Algemene angsversteuring
Inleiding
Meeste mense wat met algemene angsversteuring gediagnoseer word is altyd verbaas oor hul diagnose. Dit is juis mense wat altyd rustig en kalm is wat aan angs mag ly. Tog maak mense met algemene angsversteuring meer as die helfte van my praktyk uit.
Sukkel jy met ‘n Algemene angsversteuring?
ʼn Algemene angsversteuring word gekenmerk deur chroniese stres wat vir ten minste ses maande teenwoordig is, maar nie noodwendig altyd met paniekaanvalle, fobies of obsessies gepaard gaan nie. Jy ervaar eenvoudig net voortdurende stres en/of bekommernisse.
Om ʼn diagnose van algemene angsversteuring te kry moet jou angs en bekommernisse gefokus wees op twee of meer stresvolle funksioneringsareas (soos byvoorbeeld finansies, verhoudinge, gesondheid of werk – of skoolprestasie) vir die meerderheid van dae in ʼn ses-maande periode. Dit is algemeen dat wanneer jy met ʼn algemene angsversteuring te make het, jy baie bekommernisse het en dat jy baie tyd daaraan spandeer. Maar meer as dit, is die intensiteit en die frekwensie van die bekommernisse altyd buite proporsie met die moontlikheid in jou kop dat hierdie dinge werklik sal gebeur.
Volgens die DSM 5 (Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders Edition 5) is die kriteria van ‘n algemene angsversteuring ‘n oormatige angs en kommer (waarin jy net die ergste verwag), vir minstens 6 maande oor ‘n aantal gebeure of aktiwiteite.
Dis vir jou moeilik om die angs te beheer. Die angs en kommer word geassosieer met drie (of meer) van die onderstaande ses simptome:
- Rusteloosheid of gevoelens van ontsteltenis of op-die-randjie wees
- Word maklik uitgeput
- Probleme om te konsentreer of dit mag voel asof jou verstand net leeg raak
- Geïrriteerdheid
- Spierspanning
- Slaapversteuring (probleme om aan die slaap te raak, of om aan die slaap te bly, of ʼn rustelose, onbevredigende slaap).
Jy mag dalk sukkel om te ontspan en voel heeltyd onrustig. Jy kan nie dwarsdeur ʼn fliek op televisie stilsit sonder om kort-kort op te spring om eers iets anders te gaan doen nie. Teen die middag mag jy reeds uitgeput wees en voel om te slaap. Jy mag byvoorbeeld begin om iets te lees en na die eerste of tweede paragraaf besef dat jy nie ʼn idee het waaroor die artikel handel nie. Sommige mense in hul laat middeljare begin glo dat hulle begin om ʼn vorm van demensie soos Alzheimer-siekte te ontwikkel.
Dit mag dalk net angs wees. Jy voel maklik geïrriteerd en veral geraas mag jou eindeloos frustreer. Jy mag moontlik spierspanning ervaar, veral in jou skouers en nek. Jy mag dit dalk toeskryf aan die feit dat jy die heeldag agter jou rekenaar sit, maar dit is egter nie die geval nie. Laastens mag jy dalk ʼn insomniac wees. In kort, jy staan bekend as ʼn beheervraat. Jy ly waarskynlik net aan ʼn algemene angsversteuring.
Jou angs, bekommernisse of selfs fisiese simptome veroorsaak ʼn klinies betekenisvolle probleem in jou sosiale, beroeps- of ander belangrike funksioneringsareas.
Hoe algemene angsversteuring werk
In algemene omgangstaal staan ʼn algemene angsversteuring bekend as stres. Streng sielkundig gesproke, bestaan daar egter nie ʼn term soos stres nie. Dit is algemene angs.
Dit is gewoonlik nie jou omstandighede wat stres of angs veroorsaak nie, maar eerder hoe jy daaroor dink. Hierdie denke begin altyd met: Wat as? Wat as dit gebeur? Wat as ek dit doen of dat nie doen nie?
As kind het ek ‘n hond gehad. My hond was veral ‘n terroris met katte. Eendag het my hond ‘n kat in ‘n hoek vasgepen. Wat my arme hond nie mee rekening gehou het nie, was dat hierdie kat ‘n Siamese kat was.
