‘n Keuse tussen twee wêrelde – Sielvolheid

“Die mens se gebrek aan selfbewussyn is die oorsaak van alle sondes en misdade” – Martin Versveld, Afrikaanse filosoof.”

© Jorgan Harris

1. Die twee wêrelde

Jy kan ʼn keuse maak tussen twee wêrelde wat ek vir jou wil beskryf. Die een wêreld is ʼn beperkte en vreesaanjaende klein wêreld. Die ander een is ʼn eindelose, pragtige, wonderlike, vreugdevolle en triomfantlike wêreld.

Die eerste wêreld is die een waarin die meeste van ons lewe. Dit is die bewustelose siellose lewe.

Jare gelede was daar ʼn bier-advertensie op televisie. Dit was ʼn kroegtoneel waar al die mense dieselfde lyk: almal dra dieselfde swart pakke en wit dasse, almal drink ʼn spesifieke tipe bier en die agtergrond-klanke (die sogenaamde white noise) klink soos die geblêr van skape. Die volgende oomblik kom daar ʼn karakter die kroeg binne, met ʼn wit broek en ʼn blommetjies-hemp aan. Hy is heeltemal anders en bestel ʼn ander tipe bier as al die ander. Almal gaap hom aan. Hoe kan hy so anders wees? Hy pas nie in nie.

Die meeste van ons leef egter soos ons groot gemaak is. Ons moet lewe soos al die ander mense lewe. Ons moet groot word, skool klaar maak, as ons gelukkig is, kry ons tersiêre onderrig en dan begin ons werk. Ons werk om ons lewe so gemaklik as moontlik te maak om bloot net te lewe en dalk in die proses ryk te word. Ons trou, kry kinders op ʼn sekere ouderdom, werk en kry ʼn huis met ʼn white picket fence, ʼn tuin en ʼn hond. Ons maak ons kinders groot en doen ons werk elke dag getrou. Ons werk om af te tree, ontvang ʼn goue horlosie, ontspan op die ouetehuis se stoep, maak seker ons testament is in orde en dan sterf ons. Wat ʼn miserabele, voorspelbare lewe om te leef!

Dis immers hoe meeste mense leef. Dis hoe ons hoort te lewe. Ons jaag prestasie, geld en ʼn spoglewe na, waarmee ons op Facebook oor ons en ons kinders se prestasies kan spog.

Ons gaan sielloos deur die lewe. Ons doen dag vir dag wat van ons verwag word om te doen. Ons gaan in ons roetine in – ons gaan werk (en ons haat dit). Gaan haal die kinders, eet aandete voor die televisie sonder om notisie te neem van wat ons eet, ooreet onsself, lê vir ure voor die televisie en kyk na nuttelose afleiding. Alles net om te rus vir die rotteresies wat môre weer gaan begin. Gelukkig vir naweke waar ons langer kan ontspan. Dan gee ons onsself soveel meer oor aan ons verslawings, hetsy dit eet, drink, koop, dobbel, dwelms, seks, rook is, wat dit ookal is om net tydelik te vergeet van die week wat verby is en die week wat voorlê.

Maar dis ook ʼn vreesaanjaende lewe. In hierdie lewe word jy wat die gemeenskap van jou verwag om te wees en te doen. Die maatstaf is nou nie meer jyself nie, maar faktore van vanuit die omgewing om jou. Jy vergelyk jouself met mense om jou en voel miserabel en al meer na ʼn mislukking indien hulle meer as jy bereik het. Jy het geen selfrespek oor nie en begin bang en angstig te voel. Jy voel bloot nie goed genoeg nie.

In hierdie wêreld begin jy terug te gryp na dinge en middele wat jou help om van dit alles te ontsnap;  om net te kan cope.

In hierdie wêreld is daar geen doel en sin nie. Dit is ʼn wêreld wat leeg en sinneloos is. Jy is verward en probeer net oorleef. In hierdie wêreld raak jy net meer en meer negatief en gaan die skoonheid van ons bestaan by jou verby.

Dan is daar die ander wêreld.

In hierdie wêreld is daar ʼn “om te wees” (to be). Daar is bestaan. Daar is suiwer denke. Daar is die Groot Gedagte (God). Hier is jy ʼn produk van God se gedagtes, hoe Hy jou uniek ‘uitgedroom’ het. In hierdie wêreld is jy oneindig uniek. In hierdie wêreld is jou aardse bestaan slegs ʼn klein deeltjie van jou ewige bestaan waar jy aan God behoort en ʼn deel van God is. In hierdie wêreld weet jy net dat jy ʼn taak het om te voltooi, al weet jy nie aldag wat hierdie taak is nie. In hierdie wêreld is jy belangrik vir God en verantwoordelik aan God. In hierdie wêreld voel jy nie minderwaardig nie. Jy voel nie jy hoef van die werklikheid te ontsnap nie. Jy het nie skadelike en kunsmatige “hulp” van buite af nodig nie.

