Vergewing
Om mee te begin
Hoekom is dit so moeilik om te vergewe? Hoekom is dit vir ons so moeilik om net te laat gaan? Hoekom laat ons toe dat ‘n wroeging ons vir jare na ʼn gebeurtenis nog aan die hakskeen byt?
Een van die redes mag hierdie wanopvatting wees dat jy iemand ʼn guns doen deur hulle te vergewe. Jy leef onder die wanopvatting dat jy dink jy is in die magsposisie deur die ander persoon nie te vergewe nie. Jy voel dat jou sin vir wat reg is of wat regverdig is, aangetas is. Jy voel dat jy die reg het om terug seer te maak, om terug te slaan – die sogenaamde lex talonis (die reg van vergelding). Om terug te slaan en te haat is die manier om van seerkry te genees.
Daar is ook die siening om die minste te wees en bloot net te vergewe en te laat gaan. Deur bloot net te vergewe, maak jy ʼn skuif met jou verstand in jou rasionele gedagtes, maar jou gevoelens wat geen redelikheid ken nie, gaan ongenaakbaar net nie weg nie en jy is steeds seer. Vergewing is nie so eenvoudig as om iets net agter jou te sit, die ander persoon vry te spreek en dit net te laat gaan nie.
Vergewing is egter die selfsugtigste ding wat jy ooit kan doen. Hierdie diepsinnige woorde, is sover ek kon vasstel, die woorde van ʼn kardioloog, Dr. Dean Ornish.
As jy nie kan vergewe nie, is jy maar net die een wat jouself die seerste maak. Jy is die een wat sukkel met al jou negatiewe gedagtes, die pyn, die woede, die bitterheid, die skande, die seer, die skuldgevoelens, die verwyt, sielkundige en later selfs mediese probleme. Jy voel nou soos ‘n slagoffer. Deur te haat, is eintlik soos om iemand anders in beheer van jou lewe te plaas, aangesien hulle in jou kop ook jou negatiewe gevoelens veroorsaak. Om net te laat gaan plaas ongelukkig ook daardie persoon in beheer van jou lewe, aangesien jy nog woede mag ervaar.
Die ironie hiervan is dat jy glo dat daardie persoon in beheer van jou lewe of gevoelens is. Die meeste mense vir wie jy kwaad is, weet nie eens dat jy vir hulle kwaad is nie. Hulle weet nie eens hulle het jou seer gemaak nie. Hulle het gedoen wat hulle gedink het goed en reg is op daardie ingewing. Hulle het waarskynlik op hul eie pyn en sin vir oorlewing gereageer.
Confucius het eens gesê: As jy jou lewe toewy aan die soeke na wraak, grawe eers twee grafte.
Vergewing is ʼn keuse. Dit is nie ʼn ding wat jy net laat gaan nie. Dit gaan ook nie daaroor of die ander persoon jou vergewing werd is nie. Dit gaan primêr om beheer terug te neem en om veral jouself vry te maak.
Dit is heeltemal moontlik om die ander persoon te begrawe, maar in watter mate trek jy jouself nie ook in die graf in saam met daardie ander persoon nie?
Hoe ons geleer het
Meeste van ons het groot geword met die wanpersepsie dat vergewing ʼn enkele daad is om te sê: ek vergewe jou – dat alles dan verby is, jy die ander wang draai en jy nie kwaad mag voel nie.
Voordat ek verder gaan hiermee – die grootste meerderheid van my kliënte kom vanuit ‘n Christelike agtergrond. Daar is egter ook heelwat wat uit ander gelowe kom. Sover ek kon agter kom, dra die meeste gelowe dieselfde waardes as die van die Christelike geloof, spesifiek ook die Moslem en die Judaïstiese (Joodse) geloof.
