‘n Anderste benadering tot studies
Drie studies
- Stefan* is ʼn baie bekwame en intelligente leerder. Hy het redelik presteer van graad 1 tot graad 3. Die onderwyser het later ‘n ander pos aanvaar en is vervang deur ‘n nuwe onderwyser. Die nuwe onderwyser het die leerders vir ʼn tyd lank elke dag ʼn onvoorbereide blitstoets laat skryf.
Stefan was later so angstig oor hierdie toetse, dat hy sy pa daarvan vertel het. Hy het al sy toetse gedruip. As daar egter vrae in die klas gevra is, kon Stefan elke vraag beantwoord. Sy pa het die onderwyser daaroor gaan spreek en Stefan is na ʼn spesiale klas oorgeplaas.
Tydens sy graad 7 jaar, het sy vorige onderwyser na sy skool teruggekeer. Stefan het versoek om teruggeskuif te word na die normale klas, na sy vorige onderwyser en het skielik weer begin presteer.
- Pieter* het in matriek skielik begin om wiskunde te druip. Wiskunde was nog nooit ‘n probleem in sy lewe nie. Sy spanning rondom wiskunde het gedurende matriek begin. Hoe meer gespanne hy oor die wiskunde geraak het, hoe slegter het sy punte gelyk. Hy het my kom sien kort voor die matriek eindeksamen. Ons het toe agtergekom dat hy wiskunde nie hoef te slaag ten einde matriek te slaag nie. Dit sou ook nie ʼn negatiewe invloed op sy toekomsplanne hê nie, aangesien hy geen begeerte gehad het om na skool universiteit toe te gaan nie. Hy kon dus wiskunde druip en steeds matriek behaal. Ek het die volgende voorstel aan hom gemaak: Aanvaar dat jy wiskunde nie deur gaan kom nie, maar leer steeds daarvoor. Wie gee in elk geval om? Jy het nie nodig om dit deur te kom nie. Ek wil egter ‘n voorstel aan jou maak: Ek wil steeds hê dat jy jouself vir die wiskunde vraestelle voorberei. Stel egter vir jouself ‘n persoonlike uitdaging van hoe naby aan die slaagsyfer jy kan kom, maar aanvaar dat jy dit nie gaan slaag nie. Met hierdie druk van hom af het Pieter se spanning rondom wiskunde verdwyn.
Koos* het saam met my studeer op universiteit. Ek het in die begin-jare van my studies, teologie studeer. Daarom moes ons leer om die Bybel in sy oorspronklike tale, Grieks en Hebreeus te kan lees. En glo my: Grieks is Grieks. Seker die moeilikste taal denkbaar. Ons was egter hardwerkende en slim studente en sou voor die eksamen hard studeer aan ons Grieks. Aangesien ons slim en hardwerkende studente was, het ons almal gewoonlik 60% of ietwat meer vir ons Grieks gekry. Almal, behalwe Koos. Een oggend, net voor ‘n Grieks-eksamenvraestel, het ons almal vroeg die oggend in ‘n koshuiskamer bymekaar gekom om ons werk te hersien. Die volgende oomblik stap Koos die kamer binne, steeds besig om die slaap uit sy oë te vee: More Ouens. Skryf ons iets vandag? Nodeloos om ons reaksie daarop te noem of om te sê dat ons almal Grieks met 60% of meer geslaag het. Behalwe Koos. Dié kry toe mos sommer 95%.
Wat is die verskil wat dan die verskil maak?
Om te leer of te studeer is so maklik soos wat die lewe is. Mense sê te maklik dat dit moeilik is om te leer of te studeer. Jy moet konsentreer. Jy moet baie tyd en moeite insit en jy moet keer op keer jou werk hersien.
Maar dan gaan kyk jy ʼn fliek. Jy is ontspanne, eet jou springmielies, jy sit terug in jou sitplek en jy ontspan. Jy teug behaaglik aan jou koeldrank. Terug by die huis, kan jy die hele storie oorvertel! Is dit nou so moeilik om te leer? As dit ‘n eksamen was, wou jy dit waarskynlik met ‘n onderskeiding geslaag het.
Hieronder volg ‘n paar mites wat ons geleer het rondom die leerproses:
Daar is nie iets soos dom of slim mense nie
Die eerste ding om te verstaan is dat daar nie iets is soos dom en slim mense nie.
Na Albert Einstein se dood het wetenskaplikes sy brein dissekteer. Hulle kon egter geen verskil tussen sy brein en die brein van enige ander mens sien nie.
