Paniek-aanvalle
Inderdaad net ‘n pampoenspook
Om ‘n paniek-aanval te ervaar is waarskynlik een van die vreesaanjaendste sielkundige versteurings wat ‘n mens kan ervaar. Dit voel of jy selfs besig is om ʼn hart-aanval, ʼn asma aanval, ʼn beroerte, ʼn dodelike siekte te kry. Dit voel soms of jy jou kop gaan verloor, mal gaan raak of dat jy enige tyd dood kan gaan.
Die goeie nuus is egter – hoewel dit die een sielkundige probleem is wat die ergste voel, is dit die minste ernstige sielkundige uitdaging en baie maklik om te behandel.
Dit waarvoor jy vrees, is eintlik net ʼn koue pampoen.
ʼn Pampoenspook is ʼn uitgeholde pampoen met gate wat oë, neus en ʼn mond voorstel, gewoonlik met ‘n kers binne-in om dit spookagtig en meer bedreigend te laat lyk. In die donker kan so ʼn pampoenspook vreesaanjaend vertoon. Veral as dit uit die bloute verskyn. Selfs in antieke Brittanje was daar ʼn bygeloof onder die Kelte dat die siele van mense wat die vorige jaar gesterf het, op 31 Oktober (Halloween) in verskillende gedaantes verrys het. Hulle het dus ‘n kers binne die pampoen aangesteek om hierdie gedrogte af te skrik en te verjaag. Maar dit bly ʼn koue pampoen. Die doel van die gate om die neus, mond en oë moes eintlik net die hitte laat ontsnap.
Dis presies wat paniek is. Dit is ʼn pampoenspook waarvoor net pampoene skrik. Dit kom aanvanklik so vreesaanjaend voor dat selfs spoke daarvoor sou skrik, maar dit is op sigself so weerloos dat as daar nie gate gemaak word vir die illusie van ʼn spook nie, die pampoen self sou uitbrand.
Hoewel paniek erg voel, is dit net ʼn simpel pampoenspook wat jou die skrik op die lyf jaag. Hierdie pampoenspook kan egter maklik behandel word. Hipnose, tesame met inligting oor paniek, is bevind as een van die mees effektiewe behandelings vir paniek. Hipnose sal jou help om te ontspan, om die oorsake van paniek te vind en dit effektief te behandel.
Wat is paniek-versteuring presies?
Wanneer jy paniek ervaar, ervaar jy kort episodes van intense vrees gepaard met veelvoudige fisiese simptome (soos hartkloppings, duiseligheid, naarheid, tintelende sensasies, uitasem en borspyne) wat herhaaldelik en soms onverwags gebeur. Hierdie paniek-aanvalle, gebeur wanneer die brein se normale meganisme in reaksie op ʼn bedreiging – die sogenaamde veg of vlug reaksie – verkeerdeliks geaktiveer word. Meeste mense met paniek-versteuring voel ook angstig oor die moontlikheid om nog ʼn paniek-aanval te kry en vermy situasies waarin hulle glo hulle hierdie aanvalle sou kry. Angs oor nog ʼn aanval en die vermyding van wat dit veroorsaak, kan lei tot ʼn paniek-versteuring. Sommige mense raak selfs paniekbevange oor die paniek vir nog ʼn paniek-aanval. So skep hulle vir hulself verdere paniek-aanvalle
ʼn Senuwee-ineenstorting?
Wat is ‘n sogenaamde senuwee-ineenstorting nou regtig? Dit klink nogal dramaties. Dis net jammer dat ek daardie vraag op universiteit mis gespot het. Dit klink vir my soos wanneer iemand soos ʼn gebou na ʼn dinamiet-inploffing net ineenstort, amper asof hulle soos ʼn ballon afblaas. Wees gerus, daar is nie iets soos ʼn senuwee-ineenstorting nie. Dis net ʼn paniekaanval.
