banner asthma and human brain
Asem weg geslaan (met ‘n Oosterse geurtjie) - © jorgan harris.

Moontlike sielkunde agter asma

Mediese hipnose 

In die behandeling van mediese probleme is daar ‘n toename in navorsing en literatuur beskikbaar wat die waarde van hipnose, as bykomende behandelingsmetode, beskryf. Die waarde van die sogenaamde mind-body verhouding raak al hoe meer relevant.

Hipnose is byvoorbeeld bewys as een van die beste metodes in die behandeling van stres en angs.  Angs wat onder beheer gebring word, versterk jou liggaam se immuunstelsel wat dit weer in staat stel om siektes, soos asma, te kan weerstaan. 

Psigoneuroimmunologie (PNI)

 Hierdie nuwe veld van PNI behels dat emosies dalk die een faktor kan wees wat die immuunstelsel laat ineenstort.

Die belangrikste aanspraak van PNI is die interaksie tussen:

  • die senu- en immuunstelsels, en
  • die verhoudings tussen verstandelike prosesse en die gesondheid van die liggaam.

Vir ‘n beter begrip van PNI, gaan lees gerus my artikel oor PNI op my webtuiste, Kop oor dinge.  Hier word die boublokke van PNI volledig bespreek.

Analoog denke 

Taal is ten diepste psigosomaties.  Ons woorde en die uitdrukkings wat ons gebruik, is grootliks geleen van wat ons met ons liggaam ervaar. Ons kan net iets verstaan wanneer ons dit in ons liggaam ervaar. 

Analoog denke gebeur waar ‘n simboliese betekenis van ‘n woord of woorde letterlik raak vir die onderbewuste en ditself manifesteer op ‘n fisiese vlak. Jy kan ook meer hieroor te wete kom in my artikel, Kop oor dinge.

Analoog denke is waar ons iets konkreet in ons kop vervang met abstrakte denke. Hou hierdie bostaande gedagtes in gedagte wanneer ons asma bespreek

Asma

Asma is ‘n algemene langtermyn inflammatoriese siekte in die lugweë van die longe. Asma word gekenmerk deur onbestendige en herhaalde simptome, die blokkasie van lugtoevoer na en van die longe, wat maklik bronchospasmas tot gevolg kan hê. Simptome sluit onder meer episodes van hyg, hoes, toegetrekte bors en kortasem in. Daar is dus ‘n obstruksie in die keel en lugweë.

Daar word gereken dat asma veroorsaak word deur ‘n kombinasie van genetiese- en omgewingsfaktore. Omgewingsfaktore mag faktore soos die blootstelling aan lugbesoedeling en allergiewekkers (bv. stuifmeel en grassade) insluit.

 Daar is egter ook ‘n sielkundige aspek verbonde aan asma. 

Die sielkunde agter asma

Asma is ten diepste ‘n asemhalingsprobleem.  Daar is heelwat navorsing beskikbaar wat die emosionele basis van asma aantoon.

Emosionele uitdagings soos woede, onderdrukte gevoelens, hartseer of vrees mag van hierdie gevoelens wees.

Daar mag ‘n blokkasie in jou keel wees. Jou keel is die deurgang van jou hart na jou kop.

Volgens ons Oosterse vriende is daar verskillende fokuspunte wat gebruik word in ‘n verskeidenheid antieke meditasiepraktyke, gesamentlik gedenomineer as Tantra, deel van die innerlike tradisies van Hindoeïsme en Boeddhisme:

  • jou vierde Chakra in jou hart en borsarea geleë. Jou hart is die setel van al jou gevoelens en emosies;
  • jou keel en nek verteenwoordig jou vyfde Chakra;
  • jou kop en gesig jou sesde Chakra;
  • jou sewende Chakra jou spiritualiteit.

Wanneer jy gevoelens en emosies ervaar, sal jy hierdie gevoelens en emosies ervaar in die kern van jou emosies, in jou hart (jou vierde Chakra).

Om hierdie emosies te hanteer, is dit nodig om jou denke en emosies te verwerk deur daaroor te praat, emosies in die vorm van trane te ervaar of om daaroor na te dink. Hierdie aktiwiteite vind plaas in jou sesde Chakra. Jy mag selfs geestelike vrede en betekenis vind in jou sewende Chakra.

Om hierdie gevoelens te hanteer, moet energie vanaf jou vierde Chakra opvloei na jou sesde en sewende Chakras.

Al hierdie gevoelense en emosies moet dus deur jou vyfde Chakra, jou Keel Chakra, geleë in die are van jou nek, vloei. Jou keel is onder andere in hierdie Chakra geleë. Dit kan gebeur dat emosies, wat te moeilik is om te hanteer, in die Keel Chakra kan vassteek, wat allerhande asemhalingsuitdagings kan veroorsaak. 

