Ontmoetings- gesentreerde Verhoudingsterapie
Encounter centred Couples Therapy (EcCT)
Inleiding
EcCT is ʼn kragtige nuwe manier van huweliksterapie. Hoewel dit niks nuuts is nie, is dit tog nuut in die sin dat daar op ʼn vars manier gekyk word na die interaksie tussen twee mense in ʼn bepaalde verhouding. Hierdie model is ontwikkel deur Hedy Schleifer wat van ʼn sterk metaforiese model gebruik maak om mense in ʼn verhouding effektief te laat kommunikeer om sodoende uitdagings tussen hulle effektief op te los.
Die uitgangspunt is dat daar geen probleem met die individue self in die verhouding is nie. Die uitdaging is om die verskille tussen die twee individue op gelyke grond op te los. Beide van julle kan reg wees, maar omrede elkeen vanuit sy eie woonbuurt daarna kyk, kan die kombinasie van die twee sienings, wat nie een verkeerd is nie, ‘n probleem skep. Die probleem is eerder ‘n uitdaging wat op gelyke grond aangespreek kan word.
Dit gaan egter ook oor ʼn verhouding tussen twee volwassenes waar twee mense mekaar help om soos volwassenes op te tree om nog meer volwasse te raak. Hierdie twee mense word bondgenote vir mekaar se beste groei en transformasie.
Die kernkomponente van EcCT
EcCT bestaan uit ʼn paar kernkomponente. Of soos Hedi Schleifer dit noem, onsigbare verbinders.
Die eerste komponent is die sogenaamde verhoudingspasie
Ons verhouding leef in die spasie tussen ons. Dit leef nie in my nie en dit leef ook nie in jou nie. Dit leef in die spasie tussen ons. Daar hoef nie, soos in die woorde van Stef Kruger, ʼn berg tussen ons te wees nie. Daar is ʼn spasie tussen ons en hierdie spasie is heilig. Probleemoplossing vind in hierdie spasie plaas.
Die uitdaging in enige verhouding is nie die probleem met die individu nie, maar die uitdaging lê in die interaksie tussen die twee persone in die verhouding.
Hierdie heilige spasie kan bewustelik besoedel word deur woede, kritiek, teleurstellings, blamerings, verwyte, ens. Wanneer hierdie spasie ongemaklik raak, word dit gevaarlik. Meeste mense, wanneer hulle dan hierdie spasie betree, baklei met mekaar of onttrek van mekaar.
ʼn Bakleiery is net so effektief soos ʼn haelstorm op ʼn boer se plaas. Dit help die boer niks om die haelstorm te probeer keer, teen te staan of daarteen te baklei nie. Die boer se hande is afgekap. Op die ou einde skuil die boer, weerloos in sy huis en kyk toe hoe die haelstorm sy hele oes verwoes.
Hoe harder die woorde, hoe harder val die hael. ʼn Geveg los niks op nie, dit verwoes net die oes. Hoe meer mense in ʼn verhouding baklei, hoe meer magteloos word hulle teen die haelstorm en hoe meer verdedig hulle hulself, of hoe meer val hulle aan en hoe minder luister hulle wat die ander een sê. So word die hele verhouding en oes vernietig. Die Goeie nuus is egter dat daar inderdaad iets anders is wat hulle kan doen om die oes wel te red.
Die tweede komponent is jou kosbare woonbuurt
Jy en jou maat het elkeen ʼn plek waar julle vandaan kom. Vir beide van julle is jul woonbuurt heilig en maak julle standpunte vir julle sin. Elkeen van julle het jul eie waardes, norme en behoeftes in jul eie onderskeie buurte wat vir julle sin maak. Wat vir julle belangrik is. Niemand is reg nie en niemand is verkeerd nie. Elkeen se buurt is vir hul heilig. Ek het in my buurt my eie huis, my dinge wat vir my belangrik is, my norme en standaarde. Soos jy ook het. Al wat daar hoort te wees is respek vir mekaar se onderskeie buurte.
