Hipnose en operasies
Om mee te begin
Dit is ‘n bekende feit dat sielkundige uitdagings, veral depressie, so dikwels deur ‘n pasiënt ervaar word voor en veral na die afloop van ‘n operasie, spesifiek wanner die chirurgiese ingreep van ‘n ernstige aard is.
Gaan kyk gerus weer na my artikel oor depressie op my webtuiste. Jy sal sien dat naas mediese simptome, jy veral ook sielkundige simptome kan ervaar, soos depressie en angs na die afloop van ‘n operasie.
Tipiese depressie-simptome wat jy mag ervaar, is onder meer:
- uitputting,
- probleme met konsentrasie of ‘n gebrek aan belangstelling,
- verlies van aptyt en naarheid,
- slaap probleme,
- nagsweet,
- gevoelloosheid in sekere areas van jou liggaam.
Die Wandelende Zombie-sindroom
Die konsep van die wandelende zombie-sindroom kom hier ter sprake. Lees gerus my artikel oor die Wandelende Zombie sindroom op my webtuiste.
Ek begryp dat die idee van ‘n Wandelende Zombie ‘n vreemde, selfs abstrakte konsep is. Nietemin, vra ek jou om hierdie gedagtes ernstig te oorweeg.
Die sogenaamde Wandelende Zombie sindroom word beskryf as ‘n toestand waarin mense ‘n gevoel van depressie en onttrekking ervaar, wat hulle op ‘n onbewustelike manier laat glo dat hulle eintlik dood is. Hierdie sindroom kom veral voor by mense na ‘n naby-dood ervaring, ernstige siekte, wie in ‘n koma was, hoë koors ervaar het en mense wat operasies onder narkose ervaar het. Bogenoemde is slegs maar enkele van die situasies waardeur ‘n sogenaamde doodsuggestie onbewustelik aanvaar word.
Die Wandelende Zombie sindroom ontwikkel na ‘n naby-dood ervaring, soos wat jy reeds weet. Wanneer ons egter hospitaal toe gaan vir ‘n operasie, is ons nie verbaas om narkose te ontvang nie. Ons logiese verstand weet dat ons in ‘n toestand van bewusteloosheid geplaas moet word om nie pyn te ervaar of bewus te wees van die werk wat die sjirurg gaan doen nie. Ons emosionele sensoriese brein fokus op ons huidige bewustheid van gemak en die verwagting van groter gemak as ‘n gevolg van die operasie.
Daar is egter ‘n ander soort denke wat ons het. Hierdie denke heet ons lewensondersteunende denke.
Hierdie denke gebeur in ons oerbrein, wat slegs gefokus is op oorlewing. Soos jy dalk reeds weet, het hierdie baie eenvoudige deel van ons brein min tot geen vermoë om logies te redeneer. Hierdie deel van ons brein dink meer in terme van swart en wit, dood of lewe. Hierdie denke is baie ver verwyderd van ons logika en emosies. Hoewel ons logika narkose verstaan en ons selfs goed voel daaroor, voel ons lewensondersteuning stelsel egter dat die dood op hande is, veral as ‘n masker oor jou neus en mond geplaas word wat jou asemhaling inhibeer. Dit teken die gebeurtenis aan as sterwe en reageer dienooreenkomstig daarop.
Daar kan heelwat verskillende gevolgtrekkings gemaak word wanneer hierdie deel van jou denke glo dat jy besig is om te sterf (of selfs reeds gesterf het) en elkeen van hierdie gevolgtrekkings het kragtige gevolge. As ons glo dat ons op die punt staan om te sterf of ons bewussyn op enige manier verloor, sal daardie deel van ons denke glo dat ons reeds gesterf het. Wanneer hierdie oortuiging in hierdie deel van die brein aanvaar word, kan dit ons tot ‘n mate verander. Wanneer ek ‘n kliënt van die Wandelende Zombie sindroom vertel, sê hulle dikwels: maar ek het nie aan lewe of dood gedink nie. Sommige kliënte, selfs al is hulle in ‘n redelik diep hipnotiese staat, sal dit moeilik vind om in terme van hierdie redenasie te dink. Dit gebeur juis omdat daardie denke in jou oerbrein of limbiese stelsel geleë is. Dit maak net nie sin vir jou neokorteks, of dan jou rasionele denke nie.