Asma mag in ander woorde beteken dat daar ‘n blokkasie in die uitdrukking van jou emosies is. Jy mag versmoor voel.  Versmoor deur te veel werk, uitdagings of mense, ensovoorts, tot so ‘n mate dat jy voel dat jy nie vir jouself kan asemhaal nie (verwys na Analoog Denke). 

Daar mag ‘n hartseer wees wat jy dalk vir ‘n lang tyd met jou saamdra, wat dalk uit moet kom, maar onbewustelik kan dit nie uitkom nie.

Literatuur dui ook aan dat hier dalk ‘n sterk verband tussen asma en jou verhouding met jou ma as kind mag wees. In die baarmoeder het jou ma vir jou asem gehaal en na jou geboorte moes jy self asem haal.  Na geboorte wil baie moeders steeds vir hulle kinders asem haal, soveel so dat die ma die kind versmoor, domineer of oorweldig wat kan lei tot ‘n voortdurende afhanklikheid van die ma.

Die kind mag dalk uitdagings ervaar om vir hulself asem te haal. Dit mag dalk ‘n probleem raak sou ‘n jonger kind gebore word of jy die huis verlaat of trou.

In volwassenheid mag jy dalk versmoor voel deur jou baas, jou werk, jou verantwoordelikhede en waar jy letterlik voel jy kan nie vir jouself asem haal nie en hulploos voel.

Wanneer jy uitasem, druk jy jou gevoelens uit. Mense met asma mag dalk voel of hulle nie met die uitasemslag kan sê of uitdruk wat hulle voel nie.  Jy hou letterlik asem op en die emosies bou op in jou sonder dat hierdie emosies ‘n uitlaatklep kry.

Asma-aanvalle word gewoonlik gesneller deur emosies soos woede of warm gevoelens teenoor iemand na aan jou of wanneer jy voel jy misverstaan word. Jy kry nie jou gevoelens uitgedruk nie, wat ons ‘n gebrek aan assertiwiteit noem (Jy kan meer hieroor lees in my artikel oor Assertiwiteit).  Dit dra by tot gevoelens van angs.

As jy met asma sukkel, vra jouself die volgende vrae:

  • sukkel ek dalk met angs?
  • het my ma my dalk as kind versmoor?
  • voel ek of ek nie enigiets vir myself kan doen nie?
  • is daar ‘n onderdrukte huil binne my?
  • is ek bang vir vryheid?
  • is daar dalk ‘n ou onderdrukte woede binne my?
  • beleef ek innerlike konflik?
  • dink ek dalk te min van myself?
  • voel ek oorweldig?

As jy positief kan antwoord op een of meer van die bogenoemde vrae, mag psigoterapie jou help om jou asma te behandel.

Psigoterapie

 Die primêre taak hier is om daardie geblokte gevoelens oop te maak en om beter kommunikasie te laat vloei, veral met jouself, familie en vriende.  Dit hoort jou te help om jou gevoelens en emosies deur te werk.

Ons wil met psigoterapie eerstens agterkom waar hierdie geblokte gevoelens vandaan kom.  Indien daar enige trauma in jou lewe was waar jy nie voel dat jy vir jouself asem kon haal nie, ‘n gevoel van versmoring, letterlik of figuurlik, sal ons eerstens daardie trauma wil aanspreek en desensitiseer.  Selfs al het jy ‘n oorbeskermende ouer gehad, mag dit steeds traumaties wees indien jy later in jou lewe gevoel het dat jy nie onafhanklik kan funksioneer en dus nie vir jouself kan asemhaal nie. 

Dit is soms nodig om eers daardie ou trauma soos hierbo beskryf, te verwerk.  Hiervoor gebruik ons Brain Working Recursive Therapy (BWRT).  Jy kan gerus meer oor hierdie opwindende vorm van terapie lees op my webtuiste, www.jorganharris.co.za.  Klik op Terapie en dan op BWRT. BWRT is ‘n kragtige vorm van terapie om ou trauma te desensitiseer.

Wanneer hierdie trauma met BWRT opgelos is, (dit neem een tot twee sessies) kan ons begin om asma aan te spreek. 

Met hipnose word gepoog om die onderbewuste te help om jou te help om:

  • enige blokkering te oorwin;
  • jouself te help met jou angs of om jou angs te kan laat gaan;
  • jou gebrek aan assertiwiteit te oorwin; en
  • jou selfbeeld te verhoog.

