Altyd ‘n inherente oorlewende – bemagtiging na seksuele molestasie

© Jorgan Harris. jorganharris.co.za

1. Inleiding

Seksuele misbruik of kindermolestering is die term wat gebruik word wanneer ʼn kind vir seksuele bevrediging uitgebuit word. Dit kan verskeie aktiwiteite behels, van ʼn persoon wat homself aan ʼn kind ontbloot tot onvanpaste aanraking tot verkragting.

Statistiek weerspieël beslis nie die omvang van hierdie misdaad nie, omdat dit deur geheimhouding omring word. Na beraming word 4 persent van alle meisies en 2 persent van alle seuns voor die ouderdom van sestien seksueel misbruik. Die meeste mense vind dit moeilik om te aanvaar dat kindermolestering enigsins voorkom, wat nog te sê so algemeen. Kindermolestering kom in alle sosiale klasse en in alle gemeenskappe voor en is nie beperk tot enige rasse- of ekonomiese groep nie.

 

Indien jy enige van die volgende ervarings beleef, moet jy beslis hulp soek:

  • Selfbesering of die drang om jouself seer te maak.
  • Erge nagmerries, dagdrome en terugflitse wat jou ontstel.
  • Onverantwoordelike gedrag.
  • ʼn Depressiewe gemoedstoestand of ʼn geskiedenis van depressie.

 

Jy is gemolesteer:

  • As iemand sonder toestemming met jou gemeenskap gehad het op ʼn ouderdom waarop jy nie emosioneel gereed was daarvoor nie.
  • As jy op ʼn seksuele wyse betas is.
  • As jy na pornografiese boeke of films moes kyk of na sulke gesprekke moes luister.
  • As iemand hom aan jou ontbloot het.
  • As jy verkrag of gepenetreer is.
  • As jy betrokke was by kinderprostitusie of –pornografie.
  • As iemand jou gebad het op ʼn manier wat vir jou ongemaklik was.
  • As jy gedwing is om deel te neem aan seksuele rituele en marteling.
  • As jy vasgehou of vertroetel is op ʼn manier wat jou ongemaklik laat voel het.
  • As jy bo of onder jou klere betas is waar onderklere moet wees.
  • As orale seks op jou afforseer is.
  • As mense jou kamer of badkamer sonder jou toestemming binnegekom het terwyl jy ontklee.
  • As iemand obsene of suggestiewe voorstelle of dreigemente aan jou gemaak het.
  • As jy aan seksspeletjies met ʼn ouer persoon moes deelneem.

In kort kom dit daarop neer: as enige iemand ouer as jy, van dieselfde of teenoor-gestelde geslag, enige vorm van ʼn seksuele aard met jou beoefen het voordat jy 16 jaar oud was, of dit nou volle penetrasie was of blote betasting van dele waar jou onderklere moet wees, bo of onder jou klere, is die effek presies dieselfde: jy is seksueel gemolesteer. Of daar volle seksuele omgang plaasgevind het, jy selfs net bo jou klere betas is (waar onderklere sou wees) tot waar ʼn persoon hom slegs aan jou ontbloot het, sal jy presies dieselfde nagevolge, soos ek dit in die res van die dokument bespreek, ervaar.

2. Daar is hulp

Die gemolesteerde mag glo dat die res van hulle lewe vernietig is en dat hulle so gedoem is. Dit is gelukkig nie waar nie. Sielkundige behandeling kan jou baie help om deur dit te werk. Dit is ʼn baie gekompliseerde probleem wat vir jou moeilik, selfs onmoontlik lyk om te verwerk, maar dit is in werklikheid heel maklik. Veral hipnoterapie kan jou help om deur die gebeure te werk, om ʼn nuwe perspektief te verkry en om die lesse daaruit te leer, sodat dit selfs ʼn positiewe ervaring kan wees, vir jou om jou lewe voluit te lewe!

3. Gevolge van molestering

Elke kind is uniek; dus sal die gevolge van molestering van mens tot mens verskil. Tog is dit waarskynlik dat seksuele misbruik uiters ernstige sielkundige gevolge op die kort termyn en die lang termyn kan hê as die kind nie geskikte behandeling ontvang nie. Daar is vier hooffaktore wat die sielkundige uitwerking op seksueel misbruikte kinders verklaar:

  • Deur “traumatiese seksualisering” ontwikkel die kind wanopvattings oor seksuele gedrag. Seksualiteit kan geassosieer word met vrees, negatiewe emosies en herinneringe. Die kind mag voel dat die enigste manier om teerheid, liefde, aanvaarding en aandag te ontvang, deur seksuele gedrag is. Gevolglik toon die persoon óf oordrewe seksuele gedrag, óf vermy enige seksuele aktiwiteit. Volwassenes wat as kinders seksueel gemolesteer is, het dikwels verhoudings- en seksuele probleme.
  • Seksuele misbruik stigmatiseer die kind omdat die molesteerder die kind blameer, verkleineer en dwing om dit geheim te hou. As die misbruik op die lappe kom, kan ander mense ook die kind blameer. Gevolglik voel die kind skaam en skuldig en ontwikkel ʼn negatiewe beeld oor die self wat aanleiding gee tot probleme soos depressie, eetversteurings, vermyding van verhoudings en gedrag soos self-besering, middel misbruik of selfdood.
  • Die seksueel misbruikte kind ervaar verraad, dikwels juis deur die mense wat hom of haar eintlik moes beskerm het. Die aanvanklike verraad deur die molesteerder word dikwels bevestig en vererger deur verraad van ander volwassenes wat die kind blameer of weier om hom of haar te beskerm as die misbruik aan die lig kom. Hierdie verraad lei tot ʼn verlies aan vertroue in ander mense en gevoelens van hartseer, intense woede en moontlike wraakfantasieë. Sulke mense vind dit moeilik om ander mense in volwassenheid te vertrou.
  • Kinders wat seksueel gemolesteer word, voel ook erge magteloosheid omdat hulle dit nie kon voorkom of verhoed het nie. Die kind kan hierdie ervaring van magteloos-heid veralgemeen en ʼn gevoel ontwikkel dat hulle ʼn hulpelose slagoffer is, wat ook tot depressie en angs kan lei.

