“Ek wil dit nie hoor nie” – Tinnitus en hipnose

© Jorgan Harris

1. Wat is tinnitus?

Tinnitus is ʼn gefluit of geraas in jou ore. Hierdie gefluit kan dikwels so ʼn hoë toon hê, dat dit kan voel of jy mal gaan raak. Dis ʼn konstante gelui in jou ore wat net nie op wil hou nie. Dit kom en gaan, maar word veral erger wanneer jy gespanne raak. Jy het al soveel dokters en spesialiste gaan sien en hulle vertel jou dat hulle niks daaraan kan doen nie, want sekere van die oorhaartjies het plat geval en daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie. Dit maak jou mal en soms voel dit dat selfdood die enigste manier is om hierdie geraas in jou kop stil te maak. Dit maak nie saak wat jy doen nie – niks help nie. Die medici kan jou nie help nie.

2. Is daar ʼn sielkundige oplossing hiervoor

In die hipnose wêreld is daar ʼn baie opwindende veld – die veld van die Psigo-Neuro Immunologie (PNI). Die basiese beginsel van PNI is dat enige fisiese probleem dalk ʼn sielkundige oorsprong mag hê en as ons die sielkundige oorsaak agter die fisiese probleem kan raaksien, kan ons dalk net daardie probleem op ʼn sielkundige vlak oplos.

Hiermee probeer ek geensins sê dat daar nie plek vir mediese wetenskappe is nie, inteendeel. Die mediese wetenskappe is soveel ouer as die sielkunde en soveel meer gevorderd. Ek sal jou altyd aanbeveel om die mediese pad te stap sover moontlik, maar jy kan tesame met mediese sorg ook alternatiewe opsies oorweeg.

Hou die volgende in gedagte: jy bestaan uit ʼn onderbewuste en ʼn bewuste. Jou bewustelike gedeelte is logies en rasioneel en verstaan argumente asook simboliek, maar dit verstaan egter nie emosies en gevoelens nie.

Die onderbewuste is ʼn ander storie. Soms dink ek aan die verskil tussen die bewuste en die onderbewuste as ʼn outydse gallei (skip). Die bewuste is die stuurman wat aan boord staan en die realiteit kan sien. Die onderbewuste is die manne wat onder seevlak sit en roei. Hulle kan nie die realiteit sien nie en kan dus net reageer op die bevele van die stuurman. Wanneer die stuurman skree dat hy ʼn ysberg sien, neem die bemanning dit letterlik op en begin dan paniekerig terug te roei. Die stuurman het dalk net bedoel dat dit ʼn mislaag is wat soos ʼn ysberg lyk, of dalk selfs die mislaag verwar met ʼn ysberg, of dalk net ʼn grappie gemaak. Die personeel het dit letterlik ge-interpreteer en in paniek gegaan.

Dit raak baie interessant wanneer jy sien watter boodskappe ons vir hierdie manne onder die watervlak stuur wanneer hulle nie eers die realiteit kan sien nie. Hierdie ouens is letterlik die aandrywers van ons gedrag.

Laat jou gedagtes vir ʼn oomblik hieroor gaan: Dit gebeur so gereeld dat iemand vir my sê dat hulle nie regop kan bly nie en dan het hulle rugprobleme. Of dat hulle nie vorentoe kan gaan nie en dan probleme met hulle voete of knieë het. Gaan kyk gerus na die artikel wat ek gedoen het oor my referaat in Krakow (Pole) oor Analoog denke en Outo-immuun siektes by jorganharris.co.za. Hierdie vrou het gely aan die uiters skaars siekte, Scleroderma. Scleroderma is ʼn siekte waar jou liggaam te veel kollageen vervaardig en dus alles verstop. Jou vel word dik, jou are verstop; selfs jou traankliere en ander kliere word verstop. Hierdie lyers kan nie meer huil nie, vel verdik en sterf uiteindelik, aangesien daar geen mediese oplossing hiervoor is nie. Ek het eendag vir hierdie vrou (op ʼn onderbewustelike simboliese) manier gevra of sy dikvellig is. Na hierdie vraag het sy haar hele storie met my meegedeel en haar hele geskiedenis het gewys hoe sy dikvellig moes raak. Lees gerus meer daaroor op my webtuiste:  jorganharris.co.za.

Mag dit dalk wees dat tinnitus jou wil keer om te hoor wat jy nie wil hoor nie? Miskien het jy dit as kind gedoen, wat ek en my susters beslis gedoen het. Wanneer ons die ander een se argument nie wil hoor nie, het ons ons ore toe gedruk of liedjies begin sing of hardop gepraat om nie die ander een se argument te hoor nie.

Wat is dit dus wat jy nie wil hoor nie?

