Antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV)
Daar word in die literatuur na hierdie mense verwys as die sosiopate of psigopate. In die formele sielkunde tref ons nie ‘n onderskeid hier nie en noem dit bloot antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV). Die klassieke psigopaat of dan APV is nie noodwendig ‘n reeksmoordenaar nie en kom algemeen voor hoewel hulle maar ongeveer 1% van die populasie uitmaak.
Wat is Antisosiale persoonlikheidsversteuring?
Antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV) is ‘n komplekse geestesgesondheidstoestand wat gekenmerk word deur ‘n aanhoudende minagting van die regte van ander, sosiale norme en etiese gedrag. Mense met APV sukkel dikwels met impulsiwiteit, manipulasie en ‘n gebrek aan empatie, wat lei tot uitdagings in hul persoonlike en professionele verhoudings. Om APV te verstaan, vereis dat die oorsake, simptome en impak daarvan op individue en die samelewing ondersoek word.
Waar kom die term antisosiale persoonlikheidsversteuring vandaan?
Die term antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV) het mettertyd ontwikkel, met sy wortels in vroeë psigiatriese klassifikasies. In die laat 19de en vroeë 20ste eeu het sielkundiges en psigiaters gedrag begin kategoriseer wat aansienlik van maatskaplike norme afgewyk het. Die term psigopatie het gedurende hierdie tydperk ontstaan, grootliks toegeskryf aan Emil Kraepelin, ‘n Duitse psigiater wat die grondslag gelê het vir modern psigiatriese klassifikasie.
Teen die middel van die 20ste eeu het die American Psychiatric Association (APA) hierdie idees verder verfyn. Die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM), wat die eerste keer in 1952 gepubliseer is, bevat kriteria wat uiteindelik sou ontwikkel tot wat ons nou as APV erken. Die DSM-II (1968) het verwys na sosiopatiese persoonlikheidsversteuring, maar eers DSM-III (1980) is APV amptelik as ‘n duidelike diagnose bekend gestel.
Histories is daar met verskillende name na die toestand verwys, insluitend morele ontwrigting, morele waansin en sosiopatie. Met verloop van tyd is APV onderskei van psigopatie, met APV as ‘n gedragsgerigte diagnose wat in die DSM ingesluit is, terwyl psigopatie persoonlikheidseienskappe soos gevoelloosheid en egosentrisiteit insluit.
Diagnostiese kriteria van Antisosiale persoonlikheidsversteuring
APV kan kortliks gedefinieer word as ‘n versteuring waarin ‘n persoon die regte van ander mense verontagsaam en skend. Vanaf ouderdom 15 kan ons die eienskappe in enige drie of meer van die onderstaande kriteria identifiseer:
- ‘n gebrek daaraan om sosiale norme na te kom, kom nie die wet na nie en doen dinge wat kan lei tot arrestasie;
- bedrieglike gedrag wat gesien kan word in herhaaldelike leuens, vervalsing van identiteit, bedrog of om ander te beswendel vir persoonlike voordeel of plesier;
- impulsiwiteit of ‘n gebrek om vooruit te beplan
- geïrriteerdheid en aggressie wat gesien kan word in herhaaldelike fisiese gevegte of aanrandings;
- roekelose minagting van eie veiligheid en die veiligheid van ander;
- gedurige onverantwoordelikheid, soos gesien kan word deur die gebrek om ‘n werk te behou of om finansiële verpligtinge na te kom;
- gebrek aan berou, soos gesien kan word in ongeërgdheid of dit rasionaliseer deur voor te hou dat hulle seergemaak, mishandel of van gesteel is.
‘n Kort bespreking van die diagnostiese kriteria
Antisosiale Persoonlikheidsversteuring (APV) is ‘n komplekse geestesgesondheidstoestand wat gekenmerk word deur volgehoue patrone van minagting vir die regte van ander, sosiale norme en wette. Individue met APV toon dikwels gedrag wat manipulerend, bedrieglik en potensieel skadelik is, maar hulle mag dalk geen berou hê oor hul optrede nie. Hier is ‘n bespreking van ‘n paar sleutelsimptome:
Kernsimptome
- Minagting vir sosiale norme en wette
Mense met APV neem dikwels deel aan gedrag wat maatskaplike reëls oortree, soos diefstal, aggressie of bedrog. Hierdie patroon begin tipies in adolessensie en duur voort tot in volwassenheid.
- Misleiding en manipulasie
Om te lieg, ander te bedrieg vir persoonlike gewin en sjarme gebruik om te manipuleer is algemene eienskappe. Hulle mag mense uitbuit sonder om gepla te wees oor die gevolge.
- Impulsiwiteit en roekeloosheid
Individue met APV tree dikwels op sonder om die gevolge te oorweeg, wat lei tot gevaarlike gedrag, soos dwelm misbruik, riskante seksuele aktiwiteite of roekelose bestuur.
- Prikkelbaarheid en aggressiwiteit
Hulle mag sukkel om hul humeur te beheer en raak gereeld betrokke by gevegte, konflikte of gewelddadige optrede.