In hierdie wêreld is jy nie langer bang nie, maar vol verwondering. Vol verwondering oor die wonder van die uitspansel en die onverstaanbaarheid van die grootsheid daarvan en die afwesigheid van ruimtelike en tydsbeperkings. Daar is geen einde aan die grense van ons uitspansel nie. In hierdie hele uitspansel is jy so klein dat jy eintlik niks is en tog is jy so groot… In hierdie wêreld het jy net nodig om mooi na jouself om te sien en om te weet dat jy altyd keuses het. In hierdie wêreld is daar ʼn nimmer-eindigende vreugde en geluk – die avontuur van die lewe self!

Jy kan die eerste wêreld en dan ook jou probleme kies of jy kan die tweede, vrye wêreld, sielvol geniet. Die keuse is joune.

2. Die sielvolle lewe

Sielvolheid is my Afrikaanse vertaling van die Engelse woord “Mindfulness”. Nie net is die Afrikaanse vertaling daarvan ʼn omstrede konsep nie, maar selfs die Engelse “Mindfulness” het fel kritiek ontlok.

Ek het lank gesoek na ʼn Afrikaanse term en telkens het woorde soos gedagtigheid, bewustheid, fyngesteldheid, aandagtigheid ens. na vore gekom. Ek het egter besluit op sielvolheid. In die Afrikaanse idioom word “siel” nie noodwendig as Godsdienstig gesien nie, maar dalk juis as “mindful”. Sielkunde is ʼn studie van die “mind” en nie die siel nie. Dit is om vol van siel te wees – vol van gees.

Mindfulness of te wel, sielvolheid, beteken ten diepste om in elke oomblik te lewe. So volledig moontlik te lewe volledig as moontlik te lewe.

Wanneer jy sielloos lewe, mag jy jouself bekommer oor die toekoms, wat lei tot angsversteurings. Om in die verlede rond te dwaal, lei weer tot depressie. Om oorweldig te voel deur die toekoms of die verlede, neem ons weg van ʼn lewe in die hede, in die nou. So glip die “nou” wat ons lewe is, by ons verby. Navorsing toon dat sielvolheid benewens angs en depressie suksesvol is in ook die behandeling van psoriase, fibromalgie en chroniese pyn.

Om sielvol te lewe is so bevrydend. Wanneer jy sielvol lewe is jy minder krities. Sielvolheid bevry jou van oordeel. Jy is minder krities op ander, maar veral minder krities op jouself. Dit laat jou toe om dinge te ervaar sonder om jouself te beoordeel, assesseer of te analiseer. Wanneer jy jouself analiseer, lei dit tot “analise paralise”. Dit bring jou nêrens.

Met sielvolheid geniet jy bloot net dit wat jy in die hier-en-nou ervaar.

Mense wat sielvol lewe:

  • is geneig om minder benoudheid en bekommernis te ervaar. Hulle het ʼn groter begrip en aanvaarding van hulle emosies en herstel gouer van ʼn slegte gemoedstoestand. Hulle het ook minder negatiewe gedagtes en kan makliker van hierdie gedagtes ontslae raak wanneer hulle op die voorgrond tree;
  • is meer in beheer en het ʼn groter vermoë om hulle innerlike gedagtes en gevoelens te oorwin of te verander sodat hulle nie reageer op hulle onmiddellike impulse nie;
  • het ʼn beter en meer stabiele self-esteem en is minder afhanklik van faktore van buite om hulle beter te laat voel.

Sielvolheid is net ʼn “wees in die wêreld”, om net teenwoordig te wees en bewus te wees van onsself en van die wêreld om ons. Dis ʼn bewustheid wat jou toelaat om te ervaar met ʼn bewustheid en te observeer sonder kritiek, oordeel, assessering of analise. Dit gaan oor deernisvolheid met jouself en met jou wêreld om jou. Sielvolheid is om probleme en krisisse bloot te observeer en met ʼn vriendelike nuuskierigheid te kyk hoe dit soos donker wolke net verby jou sweef, sonder om daarin vasgeval te raak. Jy verstaan dat dinge wat gebeur net moeilik, sleg, verkeerd ensovoorts is wanneer jy kies om só daaraan te dink. Jy vra nie vrae oor of dit reg of verkeerd is, of dit goed of sleg is nie. Jy raak bloot net bewus van jou ervaring daarvan. Jy raak net bewus van wat nou gebeur in jou en om jou.

