyd in beheer van jou eie lewe deur die keuses wat jy maak. Jy kies om te voel soos jy voel, of jy kan KIES om anders te voel. Jy alleen is in beheer van jou eie geluk, nie die ander persoon nie.
Respek vir die ander persoon se siening
Julle het verskillende sieninge oor dinge en al stem jy nie saam met die ander persoon se siening nie, gaan dit daaroor dat jy daardie siening (of dit nou vir jou sin maak vanuit jou eie siening van die werklikheid of nie) absoluut sal respekteer. Die ander persoon se siening van die werklikheid is hulle absolute werklikheid, as ʼn perfek geskape mens met al die hulpbronne wat nodig is vir hul taak in hierdie wêreld.
Aan die einde van die dag is die waarheid net die waarheid wat vir jou waarheid is. Net soos jy verwag dat die ander persoon jou waarheid moet respekteer en aanvaar, so moet jy hulle waarheid onvoorwaardelik respekteer en aanvaar.
In konflik kan jy altyd vir jouself afvra: Waar kom die ander persoon vandaan? Daar is ʼn rede hoekom daardie persoon so optree. Wat is hulle realiteit? Waarom verskil hul realiteit van myne? Wat sien hulle raak wat ek dalk mis?
Al glo jy ook hoe dat jou siening van die werklikheid die ware en enigste regte siening is, bly dit steeds net jou siening. Dit geld egter ook vir die ander persoon en hul eie werklikheidsiening.
Om die ander een verkeerd te bewys, gaan jou nêrens bring nie. Dit gaan nie oor wie reg en wie verkeerd is nie. Albei is reg in jul siening van die werklikheid.
Die kernbeginsel wat hier geld is:
Daar is geen universele waarheid nie. Jou waarheid is jou waarheid en die ander persoon se waarheid is hulle waarheid. Deur respek vir die ander persoon se waarheid te hê, skep jy vir jouself soveel meer keuses en opsies om die uitdaging op te los.
Hoe jy dinge sien, is nie die werklikheid nie
Hoe jy dinge sien, is jou werklikheid en nie noodwendig die ander persoon se werklikheid nie. Ons almal kyk na dieselfde landskap, maar ons kyk na verskillende kaarte. Iemand mag dalk na ‘n weerkaart kyk, ‘n ander ‘n padkaart en nog iemand anders ‘n geografiekaart. Almal kyk na dieselfde landskap, wat hul realitiet regmaak, maar die feit dat elkeen ‘n ander kaart gebruik verander nie die landskap nie, maar wel elkeen se werklikheid. Dit mag jou net help om die kaart te verstaan waardeur die ander persoon na dieselfde landskap kyk, ten einde hulle realiteit te verstaan.
Die universele waarheid wat hier geld is:
Jy is nie verkeerd nie en die ander persoon is ook nie verkeerd nie. Julle kyk bloot vanuit verskillende kaarte na dieselfde landskap. Dit sal jou net soveel meer help om die ander persoon se kaart van die werklikheid te probeer verstaan.
Die intensie agter alle optrede is altyd positief
Mense maak besluite baseer op die beskikbare inligting en hulpbronne tot hul beskikking op daardie bepaalde tydstip. Dit beteken dat ’n mens die gedrag wat die persoon op daardie stadium openbaar, moet skei van die persoon self. Die gedrag van die persoon is nie die aard van die persoon self nie. Negatiewe gedrag beteken nie dat ’n persoon sleg is nie. Al word negatiewe gedrag getoon, bly jy en die ander persoon in wese steeds goed. Dit is wanneer jy die positiewe intensie agter die ander persoon se gedrag (of jou eie gedrag) kan raaksien, dat dit vir jou ’n magdom moontlikhede oopmaak. Jy kan dan die ander persoon se intensie dalk ook in ’n positiewe lig sien. Dit skep soveel moontlikhede vir jou om ’n uitdaging op die mees kreatiewe maniere op te los.
In die sielkunde sal ons selfs so ver gaan om te sê dat die persoon wat ʼn moord gepleeg het, ʼn positiewe intensie gehad het. Die gedrag was nie goed nie, maar die intensie daaragter was goed. Die gedrag is net sleg omdat die persoon ʼn gebrek aan keuses uitgeoefen het. Dalk het hul gedink die wêreld sal ʼn beter plek wees wanneer die ander een nie meer daar is nie. Maar daar is soveel meer en beter keuses om die wêreld ʼn beter plek te maak.
Die kernbeginsel wat hier geld is:
Daar is ʼn positiewe bedoeling agter die ander persoon se oënskynlik negatiewe gedrag. Ons mag dalk vra wat die ander persoon probeer oplos, maar dalk nie mooi weet hoe om dit op te los nie.