In elk geval, terug na die Christelike tradisie wat onder andere leer:
- om nie ʼn oog met ʼn oog of ʼn tand met ʼn tand te vergeld nie (Matt 5:38);
- dat jy ʼn dankbaarheidslewe moet lei. Jesus het sy lewe vir ons gegee deur onvoorwaardelik vir ons aan die kruis te sterf ter wille van ons lewe sonder om kwaad te word of om te kla;
- om ook die ander wang te draai;
- om nie kwaad te word of om wraak te neem nie, want die wraak kom God toe;
- teenoor jou aard en natuur, moet jy liefdevol, genadiglik en fatsoenlik reageer;
- dat God jou onvoorwaardelik vergewe en net so moet jy jou medemens onvoorwaardelik vergewe. As jy mense nie onvoorwaardelik vergewe nie, kan God jou nie vergewe nie (Matt 6: 14 – 15 en Markus 11: 25 – 26);
- die Bybel is vol verhale waar vergewing so eenvoudig lyk. Esau vergewe Jakob se verraad (Gen 33), Josef vergewe sy broers (Gen 45 en 50), die verlore seun se pa neem hom onvoorwaardelik terug (Luk 15). Paulus maan die gemeente van Korinthe om te vergewe (2 Kor 2), Hosea vergewe herhaaldelik sy vrou se verwerping en ontrouheid, Paulus maan ander om te verdra ongeag wat hulle aan jou doen en maan hulle om te vergewe soos God hulle vergewe. Die grootste voorbeeld is waar Jesus sy vervolging, aanranding en viktimisasie aanvaar het (1 Petrus 2). Selfs aan die kruis, vergewe Jesus sy moordenaars (Lukas 23:24).
Die boodskap wat ons hier kry, is dat as jy nie kan vergewe nie verdien jy ook nie om vergewe te word nie.
Die pyn van hierdie oortuigings
Wanneer vergewing die feit dat jy kwaad is ontken en jy optree asof dit nooit gebeur het nie, asof dit nooit seer gemaak het nie, maak asof alles vergete is, kan jy dit nie vertrou nie. Dit is nie vergewing nie. Dit is ʼn onrealistiese fantasie.
Sulke denke mag sielkundige gevolge veroorsaak. Dit kan versteurde interpersoonlike verhoudinge, bitterheid, haat, spyt, alkoholisme, slaaploosheid, verwyt, ʼn swak selfbeeld, hulpeloosheid en wantroue tot gevolg hê. Dit kan lei tot spanning of dan angs aangesien jy bang mag wees om weer seer te kry of om weer verneder te word. Dit kan op die ou einde angs en depressie tot gevolg hê.
Navorsing toon dat woede en die gepaardgaande bitterheid en verkwaliking die nommer een oorsaak van uitbranding is.
Hierdie gevoelens mag op hul beurt weer skuldgevoelens veroorsaak. Skuldgevoelens is seker een van die mees destruktiewe menslike emosies en soveel mense wat in my spreekkamer kom sit se probleme of uitdagings kan terug herlei word na skuldgevoelens. Skuldgevoelens bou op vrees. Ten diepste is die grootste vrees om in ‘n sogenaamde hel te moet gaan boet vir ewig. Skuldgevoelens is eintlik maar gemaskerde vrees.
Moord is die uiterste mislukking om ʼn ander te vergewe en selfdood is die uiterste mislukking om jouself te vergewe.
Jou kognitiewe funksionering en selfs jou geheue mag deur woede aangetas word. Mense met ʼn onderdrukte woede sê gereeld dat hulle sukkel met konsentrasie en geheue. Dit is asof daardie ou woede hulle steeds in die onderbewuste by bly al is hulle bewustelik oortuig dat hulle nie meer kwaad is nie. Steeds bly hul gedagtes dwaal na daardie woede, selfs sonder dat hulle dit besef.
Hierdie onderdrukte woede mag selfs ook fisiese probleme en siektes tot gevolg hê. Daar is heelwat sulke gevalle al opgeteken – die onderdrukking van jou immuunstelsel, as ‘n voorbeeld, mag gevolglik kolitis en arteritis veroorsaak. Jy mag hoë bloeddruk ontwikkel (wat is dit wat jou bloed laat kook?) en ook hartsiektes. Jou hart is die setel van jou emosies en hartseer kan inderdaad lei tot hart-seer. ʼn Seer hart is dus ʼn stukkende hart. Letterlik.
Onderdrukte woede onderdruk ook jou immuunstelsel en mag op die ou einde selfs kanker tot gevolg hê. Kanker kan weer veroorsaak word deur jou liggaam se verminderde immuniteit, selfbeserende gewoontes, jou liggaam wat ditself letterlik aanval, of watter redes ookal kanker veroorsaak as gevolg van onderdrukte gevoelens. Asof dit soos ʼn kanker aan jou vreet.
Jou seerkry maak jou kwaad en die kwaad maak jou weer seer. Die seer maak jou nog kwater en hierdie kwaad maak jou nog seerder en so spiraal hierdie eindelose sirkel net aan en aan.