Sielvolheid is ʼn baie stil ervaring. Daar is nie noodwendig verrukkende gevoelens van saligheid en ekstase nie. Dit is eerder ʼn kalm en stil gevoel sonder enige angs. Vir my is dit soos om ʼn kat in stilte te streel en om net bewus te raak van die rustigheid van die kat, die spin van die kat en die stille rustigheid wat dit teweeg bring.

Met sielvolheid is daar ook nie ʼn bepaalde fokus betrokke nie. Dit is eerder ʼn bewustheid van wat nou aan die gang is, sonder om enige iets te probeer. Dit is wanneer jy nie noodwendig ʼn strewe het nie, nie ʼn smagting beleef nie, nie ʼn soeke het nie, nie ʼn doelwit het nie. Dit is asof jy net bewus raak van wat nou gebeur en dit net toelaat om te gebeur, sonder om dit te interpreteer of enige iets daaraan te doen. Sielvolheid gaan oor observasie met jou vyf sintuie, eerder as ʼn reaksie, monitering of analisering van wat jy nou ervaar. Dit is soort van ʼn meditasie

Jy is bloot net ten volle bewus van die hier-en-nou, sodat jy bloot net bewus kan raak van jou gedagtes en gevoelens en om hulle net te laat gaan as om te probeer om hulle te hanteer, te bestuur. Jy raak nie oorweldig daardeur nie. Dit is asof jy net terugstaan en kyk hoe ook hierdie gevoelens verby gaan.

Die teenoorgestelde hiervan is sielloosheid. Die gevoel van sielloosheid is ʼn gevoel van auto pilot.  Om buite jouself te voel. Om geïsoleerd van jouself te wees. ʼn Obsessie met die verlede en ʼn vrees vir die toekoms.

Jy kan dus net stilweg bewus raak van jou negatiewe gevoelens en jy kan dit identifiseer. Eerder as om dit te analiseer of om te probeer om dit te onderdruk. Jy kan net daarvan bewus raak.  Dit aanvaar en nie probeer om daarvan ontslae te raak, te onderdruk of selfs daarteen te veg nie. Hoe harder ons probeer om dit te onderdruk of om daarvan ontslae te raak, hoe meer sal dit op die voorgrond verskyn.

Wanneer ons hierdie gevoelens en gedagtes bloot net aanvaar, is wanneer hulle weg sal gaan. Dit is juis hier waar ons met volle bewustheid werklik kan lewe. Hier kan ons kalm en in die hier-en-nou leef.

Dit is ook waar dat wanneer ons probeer om positiewe gevoelens op onsself af te forseer, dit nie sal werk nie. Ons kan bloot net toelaat dat hierdie gevoelens op hul eie tyd kom, soos hulle wil. Dit is wanneer hulle “toevallig” kom.

3. Die kernkomponente van sielvolheid

Jy is met alles geskape wat nodig is om suksesvol te wees

Die fokus hoort dus nie te wees op wat verkeerd met die mens is nie, maar eerder op dit wat reg is met die mens. Dit gebeur ook wanneer daar vrae gevra word oor wat die positiewe intensie agter gedrag was, eerder as om die gedrag self te veroordeel. Dit vra dalk van ons om nie te oordeel nie, maar om te vra na die intensie, van mense is.

Dis wanneer ons besef dat ons tog eintlik almal steeds prinse is – almal volmaak geskape op sy eie manier.

Jy kan dus met jou emosie aanvaar en bewus raak van die boodskap wat jou emosie vir jou wil gee, sonder om dit te analiseer of om jouself in ʼn boksie te plaas. Wanneer jy dit verstaan, kan jy jou wêreld ʼn beter plek maak.

Breek weg van jou denke

Ons gedagtes beïnvloed ons gevoelens. Hoe meer aandag ons aan ons gedagtes gee, hoe meer sal ons besef dat ons gedagtes nie feite is nie, maar interpretasies. Depressie, as ʼn voorbeeld, kan net ontstaan wanneer ons harde negatiewe gedagtes of oordele fel aan ons emosies. Angs, aan die ander hand, kom van irrasionele gedagtes oor die toekoms. Sulke gedagtes begin altyd met: “wat as?” Nie krities of veroordelend nie, want dan beperk jy net jouself?

Dis ʼn “om te wees” eerder as ʼn “om te doen”

“Om te doen” is doelwit ge-oriënteerd. Dit is gefokus op ʼn doel, om byvoorbeeld beter te voel. Dit is veroordelend – gevoelens word beoordeel as goed of sleg. In die “om te doen” modus word daar voortdurend gefokus om van die negatiewe gevoelens (in die verlede) ontslae te raak, of om te vrees vir die toekoms in plaas daarvan om net van hierdie gevoelens bewus te raak sonder om hulle te be-oordeel as noodwendig negatief of sleg.

