
Klaar met vrees
Ek het vandag my korttermynversekering gekanselleer. Hierdie is ‘n ope brief en ‘n mond-uitspoel aan my korttermynversekeraar wat ek sommer net Versekering wil noem. Ek, Jorgan Harris, wil nie meer sluk nie – ek wil net braak.
Gee asseblief my Listerine aan. Ek het sopas hierdie brief aan my korttermynversekeraar geskryf. Ek het gal gebraak en nou sit ek met ‘n slegte smaak in my mond. Hier is my nare brief aan my voormalige korttermynversekeraar. Hoewel ek spot met die slagspreuke van een of twee versekeringsmaatskappye is hierdie monduitspoel nie gerig teen ‘n bepaalde maatskappy nie, maar teen Versekering in die algemeen.
Iewers in 2004
Peste Versekering
Met ‘n ewige wrang smaak in die mond, wens ek hiermee om my versekering met onmiddelike effek te beëindig.
Vir ongeveer 13 jaar is ek ‘n kliënt van Versekering. Ek betaal pligsgetrou my premie van ongeveer R1 400 per maand. Tot op datum het ek reeds amper R220 000 aan premies betaal.
In 2003 het ek, nadat ek al vir 6 jaar eisvry by Versekering verseker was, met my kar oor ‘n randsteen gery. Die skade was R22 000. Na my bybetaling van R2 000 het Versekering vir die res gesorg. Dit was my eerste en laaste positiewe ervaring met Versekering.
Twee jaar later gooi ek ‘n glas wyn op my skootrekenaar uit en die hele rekenaar versuip. Ek herinner myself dat Versekering nie uitbetaal as jy ‘n ongeluk maak wanneer jy gedrink en bestuur het nie. Tog vergoed Versekering my hiervoor – al het ek gedrink en gewerk. Geen alkoholtoetse was vereis nie. Met al Versekering se fynskrif het julle nie hierdie een sien kom nie. Drink en werk hoort by jul eindelose regulasies vir uitsonderings bygevoeg te word. ‘n Wonderwerk gebeur! Ek kry ‘n nuwe rekenaar! Ek kry egter geen uitbetaling nie. Die assessor kom, met my nuwe rekenaar onder sy arm vasgeknyp, hier aan. Natuurlik ver benede die een wat ek gehad het, maar ons praat liewer nie daaroor nie. Ek aanvaar dat Versekering seker ‘n ooreenkoms met HP het en ‘n rekenaar teen amper kosprys kon verkry. Ek meen, ek het ‘n top van die trop rekenaar gehad, in chroom gehul. Nou kry ek hierdie rekenaar – swakker en stadiger, gehul in swart plastiek.Ek moes maar vat wat ek kry, ongeag my premies. Ek moet seker dankbaar wees vir die rekenaar. Ek het immers gedrink en gewerk!
En so eis ek nie weer nie.
Maar van iets soos ‘n geen-eis-bonus of ex-gratia is daar geen sprake van nie.
Al het ek al twee keer in die verlede geëis, het ek in al die dertien jaar nog nooit vir misdaad geëis nie.
In al die jare van versekering by Versekering, het ek baie seker gemaak ek voldoen aan alle sekuriteitsvereistes. Vir seker. Ek bly in ‘n sekuriteitskompleks, met sekuriteit, patrollies, het Trelli-Dors, versterkte diefwering, elektriese heinings, sélfs ‘n alarm. Ek maak seker dat deure gesluit is en alle sekuriteit in plek is. Alles om te verseker dat niks gesteel word nie. Wanneer ek die huis verlaat, versteek ek selfs my skootrekenaar, sodat indien iemand dit wel sou regkry om in te breek, hulle nie my rekenaar sou kry nie. Dis presies wat Versekering van my verwag. Ek moet seker maak dat geen dief hier inkom nie, sodat julle nie uit hoef te betaal nie.