Die simptome en verloop van paniek-versteurings
ʼn Paniek-aanval voel asof dit uit die bloute verskyn en gebeur terwyl jy besig is met alledaagse aktiwiteite soos bestuur van jou motor of om werk toe te stap, of selfs wanneer jy met niks spesifieks besig is nie. Jy word skielik getref met ʼn vloed van skrikwekkende en ongemaklike simptome wat jou laat glo dat hier iets ernstigs fout met jou is.
Diagnostiese kriteria vir paniek-aanvalle volgens die DSM 5:
ʼn Paniek-aanval is:
ʼn Diskrete periode van intense vrees of ongemaklikheid, waarin vier (of meer) van die volgende simptome skielik ontwikkel en ʼn piek binne tien minute bereik word:
Watter vier of mee van hierdie simptome ervaar jy?
- Hartkloppings of ʼn versnelde hart tempo
- Sweet
- Bewerigheid
- Gevoel van kortasem en uitasem
- Gevoel van versmoring
- Borspyn of ongemak in die bors
- Naarheid of ongemak in die maag
- Gevoel van duiseligheid, onsekerheid, lighoofdigheid of floute
- Derealisasie (gevoelens van onrealiteit) of depersonalisasie (ʼn gevoel van buite jou liggaam wees)
- Vrees om beheer te verloor of om mal te raak
- Vrees om dood te gaan
- Parestesie(liggaamlike doodse gevoelens numbness of tintelinde sensasies)
- Koue rillings of warm gloede
As jy positief op vier of meer op die bogenoemde geantwoord het, mag jy heel waarskynlik sukkel met paniek-aanvalle.
Hierdie vloed van simptome duur gewoonlik ʼn paar sekondes, maar mag vir ʼn paar minute aanhou. Die simptome vervaag geleidelik binne ʼn uur of minder. Mense wat al paniek ervaar het, kan getuig van die geweldige ongemak, die vrees vir ʼn verskriklike, lewensbedreigende siekte of dat hulle besig sou wees om mal te raak of selfs dood te gaan. Dit gebeur baie dat mense tydens ʼn paniek-aanval hulp by die ongevalle eenheid van ʼn hospitaal gaan soek en dan dink die dokters weet nie wat hulle doen as hul geen fout by jou vind nie.
Tydens paniek-aanvalle, is mense vas oortuig dat hulle ten minste een of meer van die onderstaande ervaar. Dat hulle: besig om dood te gaan;
- besig om ʼn hartaanval te kry;
- besig om mal te raak;
- besig om ʼn asma aanval te kry;
- besig om ʼn beroerte te kry;
- besig is om ʼn verskriklike siekte te ontwikkel wat al die dokters miskyk.
Die goeie nuus is:
Niemand het nog ooit een van die bogenoemde toestande ontwikkel as gevolg van paniek nie ʼn Paniek-aanval voel verskriklik, maar dit is nie. Meer hieroor later.
ʼn Paniek-aanval kom uit die bloute. Hierdie onvoorspelbaarheid is een van die redes waarom dit so verskriklik voel.
Mense wie paniek-aanvalle kry, mag dalk nie overt bewuse wees van die sipmtome nie, maar die gevoelens wat hulle ervaar is so oorweldigend en vreesaanjaend dat hulle glo dat hulle besig is om dood te gaan, mal te word, of om in die verleentheid gestel word. Hierdie rampspoedige gevolge gebeur egter nooit nie, maar is ‘n werklikheid vir die persoon tydens ‘n paniek-aanval.
Meer oor paniek-versteuring
Met ‘n paniek-versteuring kom paniek-aanvalle herhaaldelik voor en jy ontwikkel ʼn intense vrees vir nog ʼn aanval. Soos vroeër genoem, is die vrees (ook genoem antisiperende angs of vrees vir vrees) meeste van die tyd teenwoordig en meng ernstig in met jou lewe, selfs al is die paniek-aanval nie in swang nie. Iemand wat, as voorbeeld, ʼn paniek-aanval gekry het terwyl hulle besig was om te bestuur, ontwikkel ʼn vrees om weer agter die stuurwiel in te skuif, selfs om net kafee toe te ry.