Dit is juis hier waar sielvolheid vir ons Westerlinge ʼn skok behels. In ons kultuur gaan dit oor die volgende: hoe meer jy insit, hoe meer sukses;

  • hoe meer jy werk, hoe suksesvoller sal jy wees;
  • hoe meer jy saamwerk, hoe beter.

Hoe meer jy “doen” hoe meer probeer jy om jou huidige probleme te vermy, in plaas daarvan om te fokus op wat jy wil hê.

Sielvolheid gaan daaroor om net bewus te wees van waar jy nou is op hierdie oomblik, met volle diepte, rykheid en ʼn breër ervaring, soos wat ek dit hieronder verder bespreek.

Skakel in op jou intuïsie

Intuïsie is niks anders as om net bewus te wees en om in te skakel op jou vyf sintuie. Maar dit is ook ʼn bewustheid van jou eie aanvoeling, vry van jou denke. Jy kan maar jou voorgevoel, jou intuïsie vertrou. Dit het jou nog nooit in die steek gelaat nie. Hoeveel keer in jou lewe het jy bloot net gevoel om iets te doen, net om later agter te kom dat dit presies die regte ding was om te doen?

Ons word beroof van ons bewustheid en die inskakeling van ons bewustheid deur al die dinge wat rondom ons gebeur. Ons word so geabsorbeer deur die dinge wat om ons gebeur, deur al die slegte nuus, deur al die negatiwiteit, dat ons ons eie sielvolheid vergeet.

Luister na jou liggaam

Sielvolheid beteken ook om weer in kontak met jou liggaam te kom. Om te luister na wat jou liggaam jou vertel. Wanneer jou liggaam jou vertel dat iets reg of verkeerd voel kan jy dit maar ernstig opneem, daarna luister. Dit gebeur wanneer jy die distorsies van jou denke uitskakel. Jy voel net aan dat iets reg of verkeerd voel.

As jy ongemaklik oor iets voel, sonder jou denke, mag jou gevoelens jou waarsku dat iets nie reg is nie. Jy kan hierdie gevoelens maar vertrou. Dit is jou gevoelens wat jou nog altyd vertel het dat iets reg is of nie reg is nie. Dit is jou gevoelens wat nog altyd gesorg het dat jy oorleef.

4. Die proses van sielvolheid

Asemhaling

Om asem te haal is om te lewe. Nadat God die mens geskape het, was hy net ʼn lewelose liggaam. Dit is eers nadat God Sy eie asem in die mens ingeblaas het, dat hy begin lewe het. Asemhaling is “om te wees” en is seker die heel belangrikste aspek van sielvolheid. Ons asem God se asem in. God se asem is wat ons deel van Hom maak. Dit is ons siel.  Dit is wat ons deel van God maak. In die Latyn is asem en siel  dieselfde woord.

Ons asemhaling verander met ons gemoedstoestand. Wanneer ons kwaad of gespanne is, word ons asemhaling kort, vinnig en vlak. Ons asemhaling raak vinniger as ons opgewonde is en stadig en vol wanneer ons gelukkig is. Wanneer ons bang is, hou ons selfs op asem haal. Wanneer jy stadig en diep asem haal, kry jy ook beheer oor jou gedagtes en gevoelens. As jy daaraan dink, is jou asemhaling die een ding waaroor jy altyd absolute beheer het.

Jou asemhaling kan jou help om alles stadiger te maak. Om jou in die oomblik van die nou te bring sodat jy die kans sal kry om bewus te wees van wat jy dink en voel en waarmee jy besig is.

Dis juis wanneer jy asemhaal wanneer jy in die oomblik van die hier-en-nou is. Dit is net die nou.

Jy kan jouself voorstel dat jy by die see is. Branders kom in en gaan uit. Met elke teug wat jy inasem, is dit soos die see wat intrek en elke teug wat jy uitasem, is die brander wat breek op die strand. Miskien kan jy wonder hoe ver die volgende brander op die strand sal uitspoel, soos  jy uitasem. Of wonder hoe ver die see weer in weer sal intrek met die volgende teug wat jy inasem.

Ons is so haastig en probeer soveel moontlik in ons dag in kry. Ons multi-task en ons sit nie meer stil en haal diep asem nie. Vlak asemhaling hou jou liggaam in ʼn vorm van paniek wat gepaard gaan met ʼn vinnige hartklop, koue of sweterige hande en nek spasmas. Paniek is die direkte gevolg van chroniese woede, angs en skuldgevoelens. Dit veroorsaak die sogenaamde veg-of –vlug reaksie. Die reaksie om te oorleef in gevaar of wat deur ons denke as gevaar geïnterpreteer word. Dit is hierdie wrede siklus wat gebreek moet word.