Bobbel het nog gedink hy het die kat in die hoek vasgepen, toe die kat skielik begin blaas, sy rug kromtrek, sy spiere saamtrek, hare in die lug en sy naels begin wys. Ek het gedink die kat was kwaad, maar eintik was die kat bloot ingestel op oorlewing.
Die kat het in ‘n oogwink vir Bobbel gestorm, hom op die neus geslaan dat die bloed spat en oor ‘n muur gespring – hoër as wat ek ooit gedink het ‘n kat oor sou kon spring.
Wat het hier gebeur? In die natuur sal ʼn dier, wanneer hy in die moeilikheid is, adrenaline en nor-adrenaline vrystel om hom in staat te stel om te veg of te vlug. Vandaar die sogenaamde veg-of-vlug respons. Die dier se hart begin vinniger klop, spiere span saam, asemhaling word vinniger en vlakker ens. Hierdie reaksies stel die dier bloot in staat om harder te baklei of vinniger weg te kan hardloop. Wanneer die gevaar verby is, gaan slaap die dier om weer sy adrenaline-vlakke te herstel.
Daar is sekere ooreenkomste en verskille tussen ons en diere. Die ooreenkoms is dat ons en diere min of meer dieselfde sentrale senuweestelsel het. Wanneer ons voel dat ons in gevaar is, produseer ons adrenaline en nor-adrenaline, net soos die kat om die uitdaging af te weer, sonder dat ons noodwendig daaroor dink.
As ‘n taxi voor jou sou inswaai, sou jou serebellum (ook bekend as jou oerbrein), laer brein (kleinbrein) en breinstam (reptielbrein) dadelik ingryp. Jy gaan nie op daardie stadium jou neokorteks (daardie deel van jou brein wat te make het met logiese denke, taal en logika) gebruik nie. Jy gaan nie dink: a) moet ek uitswaai? b) moet ek rem trap, of c) is daar dalk ‘n alternatiewe opsie nie? Teen daardie tyd was jy al in ‘n groot ongeluk. Dit is asof jou instink intree en die situasie korrek hanteer – jy dink nie – jy tree net op.
Die ooreenkoms tussen ons en diere is dat ons limbiese sisteem intree en verrassend genoeg (sonder om te dink) die regte ding doen om die ongeluk te vermy. Agterna sal jy verbaas terugkyk hoe jy outomaties oorgeslaan het na auto-pilot en instiktief net die regte ding gedoen het.
Daar is ook belangrike verskille tussen ons en diere. Ons kan nie altyd op die instinkte van ons limbiese sisteem reageer nie. As mens, kan ons nie altyd ons adrenaline gebruik soos ʼn dier nie. Ons kan nie daardie moeilike kollega by die werk met ‘n stok oor die kop gaan slaan, of van die ontvanger van inkomste weghardloop nie. Daardie adrenaline bly dus vasgevang in ons liggaam en dra by tot ‘n gevoel van angstigheid. Daardie adrenaline word vrygestel, maar nie gebruik nie.
Daar is egter ook ʼn verdere verskil tussen mense en diere. Soms ervaar ons verkeerdeliks iets as ʼn bedreiging deurdat ons op ʼn irrasionele manier daaroor dink. Wanneer ons dink dat iets ʼn bedreiging is, gebruik ons dieselfde deel van ons oerbrein wat ons sou gebruik wanneer daar wel ʼn fisiese bedreiging is. Jou liggaam kry die boodskap dat daar gevaar is en begin om adrenaline af te skei vir die veg-of-vlug reaksie.
Hierdie denke begin gewoonlik met wat as? Ek noem angs dan ook die wat as uitdaging. Ons martel onsself met vrae oor moontlike katastrofiese gevolge, waarvan die meeste van ons vrese in elk geval nooit gebeur nie!
Jou oerbrein of reptielbrein verstaan nie dat dit net jou denke is nie. Hierdie deel is te primitief en verstaan nie taal of logika nie. Jou oerbrein dink dat jou wat as-denke realiteit is, tans besig is om te gebeur en berei jou dan voor vir gevaar met die veg-of-vlug reaksie.