Die persoon met die meeste kreatiwiteit is in beheer
As jy voortgaan om te doen wat jy doen, sal jy voortgaan om te kry wat jy kry. Jy kan tog nie elke keer dieselfde ding doen en ʼn ander uitkoms verwag nie. As jy ʼn ander uitkoms wil hê, moet jy kreatief wees en iets anders doen. Alternatiewe insette sal alternatiewe uikomste gee.
Mense, ook jy, is ongelooflik kreatief. Jy kan, wanneer ʼn oplossingstrategie nie werk nie, kreatief genoeg wees om ʼn ander strategie uit te dink. Jy is geskape met al die hulpbronne om ʼn oplossing te kry. Daar is altyd nog opsies. Nog moontlikhede.
Daar word beweer dat Thomas Edison tot soveel as 2 000 pogings aangewend het om uiteindelik die gloeilamp te ontdek. Na die hoeveelste mislukking het hy die spot van die dorp geword. Sou mense hom na poging nommer 1 500 uitvra oor hoe dit voel om 1 500 mislkukkings te hê, sou hy antwoord: Wel mense, ek het 1 500 maniere geleer hoe om nie ʼn gloeilamp te maak nie. En vandag het ons die gloeilamp!
As jy iets doen om die probleem op te los en dit het nie gewerk nie, moet jy doodeenvoudig kreatief wees en iets anders doen totdat die probleem opgelos is, al kos dit jou 2 000 pogings.
As jy vir die ander persoon iets sê en hulle het jou nie reg gehoor of verstaan nie, lê die verantwoordelikheid by jou om jou keuses uit te oefen en dit op ʼn ander manier te sê of te doen totdat hul die regte boodskap gekry het.
Die kernbeginsel wat hier geld, is:
As iets wat jy doen nie werk nie, is daar altyd keuses om iets anders te probeer om die probleem op te los. Jy kan elke keer met jou kreatiwiteit iets anders probeer totdat jy iets vind wat werk.
Stop om jouself en ander te etiketteer
Dit bring ons by ’n baie belangrike begrip. Hierdie begrip heet etikettering. Wanneer jy ’n naam aan iets gee, is jy geneig om jou eie opsies en uitkoms te beperk. Jy plaas daardie persoon in ’n boksie wanneer jy hulle byvoorbeeld ’n verloorder, ʼn swakkeling of watookal noem. Dit beteken vir jou dat daardie persoon nou maar eenmaal so is en dat hulle nie kan verander nie; dat daar niks aan hierdie persoon gedoen kan word nie. Maar in diepste wese beperk jy eintlik net jouself en jou kreatiwiteit om ʼn ander kaart van die realiteit raak te sien.
Die kernbeginsel wat hier geld, is:
Wanneer jy ʼn etiket om iemand se nek hang, is waar die gesprek stol. Jy het daardie persoon of jouself in ʼn rigiede boksie geplaas en nou kom nie een van julle twee daaruit nie.
Ontmoet die ander persoon waar hul is
Het jy al met iemand gepraat terwyl jy nie lekker gevoel het nie? Was die persoon se reaksie dalk iets soos: Moenie bekommerd wees nie, alles sal regkom. Mag dalk beter werk?). Jy voel dan kwaad vir die persoon, ongeag hul positiewe intensie om jou beter te laat voel. Jy voel dat die persoon onsimpatiek is en nie verstaan waar jy nou is nie. Wanneer jy egter die ander persoon se realiteitskaart bestudeer, sal jy waarskynlik agterkom dat hul positiewe intensie was om jou beter te laat voel.
Die ander persoon wou dalk nie ʼn oplossing vir hul uitdaging gehad het nie, maar wou bloot gehad het dat jy empatie moet toon. Jy het hier disrespekvol opgetree deur ʼn oplossing te bied uit jou realiteitskaart. Jy kan glo dat die ander persoon die oplossing het uit respek vir hul menswees om self die oplossing vir hul uitdaging te kry.
As jy respek het vir die ander persoon se realiteitskaart, kan jy daardie persoon ontmoet waar hul hulle tans is. Wanneer hulle dan vir jou sê hulle voel nie lekker nie, sal jy vir hulle kan sê: ek sien jy voel nie lekker nie. Dit gaan daaroor dat jy die ander persoon gaan ontmoet waar hulle tans is. Wanneer jy dit doen, kan jy die ander persoon lei na die oplossing toe en gaan hul jou dalk meer waardeer.
Die kernbeginsel wat hier geld is:
Die belangrikste in enige verhouding is die gevoel van verstaan. Dit sou natuurlik ook help as jy verstaan waar die ander persoon vandaan kom en kan sê: Ek hoor wat jy sê. Jy klink kwaad… maar miskien is jy net bang.
Vir meer praktiese riglyne, kan jy gerus my artikel oor selfhandhawing gaan lees op jorganharris.co.za
Vir meer praktiese riglyne, kan jy gerus my artikel oor selfhandhawing gaan lees op jorganharris.co.za