Maar versekeringsmaatskappye wil ons mos oortuig met jul slim uitgedinkte leuse, soos een versekeringsmaatskappy hoeka rus, verseker sê. Wel, ek rus nie en maak seker dat ek verseker is. Die een keer dat ek wel gerus het, gebeur die ondenkbare. In een roekelose oomblik terwyl ek gerus het in plaas van om te dink, los ek my skootrekenaar op die voorste passasiersitplek van my motor, 13 jaar misdaadvrye eisrekord in sy kanon in! Die eerste keer dat ek verseker gerus het, gebeur die onvermydelike. My kar se ruit word uitgeslaan en my rekenaar, sak en al, word gesteel.
Een nalatigheid. Minder nalatig as toe ek wyn op my vorige skootrekenaar uitgemors het. Nog minder nalatig as die keer toe ek teen ‘n hoë spoed my kar beskadig het deur oor die middelman te ry. Intussen is Versekering baie gelukkig om klokslag my premies te ontvang én te verhoog daarby, omdat ek ‘n doodsonde begaan het deur te eis, maar daar word nie vir my vertel dat die rekenaar gespesifiseer moet wees nie. Ek het lank na die aanskaffing van my skootrekenaar ‘n DVD-kamera en ‘n leerbaadjie aangeskaf. Daar is vir my vertel dat hierdie items gespesifiseer moet wees. Die baadjie is lankal nie meer in my besit nie en die kamera het lankal gebreek, maar niemand vertel my dat die rekenaar gespesifiseer moes wees nie. Ek is maar net ‘n leek onder die wanpersepsie dat dit as deel van my huis-inhoud is. Ongeag hoe ek ookal my polis bestudeer, kan ek nêrens sien waar gespesifiseer word dat ek my rekenaar nie op die voorste sitplek van my kar mag los nie.
My eerste prioriteit is egter om my motor se ruit te laat vervang. Ek word meegedeel dat Versekering die beste kwaliteit vir my wil hê, maar dat PG-Glass en nog ‘n gerespekteerde maatskappy, nie so ‘n ruit in voorraad het nie. Ek word egter meegedeel dat daar in die hele land nie so ‘n ruit beskikbaar is nie en dat ek ‘n maand sal moet wag. Intussen reën dit katte en honde en ek moet ‘n ruit hê. Daar word voorgestel dat ek intussen my ruit met swart plastiek toeplak tot tyd en wyl so ‘n ruit ingevoer kan word. Ek dink by myself hoe dit moontlik kan wees. BMW word immers in Rosslyn aanmekaargesit en dis mos onmoontlik dat daar nie so ‘n ruit plaaslik beskikbaar kan wees nie.
So bel ek toe ons plaaslike BMW-agentskap. Nee, hulle het inderdaad ‘n ruit beskikbaar teen R370. Dis so ironies dat hierdie agentskap reg oorkant die pad van julle geleë is. Jul kyk op mekaar se voorstoep uit, maar daar is in die hele land nie ‘n ruit beskikbaar nie.
Of moet ek sê: nie ‘n goedkoop genoeg ruit nie. Ek lig my julle daarorp in en julle bedank my hartlik. So bly dat ek ‘n ruit kon kry. Kan ek dit nou regtig glo? Dis te duur in Versekering se belang. Met jul ooreenkoms met PG-Glass en wie ookal, is dit in Versekering se belang eerder belangrik dat julle geld spaar, ongeag die reën en moontlikheid dat daar weer by my kar ingebreek kan word, as wat julle ‘n sent meer moet betaal. Om nie van die moontikheid te praat dat my motor se binneruin deur die reën beskadig kan word nie. Net soos die feit dat ek destyds tevrede moes wees met ‘n minderwaardige rekenaar, aangesien Versekering ‘n deal met HP aan het. Dit kom egter daarop neer dat ek, ondanks die feit dat ek ‘n hoë premie betaal en verseker kan rus, met my bybetaling van R350, dus feitlik my eie ruit betaal het en Versekering slegs vir die installasiekoste. Indien julle jul sin met PG-Glass kon kry, het ek waarskynlik die volle skade self gedek. Maar ek kan mos nou verseker rus. Ek dink dis eerder ‘n geval van: verseker betaal.