Ons raak so gespanne oor ons valse sekuriteit en oorlewing dat ons hiperventileer as ʼn onmiddellike reaksie op spanning en die gedagte dat jy nie goed genoeg is nie en raak jy uit voeling met die wêreld. Jy fokus op meestal verbeelde bedreigings vyande, oorsake van spanning en probleme van buite terwyl jy hiperventileer om net jou teikens soos hoër verkope, of vooropgestelde teikens, te behaal. Jy hiperventileer uit angs oor die gevolge, fisies en emosioneel as jy jou teikens nie sou bereik nie.

Jy gaan net in kontak met jouself kom wanneer jy stadig en diep asemhaal. Gelukkige mense haal stadig en diep asem. Gaan kyk gerus na ʼn gelukkige baba of jou troeteldier. Hulle haal rustig en diep asem.

Indien jy diep asemhaal, het jy:

  • ʼn ontspanne fokus;
  • ʼn kreatiewe visualisering;
  • laterale denke;
  • insigvolle probleemoplossing;
  • ʼn heel-brein funksie;
  • topprestasie;
  • transformerende en transendentale ervaringe;
  • diep asemhaling kan help met pyn, woede, verhoudings en daaglikse stres.

Dis juis jou asemhaling wat jou van die kern van jou fisiese welsyn neem na die vereniging met jou verstandelike en spirituele vermoëns. Dis wanneer jy God se asem in jou voel en net meer gebalanseerd bly lewe soos die bedoeling was toe Hy sy asem in jou in geblaas het.

Om net die belangrikheid van diep asemhaling te beklemtoon, word die endorfiene wat deur ʼn blote diep asemhaling vrygestel ʼn pynstiller wat meer effektief is as morfien. Watter manier is daar dan kragtiger om emosionele pyn te verlig teenoor die eerste wêreld? Dit het die vermoë om nie net fisiese pyn nie, maar ook emosionele pyn te verlig. Selfs spirituele pyn.

Ontspanning

Ontspanning is die teenvoeter vir spanning en die gevoel van nie goed genoeg nie. Ontspanning begin by diep asemhaling. Wanneer jy ontspanne is, is wanneer jy al die energie wat in jou liggaam verlore raak as gevolg van spanning, kan jy jou energie nou in jou konsentreer. Jy weet reeds hoe meer jy jouself forseer om iets te doen of nie te doen nie, hoe meer die teenoorgestelde sal gebeur. Soos Jung se stelling: “whatever you resist, persists” of my vertaling in Afrikaans “watookal jy weerstaan, sal bly sterk staan”. Hoe meer jy iets probeer weerstaan, hoe meer sal dit weer en weer voor jou, in jou pad en voor jou kom staan. In plaas daarvan om die woorde van “moet” en “moet nie” te gebruik, kan jy nou die woorde: “Ek kies” gebruik. Jy het nog altyd keuses. Met hierdie wete kan jy bloot toelaat dat jou hele liggaam meer en meer ontspan met elke diep asemteug wat jy uitasem.

Jy kan enige tyd ontspan, selfs al is jy besig met ʼn bepaalde taak. Navorsing bewys dat asemhaling die kragtigste manier is om spanning te hanteer.

Ontspanning help om jou kop helderder te kry, jou energievlakke hoër te kry en jou buie te verbeter. Aanvanklik is die voordele subtiel, maar dit raak al hoe meer hoe meer jy leer om te ontspan. Dis hier waar jou intuïsie oorneem en vir jou al die vreugde verskaf om net dekadent te lewe. Dis ook hier waar jy dieper insigte verkry.

Die stadige lewe

“Life moves pretty fast. If you don’t stop and look around once in a while, you could miss it” – Ferris Bueller.

Soms jaag ons in ons lewe die materiële soveel na, dat ons heeltemal van onsself vergeet. Ons verloor voeling met onsself.

Dit mag ʼn goeie idee wees om dele van jou dag uit te sit om niks te doen nie. Om stil te raak en in voeling met jouself te kom, al is dit net tien minute van jou dag.

  • Doen een ding op ʼn slag

Doen een ding op ʼn slag, maar doen dit sielvol. Daar is ʼn Zen spreekwoord wat sê: “Wanneer jy loop, loop. Wanneer jy eet, eet.” Dis wanneer jy een ding op ʼn slag doen, dat jy dit klaar sal doen en ʼn goeie werk daarvan sal doen.  Bloot omrede jy daarop fokus, sonder die modewoord van multi-tasking.

  • Doen minder

Ons jaag na wind. Ons wil te veel dinge doen. Hoe meer dinge ons wil doen, hoe minder kry ons gedoen. Dit sal jou help om dinge meer volledig en met meer sielvolheid te doen.

