banner blood shed South African flag
‘n Nasie van slagoffers - © Jorgan Harris

Ly Suid-Afrikaners aan ‘n kollektiewe slagoffersindroom?

Die bekende Suid-Afrikaanse joernalis, Max du Preez, het eenmaal getwiet dat Suid-Afrikaners ‘n nasie van slagoffers geraak het. Hy skryf verder dat ons verteer word deur selfbejammering en ‘n gevoel van ongeregtigheid.

Dit wil op die oog-af voorkom asof meeste Suid-Afrikaners, een ding in gemeen het: hulle ly aan ‘n kollektiewe slagoffersindroom. Du Preez vat dit so raak vas: Suid-Afrika het ‘n nasie van slagoffers geword.

Die nuus is vol hiervan. Swart mense voel soos slagoffers van imperialisme, xenofobie, wit vergrepe en onderdrukking. Wit mense aan die ander kant, voel weer soos slagoffers van Regstellende Aksie, plaasmoorde, omgekeerde diskriminasie en vele ander.

Die meerderheid van Suid-Afrikaners het in gemeen dat hierdie ongelykhede reggestel moet word. Daar is vele regeringsinisiatiewe om die historiese ongelykhede reg te stel.  Aan die ander kant van die spektrum is daar inisiatiewe wat huidige ongelykhede reg wil stel, veral organisasies wat die regte van veral Afrikaanssprekende wit mense vir gelykheid en regverdigheid, in die oog het.

Ongelukkig versterk hierdie oënskynlike edele veldtogte van beide kante net hierdie kollektiewe slagoffersindroom.

As ‘n voorbeeld kan dit nie vir sportlui goed of voordelig wees om te weet he is bloot in die span vir kwota-doeleindes nie. Hulle wil voel hulle is daar uit verdienste, omdat hulle daar hoort.

Die bekende Amerikaanse Sielkundige, Thomas Ritzman, meen dat Regstellende Aksie in Amerika die teenoorgestelde effek het aswat die oorspronklike bedoeling daarvan was. Swart Amerikaners het in poste beland op grond van velkleur om ongelykhede van die verlede reg te stel. Dit het nie die gewensde uitwerking gehad nie, omdat hulle steeds onbevoeg gevoel het om hul werk te kan doen – steeds soos slagoffers gevoel het. Daar is talle voorbeelde waar grondhervorming misluk het en as ‘n gevolg, die slagoffersindroom versterk het. Dit opsigself herversterk die gevoel van magteloosheid en minderwaardigheid wat op sy beurt weer gevoelens van woede tot gevolg het.

Dit gebeur tans ook aan die ander kant. Soveel ander Suid-Afrikaners, veral wit Suid-Afrikaners voel ontmagtig en minderwaardig, wat dan op sy beurt ook woede veroorsaak.

Dit is juis hier waar daar ‘n baie interessante verskynsel intree. Aan die een kant het die ekonomiese balans nie verskuif nie en is wit mense steeds in beheer van die ekonomie, alhoewel wit plakkerskampe en armoede geweldig toegeneem het. Aan die ander kant het die swart middelklas, volgens du Preez, ‘n syfer van ses miljoen bereik in slegs twee dekades.  Swart armoede het ook nie verander nie, inteendeel, selfs vererger ten spyte van al ons maatreëls en aanpassings. Volgens du Preez ontvang meer as 16 miljoen Suid-Afrikaners armoedehulp van die staat in teenstelling met slegs 2.5 miljoen in 1998.

Die situasie word ten spyte van al die pogings van die regering om Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE), kwotas, meer aggressiewe onteiening sonder vergoeding ens. in te stel, net erger. Misdaad word meer en daar word soms gerasionaliseer dat die dryf agter misdaad is om terug te vat wat aan hulle behoort het. Die wreedheid wat daarmee gepaard gaan, veral in plaasmoorde, weerspieël in groot waarskynlikheid die woede, magteloosheid en ‘n gevoel van verontregting. 

Apartheid word deur die een groep blameer en Regstellende Aksie deur ‘n ander.  Hoe dit ookal sy, blamering is eintlik ‘n uiting van magteloosheid en om in jou kop mag oor te gee aan ‘n ander.

Apartheid het egter ook skade aan wit mense aangerig. Wit mense het oor die algemeen geen dryf of drang gehad nie en het maar net voort geploeter met hul karige, maar veilige salarisse sonder enige kreatiwiteit of entrepreneurskap. Na 1994 het wit mense besef dat hulle bevoorregting verby is. Hulle moes hul veilige werk by die staatsdiens en Afrikaner-organisasies opgee en ‘n ander heenkome vind. Baie wit mense het hul poste verlaat en entrepreneurs geword en veel meer geld verdien as wat hulle ooit verdien het in hul veilige poste.

Ander het egter gekies om soos slagoffers te voel en in plakkerskampe gaan woon. Juis hierdie voordele wat Apartheid aan swart Suid-Afrikaners gebied het.

Ek is van mening dat Regstellende Aksie presies dieselfde effek op mense gehad het, soos hierbo beskryf.

Beide hierdie sienings versterk dieselfde gevoel van magteloosheid en selfbeskerming.