Ontspanning
Die eerste antwoord lê in jou ontspanning. Wanneer jy gespanne is, verloor jy dadelik soveel konsentrasie en geheue dat dit net nie die moeite werd is om jouself te bekommer nie. Gaan kyk gerus na my artikel oor algemene angsversteuring op my webtuiste: www.jorganharris.co.za. Jy sal sien dat jou aandag en konsentrasie dadelik geaffekteer word wanneer jy angstig raak.
Dis eerder moeilik om níé te leer nie. Stel jouself voor hoe moeilik dit sal wees om jou van jou vyf sintuie af te sluit en steeds bewus van jou omgewing te bly. Om jou oë en ore toe te maak vir dit wat jy dalk per ongeluk mag leer. Dink aan al die moeite wat dit verg om vir jouself te vertel dat jy dom is en dan nog die moeilike gevoelens daarby van ʼn lae selfbeeld as jy nie leer nie. Indien jy nooit leer loop het nie sou jy nogsteeds gekruip het. Dit is inderdaad moeilik om nie te leer nie!
Probeer harder
Jy het seker al die frase gehoor: probeer met alle mag, probeer harder, so hard as wat jy kan. Ongelukkig is ons almal ons hele lewe lank gebreinspoel en geïndoktrineer met hierdie idees. Ons is vertel dat om vooruit te gaan in hierdie mededingende wêreld en samelewing, ons harder moet werk as enigiemand anders. Probeer harder. Soms lyk dit asof hierdie inspanning vrugte afgewerp het en kom ons wel as ‘n wenner uit. Dan is daar Koos. Hy kom alewig ontspanne voor en oortref ons eie beste pogings. Ons sal waarskynlik aanvaar dat mense soos hy meer talent het as ons. Vir ons is harde werk ‘n wyse van lewe, maar die Kose lyk of hulle blykbaar nie omgee of hulle dit maak of misluk nie. Dit lyk asof hulle soveel beloning kry vir oënskynlik min moeite. Wat is hul geheim?
Die effek van veg (of vlug)
Die suksesvolle persoon het geleer om op noodsaaklikhede te fokus en sodoende dit te vermy om oor alles rondom hulle te baklei. Hulle is nie gepla oor wat ander mense van hulle dink of sê nie. Hulle is egter tevrede en in harmonie met hulself en beveg niks nie. Aangesien die reptielbrein nie geaktiveer word nie, het hierdie mense meer breinkrag beskikbaar vir denke.
Jy het niks om te bewys nie, het jy?
Kop oor dinge
Hoe meer opgewerk en gespanne jy is vir die geveg, hoe minder breinkrag het jy beskikbaar vir denke en kreatiwiteit. Hoe meer jou verstand konsentreer, hoe meer ontspan jou liggaam. En hoe meer jou liggaam ontspan, hoe meer konsentreer jou verstand en hoe meer ontspan jou liggaam. Hoe meer jou liggaam ontspan, hoe meer konsentreer jou verstand. Dit is ‘n eindelose sirkelgang. Ontspanning gee jou dus meer breinkrag, effektiwiteit en energie vir verbeterde breinfunksionering.
Verlies aan breinkrag
Jy mag dalk gedwonge voel om vir ure by jou lessenaar te sit en te studeer, presies soos wat ouers en onderwysers ons geleer het om te doen. Jy kan geforseer word om dit te doen, maar niemand kan jou brein forseer om te dink nie. Hoe meer onder druk of bedreig jy voel, hoe meer relflekteer jou verstand met ‘n gekondisioneerde respons en hoe meer raak jou liggaam betrokke by jou outomatiese verdedeging.
Wanneer jy maksimum angs gebruik, sal jy so opgewen wees dat jy nie eens helder en logies kan dink nie. Het hierdie presiese ding nie in die verlede met jou gebeur nie? Waar jy so opgewasse, bekommerd, gespanne of bang was dat jy nie eens eenvoudige dinge kon onthou nie?