As ons weer na die simptome van angs kyk soos ek dit hierbo beskryf het, maak dit sin hoekom jy dalk rusteloos is, maklik uitgeput raak, konsentrasieprobleme ervaar, geїrriteerd raak, spierspanning het of sukkel om te slaap. Jou liggaam is in konstante gereedheid om jou verbeelde gevare die hoof te bied. Geen mens kan ontspan, konsentreer of slaap as die spreekwoordelike Bobbel jou in ‘n hoek vaspen nie. Jy is gereeld moeg, want jou adrenaline is op. Slaap help jou om weer daardie adrenaline op te bou en dan sukkel jy dalk nog om te slaap ook. Opsigself sal dit ook nie veel help met jou konsentrasie en geheue nie.
Jy mag ook die volgende ervaar:
Mense wat aan ʼn algemene angsversteuring ly, mag moontlik meelopend sekere van die volgende ervaar:
- ‘n Sogenaamde senuwee-ineenstorting
Miskien is dit goed vir jou om te weet dat daar nie iets soos ‘n senuwee-ineenstorting bestaan nie. Dit was dalk net ‘n erge angs-of paniekaanval. Kyk na die volgende hofie.
- Angs-en paniekaanvalle
Besoek gerus my webtuiste jorganharris.co.za vir meer inligting hieroor. Klik op Terapie en gaan dan na Angs- en Paniekaanvalle. Hierdie aanvalle is die aakligste ding wat jy ooit kan ervaar. Dit mag vir jou voel of jy besig is om:
- mal te word;
- ‘n hartaanval te kry;
- ‘n asma-aanval sal kry;
- dood te gaan;
- ‘n beroerte te kry;
- ‘n lewensgevaarlike siekte te kry wat dokters nie raak kan sien nie.
Die waarheid is dat al mag dit so voel die bogenoemde vrese fisies ontmoontlik is vir enige van die bostaande om te gebeur.
- Vrees vir ‘n vroeëe demensie, soos Alzheimer se siekte
Aangesien gebrek aan konsentrasie ‘n bekende simptoom van angs is, lei die gebrek aan konsentrasie tot ‘n verlies van geheue, hoofsaaklik korttermyn. As jy nie kan konsentreer nie, kan jy nie onthou nie.
Baie mense wat sukkel met angs, verwar hul angs met demensie, aangesien hulle sukkel om te onthou.
Daar is egter ‘n wanpersepsie dat Alzheimer se siekte ‘n geheue-probleem is. Dit is nie noodwendig waar nie. Alzheimers word veral gekenmerk deur die volgende simptome:
- apatie – gebrek aan motivering en dryfkrag;
- affektiewe disregulering – veral gemoedsveranderinge, angs en depressie;
- gebrek aan impulsbeheer – hulle raak ook moeilik en rigied;
- sosiale ontoepaslike optrede – hulle sukkel om by sosiale norme te hou;
- abnormale persepsies of gedagtes – soos hulle agterdog in andere se motiewe.
- Verwarring met ATV (Aandag tekort versteuring) of ATHV (Aandag tekort hiperaktiwiteits versteuring) (ADD of ADHD in Engels)
- Angs en ATV/ATHV kan met mekaar verwar word. Twee klassieke simptome van angs, naamlik rusteloosheid en gebrek aan konsentrasie oorvleuel met die simptome van ATV/ATHV. Om hierdie rede kan die twee diagnoses so maklik met mekaar verwar word.
Daar is strominge in die psigiatrie wat die bestaan van ATV/ATHV ontken en redeneer dat dit bloot angs is, met goeie bewyse ook. Dan is daar die ander strominge wat redeneer dat daar wel iets soos ATV/ATHV is, ook met goeie bewyse. Ek is geneig om meer die eersgenoemde siening aan te hang, aangesien te veel mense misdiagnoseer word met ATV/ATHV terwyl hulle slegs angs het.
- Obsessief kompulsiewe versteuring (OKV) of in Engels (OCD)
Hoewel dit waar is dat daar ‘n OKP (obsessief kompulsiewe persoonlikheidsversteuring) bestaan, is die meeste OKV net die gevolg van angs. Jy mag dalk een of meer van die volgende ervaar:
- OKV van checking (kontrolering) – jy mag dalk oormatig seker maak dat jou deure gesluit is, of dalk dat jy oormatig seker wil maak dat die ketel afgeskakel is ens.