Slaap mag ook versteur word wanneer paniek-aanvalle snags plaasvind, wat veroorsaak dat jy wakker skrik met ʼn toestand van vrees of angs. Die ervaring is so hartverskeurend dat sommige mense wat nagtelike paniek-aanvalle kry, selfs te bang is om te slaap uit vrees vir hierdie nagmerries en gevolglik aan uitputting ly as gevolg van ‘n gebrek aan slaap. Selfs al is daar nie nagtelike paniek-aanvalle nie, mag jou slaap steeds versteur word weens chroniese paniek-verwante angs en gevolglike uitputting van jou adrenaline-vlakke.
Baie mense met paniek-versteuring bly intens bekommerd oor hulle simptome, selfs al het ʼn besoek aan ʼn dokter geen aanduiding van ʼn lewensbedreigende toestand getoon nie. Hulle mag ʼn reeks dokters besoek op soek na mediese behandeling vir wat hulle glo ernstige mediese toestande is. Hul simptome mag hulle selfs laat voel of hulle ʼn neurologiese versteuring of ʼn ernstige gastro-intestinale toestand het.
Dis toe al die tyd net ʼn pampoenspook
ʼn Paniek- aanval, alhoewel dit voel of jy dood kan gaan of van jou kop af kan gaan, is toe al die tyd net ʼn koue pampoenspook wat vreesaanjaend lyk, maar skadeloos is.
Nogtans betrap paniek-aanvalle jou heeltemal onverhoeds. Hierdie onvoorspelbaarheid is juis die grootste rede hoekom hulle so verskriklik en intens ervaar word.
Die goeie nuus is dat ‘n paniek-aanval niks anders is as bloot net die vrystelling van ‘n oormaat adrenaline. Ons deel dieselfde outonome senuweestelsel met diere. Wanneer ʼn dier in gevaar is, het hy net een van twee reaksies. Hy veg of hy vlug (die sogenaamde veg-of-vlug-reaksie). Om hom in staat te stel om te veg of te vlug, stel sy liggaam adrenaline vry sodat hy meer krag tot sy beskikking as normaalweg het om sterker te veg of vinniger weg te hardloop. Die dier se hartklop versnel byvoorbeeld om sodoende meer bloed vinniger deur sy liggaam te pomp, sy liggaamstemperatuur word warmer om harder te veg of vinniger weg te kom, asemhaling versnel in hierdie staat van gereedheid en sweet tree in om sy liggaam weer af te koel. Vergelyk dit gerus met jou paniek-simptome.
Sodra die gevaar verby is en die dier oorleef het, gaan slaap hy om weer sy adrenaline op te bou.
By die mens is hierdie geval presies eenders en tog soveel anders. Ons ervaar gevaar, net soos by diere, bou ons adrenaline op of skei ons brein dit af. So-ook neem ons hartklop toe, asemhaling raak vinniger om ons in ʼn staat van gereedheid te plaas om harder te veg of om vinniger te vlug. Ons sweet ook om ons liggaam na die tyd weer af te koel.
Ons kan egter in ons moderne samelewing nie veg of vlug nie. Ons kan nie ʼn stok of ʼn klip vat en die Ontvanger van inkomste se kop inmekaar slaan nie. Ons kan ook nie ons tekkies aantrek om van ons bankbestuurder af weg te hardloop nie. Ons kan dus nie ons adrenaline gebruik nie en sodoende bly dit vasgevang in ons liggaam.
As jou stres na die aanvanklike veg-of-vlug respons egter voortgaan, volg daar ʼn volgende fase. Gedurende hierdie fase neem die aktiwiteit van jou simpatiese senuweestelsel af en die uitskeiding van adrenaline verminder, maar die uitskeiding van kortisool (jou hormone wat fisiese en emosionele pyn onderdruk) bly dieselfde. As jou stres tydens hierdie fase voortgaan en jou liggaam nie instaat is om uiting daaraan te gee nie, is daar ʼn goeie kans dat jou liggaam vrystelling van adrenaline en nor-adrenaline in jou liggaam vasgeval raak, wat dan lei tot paniek-aanvalle.