Volwassenes wat as kinders seksueel misbruik is, kan van die volgende probleme ervaar:

  • Ongewensde en onwillekeurige herinneringe aan die misbruik (in gedagtes, gevoelens, nagmerries of terugflitse);
  • Probleme met selfbeeld en selfrespek;
  • Sukkel om bevredigende en wedersydse vertrouensverhoudings te hê (is dikwels in disfunksionele of gewelddadige verhoudings waarin verdere mishandeling voorkom);
  • Voel dood en afgesny van ander;
  • Seksuele probleme;
  • Middelmisbruik;
  • Eetversteurings (obesiteit, anorexia of bulimia);
  • Depressie;

Slagoffers van seksuele molestering ly gewoonlik aan Posttraumatiese Stres-versteuring (PTSV). Gaan kyk gerus na my artikel oor PTSV op my webtuiste.

3.1   Skuldgevoelens

Daar is ʼn baie omstrede, dog waar stelling in die sielkunde oor molestering gemaak. Dit lui as volg: “Behalwe vir fisiese pyn en morele probleme, is molestasie andersins ʼn heel aangename ervaring.” As jy baie mooi daaroor dink, is hierdie stelling baie waar. Molestasie is seks en seks is lekker. Behalwe vir dolfyne, is die mens die enigste spesie wat seks geniet.  God het die mens so gemaak. Daar is fisiese genot, maar dis presies hier waar die probleme ontstaan. Daar mag fisiese seerkry betrokke by wees, maar die morele probleme maak dit erger as enige ander Posttraumatiese  stresversteuring (PTSV).

Molestasie mag ook positiewe assosiasies bring. Die molesteerder mag dinge sê soos:

  • “Dis ons geheim.”
  • “Ek doen dit omdat ek lief vir jou is.”
  • Die kind word oorlaai met geskenke of lekkergoed en hulle mag die molesteerder nie verraai nie.

Skuldgevoelens duik gedurig op in die verhale van gemolesteerdes. Dit kan so ʼn groot rol speel in die lewe van die mishandelde persoon dat hulle aan ʼn voortdurende skuldkompleks kan ly, veral in die geval waar hulle voel dat hulle tot die molestering bygedra het, nie genoeg gedoen het om dit te keer nie of dit selfs geniet het.

Skuldgevoelens gaan hand aan hand met ʼn negatiewe selfbeeld en allerlei maniere om te probeer vergoed vir dit wat die slagoffer verkeerd gedoen het. Die persone wat hom/haarself blameer, vra vrae soos:

  • “Waarom het ek dit nie gekeer nie?”
  • “Waarom ek? Wat is verkeerd met my dat dit met my gebeur het?”
  • “Het ek verdien om so behandel te word?”

Dikwels kompenseer die persoon deur altyd in te gee teenoor ander en mense probeer tevrede stel. Die gevolg is dat hulle deur mense misbruik word en hulle lewe lank ʼn slagoffer bly. Hulle het nie geleer om “nee” te sê nie en het nooit besef dat hulle eintlik survivors is nie. Hul skuldgevoelens versterk hierdie martelaarshouding en hulle kan kragteloos en magteloos voel en aanvaar dat dit hulle lot in die lewe is waaraan hulle niks kan verander nie.

Gemolesteerdes as volwassenes is dikwels geneig om die klein dogtertjie/ seuntjie wat hulle was, te blameer met die denke van ʼn volwassene. Die gemolesteerde moet in gedagte hou dat hy of sy maar ʼn kind was wat nie soveel beheer, kennis, ervaring en volwasse denke gehad het aswat hy of sy vandag het nie. Hoe kan ʼn kind “nee” sê vir ʼn volwassene? Volwassenes weet mos van beter. Die gemolesteerde, as kind, besef nie werklik wat met hom of haar gebeur nie. Iewers besef hy of sy dat dit verkeerd is, maar volwassenes kan mos nie verkeerd wees nie.

3.2   Skaamte en skande

Slagoffers van molestering sê dikwels die volgende:

  • “Ek voel so vuil, so misbruik. Ek weet nie hoe my man vir my lief kan wees nie.”
  • “Ek kan nie daarmee saamleef dat ek aan so iets kom deelneem nie.”
  • “Ek gril nou nog as ek daaraan dink.”

Skaamte en ʼn gevoel van skande gaan hand aan hand met skuldgevoelens. Dis baie diep in die onderbewussyn gesetel, waarvandaan dit die slagoffer se lewe kan beheer. Die probleem met skuldgevoelens is dat dit nie sonder meer deur logiese en rasionele argumente verkeerd bewys kan word nie. Jy mag “weet” dat dit onnodig is om so te voel, maar ondanks al jou pogings om jouself te oortuig, bly die gevoel steeds aan jou vreet. Die gevoel van skande, is een wat sê: “Ek is verkeerd”, “Ek is sleg”, “Ek is verrot”. Dis waar hipnose jou kan help, juis vanweë die feit dat ons hier met emosies eerder as met rasionele denke te make het.

3.3.   Lae selfbeeld

ʼn Lae selfbeeld kan ontwikkel uit die negatiewe boodskappe wat die molesteerder vir sy slagoffer gee en gevolglik die negatiewe boodskappe wat die slagoffer vir hulself gee. Dit kan verbaal of meer subtiel wees, maar dit is ʼn realiteit en bly onbewustelik vassteek. Dade van molestering is altyd afbrekend en vernederend en die boodskap wat die gemolesteerde ontvang, is dan:

  • “Ek is sleg.”
  • “Seks is al waarvoor ek goed is.”
  • “Ek verdien nie om ordentlik behandel te word nie.”
  • “Ek het nie die reg om “nee” te sê nie.”

Die slagoffer leef uiteindelik voort met hierdie negatiewe selfbeeld en dit spoel oor na elke aspek van hulle lewe totdat die mag wat die molesteerder oor hulle het, gebreek is.

ʼn Negatiewe selfbeeld volg logies uit die vorige en word gekenmerk deur gedagtes en uitsprake soos:

  • “Ek het nog altyd dom gevoel en het onderpresteer op skool.”
  • “Ek het nog altyd soos ʼn nikswerd gevoel, asof daar niks is wat ek goed kan doen nie.”
  • “Ek het nog nooit selfvertroue gehad nie, al het ek hard probeer om perfek te wees.”