Soos die digter Rumi dit stel: tussen reg dink en verkeerd dink, is daar ʼn veld. Daar sal ek jou ontmoet.
Om mekaar te ontmoet, is daar ʼn brug – die derde komponent
Ten einde mekaar te ontmoet, moet julle beide uit jul verskillende woonbuurte kom, die brug tussen jul buurte oorsteek om mekaar te ontmoet.
Jy nooi jou geliefde om die brug oor te steek om jou kosbare woonbuurt te verstaan. Wanneer jou geliefde die brug oorsteek, moet hulle al hul bagasie by die brug agter laat. Jy laat dus ook al jou kwessies aan jou kant van die brug na en steek letterlik naak en gestroop van enige vooroordele, ook die brug na jou geliefde se woonbuurt oor. Jy ontmoet jou maat in jou begrip van hul woonbuurt met die uiterste respek in ʼn poging om hulle wêreld beter te verstaan. Daar is ʼn Arabiese spreekwoord wat sê: voordat jy die hek na jou maat deurgaan, vra jouself eers af: is dit nodig, is dit vriendelik, is dit waar?
Aan die ander kant van die brug gaan jy nie noodwendig nuwe landskappe verken nie, maar jy gaan leer om ou landskappe deur nuwe oë te sien.
Natuurlik moet jou maat ook daardie brug na jou woonbuurt oorsteek met dieselfde intensies.
Praktiese toepassing van EcCT
Julle is lief vir mekaar
Dit is immers hoekom julle by mekaar is. Wanneer julle praat, sit baie na aan mekaar. Kyk mekaar in die oë. Dis tog wat verliefdes doen. Kyk net vir ʼn oomblik na hierdie ongelooflike mens wat voor jou sit en hul lewe met jou wil deel. Kyk na die landskap in jou maat se oë. Word bewus van hul behoefte om onvoorwaardelik lief te hê en om lief gehê te word. Selfs al is daar vrees of haat in jou maat se oë, kan jy steeds ʼn getuie word van die liefde in jou maat se oë. Haal diep asem, ontspan.
Sonder om ʼn woord te sê, sê met jou oë: ek is lief vir jou. Sê met jou oë: dankie dat jy oor die brug gekom het en dat jy wil werk aan ons uitdaging.
Hou hande vas
Dis immers wat verliefdes doen. Daar is veel meer in net hande vashou aswat jy dink. Deur hande vas te hou, gebeur daar iets in jou sentrale senuweestelsel. Ons onthou meer wat ons maat vir ons sê wanneer ons hande vashou, eerder as om net op ons eie standpunt en siening te fokus.
Vertel mekaar nou wat julle wildste drome vir jul verhouding is
Waar wil julle heen gaan met jul verhouding? Julle fokus dus nie net op die uitdaging nie, maar op die oplossing en jul drome vir en met mekaar.
Nooi mekaar uit na julle onderskeie woonbuurte
Berei jou plek voor vir jou maat. Maak dit heilig. Bedank jou maat dat hulle jou oornooi om hul buurt beter te verstaan. Op jou beurt kan jy jou maat verseker dat jy naak en kwessieloos na hulle kom, deur te sê: ek is hier. Net hier. Ek het oor die brug gestap en my bagasie agter die brug gelaat. Bedank jou maat dat hulle hul bagasie agtergelaat het.
En in hierdie heilige spasie luister jy. Jy luister met oop oë. Jy luister met ʼn oop hart. Jy luister asof jy vir die eerste keer ʼn nuwe taal hoor.
Jy luister sielvol na wat jou maat sê. Jy kan dan vir jou maat sê: ek hoor jy sê… Verstaan ek jou reg? Wanneer jou maat bevestig dat jy reg gehoor het, kan jy begin praat.
Vertel dan vir jou maat wat jy van jouself en van julle verhouding geleer het. Bedank jou maat vir hul besoek aan jou buurt en spreek jou waardering daarvoor uit.
En trek jou skoene uit, want daardie spasie is heilig.