Gelukkig kan ek darem vir die sak eis. Nieteenstaande die feit dat die sak ook op die voorste sitplek saam met die rekenaar was, maar ironies genoeg die rekenaar moes beskerm het. Die rekenaar was immers binne die sak! Miskien sou ek kon argumenteer dat die sak gesteel is – die rekenaar was net toevallig deel van die inhoud daarin. Die sak se vervangingswaarde is R3 400. Versekering weier om vir die rekenaar wat op die voorste sitplek was te betaal, maar is vir een of ander duistere rede bereid om vir die sak waarin die rekenaar was, te betaal. As dit nie vir die rekenaar was nie, sou die sak in die eerste plek nie op die voorste sitplek gewees het nie. Maar die sak word betaal! Nou moet ek hoor dat julle net R2 000 vir die sak sal uitbetaal, waarvan ek in elk geval weer ‘n R250 bybetaling moet maak en my maandelikse premie word vir seker wéér opgestoot. Dus R1 750 vir die sak. Dis die helfte van sy waarde! Waar gaan ek met daardie geld dieselfde sak aanskaf? Nog ‘n reël van Versekering wat ek in die fynskrif nie kon sien nie. My sak is dus nie verseker nie, net ‘n minderwaardige sak, helfte die prys.
Dalk moes jul julself eerder Gedeeltelike Versekering of Twyfelende Versekering genoem het. As mens verseker is, is jy seker, verseker dat jy beskerm is deur een of ander sambreel met gate wat verseker dat jy nat sal reën terwyl julle sambreel julself teen die reën beskerm, terwyl die gate van fynskrif op my soos ‘n Kaapse motreën neerdaal. Daarom noem ek my kat Versekering, want hy is reggemaak en dek dus niks. Stel nie eens belang om te dek nie. Gaap net vir die kat op hitte en dink – dis nie my probleem nie. Gaan dek jouself!
Versekering maak so seker dat niemand jou goed gaan steel nie want dan hoef julle nie uit te betaal nie. Met hierdie sekuriteitsmaatreëls sal enige inbreker eerder die bure aandurf. Soos genoem het ek in 13 jaar nog nie ‘n inbraak gehad nie, juis omdat ek self seker maak dat ek verseker kan rus. Na ongeveer R220 000 se premie betalings, wil Versekering nie eens R5 000 vir my uitbetaal nie. Dis nie eens naastenby die waarde van die rekenaar nie. En dan gaan dit nie eers oor die monetêre waarde van die rekenaar nie. Ek praat nie eens van die verlies aan intellektuele eiendom op die rekenaar nie. Eisprys : prysloos. Om nie te praat van die verlies aan werk en inkomste vir die tydperk wat ek nie ‘n rekenaar gehad het en sekere werk kon doen nie, bloot omdat ‘n multi-miljoen rand maatskappy vir weke redekawel oor R5 000. Ons kibbel, maar ons betaal nie.
Ek bly vasbeslote dat Versekering vir hierdie rekenaar sal betaal. As Versekering dit nou nie wil betaal nie, sal ek my premies vat om daarvoor te betaal, maar betaal, gaan julle vir seker betaal. Julle sou reeds agtergekom het dat ek my debietorder gekanselleer het. Hierdie premies wat ek spaar, sal my rekenaar oor ‘n paar maande betaal. Daarna gaan ek die premies vat en my sekuriteit nog verder opskerp. Ek gaan dit so opskerp, verseker, dat ek nie tydens ‘n inbraak vermoor word nie. Behalwe dat Versekering een of ander skuiwergat sal kry om nie te betaal nie, kan my lewe se waarde nie deur Versekering betaal word nie. Wanneer ek veilig in Fort Knox sit, sal ek my premie vat en dit in ‘n spesiale rekening inbetaal om enige moontlike toekomstige skade mee te dek.