Jou liggaam is nou so gefokus op verdediging, dat jou denkbrein geleidelik gesluit word vir enigiets anders behalwe om jou te laat oorleef
Toegegee
Wanneer jou lewe op die spel is, wanneer jy voel dat jou oorlewing bedreig word, moet jy eers optree en later dink. Gedurende hierdie omstandighede moet jy staatmaak op jou gekondisioneerde respons vir onmiddellike reaksie, aangesien jou denkende bewustelike brein te stadig is hiervoor.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is wanneer jy rustig agter die stuur van jou motor is en ‘n minibus-taxi foeter onverwags voor jou in, sal jy skielik rem, aan die stuurwiel pluk en sonder om te dink outomaties net die regte ding doen. Daar is nie tyd om te dink nie, want as jy eers moet dink het die ongeluk reeds gebeur voordat jy kon besluit wat om te doen om dit te vermy. Tydens gebeure soos hierdie, neem jou oerbrein oor en reageer jy letterlik sonder om te dink, op instink. Vir al die ander gebeure, kan jy gerus terug sit, ontspan en weet dat jou denke jou sal help met jou studies, selfvertroue of watookal jy nodig het.
Ons instink vir verdediging en oorlewing is so ingeprent in ons brein, dat ons selfs die kleinste moontlike bedreiging, of dit nou ‘n ware bedreiging of ‘n bedreiging in ons verbeelding is, sal identifiseer. Jou brein sal tydens so ‘n krisis-situasie onmiddellik jou spiere gereed maak en jou orgaanfunksionering aanpas om jou voor te berei vir ‘n aanval of verdediging.
Die dinkbrein word geleidelik gesluit vir alles anders as om jou totale fokus op jou verdediging vir oorlewing te rig. Wanneer jou lewe op die spel is, as daar ‘n bedreiging vir oorlewing is op enige vlak, moet jy eers optree en later dink aangesien jou dinkbrein net te veel tyd sal neem.
Jou brein herken nie ‘n negatiewe woord nie
Jy het al vanaf jou kindertyd geleer hoe om jouself te programmeer met negatiewe boodskappe. Jy is so dikwels vertel: moenie dit doen nie, of moenie dat doen nie. Moenie druip nie.
Jou onderbewuste registreer nie die woord nie nie. As jy vir jouself sê: Ek mag nie my eksamens druip nie, sal jou onderbewussyn hoor ek moet my eksamens druip.
As ‘n voorbeeld: moenie nou aan ‘n pienk olifant dink nie. Waaraan dink jy? Hoe harder jy probeer om nie aan ‘n pienk olifant te dink nie, hoe meer sal die pienk olifant in jou gedagtes wees.
‘n Rekenaar is ‘n prototipe van die menslike brein en werk amper soos die menslike brein, behalwe dat die menslike brein baie meer gesofistikeerd is as enige rekenaar. Selfs rekenaars kan nie op ‘n negatiewe boodskap reageer nie. Dit is nie moontlik om ‘n rekenaar te programmeer om 3 en 9 nie te plus nie. Jy sal nie ‘n antwoord kry nie en indien jy wel ‘n antwoord moet kry sal dit altyd 12 wees. Soos met ‘n rekenaar, kan jy net vir jou brein sê wat om te doen of te dink.
‘n Klassieke voorbeeld wat dikwels gebruik word om die krag van negatiewe en positiewe suggesties te verduidelik, is om vir ‘n jong kind te sê: moenie hierdie glas melk mors nie. En wragtagwaar, binne die eerste paar minute mors die kind die melk uit, soos jy so mooi vir hulle gevra het om nie te doen nie. Jy weet nou reeds dat al wat die kind verstaan het was: mors die melk!
Vertel jou brein dus dat jy suksevol in jou eksamen sal wees. Soos jy nou dink aan sukses op ‘n positiewe manier, wonder ek of jy agter gekom het dat jy teen hierdie tyd al van die pienk olifant vergeet het?
Die vrees vir mislukking
Die vrees vir mislukking is ‘n vreeslike ding, maar die ware probleem is egter die vrees self! Die vrees letterlik intervrees met die res van jou lewe. Hierdie vrees befoeter net alles wat jy wil doen. Hierdie vrees skep alle tipe bekommernisse, self-twyfel, spanning en druk. Dit is nie iets waarmee jy gebore is nie, maar iets wat jy aangeleer het. Jy is geleer om bang te wees. Alle vorme van vrees is aangeleerde gedrag. Jy word met net een idee gebore en dit is die idee van sukses, om werklik te lewe en jou drome te bereik. Alles wat jy in hierdie lewe geleer het, kan afgeleer word en herleer word op ‘n ander manier.