Wanneer iemand dan wel sterf as gevolg van ‘n beeld in hul gedagtes, glo hulle dat hul inderdaad reeds dood is. Sodra ons hierdie oortuiging aanvaar, sal ons ons lewe of die gebrek daaraan, só inrig dat dit met die idee van dood konformeer.
As jy dan (onbewustelik) reeds glo dat jy dood is of reeds dood gegaan het, is jy geneig om dood te voel en dienooreenkomstig op te tree. Jy kan lusteloos en moeg voel, energieloos of selfs heeltemal emosieloos wees.
Hipnose en operasies
Dit is my wens en hoop dat my eie persoonlike storie jou kan help om hierdie konsep beter te verstaan.
Ek moes jare gelede ‘n nekoperasie ondergaan om twee fusies in my nekwerwels te herstel. Dit was ‘n ingewikkelde en ernstige operasie met soveel dinge wat verkeerd kon gaan. Ek was natuurlik uitermatig bang vir die operasie en het dit so lank as moontlik probeer uitstel en verdere opinies ingewin in ‘n poging om die operasie te vermy.
Die dag het egter aangebreek waar ek besef het dat ek geen ander opsie as die operasie het nie.
Ek het ‘n afspraak met ‘n hipnoterapeut gemaak om my hiermee te help.
Die terapeut het my gevra waarom ek die afspraak gemaak het. Ek het hom toe vertel van die operasie die volgende week en hipnose versoek om my daarmee te help, aangesien hipnose kan help met:
- spanning voor die operasie oor die operasie;
- pynbeheer na die operasie;
- toediening van minder narkose;
- vinniger genesing van wonde;
- herstel;
- oorkoming van angs en depressie na die operasie;
- herstel van littekens as iets wat jou aan ‘n trauma bly herinner;
- die proses van ontwaking na narkose wat ek normaalweg as traumaties ervaar; en ook,
- die Wandelende Zombie Sindroom.
Hipnotiese suggesties
My terapeut het my in ‘n staat van hipnose geplaas. Gaan kyk gerus na my artikel oor hipnose op my webtuiste om meer van ‘n idee te vorm van wat hipnose regtig behels.
Tipies aan hipnose het ek bewustelik gevoel dat die terapeut net ‘n klomp nonsens praat en het ek belangstelling verloor en aan ander dinge gedink tydens die sessie. Jy sal dieselfde ervaar tydens hipnose. Jou bewuste het egter nie veel van ‘n idee wat aangaan nie. Hierdie idees of dan nou suggesties bly egter stewig gevestig in jou onderbewuste.
By latere navraag, het hy aan my meegedeel dat hy ‘n reeks suggesties aan my gelaat het met die doel om my te help om:
- die proses te vertrou en te verstaan dat my operasie eintlik roetine werk vir die sjirurg is. Dit is hulle werk en hulle doen dit elke dag soos ek en jy ons werk elke dag doen;
- te besef dat ek geen beheer oor die operasie het nie en enige spanning sake vir die sjirurg net kan bemoeilik. Spanning en stres gaan geen operasie beter maak nie. Inteendeel;
- wanneer ek ontspanne soos nou is, minder narkose benodig sal word;
- my liggaam met ‘n mes gesny gaan word. Hierdie prosedure mag as geweldig traumaties ervaar word, aangesien ek met ‘n mes gesny gaan word. Onder normale omstandighede sal mens pyn ervaar wanneer hul met ‘n mes gesteek word. Pyn is altyd ‘n boodskap dat iets verkeerd is. Pyn veroorsaak die vrystelling van adrenaline vir die veg-of-vlug Tydens ‘n operasie kan mens egter nie veg of vlug nie, aangesien die liggaam verlam is as gevolg van narkose, maar my onderbewuste moes verstaan dat hierdie mes nie sny om my dood te maak nie, maar dat dit ‘n vriendelike mes is om ongemak uit my lewe uit te skakel en dat ek nie gaan sterf nie;
- ek wakker sal word asof ek ontwaak na ‘n vredevolle ontspanne slaap en ek goed sal voel omdat die operasie ‘n sukses was;
- ek dalk vreemde en ongemaklike sensasies mag ervaar waar ek ge-opereer is. Daardie sensasies is ‘n teken van genesing wat besig is om te gebeur;
- ek die proses van genesing kan aanhelp deur net ontspanne te bly en bloot net diep en stadig asem te haal;
- ek selfs verbaas mag wees om agter te kom hoe kort my herstelproses kan en mag wees;
- ek intussen voort kan gaan om te besef dat my liggaam ditself die heeltyd genees, die hele tyd ou selle met nuwes vervang. Mense, diere en plante genees die heeltyd vanself;
- ‘n litteken letterlik ‘n herinnnering aan ‘n trauma is. Na hipnose sal die onderbewuste ‘n operasie nie as ‘n trauma registreer nie en ‘n litteken mag ook kleiner, selfs onsigbaar raak.