Ons is egter ook, tot ons nadeel, soveel anders as diere in die sin dat wanneer ons ʼn traumatiese gebeurtenis herroep, of wanneer ons daaraan dink of selfs onthou, (wanneer ʼn prentjie van die traumatiese gebeurtenis in ons kop afspeel of wanneer ons dink wat as dit weer sou gebeur) ons brein presies dieselfde deel gebruik as wat dit gebruik wanneer die trauma in werklikheid gebeur. Jou brein teken dit dus aan as ʼn realistiese gevaar en stel adrenaline en nor-adrenaline vry en die veg-of-vlug reaksie tree weer in.
Jy kan egter niks daaraan doen nie en die vrysgestelde adrenaline kan nie gebruik word nie. Hierdie adrenaline bly dus in jou sisteem. Daarom kry jy paniek-aanvalle.
Die waarheid is dat paniek-aanvalle net jou natuurlike veg-of-vlug reaksie is. Hierdie simptome is skadeloos. Jy is medies veilig en daar kan absoluut niks verkeerd met jou gaan nie. Jy sal nie doodgaan nie, jy sal nie ʼn hart-aanval of ʼn beroerte kry nie. Jy sal nie flou val, mal of selfs kop verloor nie. Al voel dit soos doodsake, is dit egter nie die geval nie.
Net soos jy jouself besimpeld skrik wanneer jy skielik ʼn pampoenspook sien of jou dalk verbeel dat jy een gesien het, is dit net ʼn pampoenspook en wanneer jy besef dat dit net ‘n illusie is, sal al hierdie simptome van paniek binne ʼn minuut of drie geheel en al verdwyn.
Kennis is mag
Om jou paniek te oorwin, kan jy die volgende in gedagte hou:
- ʼn Paniek-aanval kan nie hartversaking of ʼn hartaanval veroorsaak nie.
Vinnige hartkloppings en hoë polsslag gedurende ʼn paniek-aanval kan skrikwekkende sensasies veroorsaak, maar dit kan nie gevaarlik wees nie. Jou hart is saamgestel uit baie sterk en digte spierweefsels en kan baie meer weerstaan as wat jy dink. ʼn Gesonde hart kan 200 slae per minuut vir dae, selfs weke aaneen klop, sonder om enige skade op te doen. Wanneer jou hart begin jaag, laat dit eenvoudig toe en vertrou dat dit geen skade kan aanrig nie. Jou hart sal binne minute bedaar.
- ʼn Paniek-aanval sal nie veroorsaak dat jy ophou om asem te haal of versmoor nie.
Dit is algemeen gedurende ʼn paniek-aanval om te voel dat jou bors toe gaan trek en jou asemhaling ingeperk gaan word. Dit mag vir jou voel of jy selfs kan versmoor. Jou nek- en borsspiere mag ook begin om styf te trek en jou longvermoë te verminder. Jy kan egter gerus wees dat daar geen fout met jou asemhaling of longe is nie en dat hierdie paniek-sensasies verby sal gaan. Jou brein het ʼn ingeboude refleks-meganisme wat jou uiteindelik sal dwing om asem te haal as jy nie genoeg suurstof kry nie. As jy dit nie glo nie, probeer om jou asem vir ʼn minuut in te hou en kyk wat gebeur. Op ʼn sekere punt sal jy ʼn sterk refleks ervaar om meer lug in te asem. Dieselfde sal gebeur tydens ʼn paniek-aanval as jy nie genoeg asem kry nie. Jy sal outomaties snak na asem en ʼn groot asemteug neem voordat jy die punt bereik waar jy flou sou raak as gevolg van ʼn tekort aan suurstof. (En selfs as jy flou sou raak, sal jy onmiddellik begin asem haal!) Dit voel net uiters onaangenaam, maar dit is geensins gevaarlik nie.