  • Neem jou tyd

Wanneer jy ʼn ding doen, neem jou tyd. In aansluiting hierby, help dit jou om te fokus.

Jy kan gerus die volgende doen:

  • Wanneer jy eet, eet sielvol en met ʼn gewaarwording van jou kos sowel as jouself.
  • Jy kan na jou tuin gaan en gaan stil staan – net vir ʼn slag weer na elke blom in die fynste besonderhede gaan kyk, elke blaar en takkie. Sielvol soos ʼn kind wat ʼn blom vir die eerste keer sien.
  • Jy kan op jou stoep sit en vir lank net kyk na die sproeier en met jou vyf sintuie bewus te raak van hoe die water in alle rigtings spat -, jy kan luister na die gespuit van die water, die reuk van water op gesnyde gras ruik. Selfs ʼn briesie van die water teen jou vel en tong voel en proe.
  • Wanneer jy jou vyf sintuie maksimaal benut, kan jou pad werk toe ook vir jou nuut en vars word.
  • Jy kan selfs sielvol tande borsel, stort of jou naels knip!
  • Neem ʼn stukkie tyd om ʼn potjie heuning te vat en om ʼn lepel daarin te druk. Nou laat jy die heuning van die lepel afloop tot terug in die potjie. Jy raak net met jou vyf sintuie bewus van hoe hierdie heuning afloop. Jy dink aan absoluut niks, behalwe die afloop van die heuning terug in die potjie. Jy haal asem en ontspan en wag tot die laaste druppel heuning terug in die potjie af gedrup het. Raak net bewus van jou gedagtes, sonder om dit te analiseer.
  • Jy kan byvoorbeeld ook die tyd neem om ʼn suurlemoen af te skil. Terwyl jy dit doen, kan jy bewus raak van die helder geel van die suurlemoen, die geluid van skil, ook van die suur smaak op jou tong. Probeer om die skil nie te breek nie. Indien dit wel breek, begin jy met ʼn nuwe suurlemoen. Ek wonder terloops of jy nou meer saliva op jou tong voel bloot net deur te dink aan ʼn suurlemoen.

Hier-en-nou

Sielvolheid plaas die klem op die ervaring, nie op die resultaat nie. Die ervaring is so belangrik. Die reis selfs is eerder ons bestemming as die bestemming self.

Die enigste tyd wat bestaan, is nou. Die verlede bestaan alleenlik in jou brein as ʼn herinnering. Die toekoms bestaan alleenlik as ʼn fantasie, of ʼn vrees.

Sielloosheid is wanneer ons nie meer in die nou lewe nie en wanneer die oomblik by ons verbygaan.

Die hele lewe bestaan net uit oomblikke. Dit bestaan uit die een oomblik tot die volgende oomblik – vry van die beperkinge van tyd en ruimte. Wanneer ons dus die “oomblik” van nou verloor, is wanneer ons sielloos raak en sielkundige probleme ontstaan.

Wanneer jy in die nou bewus raak van ʼn emosie en wat dit vir jou probeer vertel, is jy sielvol. Dis hier waar ons bloot reageer op dit waarvan ons bewus geraak het (in daardie oomblik) eerder as om te dink waarop ons moet reageer.

Met skuldgevoelens, skaamheid, hartseer, woede en depressie, is jy vasgevang in die verlede. Dit gaan oor wat verkeerd gegaan het, of oor wat jy verkeerd gedoen het.

Vrees en angs gaan weer oor die toekoms en oor dinge wat moontlik mag gebeur. In die hier en die nou verloor jy die oomblik deur jouself die heeltyd voor te berei vir die dinge wat moontlik mag gebeur, maar meestal nie gebeur nie.

Met sielvolheid reageer jy in die nou op daardie gebeure in die verlede of daardie gevare van die toekoms. Daardie gebeure in die verlede of in die toekoms kan in die hede anders beleef word deur jou bewustheid in die hier-en-nou.

Dankbaarheid is ʼn iets wat ons in die hede beleef, maar is ʼn positiewe respons op wat in die verlede gebeur het. As ons stil kan wees, asem kan haal en ontspan en kan fokus op wat ons kan leer wat vir ons hier-en-nou iets kan beteken.

Positiewe response in wat in die toekoms mag gebeur, word in die nou beleef as hoop, optimisme en opwinding.

Aanvaar jou emosies en gevoelens soos wat dit is

Om te verhoed dat jy in die verlede of in die toekoms vasgeval raak, kan dit baie help om bloot net jou emosies te aanvaar, sonder om dit te analiseer of om te probeer om daarvan ontslae te raak.

Haal diep asem en ontspan. In plaas daarvan om daardie negatiewe emosies te onderdruk, kan jy eerder net bewus raak van daardie emosies of denke en dit bloot net aanvaar. Wanneer jy daardie negatiewe denke of emosies probeer onderdruk, word dit reeds sterker.