Gevallestudie

Tydens Jean* se eerste sessie het hy gekla oor sy gebrek aan kommunikasie. Hy is gediagnoseer met Algemene Angsversteuring en Post-traumatiese stres. Op die ouderdom van vier jaar het hy asma ontwikkel. 

Voorts het hy gesê dat hy oorweldig deur die lewe voel.  Hy het gesukkel om dinge waarmee hy begin het, klaar te maak, asof hy homself saboteur. Verder voel dit ook vir hom of hy getroos wil word deur mense vir redes onbekend aan homself.

Twee traumas in Jean se lewe het hom teruggehou.  Hy is as kind gemolesteer en kon nie daaroor praat of verbaliseer of uitdrukking daaraan gee nie. Aan die ander kant het hy ‘n oorbeskermende ma gehad.  Hy was egter as kind deur haar versmoor en kon nie sy eie menings lug nie. 

Tydens BWRT het hy ook deur die trauma gewerk toe sy ma hom eendag deur die gesig geklap het terwyl hy sy eie mening gelug het.  Hy het daardie dag identifiseer as die dag waarop hy sy vermoë om te praat, sy stem, verloor het.

Nadat ons hierdeur gewerk het, kon hy met hipnose gehelp word om sy angs te hanteer, sy sin vir onafhanklikheid en sy gevoel van emosionele sterkte in homself terug te wen

Sy angs het dramaties verminder, sy huwelik het verbeter en hy kon beter kommunikeer, tuis en by die werk. Hy het gevoel dat hy weer begin lewe en dat hy vir homself kon begin asemhaal. Hy het weer beheer oor sy eie lewe en homself gekry,

Sy asma simptome het merkbaar verlig.

*Nie sy regte naam nie

Impact of Event Skaal (15 vrae):

Kies net een antwoord in elke ry.

Glad nie Skaars Soms Dikwels
1. Ek het daaraan gedink selfs al wou ek nie. 0 1 3 5
2. Ek het dit vermy om myself toe te laat om ontsteld te raak toe ek daaroor gedink het of daaraan herinner was. 0 1 3 5
3. Ek het probeer om dit uit my geheue uit te verwyder. 0 1 3 5
4. Ek het probleme gehad om aan die slaap te raak of om aan die slaap te bly omdat beelde of gedagtes hieroor in my kop bly terugkom het. 0 1 3 5
5. Ek ervaar golwe van sterk gevoelens hieroor. 0 1 3 5
6. Ek het drome hieroor gehad. 0 1 3 5
7. Ek het weg gebly van dinge wat my hieraan herinner het. 0 1 3 5
8. Ek het gevoel asof dit nie gebeur het het nie of asof dit nie regtig was nie. 0 1 3 5
9. Ek het probeer om nie hieroor te praat nie. 0 1 3 5
10. Beelde hiervan het in my gedagtes ingespring. 0 1 3 5
11. Ander dinge het my hieraan laat dink. 0 1 3 5
12. Ek was bewus daarvan dat ek steeds baie gevoelens hieroor het, maar ek het het dit nie hanteer nie (daarmee “gedeal nie”). 0 1 3 5
13. Ek het probeer om nie hieraan te dink nie. 0 1 3 5
14. Enige iets wat my hieraan herinner, het gevoelens hieroor na my terug gebring. 0 1 3 5
15. My gevoelens hieroor was soort van dood of dof of gevoelloos. 0 1 3 5
 

_____________________________________

TOTALE IES: ___________

Telling: Neem die totaal van elke kolom en tel dit op vir ʼn finale spannings telling.

Byvoorbeeld, elke item wat gemerk is in die “glad nie” kolom se waarde is 0. Elke item wat gemerk is in die “skaars” kolom se waarde is 1. In die “soms” kolom is die waarde 3 en in die “dikwels” kolom is die waarde 5. Tel die totale van al die kolomme op om die totale telling te verkry.

Die volgende afdeling sal jou help om die betekenis van jou telling te verstaan.

Wat beteken my telling op die Impact of Event Scale?

Die Impact of Event Scale is nuttig in hoe ʼn spanningsvolle gebeurtenis jou mag raak. Byvoorbeeld, op die oorspronklike 15-item Impact of Event Scale (IES), mag die tellings wissel van 0 tot 75.  Jy kan die IES tellings as volg interpreteer:

Interpretasie van die Original Impact of Event Skaal:

0 –   8     Geen betekenisvolle impak

9 – 25     Impak gebeurtenis – jy mag geraak wees.

26 – 43   Kragtige impak – jy is verseker geraak. Jy het dalk terapie nodig.

44 – 75   Ernstige impak – dit mag jou vermoë om te funksioneer ernstig beïnvloed. Terapie is verseker nodig.

Scroll to Top