- OKV van was (washing) – jy mag dalk oormatig bad of jou hande menigmale per dag was.
- OKV van tel (counting) – jy mag dalk alles rondom jou wil tel en dalk ‘n obessie ontwikkel dat al jou syfers op ‘n bepaalde getal moet eindig.
- OKV van perfeksie (perfection) – alles moet ten alle koste perfek wees. Geen skildery mag skeef hang nie. Alles moet perfek op hul plek wees. Dit is natuurlik die vrees vir mislukking wat jou so hard laat werk om perfek te wees.
- OKV van opgaring (hoarding) – jy kan niks weggooi nie en bly nuttelose items opgaar.
- Woede
In hierdie praktyk word daar nie woede hantering (anger management) gedoen nie. Hoekom moet jy jou woede hanteer as jy bloot daarvan ontslae kan raak?
Jy mag dalk dink dat die kat in ons verhaal kwaad is. Die kat is eintlik vreesbevange en gereed vir die moontlike gevaar wat vir hom wag. Dus kan jou woede dalk net die gevolg van angs wees.
Iemand het eenmaal gesê dat jou woede versteekte hartseer is. Ons sal eerder probeer om jou onbewuste hartseer te verwerk as om op jou woede te fokus.
Mense met angs is ook geneig om hul woede te onderdruk. Hulle plaas letterlik ‘n groot sementblok bo-op hul vulkaan van woede. Hierdie sementblok metafoor is ‘n manier om sielkundige verdedigingsmeganismes te verstaan. Die vulkaan stoot op en die verdedigingsmeganismes druk af. Daar ontstaan ‘n spanning tussen hierdie twee kragte. Dit is hoe angs in ‘n neutedop lyk.
Ons kan dit ook vergelyk met ‘n drukkoker (pressure cooker). Iets of iemand maak jou kwaad, maar jy hanteer (contain) dit. Daar kom nog druk, maar dit word ook hanteer. Jou drukkoker begin nou onder druk te kom, aangesien jou stoom nêrens heen kan gaan nie. Tot een dag waar iets klein gebeur en jy verloor dit en die drukkoker ontplof letterlik. Mense mag dalk vir jou sê: dit is dan net ‘n klein dingetjie wat gebeur het, hoekom oorreageer jy so? Natuurlik is dit nie die klein dingetjie nie – daar was genoeg stoom om die drukkoker, wat reeds sterk onder druk was, te laat ontplof.
- Alkohol-misbruik en verslawings
Laat ons dit nou maar openhartig erken: alkohol, dagga asook ander dwelms is wonderlike kure vir angs, al is dit net om al hierdie gedagtes op die korttermyn te onderdruk of te laat verdwyn. Die langer termyn gevolge is ‘n ander storie. Jy is bes moontlik nie ‘n alkoholis (of in die terme van die DSM 5, iemand met ‘n alkohol gebruiksversteuring) nie, maar jy mag dalk te veel drink. Jou oormatige inname van alkohol mag dalk afneem wanneer jy jou angs onder beheer het en nie meer nodig het om so baie te drink om te kan kalmeer nie. Jou inname van dwelms of ander sogenaamde verslawings mag verdwyn wanneer jy nie meer nodig het om van die werklikheid te ontsnap nie.
Ander mense sal aggressief raak onder die invloed van alkohol. Alkohol verslap die greep van daardie sementblok (sielkundige verdedigings-meganismes) en dan kom daardie onderdrukte woede na die oppervlak en mag so ‘n persoon aggressief of bakleierig raak. Dit help nie om jou alkoholinname te verminder nie, want dit werk gewoonlik nie. Die woede, of dan die onderliggende angs, moet verwerk word.
- Lae self esteem
Streng gesproke bestaan daar nie in die sielkunde konsepte soos lae self esteem, lae selfbeeld, swak selfvertroue, swak selfwaarde of hoe jy dit ookal wil noem, nie.
‘n Sogenaamde lae selfbeeld is bloot die gevolge van irrasionele denke wat jy oor jouself dink en vir jouself sê. Dit is daardie negatiewe gedagtes wat vir jou vertel dat jy dinge nie kan doen nie, of dalk nie goed genoeg is nie. Brené Brown skryf: Ons is geneig om die waarde van mense se bydrae (en soms hul hele lewe) te meet aan hul vlak van openbare erkenning. Waarde word dus gemeet aan roem en welstand.