Onder beide hierdie groepe is daar dieselfde tendens. Daar is diegene wat soos slagoffers voel, dat hulle verontreg is en met woede daarop reageer en andere wat bloot soos ‘n slagoffer voel en gevolglik net opgee.

Kan ons beheer neem?

Tydens ‘n onlangse toer deur die townships van Kaapstad het ek twee uiterstes beleef. Die verskriklike armoede is so duidelik sigbaar in hierdie townships, maar daar is ook diegene wat uitstyg bo hul omstandighede om ‘n nuwe, beter lewe vir hulself in plek te stel.

Daar is eerstens die mense wat kies om slagoffers te wees en te bly, maar dan is daar ook diegene wat misdaad verkies as ‘n gerasionaliseerde vorm van Regstellende Aksie

Daar is tweedens diegene wat misdaad verkies as ‘n tipe Regstellende Aksie. Of dit nou onwettige kragaansluitings is, of sogenaamde chop shops, sommer so in die oopte of overte misdade soos kapings, roof, ens. Hulle sien dit as Regstellende aksie in aksie.

Daar is egter ook ‘n derde groep wat ek raakgesien het. Ek sou hulle die kreatiewe groep wou noem.  Dit is die mense met ‘n dryfveer en ‘n wil om te wil oorleef.  Die mense wat smag na ‘n beter toekoms nie net vir hulself nie, maar ook hul naasbestaandes en nageslag. Of dit nou is om voorruite by verkeersligte te was, groente en vrugte te verkoop en selfs om vooraf vervaardigde plakkershutte te verkoop. Hul kreatiwiteit is besonders en prakties.

Hierdie tendense kan onder alle bevolkingsgroepe gesien word.  Op die ou einde oorleef ons almal. Daar is ‘n kreatiewe gees in Suid-Afrika, onder swart én wit! Dit is juis hierdie kreatiewe gees wat ons reënboognasie in gemeen het.

Die antwoord lê inderdaad elders as waar ons dit soek en verwag het.

Ek glo nie hierdie slagoffersindroom is net ‘n Suid-Afrikaanse probleem nie, maar dalk ‘n uitdaging in die hele Westerse Wêreld. Hierdie slagoffersindroom is ook die heersende diskoers in die huidige psigiatrie. Ons houding bepaal egter ons uitkoms.

Ons is nooit slagoffers nie.

Ons takseer egter mense op wat verkeerd met hulle is. Daarna word hulle soos siek mense gediagnoseer en in boksies geplaas. Mense ly aan depressie, angs, fobies of wat die kwaal ookal mag wees.

Mense word dus gesien as ‘n slagoffer van hul geestestoestande. Ons gaan soek in die sielkunde, net soos in ons land, na die oorsaak van die probleem, of dan die uitdaging, soos ek daarvan hou om daarna te verwys.  Of die oorsaak nou jou geboorteproses was, jou verhouding met jou ouers of trauma (soos Suid-Afrikaners dit so goed ken). Ons bly ‘n getraumatiseerde nasie waarin meeste van ons soos slagoffers voel. Om die sogenaamde oorsaak te wil uitwis deur beelde en figure uit die verlede weg te neem, gaan die probleem, of dan die uitdaging nie laat verdwyn nie. Dit is egter hier waar almal die fout maak, want ons spreek die simptome aan en nie die oorsaak nie.

Bogenoemde kan gesien word in die lig van die grootste kritiek teen sielkundige diagnoses en behandeling. Die afwesigheid van depressie behels nie noodwendig geluk, positiewe emosie en betekenis aan jou lewe nie. Die afwesigheid van onderdrukking of misdaad beteken ook nie noodwendig vryheid of vrede nie.

Dit raak in die sielkunde al hoe meer duidelik dat die mens nooit ‘n slagoffer is nie, maar altyd ‘n oorwinnaar. Méér as ‘n oorwinnaar. Daar is soveel moderne sielkundige sisteme wat begin fokus op die mens se innerlike hulpbronne om hul uitdagings te oorkom en hul lewe ‘n sukses te maak.

 Ons kan verander, verbeter, maar hoe?

Tans plaas beide kante van die politieke organisasies hul fokus op die sogenaamde onreg wat aan die mens en hul kollektiewe slagoffersindroom gedoen is. Hierdie idees dra nie by tot ‘n gevoel van bemagting vir enige groep nie.

Dit mag dalk ‘n idee wees om ons aandag te fokus op die positiewe, in plaas van negatiewe etikette soos rassisme, seksisme, om net ‘n paar te noem.

Ek wil glo dat indien ons die krag van eenheid en samewerking tot ons voordeel gebruik deur ons fokus te verskuif na die ontwikkeling en verbetering van ons eie, maar ook die vermoëns van ander om ons, ons ‘n sukses van ons land sal kan maak.

Ons, as Suid-Afrikaners het soveel meer kreatiwiteit tot ons beskikking as wat ons dink. Kreatiwiteit word so gereeld, veral uit nood gebore. Slegs wanneer ons kreatief is, kan ons uit ons kollektiewee slagoffersindroom ontsnap.

Volg gerus my artikel op my webtuiste oor Positiewe Sielkunde vir verdere bespreking.

Scroll to Top