Selfbeeld het ook te make met negatiewe, onverwerkte emosies uit ʼn persoon se kinderjare wat oor ʼn tydperk van jare vasgelê is en ʼn patroon gevorm het. Baie slagoffers van molestering ervaar gevoelens oor hulself wat op een of ander manier negatief is. Dit is inderdaad meestal ʼn gevoel eerder as logika. Hierdie mense voel lelik, nikswerd, swak, waardeloos, onaantreklik en onbekwaam, selfs al wys die feite die teendeel.

Hierdie patroon word gevoed deur herhaalde negatiewe gedagtes oor die persoon self, wat mettertyd ʼn gewoonte word en wat ook nie sommer deur argumente of ondersteunende woorde van vriende verander kan word nie. Dit is dikwels so diep ingeburger dat dit ʼn doelbewuste, besliste en voortgaande projek van die slagoffer self verg om hom/haar uit die patroon te kry.

 

Slagoffers van molestering toon hoofsaaklik twee tipes gedragspatrone:

  • Die eerste is die onderpresteerders wat van die begin af ʼn verloordershouding teenoor die lewe inneem, nie eens probeer nie, hulself afkraak en by voorbaat aanvaar dat hulle nie suksesvol kan wees nie.
  • Die ander tipe is die perfeksioniste wat hulself ten alle koste moet bewys in ʼn desperate poging om hulself staande te hou. Hulle idealiseer sukses en jaag dit na. “Om aanvaar te word, moet ek alles reg doen,” is die onbewustelike dryfveer vir hulle optrede. Hulle werk self deur dit en voel onwaardig as hulle dit nie bereik nie. Uiteindelik bevredig sukses hulle ook nie. Hoe harder hulle probeer om die minderwaardigheidsgevoelens weg te presteer, hoe meer ontwyk die bevrediging hulle.

3.4   Die verlies van die kinderjare

ʼn Mens se kinderjare is veronderstel om sorgvry te wees – die beste jare van jou lewe. Kinders het die reg om gelukkig te wees in die veilige atmosfeer van ʼn ouerhuis waar hulle teen die realiteite van die grootmenswêreld beskerm word. Die gemolesteerde kind se sorgvrye kinderjare word wreed versteur. Omdat hulle geleer het om herinneringe te onderdruk, word groot stukke van hulle kinderjare dikwels (soms genadiglik) “uitgewis”.

Daar is ʼn spreekwoord wat sê: “Om die baba saam met die badwater uit te gooi”. Dit beteken letterlik om van die goeie ook ontslae te raak, in ʼn poging om van die slegte ontslae te raak. Ek sien dit soveel keer dat ʼn kliënt vir my sê dat hulle ʼn sekere tydperk van hulle lewe glad nie kan onthou nie. Hulle onthou tye voor ʼn bepaalde periode en tye na dit, maar nie daardie spesifieke tydgleuf nie. Tog kry hulle sulke flitse van molestasie, maar skryf dit toe aan verbeelding. Hoe dit ookal sy: hulle het onbewustelik in ʼn poging om die negatiewe herinneringe te onderdruk, ook die positiewe herinneringe onderdruk – die baba saam met die badwater uitgegooi.

3.5   Ander verliese

  • Die verlies van ʼn gesonde selfbeeldontwikkeling. Elke kind het die behoefte om versorg te voel, spesiaal te wees, te voel hulle is goed en werd om liefgehê te word. Die gemolesteerde kind mis dikwels hierdie vertroeteling, veral as die moeder emosioneel afwesig was.
  • Die verlies van ʼn normale gesinsleweIn bloedskandige huise is die kind ʼn deel van ʼn sieklike familiesisteem waarvan hulle hulself nie kan losmaak nie.
  • Die verlies van gesonde identiteit.Met identiteit bedoel ek daardie iets wat van jou die spesiale persoon maak wat jy kies om te wees. Gemolesteerde kinders word dikwels gedwing om ʼn identiteit aan te neem wat ander op hulle afdwing, soos die redder of die slagoffer in die gesin.
  • Die verlies van jou onskuld.ʼn Gemolesteerde kind word op ʼn jong ouderdom aan die wrede werklikheid van ʼn genadelose wêreld blootgestel en die normale, kinderlike onskuld word hom/haar ontneem.
  • Die verlies van ʼn veilige hawe.Die kind wat in ʼn stabiele, ondersteunende huis opgegroei het, sien die wêreld as ʼn opwindende plek vol wonderlike nuwe dinge om te sien, te ontdek en te beleef. Die gemolesteerde kind het dikwels nie hierdie tipe veilige hawe waarna hulle kan terugkeer nie. Hulle word geïsoleer van diegene wat veronderstel is om hulle te beskerm. Hulle word gedwing om as ‘t ware onsigbaar te word en nie aandag op hulself te vestig nie. Die wêreld is ʼn gevaarlike plek waarin hulle moet oorleef.
  • Die effek van leuens.Die gemolesteerde kind het dikwels ʼn beperkte perspektief op die wêreld, wat die gevolg is daarvan dat hulle vals en verdraaide boodskappe oor baie basiese lewensfeite ontvang het – aspekte soos mag, kontrole, intimiteit, seks, liefde, vertroue, wat dit beteken om vrou te wees. Jy kan hierdie leuens vir jare lank, ja, selfs ʼn leeftyd, met jou saamdra sonder om tot by ʼn punt te kom waar jy vir jouself dink en jou eie besluite oor die lewe neem. Enkele voorbeelde van die vals en verdraaide boodskappe is die volgende:
    • “Al wat mans van ʼn vrou wil hê, is seks.”
    • “Mense is totaal onbetroubaar.”
    • “Wat is liefde? Daar is nie so iets nie.”
    • “’n Mens kan niks aan jou lot doen nie. Jy moet dit net aanvaar.”

3.7   Emosionele verwarring

Om hulself te beskerm, gaan slagoffers tydens molestering in ʼn toestand van dissosiasie, wat beteken dat hulle “uitsny” en die gebeure as onwerklik beleef, asof dit met iemand anders gebeur, asof hulle bloot toeskouers is. In baie gevalle het hulle “vergeet” dat dit gebeur het, maar kry terugflitse elke nou en dan. In baie gevalle word dit ʼn patroon, sodat die gemolesteerde kind mettertyd uit voeling raak met hulle eie gevoelens. Sy/haar emosionele belewenis word so deurmekaargekrap dat hulle nie meer presies weet wat hulle voel nie en dus emosioneel verward raak. Hulle ignoreer dikwels hulle gevoelens en kan slegs met moeite daaroor praat. In sommige gevalle word ʼn patroon van “afstomping” vasgelê.