Sê nou maar ek ry in ‘n Mercedes vas? Angs is mos nou maar die siekte van ons tyd. Wat as dit gebeur? of Wat as dat gebeur? En so bly ons lewe in hierdie vrees van die wat as sindroom. Ons is te bang. Te bang om te verloor. Te bang om te lewe. Maar ons vra blykbaar nie wat as Versekering nie uitbetaal nie? Die kans vir Versekering om uit te betaal is skraler as die kans dat ek in ‘n Mercedes sal vasry of deur die oog van ‘n naald sal kom en ons vergeet van die bybetaling. Ek bestuur al 23 jaar lank en het nog nooit ‘n Mercedes getref nie. Versekering weet dit maar al te goed dat ons mense bang is vir wat asse en sal betaal om verseker te wees. Maar Versekering weet iets wat ons gewone sterflinge nie weet nie. Ons wat asse is maar net ‘n vrees met ‘n skraal kans om te realiseer. Ons is in elk geval te vasgevang in hierdie materiële wêreld van ons. Die Heilige Geskrifte sê hoeka: moet op Prinse en Versekering nie vertrou nie. Versekering is maar eintlik ‘n weddenskap: ek wed Versekering dat ek ‘n ongeluk sal maak en Versekering wed my dat ek dit nie sal maak nie. In die fynskrif maak Versekering seker dat dit julle nie te duur te staan sal kom sou julle so af en toe die weddenskap verloor nie. En so wen Versekering altyd die weddenskap en daarmee rig julle multi-miljoen rand geboue op, betaal jul werknemers en voeg nog ‘n paar borgskappe daarby. Met mý geld en mý vrees! Met die geld van my vrees.
Ek meen dit was die filosoof, Bertrand Russel, wat gesê het: wie vrees, vrees die lewe en diegene wat die lewe vrees, is reeds driekwart dood.
Ek is nou klaar met die vrees-ding. Ek is klaar met die dood-ding. My wat as word nou ‘n so what. Dis slegs met hierdie houding dat ek verseker kan rus, want iewers oorleef ons altyd. Altyd. En as ons nie oorleef nie, gaan ons dood. Niemand het in elk geval ooit lewendig uit hierdie lewe gestap nie en Versekering gaan nog minder betaal vir die verlies van my lewe. En as jul dit sou doen, gaan ek dit in elk geval nie weet nie. Ek vrees ook nie meer die dood nie, want in die Hiernamaals sal Versekering ook nie betaal as die snaar van my harp breek nie.
Miskien kan ek my vrees tot my voordeel gebruik en sou ek ‘n Mercedes langs my sien, net meer gemotiveerd wees om ekstra versigtig te bestuur en dalk nog lewens in die proses spaar. Miskien help dit my om te streef na hoër spirituele waardes, eerder as om my te kwel oor ‘n simpel Mercedes.
Ek het reeds my aftrekorder by Versekering gekanselleer en ek kan jou nie vertel die satisfaksie wat ek ervaar het toe die bank my laaste debietorder teruggeskryf het nie. Nou weet ek ook hoe dit voel om ‘n geen-eis bonus te ontvang. Sodra ek genoeg geld gespaar het, gaan ek verseker daardie Mercedes afskryf en ten minste kan ek in laatnag drinksessies by my vriende spog oor hoe lekker ek daardie Mercedes afgeskryf het en kontant daarvoor betaal het. Ten minste hoef ek julle nie te vertel hoe my versekeringsmaatskappy vir my ‘n middel-vinger gewys het oor julle nie hoef te betaal nie.
Ja, niks in hierdie ou wêreld is ooit vir seker nie. Verseker.
Beste wroegte,
Jorgan
En skielik smaak dit soet. Stroopsoet. Soos ‘n Listerine nadat ek my mond na ‘n groot kots uitgespoel het.