Herbevestig jou menswees
Is dit volhoubaar om aan die denke en oortuiginge waarmee ons grootgemaak is vas te hou? Is dit moontlik om net te vergewe en aan te gaan (asof niks gebeur het nie)? Is dit moontlik om jou gevoel van vergelding net te laat gaan? Is dit moontlik om nie seer te kry nie? Is dit verkeerd om kwaad te voel? Is dit reg om jou eie gevoelens te onderdruk ter wille van vergewing?
Om kwaad te wees is deel van ons natuur. Jy mag dalk ‘n bedreiging ervaar. Jy kan nou maar oor hierdie sogenaamde gevaar dink soos jy wil, maar ‘n biologiese reaksie sal steeds plaasvind. Wannneer jy gevaar ervaar, beleef jy ‘n oplewing van adrenaline wat jou in staat stel om te veg, te vlug of te vries. Hierdie adrenaline gaan nie sommer net weg nie. Die oerbrein het hier oorgeneem. In die oertyd kon jy iemand met ʼn stok of ʼn klip oor die kop slaan en die gevaar of woede is verby, of jy kon weg hardloop tot jy uit die gevaar is. Maar vandag kan jy dit nie doen nie. Jy kan nie jou bankbestuurder oor die kop slaan of vir die Ontvanger weghardloop nie. Jy moet dit hanteer. Al kook die adrenaline oor, word daar steeds van ons verwag om dit te hanteer.
Met bogenoemde in jou agterkop, laat ons weer gedagte gee aan die opvattings waarmee ons groot gemaak is (in enige religie of gebrek daaraan):
- is vergewing regtig so maklik soos om net vry te spreek en te laat gaan? Ek en jy is nie God of Jesus nie. Ons is net mense met menslike emosies wat kwaad word en seer kry. Mag ons nie kwaad word nie en soos Jesus aan die kruis net ons oortreders vergewe?
- selfs Jesus het eendag kwaad geword en stoele en tafels in die tempel omgesmyt;
- het jy geen reg tot selftrots nie? Jy is dan uniek geskape met niemand wat selfs dieselfde vinger-afdruk as jy het nie. Meeste mense kan doen wat jy doen, maar niemand kan iets doen soos jy dit doen nie;
- Matt 22: 37 sê vir ons dat jy die Here jou God lief moet hê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand en die tweede wat hiermee gelyk staan is jou naaste soos jouself. Ons is geleer dat ons God eerste lief moet hê, dan ons naaste en laastens onsself. In die oorspronklike Griekse teks word ‘n klein woordjie ignoreer. Die woordjie soos. In die oorspronklike Grieks is die woord soos in Afrikaans vertaal vanaf die Griekse woord homoios. Hierdie woord impliseer dat jy jouself eerste lief moet hê voordat jy jou naaste en daarom God lief kan hê. Nie selfliefde op ʼn egoïstiese manier nie, maar ware selfliefde in die sin van jou waardeskatting van jou doel op aarde;
- jy is immers geskape met alles wat nodig is om suksesvol te wees vir jou doel hier op aarde. Jy het al die talente ontvang om hierdie doel te bereik. Soms is hierdie talente net onder die maatemmer versteek;
- is dit waar dat jy ‘n slagoffer is in plaas van ‘n oorwinnaar, meer as ‘n oorwinnaar, meer as wat jy ooit sal besef, aangesien jy altyd keuses het. As jy voel jy het nie ʼn keuse nie, is dit omdat jy nie genoeg in jouself glo om te weet dat jy ʼn oorwinnaar is en dat jy net kreatief kan wees om meer keuses te genereer nie;
- besef jy hoe belangrik jy regtig is? Hierdie Raadsplan kan nie tot vervulling kom sonder jou nie;
- moet jy ook die ander wang draai, gesien in die lig van hierdie artikel, veral wanneer Matt. 5: 38 sê: as iemand jou op die regter wang slaan, draai ook die ander wang? Wees dus die minste, sagmoedig en sonder trots. Ek moet my predikant-pa bedank vir sy insigte. Pater het te vertelle dat wanneer iemand jou op die regterwang slaan, moet jy realisties dink. Mense is normaalweg regshandig. Om jou op die regter wang te slaan (ʼn back hand) was vir ‘n Jood ʼn groot vernedering. Draai dus die ander wang en laat die persoon jou ordentlik slaan. Die Bybel vertel jou egter nie wat jy dan met daardie persoon moet doen nie…
- jy word bloot geleer om te vergewe, maar word daar vir jou vertel hoe vergewing werk? Kan jy bloot net vergewe en jou emosies ontken soos wat ons geleer is om te doen?
