My Probleem met Sielkunde
Die laaste keer toe ek ‘n das gedra het
Ek haat dit om gebind te wees. Dit versmoor my so al om my nek. Dit hits die rebelse kind binne my net te veel aan.
Eintlik verpes ek sielkunde. Ek hou nie van sielkundiges nie en het geen sielkundiges as vriende nie. My persoonlike siening is dat die meeste sielkundiges eintlik maar net hulself en hul eie patologie probeer oplos deur ander mense te wil help.
Ek het ‘n broertjie dood aan jare se terapie om nie van daardie valse empatie van meeste sielkudiges te praat nie. Ek wil kots as daar in ‘n sagte stemmetjie soveel keer gevra word: en hoe voel jy daaroor?
Noem my rebels, maar ek doen nie sielkunde soos Sielkunde normaalweg gedoen word nie.
Ek het egter groot geword in ‘n familie vol sielkundiges, waarvan my pa ook een is. Boonop was my pa ‘n predikant daarby. Sielkunde kom dus vir my natuurlik aangesien ek Freud en Jung kon sê selfs voordat ek Mamma en Pappa kon sê.
Ek het nooit Universiteit toe gegaan met die idee om Sielkunde te studeer nie. Ek het B-Com personeelbestuur gaan studeer, soos wat ‘n sielkundige my aanbeveel het. Ek moes egter bedryfsielkunde as ‘n vak neem.
Na die eerste ses weke van die kursus het ek besef dat dit nie vir my is nie. Ek het my geroepenheid gekry om Teologie te gaan studeer. Ek het egter met Bedryfsielkunde as vak voortgegaan indien ek nie kans sou sien vir gevorderde Grieks en Hebreeus nie. Ek het inderdaad my graad gekry met Bedryfsielkunde en Filosofie as hoofvakke. Ek was nou gekwalifiseerd om na die Engel-fabriek (kweekskool) te gaan.
Ek het egter nie heilig genoeg gevoel hiervoor nie en besluit om eerder tyd te wen om groot te word. Ek het derhalwe ‘n honneurs in Sielkunde gedoen. Ek moes egter ‘n oorbruggingskursus doen om van Bedryfsielkunde na Kliniese sielkunde oor te skakel om sodoende my honneurs in Kliniese Sielkunde te kon voltooi. Gereken ek sou my gemeente beter kon bedien deur meer van sielkunde te weet en te verstaan. Na my honneurs was ek steeds nie heilig genoeg nie en het selfs nóg meer tyd probeer wen.
Ek het in elk geval die tirade teen die sogenaamde humanisme, die Heidelbergse Kategismus en die Dortse leerreëls nie verstaan nie.
Ek het toe noodgedwonge aansoek gedoen vir ‘n meestersgraad in Kliniese Sielkunde en keuring gekry. Na my meerstersgraad in Kliniese Sielkunde, moes ek my internskap voltooi. Na my internskap het ek besef: Genade, ek is nou ‘n sielkundige, heel onbeplan. Siende dat ek steeds nie heilig genoeg vir Teologie voel nie en ook nie lus is vir pizza aflewerings nie, het ek geen ander keuse gehad as om Sielkunde as beroep my voorland te maak nie.
Ek het bloot te veel die etiket van ‘n rebel om my nek gedra en doen dit steeds. (Seker dié dat die das ook nie so lekker wou pas nie). Ek is eintlik heel gelukkig om in te pas in die sogenaamde sosiale kontrak. Maar as iets in my verkeerde keelgat afspring, is ek geneig om dit op te bring. Ek verstik veels te graag veral aan sielkunde en braak dan psigodinamiek so reg-uit my keel.
Ek het my professore te veel bevraagteken, te veel met my opleiers gebots. Ek kon nie die sogenaamde patologie-model uit hulle hande eet nie. Ek het na nog ‘n departementele vergadering oor die geval van Jorgan Harris, genoeg opgevreet en besluit om eerder my internskap aan die Universiteit van Stellenbosch se Stikland psigiatriese hospitaal te voltooi, as om Potch verder te moes afsluk… of eerder – afwurg.
Ek het gedink dat dinge in die Kaap anders sou wees, maar wee… o wee… o nee!
In Stellenbosch aangekom, moes ek egter weereens, strop om die nek, aanhoor dat ons Interns elke Maandag saalrondte by Tygerberg hospitaal moes bywoon. Rondtes waartydens dokters, psigiaters, sielkundiges, arbeidsterapeute en ander gesondheidswerkers bymekaar gekom het om hoogs belangrik hul sê te sê oor sogenaamde siek pasiënte wie se realiteite dalk anders as ons s’n mog wees.