Aan die ander kant, wanneer jy positiewe gevoelens op jouself probeer af forseer, sal hierdie gevoelens jou bly ontwyk.

Jy gee bloot erkenning aan hoe jy voel en laat dit daar sonder om dit te anali-seer, te evalueer, te takseer of om dit te beoordeel.

Sensoriese bewustheid

Jy is geskape met vyf sintuie. Sensoriese bewustheid gaan oor hoe jy jou vyf sintuie gebruik om soveel moontlik bewus te wees van jouself en alles om jou in die hier-en-nou.

Hoe meer gefokus jy op jou 5 sintuie is hoe meer inligting sal jy verkry. Met jou vyf sintuie kan jy jou reaksie op die wêreld rondom jou verfyn. Jy kan ook jou innerlike wêreld hiermee verfyn.

Jy kan jou waarneming van jou bewustheid van die wêreld om jou verfyn. Jy kan meer bewus raak van alles rondom jou, maar jy kan ook meer bewus raak van al die detail van die wonderlike dinge in die wêreld rondom jou en die plesier wat jy daaruit kan put. Wanneer jy weer werk toe stap of ry, kan jy weereens bewus raak van die wonder van die dinge rondom jou. Daar word so dikwels van ons mense wat in Kaapstad bly gesê dat ons so gewoond geraak het aan die berg dat ons dit nie eens meer sien nie. Wanneer laas het jy net by Lovers Lane gestop om die berg te sien? By Blouberg gestop om net die see te hoor en te ruik? Met jou voete in die see gestap om dit te voel, selfs te proe? Of gekyk na die skoonheid van ʼn sonsondergang in die Bosveld?

Maar dit verwag van jou om vir ʼn slag stil te raak, stil te sit en van die eerste wêreld te vergeet. Vra jouself: “wat is werklik belangrik?”

Beginnersbrein

Beginnersbrein is wanneer jy soos ʼn kind alles van nuut af in die hier-en-nou met jou vyf sintuie beleef. Dis wanneer jy jouself en die wêreld beleef voordat jy kognisies en rasionele denke van analise, beoordeling, veroordeling, ens. ontwikkel het. As jy na ʼn kind of veral ʼn baba kyk en sien hoe ʼn baba sorgvry na alles staar, waar alles nuut is vir hom of haar. Vir daardie kind is alles vars en nuut. ʼn Baba kan vir ure na sy of haar hande staar, sonder om dit te beoordeel of te kritiseer… heeltemal nuut. Babas of jong kinders het al die bewustheid en selfvertroue, want hulle het nog nie geleer om te dink, of negatief en krities te dink nie.

Dit is wanneer ons van vooraf gebore word en alles onkrities en nuut sien. Om elke sonsopkoms of sonsondergang te sien asof dit die eerste een is wat jy ooit gesien het. Dit is om al die kleure, wonder en die skoonheid te sien asof jy dit vir die eerste keer sien. Dis wanneer jy elke voël, elke boom, elke ding, ook in jou alledaagse lewe weer van voor af sien, asof dit die eerste keer is wat jy dit sien. Dis wanneer jy na jou gunsteling musiek luister asof jy vir die eerste keer daarna luister. Wanneer jy sielvol daarna luister, gaan jy altyd iets nuuts ontdek wat jy dalk nog nooit vantevore gehoor het nie. Dis wanneer jy ʼn stortbad ervaar asof jy dit nog nooit ervaar het nie. Dis wanneer jy kos eet of geure ruik asof vir die eerste keer. Dit is wanneer jy jou wêreld sielvol van voor af begin geniet en ervaar. Dít is wanneer jy alles in jou alledaagse lewe nuut begin ervaar!

Beginnersbrein vra van jou om vir daardie oomblik al jou oortuiginge wat jy reeds het, eenkant te sit, alle indrukke van die verlede, al jou oordele en gevolg-trekkings wat jy in die verlede gemaak het, vir ʼn slag eenkant te sit en alles net weer te observeer, soos ʼn jong kind.

Elke keer wanneer jy in die oomblik van die hier-en-nou lewe met ʼn nuwe belangstelling en nuuskierigheid, is wanneer jy ook begin om nuwe paadjies in jou brein te skep. Dit verander jou ervaring van jou lewe geheel en al.

5. Ten slotte – ervaring van die sielvolle en siellose lewe

Jy kan nou net vir ʼn oomblik sielvol bewus raak van waar jy is. Van waar jy is in hierdie eerste wêreld. Jy kan nou bewus raak van jou wêreld waar jy elke dag lewe in een van ʼn gejaag na wind, om net die eerste wêreld lewe te leef.