- Sosiale fobie
Ek verkies om eerder te verwys na die term sosiale vrees, in plaas van sosiale fobie. Jy mag dalk bloot bang wees vir verwerping, of bang wees vir mense se opinies of vir wat hulle van jou mag dink. Wat as… ?
Geen wonder die Franse filosoof Jean Paul-Sartre het eenmaal gesê: die hel is ander mense (en hulle opinies) nie. Mits jy dit natuurlik toelaat dat hulle jou hel word (volgens sielkunde). Jy kan meer oor Jean-Paul Sartre se stelling lees op my webbladsy, kliek op Hel is ander mense.
Jy mag dalk ook so bang vir verwerping wees, dat jy eerder ander mense sal verwerp of uit jou lewe sny voordat hulle dit kan doen en sodoende saboteur jy net jouself.
- Uitstel (beter bekend in Engels as procrastination)
Aansluitend hierby, is uitstel ’n blote vrees om iets te doen vir die vrees dat dit te moeilik is, of dat jy sal misluk. Jy verkies om dit uit te stel of om eerder ander dinge te doen as die taak wat jy hoort aan te pak. Daar bestaan nie iets soos lui mense nie. Hulle is net te bang om iets aan te pak uit die vrees vir mislukking. Daar is immers net een manier om nooit te misluk nie en dit is om nooit iets te doen nie.
- Gebrek aan selfhandhawing
Mense met angs ervaar meer as dikwels ‘n gebrek aan selfhandhawing. Selfhandhawing, dikwels in Afrikaans ook genoem assertiwiteit (die Afrikaans vir Assertiveness). Gaan kyk gerus na my artikel oor Selfhandhawing op jorganharris.co.za
Kortweg is daar drie vlakke van selfhandhawende gedrag:
- Onderdanige gedrag
- Selfhandhawende gedrag
- Aggressiewe gedrag
Selfhandhawende gedrag beteken om vriendelik dog ferm te sê wat jy wil hê of nie wil hê nie. Meeste angslyers is geneig om onderdanig te wees en hulself te laat misbruik. Hulle vra nie vir wat hulle wil hê nie en sê ook nie nee vir wat hulle nie wil hê nie. Hulle is normaalweg te bang om ander mense se gevoelens seer te maak, of te bang vir verwerping indien hulle andere nie tevrede gestel word nie. Hulle behaag (please) ander mense. Hulle wil maar net aanvaar word en wil hê dat mense van hul moet hou.
Dit mag egter frustrerend raak om altyd na ander mense se pype te dans en soms gebeur dit dat hulle van onderdanige gedrag, dwarsdeur selfhandhawing tot in aggressiewe gedrag bars en die stoompot sy deksel in die lug op blaas, wat dan weer tot verdere skuldgevoelens lei. Meer oor skuldgevoelens later.
- Beheervraat
Sogenaamde beheervrate (control freaks) is mense wat reeds nie in beheer voel nie, of bang is hulle verloor beheer. Sulke mense mag ook sogenaamde manipuleerders wees en wil mense soms beheer net om in beheer te voel.
- Skuldgevoelens
Mense met angs sukkel ook met oormatige skuldgevoelens. Hulle bly hulself onnodig kasty oor wat hulle verkeerd gedoen het, of dalk nie gedoen het nie. Skuldgevoelens is inderdaad die mees nuttelose emosie wat jy ooit kan ervaar. Dit bring jou nêrens. Skuldgevoelens het ten diepste te make met vrees, al is die vrees ‘n vrees vir die wraak van Karma of om in die sogenaamde hel te beland vir die slegte mens wat jy is of was.
- Gewigstoename
Onlangse navorsing het gewys dat stres en angs die grootste oorsaak van gewigstoename is. Kyk gerus na my artikel oor verslanking op my webtuiste, www.jorganharris.co.za, Verloor gewig.
Eenvoudig verduidelik, werk dit so: Jy eet kos. Kos gaan na jou maag vanwaar dit na al die dele en organe van jou liggaam gaan wat dit vir oorlewing benodig. Die oormaat of onnodige kos wat jy eet gaan in een van twee rigtings: dit gaan na jou uitskeidingskanale of word opgeneem in jou liggaam se vetselle.
