white hypnotic clock

My lewe was altyd vol van idees oor teenspoed waarvan die meeste nooit gebeur het nie

~ Michel de Montaigne ~

The Creation of Adam by Michelangelo

Jy is geskape met alles wat nodig is om suksesvol te wees

~ NLP voorveronderstelling ~

old book and photo with flowers

Om te dink is moeilik, daarom oordeel mense

~ Carl G Jung ~

Alternatiewe, moderne, korter-termyn kragtige psigoterapie

Hartlik welkom by my webtuiste

Dis ‘n plesier om kontak te maak

Ek bied ‘n gefokusde, resultaat-georiënteerde psigoterapie en maak gebruik van alternatiewe en korttermyn metodes gebou rondom jou behoeftes om betekenisvolle, blywende verandering te bewerkstellig.

Moenie huiwer om ons te kontak vir ‘n vertroulike afspraak nie. Ek sien daarna uit om jou te ondersteun gedurende die reis deur jou lewe.

‘n Moderne praktyk

Hierdie praktyk fokus op alternatiewe, praktiese en moderne, kort-termyn en kragtige psigoterapie vir die moderne mens wat nie noodwendig die tyd of finansiële hulpbronne het om betrokke te raak in ‘n langtermyn proses van tradisionele psigoterapie nie.

Die doel van hierdie praktyk is om so vinnig en kragtig moontlik praktiese en werkbare oplossings te vind vir jou uitdagings. Hier word daar gebruik gemaak van die jongste, effektiefste en mees gevorderde menslike tegnologie. Sodoende word ‘n uitdaging doeltreffend en steeds binne die raamwerk van professsionaliteit, etiese kode, vertroulikheid onder die wakende oog van die RGBSA (Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika), aangespreek.

Alternatiewe psigoterapie

Ek is ‘n kliniese sielkundige en alhoewel ek ook gebruik maak van tradisionele psigodinamiese terapie en kognitiewe terapie, maak ek graag gebruik van meer moderne sisteme vir beter, vinniger en permanente resultate.

Die probleem met tradisionele psigoterapie is dat tradisonele terapie die neokorteks, die denkende deel van jou brein aanspreek. Gaan kyk gerus na die artikel op hierdie bladsy: jou brein en jou emosies, vir meer inligting hieroor.

Jou uitdaging is nie noodwendig geleë in die neokorteks-deel van jou brein nie. As jy jou uitdaging verstaan het en anders daaroor sou dink, sou jy jou gedagtes kon verander en sodoende jou uitdaging kon oplos. Insig help jou wel om jou uitdaging beter te verstaan, maar insig gaan nie jou gevoelens en optrede verander nie.

Sielkundige uitdagings het hul ontstaan in jou reptiel- en emosionele brein. Hierdie dele van jou brein verstaan nie taal, rede, tyd of denke nie.

Jou uitdaging mag dalk dom en simpel lyk vir jou denkende brein, maar dit bly ‘n werklikheid vir jou gevoelsbrein. Dit is juis om hierdie rede dat daar in hierdie praktyk gebruik gemaak word van terapeutiese tegnieke wat met hierdie deel van die brein werk.

Terapeutiese tegnieke

Ek maak van die volgende terapeutiese tegnieke gebruik om met jou reptiel- en emosionele brein te werk:

• Kliniese Hipnose;
• Breinwerkende Rekursiewe Terapie (BWRT);
• Neuro-linguistiese Programering (NLP);
• Encounter centred Couples Therapy (EcCT);
• Positiewe Sielkunde en
• Mindfulness (wat ek wil vertaal as sielvolheid hoewel dit nie ‘n aanvaarbare vertaling is nie).

Sommige mense wonder of dit nie dalk net ‘n kitsoplossing is nie. Sielkunde is ‘n jong, dinamiese en vinnig-ontwikkelende wetenskap wat letterlik elke dag vinniger, beter en kragtiger maniere ontdek om permanente verandering teweeg te bring.

Indien jy steeds glo dat ‘n ossewa die beste manier is om van die Kaap tot in Johannesburg te reis, mag vliegtuig-tegnologie ‘n kitsoplossing wees. Wil jy dus jou uitdaging verstaan sonder dat dit opgelos word, of wil jy jou uitdaging oplos sonder dat jy dit noodwendig verstaan?

… met steeds ouder-wêreldse waardes

Psigoterapie sal altyd ‘n diep persoonlike verhouding bly met ouder-wêreldse waardes soos empatie, egtheid en onvoorwaardelike aanvaarding waarin mense met mekaar kan praat, kan luister, voordat tegnologie ons lewens oorgeneem het. Hoewel hier van moderne tegnieke gebruik gemaak word, sal jy in my spreekkamer steeds ‘n gevoel van ‘n ou wêreld beleef. ‘n Wêreld waar mense nog waarlik belangstel in hul medemens se sorge, probleme en uitdagings.

‘n Bietjie meer oor myself

Sien ook die artikel op hierdie blad: my probleem met sielkunde, indien jy meer wil weet rakende my geskiedenis met sielkunde.

  • Ek beskik oor ‘n Meestersgraad in Kliniese Sielkunde, asook ‘n Meestersgraad in Navorsing Sielkunde (Cum Laude).
  • Ek was van 1995–1999 ‘n uitvoerende lid van die Beroepsraad vir Sielkunde in die destydse Suid-Afrikaanse Geneeskundige en Tandheelkundige Raad (SAGTR) – deesdae bekend as The Health Professions Council of South Africa (HPCSA).
  • Ek het hier ook gedien op die tugkommitee van die HPCSA om etiese en professionele gedrag te bevorder.
  • Ek was ‘n deeltydse dosent in filosofie en sielkunde aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus.
  • Ek het in 1996 my Internskap aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi waarna ek sedertdien in privaat-praktyk praktiseer.
  • Ek het verskeie referate gelewer op Hipnose Kongresse in Suid-Afrika en internasionaal. Ek het in 2005 ‘n internasionale deurbraak gemaak in die hipnotiese behandeling van Scleroderma (‘n seldsame vorm van Outo-Immuunsiektes). Jy kan meer oor hierdie deurbraak lees in my artikel: Kop oor dinge.

Bykomende kwalifikasies

  • Meesters praktisyn van Kliniese Hipnose in 1998;
  • Praktisyn van EMDR (Eye Movement Desensitation and Reprocessing) in 1999;
  • Meesters praktisyn van NLP (Neuro-linguistiese Programmering) in 2003;
  • Meesters praktisyn van Energy Psychology in 2005;
  • Praktisyn van EMI (Eye Movement Integration) in 2006;
  • Praktisyn van EcCT (Encounter centered Couples Therapy) in 2013;
  • Meesters praktisyn van BWRT (BreinWerkende Rekursiewe Terapie) in 2015.

Ek word gereeld in die media aangehaal en is die gepubliseerde outeur van drie boeke:

  • NLP – ontgin die briljantheid in jou, in 2011,
  • Dink slank, word slank, in 2013 en
  • Droom binne ‘n droom, in 2020 – ‘n Digbundel oor my ervarings en gedagtes as sielkundige, mens en waarnemer.

Die lewe is ‘n reis. Die bestemming van die reis is nie noodwendig die doel van die reis nie, maar die reis self is jou bestemming.

Scroll to Top