- ʼn Paniek-aanval kan nie veroorsaak dat jy flou word nie.
Die sensasie van lighoofdigheid wat jy mag voel met die aanvang van paniek kan ʼn vrees vir flou word veroorsaak. Wat gebeur is dat die bloedsirkulasie na jou brein tydelik verminderd is en word hoogs waarskynlik veroorsaak omdat jy vinniger en vlak asemhaal. Dit is nie gevaarlik nie en kan herstel word deur stadig en diep deur jou neus in te asem tot in jou maag/abdomen en dan weer stadig deur jou mond uit te blaas. Jy kan dus net toelaat dat die gevoel van lighoofdigheid verby gaan sonder om daarteen te baklei. Hoewel jou hart harder pomp en eintlik jou sirkulasie verhoog, is dit hoogs onwaarskynlik dat jy flou sal val.
- ʼn Paniek-aanval kan nie veroorsaak dat jy jou balans sal verloor nie.
Om aan te sluit by die vorige punt mag jy soms duiselig voel tydens ‘n paniek-aanval. Dit mag wees dat spanning besig is om jou semi-sirkulêre stelsel in jou binne-oor te affekteer, wat jou balans beïnvloed. Vir ʼn paar minute mag jy duiselig voel of dit mag selfs voel dat dinge rondom jou rondtol. Hierdie gevoel sal verseker verby gaan. Dit is nie gevaarlik nie en dit is onwaarskynlik dat jy jou balans sal verloor. Indien die gevoel van duiseligheid langer aanhou, mag jy dalk ‘n dokter sien vir ‘n moontlike infeksies, allergieë, of ander versteurings wat jou middel-oor mag affekteer.
- Jy sal nie omval of nie meer kan loop wanneer jy lam in die knieë voel gedurende ʼn paniek-aanval nie.
Die adrenaline wat vrygestel word gedurende ʼn paniek-aanval kan die are in jou bene laat rek wat veroorsaak dat bloed in jou beenspiere ophoop en nie heeltemal sirkuleer nie. Dit kan ʼn gevoel van swakheid of jelliebene veroorsaak, wat jou kan laat dink dat jy nie meer sal kan loop nie. Dit is egter weereens net ‘n gevoel – jou bene is nog net so sterk en sal jou kan dra soos altyd. Hulle sal nie ingee nie! Laat net hierdie bewerasies en gevoel van swakheid verby gaan en gee jou bene die kans om jou te vat waar jy wil wees.
- Jy kan nie mal raak gedurende ʼn paniek-aanval nie.
Wanneer jy vinnig en vlak asemhaal, mag die bloedvloei na jou brein gedurende ʼn paniek-aanval veroorsaak dat jou slagaar vernou. Dit is ‘n normale gevolg van vinnige, vlak asemhaling. Wanneer dit gebeur, kan dit gevoelens van verwarring veroorsaak en ʼn gevoel van buite realiteit of buite jou liggaam wees. Sodra jy hierdie gevoel begin ervaar, herinner jouself dat dit net veroorsaak is deur ʼn ligte en tydelike vermindering en vernouing in die are in jou brein en het niks te doen met mal word nie, ongeag hoe erg dit ookal mag voel. Niemand het ooit mal geraak van paniek-aanvalle nie. Ongeag hoe erg dit mag voel, sal hierdie skadelose gevoelens ook mettertyd vanself verby gaan.
Dit mag ook help om te weet dat mens nie net skielik of spontaan mal word nie. Geestesversteurings behels gedrag wat as mal geëtiketteer word en ontwikkel geleidelik oor ʼn periode van tyd. Niemand het ooit begin hallusineer of stemme gehoor gedurende ʼn paniek-aanval nie (behalwe in buitengewone gevalle waar paniek veroorsaak is deur ʼn oordosis van sogenaamde ontspanningsdwelms soos LSD of kokaïen). In kort, ʼn paniek-aanval kan nie lei tot malheid nie, maak nie saak hoe ontstellend of ongemaklik jou simptome mag voel nie.