ʼn Gemolesteerde kind kan ʼn wantroue ontwikkel teen enige tipe gevoelens, omdat dit so dikwels met pyn geassosieer word dat hulle leer om nie net pynlike gevoelens nie, maar baie ander gevoelens ook dood te druk (die baba saam met die badwater uitgooi). Gevoelens is immers gevaarlik. Die gevolg is dat die kinders dikwels hulle spontaneïteit verloor en wegkruip agter ʼn masker van gereserveerdheid. Gevoelens kan ook op die agtergrond geskuif word deur die misbruik van alkohol en middels, ooreet of oormatige betrokkenheid by aktiwiteite soos sport, werk en studies – enigiets om die aandag weg te lei van die pynlike emosies.

Emosionele verwarring is ook ʼn direkte gevolg van molestering. Dit beteken die gemolesteerde tree dikwels as kind en as volwassene emosioneel ontoepaslik op. Hulle lag as hulle veronderstel is om hartseer te wees, word kwaad oor dinge wat eintlik as snaaks of minder ernstig opgeneem moet word, kry woedebuie, is onvoorspelbaar en hul emosies wissel gedurig. Sommiges sny hul gevoelens uit, of blokkeer dit en trek terug in hul dop.

 

Dit is nie maklik om presies te beskryf wat hierdie emosionele verwarring behels nie, maar hier volg ʼn paar voorbeelde:

  • “Ek het altyd my gevoelens geïgnoreer, asof dit apart van my was en nie ekself nie.”
  • “My gevoelens as kind is verraai. Ek het skuldig gevoel, maar dan het die molesteerder gesê almal doen dit. Ek was kwaad, maar kon dit nie wys nie. Ek was bang, maar hy het gesê daar is niks om voor bang te wees nie. Wat hy met my gedoen het, was sleg maar hy het my probeer oortuig dat ander meisies dit geniet.”
  • “Hy het gesê hy doen dit omdat hy lief is vir my, maar is dit wat liefde beteken? Geen wonder ek weet nie wat ek veronderstel is om te voel nie.”

Omdat die slagoffer as volwassene steeds die slagoffer is, kan hulle probleme ondervind om woede toepaslik uit te druk in situasies waar dit geregverdig is. Party gemolesteerde mense reageer deur hulle woede so te onderdruk dat hulle dit nie as woede herken nie. Dit gebeur so baie dat so iemand vir my sê dat hulle dit verwerk het en dat dit hulle nie meer pla nie, dat hulle verstaan dat die molesteerder ʼn probleem het. Maar as daar dan dieper in die emosies ingegaan word, is die gemolesteerde verras deur hoe intens die emosies werklik is.  Ander reageer weer tipies ontoepaslik soos ʼn kind deur irrasioneel op te tree, woedebuie te kry, goed rond te gooi, ensovoorts. Die gemolesteerde se “ontmagtiging” veroorsaak dat hulle nie woede vanuit ʼn magsposisie as ʼn volwasse persoon met selfvertroue kan beleef nie.

Gemolesteerdes met emosionele probleme beleef dikwels “rou emosie”. Dit is emosionele uiterstes sonder al die fyn nuanses van gevoelens tussenin. Hulle fikseer op sekere emosies soos aggressie, hartseer of selfs gevoelloosheid en beleef nie die hele spektrum van menslike gevoelens nie.

3.8   Intimiteit

Die seksuele- en intimiteitslewe van die gemolesteerde word veral erg negatief geraak. Seksuele verwarring kan ontstaan. Molestasie is seks in ʼn sin van die woord en die kind kry ʼn totale wanindruk van seks en wat dit werklik verteenwoordig. Seks word verwar met liefde en in die soeke na liefde, wat elke mens maar soek, tree seks in en word hulle herhaaldelik misbruik, tot in volwas-senheid. Dit versterk sekere persepsies soos dat hulle nie goed genoeg is nie, verwerp word, net goed is vir seks, ens.

Dit wil voorkom asof een of meer van die volgende verskynsels by die gemole-steerde in volwassenheid voorkom.

  • Permissiwiteit. Dis asof die gemolesteerde “maklik” is en erg “rondslaap”. Dis natuurlik in die soeke na liefde, net om daarna te besef dat hulle maar net weer misbruik word, met die gebruiklike nagevolge. Permissiwiteit is soms ʼn fase waardeur die gemolesteerde gaan en word baie keer opgevolg deur die volgende punt:
  • Seksuele koudheid. Dit gebeur soms later, veral in die gemolesteerde se huwelikslewe. Sommige vroue verloor totaal belangstelling in seks as gevolg van die negatiewe assosiasies wat daarmee saamgaan. Ander begin vasgedruk en angstig raak en is bang vir seks of gril daarvoor. Dit is weer eens omdat al hierdie negatiewe assosiasies – waarvan hulle soms nie bewus van is nie – in die onderbewuste manifesteer.

3.9   Eetversteurings

Die gemolesteerde beleef in volwassenheid dikwels sekere eetstoornisse.

  • Obesiteit. Die meeste gemolesteerdes ervaar ʼn probleem met oorgewig. Hulle ervaar dit meestal rondom die areas van hulle maag en heupe. Dis asof hulle hierdie area van seerkry wil wegsteek, wil toemaak onder vet. Bewustelik wil hulle gewig verloor, maar onbewustelik maak die gewig hulle onaantreklik vir mans, want dit verhoed verdere misbruik.
  • Anorexia en bulimia. Anorexia en bulimia nervosa kom ook redelik algemeen by gemolesteerdes voor. Dit is asof hulle so maer wil wees – as’t ware wil wegkruip, om nie raak gesien te word nie.