Die vraag ontstaan hoekom kos eerder in vet opgeneem word as om uitgeskei te word.
Die antwoord lê in jou oer- of reptielbrein. Hierdie deel van jou brein het net een funksie: oorlewing. Jou oerbrein is so primitief dat wanneer jy angstig is, weet dit nie dat jy angstig is aangesien jou baas jou weer probleme gee nie. Hierdie deel interpreteer angs in terme van oorlewing. Dit dink daar is ‘n leeu wat jou jaag of daar is hongersnood oppad. Jou oerbrein sal dan sorg dat jy meer eet en jou oortollige kos in vetselle stoor vir energie om te veg vir oorlewing.
Jy hoort gewig te verloor wanneer jy jou angs oorwin en jou oerbrein nie meer die impuls ontvang om meer te eet of om kos in vetselle te stoor nie.
- Sensoriese oorlading
Mense met angs mag dikwels oorsensitief wees vir enige vorm van sintuiglike waarnemening. Hulle raak makliker geïrriteerd met sintuiglike oorstimulasie. Veral geraas mag hul grensloos irriteer.
Moontlike oorsake van algemene angs
Natuurlik kan daar ‘n legio oorsake wees van algemene angs. Ons is nie soseer geïnteresseerd in die oorsaak van angs nie. Angs word eerder veroorsaak deur ons toekomsverwagtings, gewortel in die onsekerhede wat voor lê. Ons fokus val dan ook op die vrese vir die toekoms. Sou ons in die verlede moet gaan delf vir potensiële oorsake vir angs is. Hier volg ‘n paar moontlike oorsake (hou egter ingedagte dat hierdie slegs ‘n seleksie van moontlike oorsake is):
- Trauma
Trauma is gebeure wat vir jou traumaties was. Jy mag dalk ‘n trauma of meer in jou lewe ervaar het. Trauma kan enigiets wees van ‘n gebeurtenis waar jou lewe bedreig was tot iets wat onbenullig mag lyk wat jou negatief oor jouself of die wêreld om jou laat voel het.
- Jou ouers
Dit mag gebeur dat een of beide jou ouers aan angs ly en jy hierdie beeld van die wêreld, as ’n gevaarlike plek, jou eie gemaak het. Perfeksionistiese ouers of ouers wat te hoë verwagtinge aan jou stel, mag ook ‘n invloed hê.
- Jou geboorte-orde
Oudste kinders is meer geneig om angs te ontwikkel as jonger kinders in die gesin, aangesien hulle meer verantwoordelikhede dra en meer van hulle verwag word as van die jonger kinders. Eersgeborenes word ook gereeld as baanbrekers gesien en word as die voorbeeld vir die ander kinders gebruik.
- Daaglikse stres
Spanning oor geld, werk, familie, verwagtinge van jouself en ander, siekte ensovoorts kan ook angs veroorsaak.
- Ander faktore
Daar mag veel ander faktore wees wat ons kan ondersoek. Daar is egter geen bewys dat angs die gevolg is van genetiese of biologiese faktore nie. Angs is grootliks die gevolg van aangeleerde gedrag.
Moontlike oorsake soos hierbo genoem, is baie oppervlakkig bespreek en jou eie unieke situasie sal in meer diepte ondersoek word tydens ons konsultasie.
Die slegte nuus is:
dat jou denkwyse en verwysingsraamwerk sê dat die lewe so hoort te wees. Jy dink dat dit is hoe jy is en dit is hoe jy aanmekaar gesit is. Mense met algemene angs dink hulle is die malste van die hele lot, maar:
Die goeie nuus is:
dat angs nie deel van jou persoonlikheid is nie. Jy is nie so gebore en so laat staan nie. Angs is bloot die gevolg van jou aangeleerde denke. Bloot omdat jou ouers angs gehad het en hulle ouers angs gehad het, beteken nie dat dit in jul gene loop nie. Jy is dalk van kleins af gekondisioneer dat die wêreld ‘n slegte plek is aangesien jou oerbrein van kleins af ten volle ontwikkeld is, maar jou neokorteks nie. Om hierdie rede sal jy glo dat die wêreld ‘n slegte plek is, ondanks die bewyse van die teendeel daarvan. Algemene angs, vermoed ek, is eintlik die gesofistikeerde mens se uitdaging. Jy moet ‘n hoë ooraktiewe, kreatiewe verbeelding hê. ‘n Bedelaar ervaar geen angs en fokus slegs op oorlewing.