3. Drie gevallestudies

  • Megan* is ʼn onderwyseres. Haar klas is ongeorganiseerd en raserig. Sy is beperk met haar dissipline en kan nie beheer oor haar klas uitvoer nie. Sy kan die raserigheid net nie meer duld nie. Haar keerpunt het gekom toe sy nie die geraas in haar klas kon beheer nie en angstig geraak het. Uit desperaatheid het sy op die klas geskree waarna ʼn kind haar met ʼn mes aangeval en skrams gewond het. Megan het daarna tinnitus ontwikkel. Na daardie aanval was Megan getraumatiseerd en angstig.
  • Britney* is ʼn ma. Haar seun word op skool deur ʼn ander kind geboelie. Voorts gaan dit nie goed met sy skoolwerk nie en sy is baie bekommerd dat hy gaan druip. Sy het een dag so ontsteld geraak, dat sy in die stort ʼn fladdering gekry het. Sy het begin skree, huil en praat dat die hele badkamer weergalm het. Toe sy haarself weer kry, het sy op die grond gesit. Die volgende dag het die geskree in haar ore begin en haar angs was erger as ooit.
  • Marie* het ook tinnitus. Haar ma is ongeveer ʼn jaar gelede oorlede en sy het rondom daardie tyd tinnitus begin kry. Haar ma het by haar gewoon. Sedert haar ma se dood was sy angstig en gesukkel om aan die slaap te raak en het sy ʼn vrees ontwikkel dat iemand dalk mag inbreek. Marie se tinnitus het egter voor haar ma se dood ontstaan. Daar was vir haar drie uiters traumatiese gebeure. Kort voor haar dood, het haar ma vir Marie gebel en in ʼn asemloosheid haar gesmeek om haar te help. Marie kon hierdie hulpelose gesmeek oor die telefoon nie uit haar kop kry nie. Later het die hospitaal gebel om te sê haar ma is in Intensiewe Sorg en kort daarna ʼn oproep waarin sy meegedeel is dat haar ma oorlede is.

Wat is die ooreenkomste tussen hierdie drie gevalle-studies?

  • In al drie gevalle het hulle iets gehoor wat geweldig ontstellend vir hulle was.
  • In al drie gevalle het dit wat hulle gehoor het ʼn gevoel van magteloosheid veroorsaak.
  • Angs is by al drie gevalle waargeneem en die tinnitus word erger as hulle spanningsvlakke hoër word.
  • By al drie gevalle was daar pogings om dit wat hulle gehoor het, uit hulle koppe te sit.

Dis eerder asof die onderbewuste daardie traumatiese boodskappe wil verdring deur te raas sodat daardie woorde nie kan bly herhaal nie. Net soos ons as kinders eerder ʼn geraas gemaak het om nie die ander een se argument te hoor nie, raas tinnitus lyers se ore onbewustelik om te verhoed dat hulle nie meer daardie intense negatiewe boodskappe kan aanhoor nie. Tinnitus dwing jou egter ook om jou fokus te verskuif na jou eie innerlike stem en om aandag te gee aan wat jy werklik voel en aan wat in jou lewe aangaan.

Na behandeling, het die tinnitus in al drie gevalle of drasties afgeneem of verdwyn.  Behandeling met hipnose behels die volgende:

  • Daar word gepoog om hierdie negatiewe boodskappe wat gehoor is te desensiti-seer en help dit die persoon om vrede te vind met wat gebeur het.
  • Daar word aan die persoon se angs gewerk.
  • Daar word gewerk aan die persoon se gevoel van magteloosheid en om dit te verander na ʼn gevoel van bemagtiging.
  • Die persoon word gehelp om weer na sy of haar innerlike stem te luister en om in kontak met hulle eie gevoelens te kom en om hierdie boodskappe anders te vertolk.

4. Milton Erickson se waarneming

Dit bly steeds ongelooflik om agter te kom hoe kragtig jou onderbewuste is. Net soos wat jou onderbewuste vir jou hierdie probleme kan veroorsaak, kan jou onderbewuste jou help om dit te oorwin. Elke mens is so veranderbaar en aanpassend. Die vader van die moderne hipnose, Milton Erickson het hierdie beginsel so mooi raak gesien. Hy het, as ʼn nuuskierige student, eendag in ʼn fabriek ingegaan waar stoomketels vervaardig word. Toe hy die dag die fabriek binnegaan was die geraas oorverdowend. Hy kon nie ʼn woord hoor wat mense sê nie. Tog het dit hom opgeval dat die mense wat daar werk, met mekaar gepraat het en mekaar gehoor het. Hy kon dit nie verstaan nie. Hy het vir die bestuurder van die fabriek gevra of hy die nag maar in die fabriek kan slaap. Die bestuurder het in sy verbasing, toestemming gegee en Erickson het daardie nag in die geraas geslaap. Die volgende oggend toe die werkers terug is by die werk, kon hy elke woord wat hulle sê, hoor.

Dis wanneer jy in hierdie geraas in ontspan wanneer jy weer gaan hoor wat ander mense en ook jou innerlike stem vir jou regtig sê. Wanneer jy verby die geraas gaan, is waar die geraas gaan ophou.

*Nie hulle regte name nie