4. Simptome van molestering

4.1   Selfbeeld

  • Voel jy soos ʼn slagoffer wat nie in beheer van jou lewe is nie?
  • Voel jy sleg of vuil? Haat jy jouself?
  • Voel dit vir jou asof jy ʼn mislukking is?
  • Vind jy dit moeilik om jouself te handhaaf en te verdedig?
  • Is jy uitermatig bang vir verwerping?
  • Voel jy minderwaardig?
  • Het jy ʼn gebrek aan selfvertroue?
  • Probeer jy “perfek” wees?
  • Is jy oormatig fyngevoelig?

4.2   Intimiteit

  • Vind jy dit moeilik om mense te vertrou?
  • Het jy moeite om mense naby jou toe te laat?
  • Kan jy ʼn gesonde verhouding aanknoop en volhou?
  • Het jy intieme vriende?
  • Is dit moeilik om ander te vertroetel of vertroetel te word?
  • Hou jy mense op ʼn afstand?
  • Is jy liefdevol of het jy moeite om liefde te wys?
  • Voel jy eensaam en vervreem van mense?
  • Word jy deur mense misbruik?

4.3   Seksualiteit

  • Het jy op ʼn vroeë ouderdom ʼn oordrewe belangstelling in seks getoon?
  • Voel jy ongemaklik as jy op sekere maniere aangeraak word?
  • Het jy moeite om ʼn orgasme tydens seks te ervaar?
  • Het jy ʼn geskiedenis van promiskuïteit tydens enige fase van jou lewe?
  • Vermy jy seks?
  • Word jy deur seksmaats gebruik?
  • Sien jy seks as lelik, vuil en sleg?
  • Ervaar jy terugflitse van molestering tydens seks?
  • Is jy ongemaklik met jou seksuele oriëntasie?

4.4   Ouerskap

  • Mishandel jy jou eie kinders?
  • Is dit moeilik om jou kinders te bereik en hulle naby jou toe te laat?
  • Is jy oorbeskermend?
  • Doen jy dieselfde met jou kinders as wat jou ouers met jou gedoen het?

Hierdie lys is nie volledig nie en nie alle gemolesteerde persone ervaar al die simptome nie. Merk die areas wat jy meen van toepassing op jouself is.

4.5   Jou liggaam

  • Verwaarloos jy jouself?
  • Is jy oorgewig?
  • Het jy ʼn ander eetversteuring soos anorexia of bulimia?
  • Voel jy jou liggaam is net iets wat jy ronddra?
  • Beseer jy jouself?
  • Het jy ʼn irrasionele vrees vir ʼn besoek aan ʼn ginekoloog?

4.6   Gevoelens

  • Was daar tye in jou lewe dat jy ernstige selfmoord gedagtes gehad het?
  • Identifiseer jy met mense op TV wat gemolesteer is en voel jy om saam met hulle te huil?
  • Voel alles soms vir jou onwerklik?
  • Ervaar jy soms aggressiewe en gewelddadige emosies?
  • Is daar tydperke uit jou kinderjare wat jy glad nie kan onthou nie?
  • Is dit vir jou moeilik om jou gevoelens spontaan te wys?
  • Beleef jy die hele spektrum van gevoelens of onderdruk jy sommige emosies?
  • Is jy uit voeling met jou emosies?
  • Voel jy dikwels verward?
  • Voel jy emosioneel onstabiel?
  • Voel jy dikwels gespanne of depressief?
  • Is dit moeilik om jou gevoelens te beheer?

4.7   Slaap

  • Kry jy dikwels nagmerries?
  • Het jy ʼn probleem om aan die slaap te raak?
  • Het jy soms die gevoel dat daar iemand by jou in die kamer is?
  • Ervaar jy herhaalde drome oor seksuele onderwerpe?
  • Word jy dikwels dieselfde tyd van die nag wakker met angs?

4.8   Kompulsies en obsessies

  • Het jy engtevrees, veral as jy ʼn kelder of ondergrondse verdieping moet ingaan?
  • Is daar sekere voorwerpe wat vir jou ʼn eienaardige aantrekkingskrag het?
  • Is jy bang om alleen by die huis gelaat te word?
  • Het jy ʼn eetversteuring – te min of te veel eet?
  • Het jy ʼn neiging om jouself seer te maak?
  • Het jy die neiging om alkohol of middels te misbruik?

Hierdie vraelys wys net op die primêre areas in jou lewe waar die gevolge van molestering in jou volwasse lewe tot uitdrukking kan kom. Dit gee ʼn idee van hoe omvangryk die gevolge kan wees.

5. Hanteringsmeganismes

As jy as kind gemolesteer is en dit oorleef het, wys dit dat jy waarskynlik sedert jou kinderjare maniere gevind het om jouself te beskerm teen die pyn en herinnering van molestering.

Hierdie metodes noem ons verdedigingsmeganismes.

Verdedigingsmeganismes is nie sonder meer verkeerd nie. As kind was dit vir die slagoffer van molestering noodsaaklik, want dit het hulle laat oorleef, die lewe draaglik gemaak en hulle in staat gestel om met die lewe voort te gaan. So iemand kan daarom gerus met deernis en respek terugkyk na hoe hulle as kind daarin geslaag het om steeds te funksioneer.

As volwassenes is gemolesteerdes geneig om dié metodes van hul kinderjare voort te sit en word dit maklik deel van hulself. Ongelukkig werk dit in die volwasse jare nie meer vir die persoon nie, maar teen hulle.

Dit bly die essensie van ʼn mens se emosionele probleme. Waar dit jou as kind beskerm het teen oorweldigende pyn, veroorsaak dit as volwassene steeds vir jou pyn. Genesing behels dus dat jy hierdie verdedigingsmeganismes moet herken en dit vervang met meer funksionele, gesonde hanteringsmetodes.

Verdedigingsmeganismes is per definisie skadelik en kan tot baie emosionele, selfs mediese probleme lei.

Veronderstel jy het as kind gedurende die molesteringsdaad gedissosieer, met ander woorde jy het jou gevoelens afgeskakel, jou liggaam “verlaat” en dit beleef asof dit nie met jou gebeur nie. Op hierdie manier het jy jouself gevoelloos gemaak sodat jy jouself kan beskerm teen pyn. Dit kan gebeur dat jy as grootmens vashaak by hierdie verdedigingsmeganisme en ook dissosieer, byvoorbeeld wanneer jy gemeenskap het met ʼn minnaar. Die gevolg is dat jy dit nie met jou totale psige en liggaam beleef nie, dit nie geniet nie en seksueel onbevredig gelaat word. Die verdedigingsmeganisme werk dus nie meer tot jou voordeel nie, maar tot jou nadeel. Onthou, ʼn verdedigingsmeganisme is nie ʼn bewuste daad wat onder jou willekeurige beheer is nie. Dit is iets wat vanuit die onderbewuste geaktiveer word. Jy is heel waarskynlik nie eens bewus daarvan nie. Al wat jy weet, is dat jy nie seks geniet nie, miskien pyn of psigiese ongemak ervaar en jouself nie totaal kan oorgee aan seksuele plesier nie.