Stel jouself vir ʼn oomblik voor hoe die ander wêreld van sielvolheid en bewustheid lyk.

Doen hierdie oefening terwyl jy op jou voete staan, met ʼn spasie van ongeveer ʼn meter voor jou.

  1. Kry vir jouself ʼn gemaklike posisie. Staan gemaklik op altwee jou voete, eweredig gebalanseerd.
  2. Voel jouself nou staan in hierdie eerste wêreld van sielloosheid en ʼn gejaag na wind.
  3. Raak bewus van hoe dit voel.
  4. Stel jouself voor dat daar ʼn wêreld van sielvolheid en bewustheid ongeveer ʼn meter voor jou is.
  5. Gebruik jou sensoriese bewustheid en raak net bewus van die kleure, klanke, reuke, smake, gevoelens en aanvoeling wat jy sou ervaar wanneer jy in hierdie wêreld is. Is daar enige objekte in hierdie wêreld?
  6. Kry die idee van hoe jy sal voel wanneer jy in hierdie wêreld sou wees. Wat wil jy voel? Wil jy selfversekerd voel? Of dalk ontspanne?
  7. Plaas nou daardie gevoel binne daardie wêreld, op watter manier dit ookal vir jou reg voel om te doen.
  8. Gee nou ʼn tree vorentoe en – tree dus in jou wêreld in. Laat jouself nou toe om daardie gevoelens te voel wat jy graag wil ervaar.
  9. Tree weer een tree terug, uit die wêreld uit, terug na jou wêreld waar jy nou is en merk die verskil in jou gevoel.
  10. Kyk na jou tweede wêreld. Is daar enige verstellings wat jy nou aan jou ervaring van hierdie wêreld wil maak?
  11. Tree weer in jou nuwe wêreld en maak dit nog lekkerder in jou kop, nog meer intens en raak net bewus van die verandering in gevoel wat jy ervaar.
  12. Watter verskil ervaar jy?
Sy laat gaan 

Sonder ‘n gedagte of ‘n woord het sy laat gaan.
Sy laat gaan die vrees.  Sy het net daar bly staan.
Sy was nie gewillig nie.  Sy was nie onverskillig nie
Sy laat gaan al die veroordelings.
Sy laat gaan die sameloop van bevooroordeling wat haar hart bly slaan.
Sy laat gaan die bestuur van besluiteloosheid in haar.
Sy laat gaan al die ‘regte’ redes.
Alles, sonder aarseling of bekommernis,
Al breek die wal, laat sy net gaan.
Sy het niemand om raad gevra nie.  Sy het nie ‘n boek gelees
oor hoe om te laat gaan nie… Sy het nie die voorskrifte gevrees nie.
Sy het dit net laat gaan sonder om noodwendig te verstaan.

Sy het die herinneringe laat gaan wat haar terug gehou het.
Sy het al die angs laat staan wat haar laat aanhou het.
Sy het beplannings en somme laat gaan oor hoe om dit reg te doen.
Sy het nie belowe om dit te laat gaan nie.
Sy het nie dagboek daarvan gehou nie.
Sy het nie ‘n datum in haar dagbeplanner aangeteken nie.
Sy het dit nie aangekondig of dit swart-op-wit laat staan nie.
Sy het nie haar sterre-voorspelling gelees of haar numerologie bereken nie.
Sy het net laat gaan.

Sy het nie ‘n analise gemaak of sy moet laat gaan of nie.
Sy het nie ‘n vriend vertel om haar te help verstaan nie.
Sy het nie in ‘n vyf-stap Spiritual Mind Treatment haar hart belê nie.
Sy het nie ‘n gebedslyn gebel nie,
of vir ‘n engel gewag om aan haar te verskyn nie.
Sy het nie ‘n enkele woord gesê nie.  Sy het net laat gaan.
Daar was niemand daar toe dit gebeur het nie.
Daar was geen handeklap of gelukwense nie.
Mense het haar nie bedank of geprys nie.
Niemand het iets gesien
of iets nuuts vir haar gewys nie.

Soos ‘n blaar van ‘n boom afval, laat sy net gaan.
Daar was geen inspanning.  Daar was geen gesukkel.
Daar was geen beplanning of ‘n skop teen die prikkels nie
Dit was nie goed nie en dit was nie sleg nie.
Dit is wat dit was en dit was maar net dit.
In die spasie van laat gaan, het sy alles net daar laat staan.
Toe al haar twyfel verdwyn,
het ‘n klein glimlag oor haar gesig
‘n ligte bries deur haar pyn gebiggel.
En die son en die maan het vir ewig aanhou skyn.

~ Rev. Safire Rose ~  Vertaal en aangepas deur Jorgan Harris

via Devi Moksh     www.awakeningwomen.com