Laat mislukking toe
Jy sal soveel meer suksesvol wees wanneer jy jouself toelaat om te misluk en van voor af te begin. Jy is baie meer geneig om sukses te behaal as jy jouself die voorreg gun om te misluk en oor te begin, net soos toe jy geleer het hoe om te loop. Dit was goed om te misluk, want dit was regtig ‘n sukses. Sou jy ook misluk het jy geleer wat om nie te doen nie. Toe jy geleer het hoe om te loop het jy waarskynlik honderde kere geval. Jy het egter deurgedruk en maar net elke keer weer probeer totdat jy kon loop. En daar gebeur dit! Jy staan eendag op en loop en van daar af het jy net nooit weer teruggekyk nie. Jy was suksesvol.
Soms dink ek dat ons as volwassenes meer onnosel as kinders is. As volwassene mag ons val en bloot dink… Ag wat, ek kan dit in elk geval nie doen nie, so wat is die nut? Ons gee dan bloot net op. As niemand van ons mislukking toegelaat is nie, sou ons vandag almal steeds kruip! Jy was net nie gepla oor mislukking nie.
Vrede
Jy kan jou hele lewe leef op ‘n ontspanne manier – in jou gedagtes, liggaam, siel en gees. Vrede is die sleutel tot uitnemendheid in plesier, eintlik in alles wat jy doen. Jy kan en sal geweldige sukses behaal deur bloot ontspanne te wees. Ontspan sodat jy op jou gedagtes kan fokus en jou verstand se energie tot sy maksimum voordeel en vermoëns kan gebruik.
Ontspan en bereik jou doelwitte
Ontspan en leef
Ontspan en geniet
Samevattend
Briljante leerders:
- glo in hulself;
- is nie gepla oor wilskrag nie en doen dinge op ʼn natuurlike manier;
- sien hul leer-ervaring as relevant;
- fokus op wat hulle regtig graag wil doen of bereik;
- is gefokus in die hier-en-nou;
- is nie gepla oor die verlede of die toekoms nie. Dit gaan oor wat hulle nou ervaar en leer;
- is ontspanne wanneer hulle studeer;
- glo dat hulle soveel meer absorbeer wanneer hulle ontspanne is en te veel breinkrag en konsentrasie verloor wanneer hulle gespanne is;
- se belangstelling is die grootste maatstaf van sukses;
- geniet hul studies;
- maak van al hul sintuie gebruik tydens die leerproses;
- kry ʼn beloning vir hulle pogings;
- vier alle suksesse, selfs die kleintjies;
- dink in terme van sukses;
- druk hulself nie te hard nie;
- slaap genoeg en ontspan genoeg.
ʼn Alternatiewe idee
Volgens Neuro-linguistiese Programmering (NLP) kan mense rofweg in drie kategorieë geplaas word – die Visueles, die Ouditiewes en die Kinestetieses. (Lees meer hieroor op my webtuiste: jorganharris.co.za onder die artikel NLP).
- Die Visueles beleef hulle wêreld in beelde. Hulle onthou in prentjies en jy kan sommer hoor hoe hulle hul wêreld in terme van beelde beskryf.
- Die Ouditiewes beleef hul wêreld in terme van klank en hulle sal byvoorbeeld sterk reageer op hoe jy iets vir hulle sê.
- Dan is daar die Kinestetieses wat hul wêreld beleef op hoe hulle voel oor dinge. Hulle beleef hulle wêreld in terme van gevoelens, wat hulle fisies ervaar, asook in reuk en smaak.
Hoe het jy nog altyd gestudeer? Hoe is jy geleer? Dink terug aan die klaskamers waarin jy skool gegaan het. Dit was dalk vol pragtige opvoedkundige plakkate. Dit help ongelukkig net die mense met ʼn Visuele voorkeur. Soms word daar videos gewys en dit help die mense met ʼn Visuele voorkeur nog meer, asook diegene met ʼn Ouditiewe voorkeur. Maar daar word nie veel voorsiening gemaak vir die mense met ʼn Kinestetiese voorkeur nie en dit is interessant dat die meeste leerprobleme juis by mense met ʼn Kinestetiese voorkeur voorkom. Hoe leer jy iemand op ʼn gevoel of ʼn reuk of ʼn smaak?
Studie-idees vir studente met verskillende voorkeurmodaliteite
Die Visueles
Diegene met ʼn Visuele voorkeur leer die beste deur hulle oë. Hulle reageer dus die beste op wat hulle sien en leer dan ook deur vir hulself prentjies in hul koppe te maak.
Hulle reageer goed op vloeikaarte en diagramme en herroep kleure en vorme baie maklik. Hulle leer ook vinniger aangesien ʼn prent meer werd is as ʼn duisend woorde.