Die volgende verdedigingsmeganismes is aan ons bekend in die sielkunde:

5.1   Repressering

Repressering oftewel onderdrukking is die algemeenste verdedigingsmega-nisme. Dit behels dat pynlike ervarings vanaf die bewuste na die onderbewuste gekanaliseer word waar dit minder of geen pyn veroorsaak nie. Ongelukkig vergeet die menslike brein nie so maklik nie. Alle data word gestoor, net soos in die geheue van ʼn rekenaar. Diep in die onderbewuste lê al die emosies rondom die gebeure sluimerend, van waar dit jou lewe kan reguleer sonder dat jy dit besef.

Die groot gevaar van repressering is dat jy nie bewustelike toegang tot herinneringe en emosies wat in die onderbewuste gestoor word het nie. Die gevolg is dat jy die slagoffer word van kragte wat buite jou bewuste beheer is, dat aspekte van jou lewe gereguleer word deur ʼn onsigbare dinamika.

  • Jy vrees dinge en jy weet nie waarom nie.
  • Jy kry woede-uitbarstings vir die kleinste dingetjies.
  • Jy ervaar vaginale krampe en pyn tydens seksuele gemeenskap.
  • Jy raak beangs wanneer mense jou aanraak.

Repressering kan op twee vlakke plaasvind:

  • In sy ekstreme vorm onderdruk die persoon alle herinneringe oor wat gebeur het en het hulle dus werklik geheueverlies en onthou niks van wat gebeur het nie.
  • Die ander vorm is dat hulle wel kan onthou wat gebeur het, maar hulle represseer die emosies waarmee dit gepaard gegaan het. Hulle kan dus op ʼn meganiese, byna gevoellose manier oor die molestering praat en die feite ophaal asof hulle ʼn verslaggewer is wat ʼn berig daaroor moet skryf. Die effek is gewoonlik dat hulle nie werklik in kontak is met hulle gevoelens nie. Dat hulle emosioneel verward of afgestomp kan wees en tye van depressie kan ervaar.

5.2   Minimalisering

Omdat molestering so ʼn algemene verskynsel is, word dit maklik afgemaak as niks besonders nie. Iets wat met baie mense gebeur het en dat jou geval niks spesiaals is nie.

Minimalisering dui op ʼn meganisme waar jy die impak van die gebeure afmaak as een van die volgende:

  • “Dis tog nie so erg nie.”
  • “Ek het dit lankal verwerk.”
  • “Sulke dinge gebeur mos maar.”
  • “Hy het maar net ʼn bietjie aan my gevat.”
  • “Ag, dit het lank gelede gebeur. Ek moet nou daarvan vergeet.”

Minimalisering is ʼn bewuste daad van ontkenning. Jy erken dat die molestering plaasgevind het, maar ontken die effek wat dit op jou gehad het of steeds het. Familie en moeders reageer dikwels met minimalisering wanneer hulle van die molestering te hore kom. Selfs professionele persone neem jou ontboeseming dikwels nie ernstig op nie, maak dit af of reageer bloot nie daarop nie. Tog is alle vorme van molestering negatief en moet ernstig opgeneem word.

5.3   Rasionalisering

Rasionalisering beteken dat jy “redelike” en “logiese” verklarings vir gebeure uitdink en byna teoreties daaroor praat asof jy ʼn gevallestudie is wat ontleed moet word.

  • “Hy kon dit nie verhelp nie; hy was dronk.”
  • “Hy het moeilike kinderjare gehad.”
  • “Hy kon dit nie verhelp het nie, want hy is self gemolesteer.”

Ek sê nie dat dit verkeerd is om logiese en rasionele denke te gebruik om die gebeure in ʼn realistiese raamwerk te plaas en te verklaar nie. Dit is egter wel skadelik as dit daartoe lei dat jy jou gevoelens onderdruk en ignoreer. Die mens leef nie net met die gedeelte bokant hulle skouers nie; daar is ook ʼn hart en siel wat in ag geneem moet word.

 

5.4   Ontkenning

Ontkenning beteken dat jy jouself oortuig dat so iets nooit met jou kon gebeur het nie. Soos die volstruis steek jy jou kop in die grond en maak of die werklikheid nie bestaan nie. Jy kan ook “vergeet” dat dit gebeur het. Die herin-neringe word bloot onder die mat ingevee.

  • “Dit het nie met my gebeur nie”
  • “Dit het geen effek op my nie”

5.5   Dissosiasie

Dissosiasie vind plaas wanneer ʼn persoon blootgestel word aan ʼn ondraaglike situasie waaruit hulle nie kan ontsnap nie. As hulle nie die emosie en pyn kan hanteer nie, tree ʼn verdedigingsmeganisme in werking. Dan dissosieer hulle deur af te sluit, te blokkeer en hom/haarself te isoleer teen pyn. Dissosiasie werk op dieselfde manier as repressering en ons gebruik hierdie twee terme byna as sinonieme.

Slagoffers van mishandeling kan geheueverlies ontwikkel vir groot gedeeltes van hulle kinderjare.

  • “Ek het gelê en na die kersboom se liggies gekyk toe hy my gemolesteer het”
  • “Ek kan niks tussen die ouderdomme van 6 en 8 onthou nie”

ʼn Mens kan algehele geheueverlies hê en beide die gebeure en die emosies wat daarmee gepaard gaan, vergeet, of jy kan wel die gebeure onthou, maar die emosies vergeet.

Ongelukkig vergeet die brein nie werklik nie, maar stoor die gebeure in die onderbewussyn. Hierdie gerepresseerde inhoud en emosies begin dikwels jare later terugkeer in die vorm van terugflitse. In terapie kom hierdie herinneringe gewoonlik terug en vir ʼn tyd lank kan die kliënt selfs erger voel.