- ʼn Paniek-aanval kan nie veroorsaak dat jy beheer oor jouself verloor nie.
As gevolg van die intense reaksies wat jou liggaam gedurende paniek ervaar, is dit maklik om jouself te verbeel dat jy besig is om dit heeltemal te verloor. Maar wat beteken dit om dit heeltemal te verloor? Om heeltemal verlam te raak? Is dit om beheer te verloor en mal te raak? Daar is geen opgetekende gevalle van sulke gebeure nie. Gedurende paniek word jou sintuie en waaksaamheid verhoog met net een doel: sodat jou oorlewingsinstink kan intree vir die sogenaamde veg-of vlug reaksie. Jou liggaam gaan oor na auto-pilot en jou oorlewingsinstink neem oor. Dit mag voel of jy beheer gaan verloor en jy doen ook. Om weg te hardloop of om te probeer weghardloop is die enigste maniere wat jy dit sou uitleef terwyl jy paniek ervaar. Dit is dus onmoontlik om heeltemal beheer te verloor gedurende ʼn paniek-aanval.
Die eerste stap om te leer hoe om paniek-aanvalle te hanteer, is om te besef dat hierdie simptome geensins gevaarlik is nie, alhoewel die liggaamlike reaksie intens ervaar word. Die realiteit is dat daar geen gevaar bestaan nie. Die fisiologiese reaksies onderliggend tot paniek is natuurlik en beskermend. In werklikheid is jou liggaam ontwerp vir paniek sodat jy vinnig gevaar kan afweer deur te veg of te vlug.
- Jy sal nie ʼn beroerte of asma-aanval kry nie.
Niemand het nog ooit ʼn beroerte of asma-aanval tydens ‘n paniek-aanval gekry nie, hoewel dit soms baie realisties kan voel.
- Niks kan ooit katastrofies wees nie.
Niks kan ooit verskriklik wees nie. Jy het nog altyd oorleef en jy sal oorleef. Niks kan ooit so verskriklik wees nie. Hoeveel van die dinge waarvoor jy bang was, het ooit gebeur? Jy is steeds hier.
Oorwin hierdie pampoenspook vir ewig
Jy kan die volgende wenke gebruik om jou te help om hierdie pampoenspook vir ewig te oorwin. Psigoterapie sal jou verder daarmee help.
Jy kan eenvoudig die volgende stappe volg en alle paniek sal binne ‘n minuut tot drie weggaan. Hoe meer jy die stappe volg hoe meer sal dit outomaties gebeur en binnekort is jou angsaanvalle iets van die verlede.
- Jy weet nou reeds dat hierdie skrikwekkende gevoelens glad nie gevaarlik of skadelik is nie. Verstaan dat wat jy ervaar net ʼn oordrywing van jou normale liggaamlike reaksies tot stres; die sogenaamde veg-of-vlug reaksie, is.
- Hoe meer jy jou paniek beveg, hoe meer adrenaline en nor-adrenaline skei jy af en hoe meer paniekerig sal jy raak. Jy kan maar net in gedagte hou dat hoe meer jy jou vrees vir hierdie pampoenspook beveg, hoe meer mag gee jy aan hierdie spook. Hierdie spook is egter magteloos en gaan eventueel uitbrand. Jy kan egter ook dink: O, wat ʼn kinderagtige spook. Dit wil my bang maak want dit soek net aandag. O, wat ‘n senutergende spook wat my probeer intimideer en onderkry, dis al. Dit is inderdaad net ‘n koue pampoen. Jy kan dit mag oor jou laat verloor deur te besef dat dit maar net jou liggaam se natuurlike veg-of-vlug reaksie is.