Die uitkoms
Na my hipnose sessie, is ek die volgende dag hospitaal toe – onwillig gereed vir my operasie.
Na my pre-med is ek in die wagkamer ingestoot vir my operasie. In die wagkamer, op my trolly, rol ek toe vas in ‘n kliënt van my wat ook gewag het vir haar operasie. Ons het dik stukke gesels oor alles en wat nog meer, dat ek skoon vergeet het van die operasie wat vir my wag.
Intussen het my beurt opgedaag. Toe die portier my wegstoot teater toe, het ek nog vir Karen gesê: verskoon my – ek moet nou gaan!
Van die operasie weet ek natuurlik niks van nie en word wakker terwyl ek na die Intensiewe Sorg Eenheid (ICU) gestoot word. Na my verpligte 24 uur in Intensiewe Sorg is ek na ‘n gewone saal oorgeplaas.
Na ‘n verdere 24 uur in die gewone saal het die sjirurg sy saalrondte gedoen:
- Sy eerste vraag aan my was of die pynpille sterk genoeg is. Ek vra so ewe: watter pynpille? Hy het dit onverstaanbaar gevind dat ek geen pyn gehad het nie.
- Vervolgens het hy my wond oopgemaak om my genesing te monitor. Ek het myself verbeel dat hy geskrik het. Sy respons was – ek kan nie glo wat ek sien nie. Gaan huistoe.
- Skaars 24 uur nadat ek in Intensiewe Sorg was stap ek, nekstut et al uit die hospitaal terug huistoe.
- My litteken is so klein dat jy fyn sal moet kyk om dit raak te sien, anders as ander mense wie dieselfde operasie gehad het waar dit lyk of hulle tydens ‘n vorige lewe deur ‘n guillotine kop afgekap is.
Om mee te eindig – ‘n ongelooflike storie oor hipnose as ‘n alterternatief vir narkose
In die loop van 1999 het my pa ‘n galsteenverwyderingsoperasie ondergaan maar in plaas van narkose het hy van hipnose gebruik gemaak. Sy verhaal is gepubliseer in die Longevity Magazine, wat ek aan die einde van hierdie artikel sal plaas met die vriendelike vergunning van Longevity Magazine.
Ek gee nou die mikrofoon in die hande van my pa met wie die volgende gebeur het. Hier is Pa se vertelling:
Gedurende die nag van Sondag 11 April 1999 het ek ‘n akute buikpyn ontwikkel en is dieselfde nag in die Nite-doc Kliniek opgeneem. Die volgende dag was ek oorgeplaas na die Kosmos Hospitaal. Nadat omvattende toetse gedoen is, het die sjirurg my meegedeel dat my galblaas ontsteek is, wat veroorsaak word deur ‘n galsteen wat iewers vassteek en dat my galblaas so gou moontlik verwyder moes word. Die gevaar het bestaan dat die galblaas kon bars, wat dan lewensgevaarlik sou wees.
Daar was egter ‘n probleem. As gevolg van kroniese asma sedert 1991, is vasgestel dat my longfunksie op daardie stadium minder as 35% was en dat narkose moontlike asemhalingsprobleme kon veroorsaak. My huisdokter het gevra dat die operasie eers uitgestel moes word, sodat ek eers behandeling kon ontvang om my longfunksionering te verbeter. Die behandeling was egter onsuksesvol aangesien my longkapasiteit weinige verbetering getoon het.
Ek het dus die keuse gehad om dood te gaan van die galstene of om dood te gaan van narkose.
Dit was op hierdie kritieke stadium dat ek aan alternatiewe moontlikhede moes begin dink het. Ek het begin dink aan hipnose as moontlike alternatief vir narkose.