- daar word van ons verwag om onvoorwaardelik te vergewe, aangesien die Bybel dit van ons verwag;
- dit mag wel moontlik wees wanneer ons deur sekere prosesse gaan;
- of dalk is daar juis voorbeelde in die Bybel van hierdie prosesse. Ook vir Bybelse figure was dit nie moontlik om net hulle woede te onderdruk nie. Jesus het tafels en stoele in die tempel omgegooi, Job het sy geboortedag vervloek en Moses het die tien gebooie stukkend gegooi uit woede en frustrasie.
Die proses van vergewing
Nou sit ons hier met ʼn interessante dilemma. Jy mag kwaad wees. Jy mag trots wees. Jy mag voel dat jy geskaad is. Jy mag wraak neem. Jy mag selfs haat. Jy mag, want jy mag selftrots voel, maar jy mag steeds nie jou medemens skade aandoen nie, alhoewel jy skade aan wil rig. Jy wil doen wat jy wil doen en jy wil sê wat jy wil sê. Jy het nodig om dit alles uit jou sisteem te kry, of die ander persoon dit hoor, verstaan, regverdig of nie.
Vergewing is dus ʼn proses en nie net ʼn oomblik nie.
Die proses van vergewing werk dus so in die volgende stappe:
Gee erkenning aan jou gevoelens
Die eerste stap in die proses van vergewing is om vir jouself erkenning te gee oor hoe jy voel. Erken dat jy seergemaak voel, dat jy seer gekry het, dat jou sin vir self seergekry het, selfs dat jy minder van jouself dink. Erken ook aan jouself dat jy die reg het om te voel soos jy voel. Erken teenoor jouself dat jou menswees en regte aangetas voel, dat jy kwaad is en die reg het om kwaad te wees. Selfs al voel jy dat jy deur die wêreld en selfs deur God te na gekom is, soos Job, sonder om bang te wees dat ʼn ongenaakbare God jou hiervoor vir ewig sal straf.
Dis belangrik om te weet dat jy belangrik is, dat jou gevoelens tel en dat jy die reg het om kwaad te wees. Jy is in hierdie Universele Plan net so belangrik soos enigiemand anders en jy is deel van die vervulling van hierdie plan.
Erken ook aan jouself dat jy swak voel. Dat jy seer het, dat jy behoeftes het, dat jy kwesbaar, afhanklik en ook bang voel.
Druk jou gevoelens duidelik uit
Jy het nie noodwendig die behoefte om die ander persoon te laat hoor hoe jy voel nie, as om te ventileer hoe jy voel nie.
Erken teenoor jouself dat jy befoeterd, selfs bedonnerd voel;
- jy mag dalk vir die een vir wie jy kwaad is ʼn brief wil skryf waarin jy sê hoe jy voel. Jy mag alles sê wat jy wil, met vloekwoorde wat van die bladsy afgly. Jy het egter nie noodwendig nodig om hierdie brief vir die persoon te gee nie. Jy het nie ʼn verskoning nodig nie. Jy moet dit net uit jou sisteem kry en betekenis hieruit kry. Daarna kan jy ‘n vagevuur maak en dit bloot alles net verbrand, soos wat jy die pyn weg brand;
- die persoon vir wie jy kwaad is mag dalk net hul eie gedrag regverdig, of ‘n verskoning daarvoor gee. Dit is maar bitter selde, indien ooit, dat jy daardie erkenning gaan kry. Indien hulle wel hul fout erken, mag jy dalk heel waarskynlik besef dat jy net tydelik, indien enigsins, beter gaan voel. Daar is egter geen dieper betekenis vir jou daarin nie. Ten minste kan jy jou gevoelens uit jou sisteem kry;
- en jy kan ‘n bonfire maak en hierdie brief sommer net verbrand wanneer jy gereed is;
- jy mag selfs in jou verbeelding vir hierdie persoon of dalk mense sê watookal jy wil. Vertel hulle in geen onsekere terme hoe jy dink, hoe jy voel en onthou dat vloek een van die beste verligters van stres is, volgens Mark Twain. Ons is soms nogal lief daarvoor om dit in terapie te doen;
- erken teenoor jouself en net jouself dat jy kwaad is en dat jou gevoel van dit wat vir jou reg is, aangetas is op watter manier ookal. Jy kan jou kussing aanrand in die fantasie dat dit die ander een is vir wie jy woedend is, of wat jy ookal wil doen om van jou woede ontslae te raak. Vir wat ek omgee, kan jy jou maat se foto in jou agterplaas opsit en dit met leë bierbottels gooi totdat jy hul gesig vir ewig geskend het;
- erken egter ook teenoor jouself dat jy swak en weerloos voel. Erken dat jy geskok en teruggeruk tot die kern van jou menswees voel;
- jy kan steeds, as jy so voel, die oortreder aan die pen laat ry en voor die hof daag om te keer dat dit met ander mense gebeur. Dit beteken egter nie noodwendig dat jy vergewe het nie. Jy het dalk geregtigheid of wraak gekry maar dit is nie vergiffenis nie.