Algemene angs, nog meer as depressie wat as die siekte van ons tyd gereken word, is veel meer algemeen as selfs depressie.
Eintlik is angs die mees eenvoudige uitdaging om te bowe te kom. Aangesien dit so algemeen is, is daar al soveel navorsing daaroor gedoen. Dit is ‘n versteuring wat ons baie goed verstaan en maklik kan oplos.
Wenke om angs te hanteer
Gedurende terapie sal ons al die aspekte van jou angs aanspreek. Vir nou kan dit help om net drie dinge te oorweeg:
- Haal diep asem
Asemhaling vorm die kern van ontspanning. Haal asem asof jy dit tot in jou maag en abdomen inasem. Jou asemhaling is die een ding waaroor jy altyd absolute beheer het. Jy kan gerus meer hieroor lees in my artikel oor asemhaling op my webtuiste: jorganharris.co.za.
- Skandeer jou liggaam vir spanning
Laat jouself toe om vir ‘n oomblik bewus te raak van jou voorkop. Jy kan toelaat dat jou voorkop glad en ontspanne voel met elke teug wat jy uitasem. Ontspan dan jou kakebeen, laat jou kakebeen los en ontspanne hang. Jy kan voorts bewus raak van jou skouers en gerus jou skouers laat sak en ontspan. Vervolgens kan jy bewus raak van jou abdomen en om jou maag dieper en dieper te laat ontspan met elke teug wat jy uitasem. Op hierdie manier kan jy die res van jou liggaam skandeer en laat ontspan.
- Verander jou denke
Daar is niks wat jy moet doen, of niks wat moet gebeur of nie mag gebeur nie. Vra jouself af:
- wat is die ergste wat kan gebeur?
- sou dit gebeur, hoe erg is dit dan regtig?
- wat is in elk geval die kans dat dit ooit sal gebeur, aangesien by 95% van dinge waaroor ons onsself bekommer, in elk geval nooit gebeur nie.
Die lewe hoef nie so te wees nie
Iemand het eenmaal gesê: ontspan, jy is in elk geval nie in beheer nie!
Ons is in elk geval nie in beheer nie. Hoekom moet ons onsself so bekommer? Ons is gekondisioneer dat die wêreld ʼn gevaarlike plek is, dat ons heeltyd op ons hoede moet wees. Ons maak die lewe vir onsself moeilik. Selfs in die Heilige Geskrifte is menigte aanhalings wat daarop neerkom dat ons onsself nie hoef te bekommer nie, dat ons in elk geval niks gaan bereik deur ons te bekommer oor die dag van more nie.
Die beste van alles is dat angs nie deel van jou persoonlikheid is nie.
Terapie
Medikasie mag jou help om daardie verskriklike simptome van angs te onderdruk, maar dit vat nie jou uitdagings of jou denke weg nie. Dit mag jou dalk help op die korttermyn en ek mag dit selfs aan jou voorstel. Sielkundiges verkies egter om met jou denke en persepsies te werk om sodoende jou angs te oorwin.
Jou uitdaging lê nie in jou neokorteks (denkende brein) nie, maar in jou oerbrein wat nie taal, tyd en logika verstaan nie, maar jy voel steeds bedreig in jou oerbrein. Selfs al sou jy jouself vertel dat daar tans geen rede vir stres is nie, sal jou oerbrein steeds stres ervaar en gereed wees vir die veg-of-vlug reaksie.
Daarom hou ek van tegnieke wat direk met jou oerbrein praat, soos hipnose, NLP en BWRT. Tegnieke wat die neorkorteks dalk nie mag verstaan nie, maar wat jou oerbrein wel verstaan.
Toets jou eie angsvlakke
‘n Telling van 5 mag beteken dat jy matige angs mag ervaar
‘n Telling van 10 mag beteken jy redelike vlakke van angs mag beleef
‘n Telling van 15 of meer beteken hoë vlakke van angs.