- As jy teen paniek probeer baklei, maak jy jouself net nog meer gespanne, wat jou net nog meer paniekerig maak. As jy presies die teenoorgestelde houding inneem en ʼn houding van net laat gaan en om jou liggaam bloot net toe te laat om hul reaksies te hê (soos die hartkloppings, die borspyne, sweterige hande, duiseligheid ensovoorts), sal jy vinniger en makliker deur die paniek beweeg. Die geheim is om in staat te wees om net terug te staan en te kyk (soos mens na ‘n fliek kyk) na jou liggaam se fisiologiese opwekking, ongeag hoe ongewoon of ongemaklik dit mag voel. Hoe gouer jy onbetrokke raak of nie daarop reageer nie hoe gouer sal die paniek-aanval verbygaan.
- Wag die tyd uit
Paniek word veroorsaak deur ʼn skielike opbouing van adrenaline. As jy hierdie opwekking van adrenaline bloot net kan toelaat om deur jou liggaam te beweeg sonder om daarteen te veg, sal hierdie adrenaline stabiliseer en binne drie tot vyf minute opklaar. Wanneer dit gebeur, sal jy begin om beter te voel. Paniek-aanvalle het ‘n tydsbeperking en gaan waarskynlik vinniger verby as jy nie daarteen baklei of met meer vrees daarop reageer deur vreesaanjaende dinge vir jouself te sê nie. Hierdie benaderings veroorsaak net sekondêre vrees.
- Haal diep asem
Jy het altyd absolute beheer oor jou asemhaling, wat ʼn bewys is dat jy altyd in beheer is. Jy kan diep, tot in jou maag of abdomen in, asemhaal en sodoende weer in beheer te voel.
- Ontspan jou liggaam. Met elke teug wat jy uitasem, kan jy jou liggaam vir spanning ondersoek en ontspan. Jy kan jou voorkop net glad laat raak en ontspan. Jy kan jou skouers en nek net laat ontspan. Jy kan jou abdomen en maag net dieper en dieper ontspan met elke teug wat jy uitasem. Jy kan die res van jou liggaam laat ontspan met elke teug wat jy uitasem.
- Moenie teen jou gevoelens veg of dit probeer weg wens nie. Hoe meer gewillig jy is om hulle in die oë te kyk, hoe minder intens sal hulle wees. Hoe meer jy vrees dat dit gevaarlik is, hoe erger sal die vrees raak en hoe meer sal hierdie pampoenspook dink dat hy beheer oor jou lewe het met sy gemanipuleerde kerse om jou bang te maak met simpel beelde van gister se gestorwenes.
- Vra jouself:
- wat is die ergste wat kan gebeur?
- as dit gebeur, hoe erg sal dit in elk geval wees?
- wat is die kanse dat dit regtig sal gebeur?
Die ergste wat kan gebeur is dat jy dood kan gaan. Hoe erg is dit nou regtig en wat is die kans dat jy wel dood sal gaan?
Meeste dinge wat ons vrees, gebeur in elk geval nooit nie. Dink aan die verlede en hoeveel keer jy bekommerd oor dinge was. Hoeveel van hierdie dinge waaroor jy jou bekommer het het ooit gebeur? Indien dit wel gebeur het, was dit regtig so erg soos jy verwag het dit gaan wees? Jy is nogsteeds hier en jy lewe nog.
Dalk besef jy nou:
- elke paniek-aanval gaan verby, en kan nooit vir ewig voortduur nie.
- dit sal na ʼn paar minute heeltemal verdwyn.
- niks snaaks sal met jou gebeur nie. Dit is inderdaad net ‘n koue pampoenspook wat dit geniet as jy daarvoor skrik.
Meelopende toestande
Dit word algemeen aanvaar dat ondersoek ook gedoen moet word vir ander toestande wat saam met paniekversteurings mag voorkom. Algemene angs, depressie, obsessief kompulsiewe versteurings, fobies, ensovoorts mag deel van hierdie versteurings vorm.
Die totale telling word bereken deur die totale telling van die 21 items bymekaar te tel.
‘n Telling van 0-21 = lae angs
‘n Telling van 22-35 = matige angs
‘n Telling van 36 en meer = potensiële kommerwekkende vlakke van angs