5.6    Veelvuldige persoonlikheid

Veelvuldige persoonlikhede is die mees ekstreme vorm van verdediging wat die psige kan gebruik om ʼn persoon te beskerm en seker ook die fassinerendste verskynsel in die wêreld van die sielkunde. Dit is voorheen as baie raar beskou en is byna uitsluitlik gevind by volwassenes wat as klein kinders erg mishandel en gemolesteer is.

The Three Faces of Eve en Sybel was populêre boeke (ook verwerk tot rolprente) oor dié verskynsel wat die verbeelding van mense aangegryp het.

Hierdie verskynsel is egter baie raar en gebeur slegs in ekstreme gevalle.

6. Posttraumatiese stresversteuring

Daar is ʼn sterk ooreenkoms tussen die vertraagde stresrespons van slagoffers van molestering en Posttraumatiese  stresversteuring (PTSV). PTSV is nie ʼn geestessiekte nie. Dit beskryf eerder ʼn verskeidenheid van emosionele reaksies wat veroorsaak word deur blootstelling aan traumatiese gebeure soos oorlog, natuur-rampe, motorongelukke, verkragting en seksuele molestering. PTSV het baie aandag gekry in Amerika toe veterane van die oorlog in Viëtnam lank na hulle terugkeer steeds erge stresreaksies getoon het en terugflitse en nagmerries van die oorlog gehad het.

7. Terugflitse

Terugflitse of “flashbacks” is herinneringe oor die molestering wat vanuit die onder-bewuste deurbreek. Dit is dikwels vaag en onduidelik aan die begin van die terapeutiese proses, maar word gewoonlik duideliker namate die proses vorder. Die proses word dikwels gekataliseer deur gebeure in jou lewe:

  • Insidente soortgelyk aan die oorspronklike gebeure en wat jou daaraan herinner, soos die ontdekking dat ʼn familielid gemolesteer word.
  • Die dood van die molesteerder.
  • Swangerskap en die geboorte van ʼn kind.
  • ʼn Kind wat die ouderdom bereik waarop jy gemolesteer is.
  • Beëindiging van ʼn verslawing, byvoorbeeld aan kos, alkohol of pille.
  • Konfrontasie met die molesteerder.
  • TV- of radioprogramme oor seksuele molestering.
  • Sekuriteit, byvoorbeeld die veiligheid van ʼn huwelik, wat die slagoffer se verde-digingsmeganismes laat verslap.

Enige insident kan die sneller wees wat inhoude uit die onderbewussyn te voorskyn laat kom, maar hierdie lys beskryf dié wat die meeste voorkom.

8. Molestering en gerepresseerde geheue-sindroom

Gerepresseerde geheue-sindroom is ʼn ander term wat gebruik word om die tweede kenmerk van PSTV, naamlik geheueverlies, te beskryf. Die meeste gemolesteerdes ondervind ʼn mate van geheueverlies oor wat met hulle gebeur het. ʼn Vrou onthou dalk hoe ʼn insident begin het, maar vergeet hoe dit geëindig het omdat dit so pynlik is. Die pyn is daarin geleë dat molestering dikwels eindig wanneer die molesteerder ejakuleer en die vernederende manier waarop die slagoffer agterna behandel word, soos om haar te ignoreer, te maak of niks gebeur het nie, uit die kamer te stap, dreigemente te maak of haar toe te snou dat sy sleg is.

By gerepresseerde geheue-sindroom vind ʼn mens veral die volgende belangrike kenmerke:

  • Vrese en vermyding van sekere dinge en voorwerpe, wat as irrasioneel bestempel kan word; asook ʼn fassinering met sekere dinge waarvoor daar nie ʼn verklaring gevind kan word nie.
  • Terugflitse: Hierdie sindroom word ook gekenmerk deur drome, terugflitse of liggaamlike sensasies wat direk of in verbloemde vorm met molestering te make het. Hierdie beelde of “blibs” verskyn wanneer die persoon wakker is en kan enige tyd van die dag en op enige plek deur die gedagtes flits.
  • Tekens van dissosiasie: Kinders dissosieer tydens molestering. Later kan dit so deel word van hulle daaglikse lewe dat hulle permanente gevoelens van onwerklikheid, gevoelloosheid en doodsheid ervaar.
  • Tydsverlies of geheueverlies: Daar is gapings in die gemolesteerde se herinneringe en hulle kan byvoorbeeld nie die tydperk tussen agt en tien jaar onthou nie. Hulle kan ook sekere mense vergeet wat tydens die molesteringstydperk by sy/haar lewe betrokke was (gewoonlik die molesteerder).

9. Waarom het jy stil gebly?

Seksuele teistering floreer in ʼn samelewing waar stilte en ontkenning heers. Ons besef almal dat dit gestop moet word, maar vroue vind dit baie moeilik om te praat. Ek het die volgende al male sonder tal by slagoffers gehoor: “Wat ek jou nou gaan vertel, is die moeilikste ding in my lewe. Jy is die eerste persoon vir wie ek dit vertel. Selfs my man weet nie hiervan nie.”

Die vraag is: waarom is dit so moeilik om te vertel? Jy was tog onskuldig. Juis die feit dat jy dit so moeilik vind om te praat, wys hoe diep dit sny en hoe groot die effek op jou lewe was. Dit hang saam met die ander vraag wat altyd gevra word wanneer iemand uiteindelik met die storie uitkom: “Waarom het jy nie jou ma destyds vertel nie?”

As ʼn mens eers die dinamika van molestering verstaan, verstaan jy heeltemal waarom die kind nie vir haar ma van die molestering vertel nie.

As kind bly jy stil vir enige of al die volgende redes:

9.1    Jy is deur die molesteerder afgedreig

ʼn Algemene truuk wat molesteerders gebruik om ʼn slagoffer tot stilswye te dwing, is om dit by haar in te prent dat dit hulle fout is.

“Verbeel jou! My ma sal vir my kwaad wees – asof dit my skuld was! En ek was onskuldig en naïef genoeg om dit te glo! Vandag kyk ek met verontwaardiging daarna terug en ek moet myself gereeld daaraan herinner dat ek net ʼn kind was. Ek het hom geglo, want ons glo grootmense mos!”