Hulle leer beste deur hulle oë op te beweeg. Mense met ʼn Visuele voorkeur se sukses kom daaruit dat hulle die taak sien en daarvoor gaan. Hulle sien geleenthede rondom hulle raak en is so gefokus op die doel wat hulle sien, dat hulle jou nie eers sal hoor wanneer jy hulle op gevare probeer wys nie.
Voorstelle vir mense met ʼn Visuele voorkeur. Hulle:
- maak gebruik van kleurryke prentjies, breinkaarte (mind maps) en diagramme;
- gebruik flitskaarte om sleutelkonsepte te memoriseer;
- kyk video’s en demonstrasies;
- hou jou materiaal bokant ooghoogte;
- sit regop wanneer jy studeer.
Die Ouditiewes
Ouditiewes leer weer die beste deur hul ore te gebruik. Hulle reageer dus die beste op wat hulle hoor en sal dinge verbaal hardop vir hulself herhaal.
Hulle onthou dus die beste deur hul oë in die rigting van hulle ore te beweeg en dan te hoor hoe die antwoord klink. Hulle reageer goed op stem-opnames en enige inligting in ʼn Ouditiewe vorm.
Voorstelle vir mense met ʼn Ouditiewe voorkeur:
– hou jou materiaal voor jou op oorhoogte. Verkieslik ietwat links van jou;
– herhaal dit wat jy lees hardop vir jouself;
– neem deel aan besprekings – deur betrokke te raak by studiegroepe of klasbesprekings versterk jy leer deur gesprekke;
– luister na podsendings (podcasts) of lesings wat die onderwerp verduidelik;
– gebruik rympies om die werk só te kan onthou;
– speel bi-laterale- of barokmusiek. Nie net stimuleer dit Ouditiewes nie, maar Ouditiewes se aandag kan ook maklik afgelei word deur agtergrondgeraas wat deur die musiek uitskakel kan word;
– sit gemaklik sodat jy jou liggaam kan wieg op die ritme wat jy vorm van die materiaal wat jy leer.
Die Kinestetieses
Diegene met ʼn Kinestetiese voorkeur leer die beste deur hul liggame. Hulle reageer dus die beste op wat hulle voel en aanvoel en sal ʼn gevoel oor die vraag kry. Hulle sal eers afkyk na hul dominante hand se rigting (gewoonlik regs-af) voordat hulle vir jou ʼn antwoord op ʼn vraag gee.
Hulle onthou dus die beste deur hul oë na die dominante hand te beweeg en dan te voel hoe die antwoord voel.
Voorstelle vir mense met ʼn Kinestetiese voorkeur:
– kry jou liggaam so gemaklik as moontlik. Baie Kinestetieses sal dalk verkies om op hulle bed te lê en studeer;
– maak seker dat jou omgewing gemaklik is, ʼn gemaklike stoel, die regte temperatuur, ensovoorts;
– stel emosioneel-gedrewe doelwitte – belyn jou leerdoelwitte met jou passies of dinge wat vir jou saak maak op ‘n emosionele vlak;
– pas konsepte prakties toe, leer deur te doen – teorieë en konsepte in werklike situasies toe te pas;
– sal sogenaamde stresballe of fidget tools gebruik om jou te help om rustelose energie te fokus en te kanaliseer;
– hou jou materiaal onder ooghoogte sodat jy die gevoel van die werk kan kry, soos om dit op jou lessenaar te sit en af te kyk op jou leerwerk;
– wanneer jy leer, kry net ʼn gevoel waar en wat jy voel as jy besig is om iets te bestudeer.
So, jy het nie goed gedoen op skool nie? Miskien is jou voorkeurmodaliteit nie aangespreek nie. Wat het jou laat glo dat jy nie ʼn goeie leerder of student is nie? Wat het jou laat glo dat jy nie so slim is nie? Is jou angsvlakke dalk te hoog?
Ten slotte
- Stefan* het van hierdie negatiewe sieninge oor homself ontslae geraak en meer in homself begin glo. Hy het gestudeer op ʼn manier wat vir hom pas en hy het genoeg tyd gemaak vir ander aktiwiteite en homself nie dood geleer nie. Hy het matriek met ‘n 65% gemiddeld geslaag en is deesdae ʼn suksesvolle student by ʼn bekende instelling.
- Pieter* het meer as 60% vir sy wiskunde in die eindeksamen gekry nadat hy al die druk van homself afgehaal het.
- Koos*. Wel Koos het ‘n professor in Grieks geword.
* Nie hulle regte name nie, behalwe dié van Koos