Vervolgens het ek dr. Van Rooyen gevra om vir dr. Louise Olivier, ‘n kliniese sielkundige en kollega in Pretoria te skakel en my penarie aan haar te verduidelik, met die versoek dat ons hipnose as alternatief vir narkose moes oorweeg. Dr. Olivier het dadelik ingewillig om dit te doen.
Vooraf het ek, dr. Olivier en dr. Van Rooyen ‘n proeflopie gedoen in ‘n hospitaalkamer. Dr Louise het eers ‘n hipnose sessie met my gedoen terwyl dr. Van Rooyen die operasie prosesdure aan my verduidelik het. Gedurende hipnose het dr. Van Rooyen vier naalde in my buikarea ingesteek, waar die die operasie-snitte later gedoen sou word. Die doel hiervan was om my pyndrempel gedurende hipnose te bepaal. Behalwe vir ‘n effense prik sensasie van die eerste naald, het ek nie eens geweet daar is nog drie ander naalde ook in my buik gesteek nie.
Dr. Van Rooyen het dr. Van Rensburg in kennis gestel dat die operasie in die teater kon begin en hy het ingewillig om met sy span die operasie laat daardie Saterdag-middag in die teater te doen. Daar het ‘n swaar atmosfeer van spanning in die lug gehang, aangesien so ‘n operasie nog nooit vantevore in Suid-Afrika, dalk selfs internasionaal, uitgevoer was nie.
Dr. Olivier het begin deur my in ‘n hipnotiese trans te plaas. Sy het met ‘n reeks suggesties begin –suggesties rondom die bekende Titanic rolprent. Gedurende hipnose, met haar suggesties, kon ek in my verbeelding die sinkende Titanic met sy ligte nog helder aan voorstel. Ek kon myself verder sien tussen ‘n aantal drenkelinge in die yskoue see met ‘n reddingsbaadjie aan. Sy het voorts tydens die hipnotiese trans voorgestel dat ek myself kan voorstel hoedat die onderste deel van my lyf in die water insak om heeltemal gevoelloos te raak vanweë die yskoue water. Op hierdie stadium het my kop en lyf begin dissosieer (die gevoel asof my kop en liggaam los van mekaar begin raak), wat beteken het dat die operasie nou kon begin aangesien my buik geen gevoel (pyn) meer sou ervaar nie.
Hulle het voortgegaan om naalde aan die voorkant van my buik in te druk (byna soos ‘n boor). Vier openinge, gate is gemaak sodat die pype in posisie geplaas kon word vir die Laparoskopie wat gedoen moes word. Ek het geen pyn gevoel nie. Dr. Van Rensburg het met die operasie begin en teen ‘n geweldige spoed gewerk. Dit was ‘n moeilike prosedure, aangesien hy die eerste keer te doen gekry het met ‘n buik wat op en af beweeg soos ek asemhaal – en nie soos wanneer ‘n pasiënt onder narkose is en hoofsaaklik met die bors asemhaal terwyl die buik doodstil is nie.
Dr. Olivier het voortgegaan met hipnose, my hand vasgehou en ‘n storietjie vertel van ‘n eend en ‘n olifant wat saam in ‘n bos gebly het en eindelose gesprekke met mekaar gevoer het (‘n sogenaamde verwarringstegniek om my aandag af te lei van die operasie). Op daardie stadium het ek besluit ek maak nie kop of stert van die storie uit nie en het weer in my verbeelding spontaan teruggegaan na die sinkende Titanic, waar ek steeds in die yswater rondgedobber het.
Dr. Olivier het gesuggereer dat ek na die operasie maklik en vinnig my bewussyn sou herwin en ten volle georiënteer sal/souwees. Sy het ook minimale bloeding en pyn tydens en ook na afloop van die operasie suggereer (ek het later van die dokters verneem dat daar gedurende die operasie minimale bloeding was).
Na die operasie was ek gou by my volle bewussyn en nadat ‘n pynstiller toegedien is, het ek feitlik geen verdere pyn ervaar nie. Bloeding was minimaal.
Die volgende oggend is ek weer deur dr. Van Rensburg ondersoek en ontslaan siende dat daar geen rede was om my langer in die hospitaal te hou nie.
Die artikel soos dit in Longevity Magazine verskyn het