- Gebrek aan empatie en berou
Een van die kenmerkende simptome is ‘n minagting vir ander se gevoelens en seerkry. Hulle voel geen skuld as hulle mense seergemaak of uitgebuit het nie.
- Versuim om verantwoordelikhede na te kom
Hierdie individue mag sukkel met langtermynverbintenisse, soos werk, verhoudings of finansiële verpligtinge. Hulle mag verantwoordelikhede sonder kommer laat vaar.
Impak op verhoudings en die samelewing
APV kan persoonlike verhoudings ernstig beïnvloed, aangesien mense wie met hulle in ‘n bepaalde verhouding is mag sukkel met vertroue, emosionele verbindings en samewerking. Hul gedrag kan lei tot regsprobleme, werksonstabiliteit en isolasie van geliefdes. Terwyl sommige individue met APV hoogs intelligent is en in staat is om ‘n fasade van normaliteit te handhaaf, toon hul optrede dikwels ‘n volgehoue patroon van onverantwoordelikheid en skade van enige aard.
‘n Storie van iemand met Antisosiale persoonliheidsversteuring
Gert (nie sy regte naam nie) was iemand met ‘n tros-B (cluster-B) persoonlikheidversteuring. Ons gaan deurgans in hierdie artikel na die tros-B’s verwys en ek gaan dit later aan jou verduidelik.
As jy vir Gert ontmoet, gaan jy dadelik baie van hom hou. Hy is ‘n vriendelike, aangename mens met ‘n skoon, netjiese voorkoms. ‘n Mens met beginsels – iemand wat jou kan meesleur vanaf daardie eerste oomblik dat jy hom ontmoet. Gert was hoofouderling van sy kerk. Hy het die jeug van die kerk met sterk beginsels en rigtingvasheid gelei. Die kerk se jeugbeweging was so sterk dat ander gemeentes sy gemeente se jeugprogram begin navolg het.
Die gemeente het ‘n nuwe predikant gekry. Hy was ook ‘n opgeleide sielkundige. Die nuwe, dog ervare, predikant was beïndruk met Gert se leiding in die gemeente. Gert het groot planne vir die gemeente gehad, soos om ‘n nuwe, groot kerk-ouditorium te bou sonder dat dit die gemeente enige geld sou kos. Gert kon enigiemand om sy pinkie draai. So besluit Gert eendag om ‘n groot stad in ons land in te vaar en begin links en regs eiendomme te koop en verkoop (met geld en eiendomme wat hy nie het of besit nie). ‘n Dag of twee later, verskyn hy op die voorblad van ‘n nasionale koerant. Gert het daardie dag amper gesorg vir ‘n ineenstorting van die totale eiendomsmark van daardie stad en dit deur groot sakemanne om sy pinkie te draai.
Gert het nooit die nagevolge hiervan besef nie en met die een skema na die ander vorendag gekom. Intussen het Gert se vrou van hom geskei vir redes wat geen mens ooit kon verstaan nie. Gert was dan ‘n baie aangename ou, maar Gert se dag het ook gekom. Twee polisiemanne, vangwa en lasbrief in die hand, daag by sy huis op om hom inhegtenis te neem. ‘n Lasbrief beteken immers dat daar geen vrae gevra word nie. Neem die man in hegtenis – sluit hom toe. Gert bel egter sy predikant en sielkundige. Die volgende oomblik is die predikant en sielkundige, asook die polisiemanne oortuig van sy onskuld en ry die polisie, lasbrief en al, sonder Gert daar weg.
Na nog ‘n lang ruk, breek Gert se dag weer aan. Hy verskyn egter die keer in die hof. Gert vertel in die hof lang en tragiese stories dat selfs die regter sy sakdoek moes uithaal om die trane uit sy oë te vee. Weereens stap Gert skotvry by die hof uit.
Weer breek Gert se dag aan, maar die keer word hy uiteindelik gevonnis tot gevangenisstraf. Gert begin ‘n Bybelstudiegroep in die tronk. Hierdie groep raak later so hoog en heilig dat Korrektiewe Dienste nie meer daarmee kon huishou nie. Gert word derhalwe na ‘n ander tronk oorgeplaas, waar hy ook met ‘n Bybelstudiegroep begin. My onthou van Gert eindig hier. Wat hierna gebeur het weet ek nie, maar ek is daarvan oortuig dat Gert vrygelaat is omdat hulle hom ook nie kon beheer nie.
Gert kon ‘n hele klomp ervare sakemanne om sy pinkie draai. Hierdie tipe mense het al voortvarende lande verwoes, magtige instansies bankrot gelaat, pratige, magtige en mooi vroue en mans het al halsoorkop vir hul ongelooflike sjarme geval.
- Indien jy wonder hoekom ek hierdie storie vir jou vertel, mag jy dalk weer na die diagnostiese kriteria kyk en kyk hoeveel van die kriteria jy in die bogenoemde storie kan identifiseer.
*Nie hul regte name nie