Besef ook jou eie kwessies
Dit mag jou ook baie help om vir ‘n oomblik bewus te raak van jou eie kwessies, verliese of skok en hoe jy daaruit kan groei. Hoekom ontstel hierdie dinge jou so? Voel jy te na gekom? Voel jy soos ʼn slagoffer? Voel jy dat jy geskend is? Voel jy nie goed genoeg nie, of dat jou regte onderdruk is? Waar kom hierdie gevoelens vandaan? Is dit dalk net ʼn refleksie op jou eie kwessies? Of is jy ʼn oorwinnaar en kan jy jouself losmaak van hierdie bande wat jou terug hou?
Dink nuut
Jy mag nuut of anders hieroor dink. Wanneer jy besef dat jy nie ʼn slagoffer is nie, maar ʼn inherente oorwinnaar, is wanneer jy nuut en anders oor dinge begin dink:
- dalk besef jy nou dat jy veel sterker is as wat jy gedink het. Jy het altyd keuses. Jy kan kies om nie ʼn slagoffer te wees nie;
- jy kan ʼn onderskeid tref tussen die persoon en hulle gedrag. Die ander persoon se gedrag op daardie oomblik weerspieël nie noodwendig wie hulle is nie. Daar is ʼn rede hoekom hulle op daardie oomblik so opgetree het;
- miskien wil jy dood gewoon nie hê dat dit weer gebeur nie. Daarin het jy geen waarborg nie. Wat gebeur het, mag weer gebeur. Jy bly egter ‘n oorwinnaar en jy kan kies om anders te reageer en om anders as ‘n slagoffer te voel;
- hou egter ook in jou agterkop dat alle gedrag ʼn positiewe intensie het – selfs al was hul gedrag op daardie stadium negatief, was daar steeds aanvanklik ʼn positiewe intensie.
- dalk besef die persoon nie eens dat hulle self nie genoeg keuses tot hul eie beskikking gehad om dalk meer konstruktief op te tree nie. Hulle wou jou egter nie intensioneel seermaak nie. Hulle sukkel ook maar met hul eie pyn en probleme en wil hulself beskerm. Hulle weet heel waarskynlik nie eens dat hulle jou seer gemaak het nie. Hulle is waaskynlik te geabsorbeerd in hul eie probleme of kwessies;
- hulle het ook maar net op daardie oomblik gedoen wat hulle op daardie stadium gedink het die beste was om te doen, met die hulpbronne wat hulle daardie oomblik tot hulle beskikking gehad het, netsoos jy. En niemand kan meer as dit verwag nie;
- ten einde iemand anders te vergewe moet jy eers jouself vergewe. Vergewe jouself van skuldgevoelens en al jou gevoelens van magteloosheid. Net soos jy eers jouself lief moet hê, kan jy ook eers jouself vergewe voordat jy ander en selfs God kan vergewe. Besef dat jy goed en goed genoeg geskape is, met alles wat nodig is om jou unieke doel op aarde te vervul. Dis wanneer jy besef dat jy goed genoeg is. Dat jy uniek is. Dat jy spesiaal is en juis dit open jou vermoë om lief te hê. Om lief te hê is die allergrootste vermoë om in beheer te voel.
Vergewingsgesindheid is dalk juis die onvergeefbare!