Sielkundiges moes om een of ander rede hulself laat geld tussen al daardie medici en ander belangrike persone. Sielkundiges in Tygerberg hospitaal, het met wit oorjasse doelloos in die sale rond gedrentel. Wat my dwars in die krop gesteek het. Dalk het hulle te hard gehoop om ook klinici te wees. So asof dokterstatus in ‘n wit jas verpak kon word.
Ons manlike Interns moes boonop Maandae ‘n das tydens die sogenaamde saalrondtes dra. ‘n Das moes nou bewys dat ons ook tog professioneel is.
Ek het in ‘n pastorie groot geword waar ek elke Sondag ‘n das moes dra – vir redes wat ek tot nou nog nie verstaan nie. Hoe meer ek protesteer, hoe meer is ek stil gemaak en botweg aangesê: jy SAL ‘n das op Maandae dra. Sondag het nou Maandag geword.
Een oggend, ek dink dit was ‘n Dinsdag, word ons manlike personeel ingeroep om ‘n nuwe pasiënt, wat pas met erge hallusinasies en delusies gediagnoseer is, te help vaspen sodat ‘n verdowingsmiddel toegedien kan word. Hy was so sterk soos ‘n bees. Die ou malle het met die stoele langs hom gestoei, alles oor denkbeeldige gesigte wat hy voor hom sien. Siende dat óns nie dieselfde gesigte kon sien nie, was daar dus nie gesigte nie en moes hy noodgedwonde met ‘n kalmeermiddel gespuit word. Hy was buite beheer en sweet het angsbevange op sy gesig gepêrel. My belangrike kollegas het namens hom geweet wat realiteit werklik is en hom probeer vaspen om hom te onderwerp aan ‘n inspuiting. Ons manlike personeel moes hom met krag en brutaliteit vashou vir sy inspuiting.
Nie te veel beïndruk deur die mediese model van onderwerping, het ek maar ‘n nat lappie gaan kry en die sweet van sy voorkop en wange afgevee, waarna hy heeltemal kalmeer het. Geweld, onderdrukking en inspuitings was nie nodig nie. Die slim mense noem dit realiteitskontak en die psigiater kon hom sonder enige inspuitings, vasdruk, geweld of dwang, laat opneem.
Daar is net skuins na my gekyk sonder enige erkenning of besef dat dinge soms anders kan lyk en anders, selfs baie meer eenvoudig, benader kan word.
Die naweek voor die volgende Maandag-das-parade kies ek koers Groentemarkplein toe om vir my ‘n nuwe das te gaan koop vir hierdie belangrik-voel okkasie. Ek kry toe die belaglikste das en neem dit dadelik. Dit was ‘n oorduidelike neon-geel das met ‘n prentjie van ‘n aasvoël wat netjies uitgegrafeer sê: Gimme a break! Gee my spasie! Net wat ek nodig het.
Daardie Maandag-oggend gaan ek met my nuwe das, ferm om my nek soos vereis, na die saalrondte toe. Ek sorg egter ook dat ek so belaglik moontlik voorkom, met kleurskemas wat net gladnie gepas het nie. Ek gedra myself verder professioneel, soos van my verwag.
Selfs die belangrikste psigiater, woord my toe aan. Skynbaar sal my das epilepsie-lyers versteur en aanvalle trigger vanweë my das se verblindende neon-kleure. Maar ek het mos ‘n das aan. Netjies. Klinies. Soos vereis! Wat is nóú dan die probleem?
Na die saalrondte stap ek die gang af met ‘n katatoniese skisofreen reg voor my. Soos katatoniese skisofrene maar is, het hy vir ure in dieselfde posisie, gevries gestaan.
Ten aanskoue van my das, skrik daardie standbeeld homself skielik tot beweging en uiter: Doctor, I love your tie, doctor. En vries weer dood-luiters in sy nuwe posisie. Ek moet bieg – ek het dalk net so groot soos hy geskrik – hy vir my das en ek vir sy skielike, onverwagte beweging!
Dit was toe sommer so dat ek ook vir die eerste keer ‘n dokter geword het. Nou wel nie met ‘n wit jassie aan nie, maar wel met ‘n belaglike das om my nek.
My gedaste en witgejaste kollegas kon hom vir maande nie kry om te beweeg nie en daar beweeg hy nou spontaan, opgewek deur my kanarie-geel das met ‘n aasvoël op.
Dis dalk maar beter dat epilepsie-lyers, delusioneles en katatoniese skisofrene bedwelmd en gespuit, net bly soos hulle is. Dit hou tog ons das baie netjies om ons eie nek.
Daardie Vrydag voor die volgende Maandag, kom die memorandum deur:
… na oorleg gepleegte oorweging word daar voortaan nie van manlike Interns verwag om ‘n das tydens saalrondtes te dra nie.
Dit was my laaste strop.