Jy mag maar die jonger, minder ervare jy vergewe en besef dat dit nie meer is wie of wat jy vandag is nie. Jy hoef nie die ou jy meer te veroordeel nie, want daardie jy het die beste gedoen en besluite geneem met die bronne en inligting tot jou beskikking op daardie bepaalde tyd.
Ghandi het eenmaal gesê: vergewing is die eienskap van die sterk mens. Die swak mens kan nie vergewe nie.
Laat gaan
Wanneer jy kan laat gaan en die verlede in die verlede kan los, is wanneer jy vergewe.
Dit is eers op hierdie punt waar jy kan sê: ek vergewe jou. Wanneer jy dit nou kan doen, kan jy jouself bevry van die boeie waarmee jy jouself vasgebind het. Nou laat jy jouself oop om betekenis en leergeleenthede hieruit te kry ten einde vevulling as mens te bereik.
Kry betekenis
Wanneer jy die gedagte begin kry dat dit wat gebeur het selfs goed kan wees vir jou, is waar jy betekenis kry, groei en eventueel vergewe. Dalk wil jy jouself afvra wat jy hieruit kan leer, wat dit vir jou beteken en hoe dit jou kan help om selfs ‘n nog beter mens te word.
Wat gebeur het is verby. Jy kan daaraan niks meer doen nie. Dis klaar, in die verlede. Jy kan nou die jonger, minder ervare en oningeligte jy van die verlede vergewe en met die insig, kennis en wysheid wat jy vandag het vorentoe beweeg. Wat ookal sal kom, sal kom en wat ookal is, is. Jy lewe net in die hier en nou en dis al tyd wat bestaan. Die verlede is ʼn herinnering die toekoms ʼn fantasie. Die tyd waarin jy werklik lewe, is nou!
Wanneer jy verby jou ego en pyn kyk en sien dat daar ʼn groei-geleentheid hierin vir jou is, is wanneer jy begin verstaan wat jy doen. Dis wanneer jy leer en besef dat elke ervaring in jou lewe ʼn leergeleentheid kan wees. Jy kan kies om soos ʼn slagoffer te voel, of jy kan kies om dit as ʼn leergeleentheid te sien.
Dit gaan tog alles oor bevryding, wanneer jy besef dat jy altyd keuses het. Jy is vry vanweë jou keuses. Op hierdie punt hoef jy nie eens te sê: ek vergewe jou nie. Teen hierdie tyd het dit reeds vanself gebeur.
Spreek dit aan
As jy steeds ‘n bepaalde verhouding het met die persoon vir wie jy kwaad is, kan jy – nadat jy jou gevoelens uitgedruk het en jou eie kwessies uitgespreek het, dit laat gaan en nou hierdie kwessie met die ander persoon aanspreek.
Jy kan nou rustig vir die persoon met wie jy in ‘n bepaalde verhouding staan, vertel:
- hoe hul optrede jou laat voel het;
- erken dat dit dalk jou eie kwessie mag wees;
- dat jy dit laat gaan het;
- wat dit vir jou beteken en wat dit vir jul verhouding mag beteken en;
- watter groei dit vir julle verhouding mag inhou.
Om mee af te sluit
Vergewing is inderdaad die selfsugtigste ding wat jy ooit kan doen. Nie net verlos jy jouself van allerlei negatiewe emosies nie, maar jy kan dit ook tot jou voordeel gebruik om eerlik kontak te maak met jou eie gevoelens van weerloosheid en dat jy net mens is. Wanneer jy dit besef, kan jy groei en nog ʼn beter mens word.
Noudat jy jouself beter verstaan, kan jy ʼn beter mens word en jou bydrae soveel meer effektief lewer in jou belangrike aandeel in hierdie Universele Plan.
Dis wanneer jy jouself bevry van emosionele kwessies en fisiese siektes. Dis wanneer jy vry is. Werklik vry is.
Soos Dr. Dean Ornish sê: laat gaan net jou eie swaarkry.
Besef hoe belangrik jy regtig is. Besef hoe swak en tog hoe sterk jy is. Jy het ʼn taak en ʼn opdrag in hierdie lewe en jy het alles ontvang om jou bydrae te maak om van betekenis te wees.
Kyk mooi na jouself. Doen die selfsugtigste ding ooit en wees lief vir jouself. Slegs dan kan jy ander mense help en jou verhoudings laat groei.
Jy is meer as ʼn oorwinnaar.
Dis hoe dit is om te vergewe.