Daar is talle maniere waarop die molesteerder die kind afdreig:

  • “Ek sal jou in ʼn gestig laat opsluit.”
  • “Ek sal jou ma vertel wat jy gedoen het.”
  • “Niemand sal jou tog glo nie.”
  • “Jou ma gaan baie kwaad wees en jou na ʼn kosskool stuur.”
  • “Jou pa sal jou doodslaan.”
  • “Dis jou skuld.”

Hierdie dreigemente plaas die kind in ʼn onmoontlike posisie. Hulle weet nie of die molesteerder se dreigemente die waarheid is nie. Kinders is oop vir suggestie en het nie die oordeelsvermoë om so ʼn dreigement rasioneel te beoordeel nie. Terselfdertyd kan hulle ook nie uitvind of dit waar is nie, want om dit te doen, moet hulle vertel. Kan jy hulle dilemma insien? Die gevolg is dat hulle gedwing word om die molesteerder se dreigemente te glo en stil te bly. Kan jy jou voorstel watter enorme konflik dit in die gemoed van ʼn kind veroorsaak?

9.2  Jy is te bang of te skaam om te vertel

Omdat die molesteerder jou skuldig laat voel, is jy te skaam om vir iemand te vertel. Jy weet nie wat jou ma se reaksie gaan wees nie. Gaan sy kwaad wees?, wonder jy. Sal sy dink ek is ʼn slegte kind? Is dit nie miskien tog maar my skuld nie? Het ek nie iets verkeerd gedoen nie?

Molesteerders gebruik hul vermoë om die jong kind te manipuleer en te laat glo dat dit hulle is wat iets verkeerds gedoen het om hulle so tot stilswye te dwing.

9.3   Jy is omgekoop

In baie gevalle is dreigemente minder prominent, maar word die kind omgekoop met lekkers, geskenke en beloftes. Die molesteerder speel op hulle gevoel en manipuleer sy/haar deur hulle te verseker dat sy optrede nie verkeerd is nie en dat dit die manier is waarop mense met mekaar speel. Of hulle laat hulle omkoop om nie te vertel nie omdat hulle bang is hulle verloor die toegeneentheid van die ouer persoon as hulle nee sê (in gevalle waar hulle lief is vir die molesteerder) of hulle mag skuldig voel aangesien die molesteerder so ʼn goeie mens is en vir hulle soveel geskenke gee. Hierdie tipe molestering veroorsaak dikwels erge skuldgevoelens in die volwasse jare.

9.4    Jy was bang vir die gevolge vir die gesin

ʼn Kind is veral in ʼn dilemma as die pa die molesteerder is. Die gesin is afhanklik van hom as broodwinner en hy kan hierdie posisie misbruik.

  • “As jy vertel, gaan ek tronk toe. Wie gaan dan vir julle sorg? Julle sal almal weeshuis toe gaan.”
  • “As Ma uitvind, sal sy my skei en dan breek jy die familie op.”
  • “Wat sal die mense sê?”

Weer word die blaam en die verantwoordelikheid op die kind geplaas.

  • As hulle vertel, gaan hulle ouers skei.
  • As hulle vertel, gaan hulle honger ly.
  • As hulle vertel, gaan die familie vir hulle kwaad wees.
  • As hulle vertel, gaan die gesin uitmekaar gedryf word.

Hierdie tipe manipulasie is uiters gemeen en die kind het geen verweer daarteen nie. Hulle word dus gedwing om die molestering toe te laat. Dit is ʼn verskriklike las om te dra wanneer jy weet dat die gesin se welsyn afhang van jou stilswye.

9.5    Jy het probeer vertel, maar niemand het jou geglo nie

Moeders se natuurlike reaksie wanneer hulle verneem van molestasie is skok en ontkenning.

  • “Dit kan nie waar wees nie.”
  • “Hulle suig die stories uit hulle duim.”
  • “Hulle het ʼn ooraktiewe verbeelding.”
  • “Dit is al die TV-programme en video’s wat die kinders deesdae kyk.”

Neem in ag dat daar in die verlede ʼn baie sterk taboe was oor enigiets wat met seks te make het. Die woord “bloedskande” het so ʼn verskrikking ingehou dat dit byna nie in geselskap genoem is nie. As kind was jy moontlik nie so ingelig soos die jeug van vandag nie. Hierdie probleem het eers onlangs, veral in die laaste tien of so jaar, onder die soeklig gekom en het die media die publiek daaroor ingelig. In ons land het die Suid-Afrikaanse Polisiediens eers onlangs ʼn spesiale kindereenheid gestig om ondersoeke van hierdie aard te hanteer.

ʼn Mens hoor dikwels dat kinders wel vertel het dat hulle gemolesteer is, maar nie geglo is nie. Dit versterk verder hulle gevoel van magteloosheid, die gevoel dat hulle uitgelewer is aan ʼn situasie waaraan hulle niks kan doen nie. Verder is dit ook so dat baie moeders dit óf vermoed, óf wel bewus is van wat aangaan, maar dit stilswyend toelaat.

Ons het vroeër in die dokument verdedigingsmeganismes bespreek. Dit mag gebeur dat die ma a.g.v. haar eie skok, in ontkenning gaan.

10. Verstaan die molesteerder

Ek wil nie voorgee dat sommige molesteerders nie wel erg versteurde persoonlikhede het nie. Daar is molesteerders in alle sosiale stande, rasse en elke opvoedkundige status. Die publiek dink dikwels molesteerders is ernstig versteurde mense wat nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie – alkoholiste, versteurde persoonlikhede, gevoellose, despotiese, rigiede, kinderagtige en onvolwasse mense. Baie mole-steerders is wel so, maar dit is nie noodwendig altyd die geval nie.

Hoewel ons geen prototipe van die molesteerder kan herken nie, wys die literatuur tog op sekere karaktertrekke en kenmerke wat dikwels voorkom, veral by diegene wat betrokke is by langdurige, meer ernstige en herhaalde molestering. Hierdie eienskappe kom dus voor by mense wat as pedofiele bekend staan en by vaders wat in bloedskandige verhoudings betrokke is.

By hierdie tipe molesteerder is daar dus beslis sprake van ʼn persoonlikheids-versteuring of karakterversteuring. Die slegte nuus is dat iemand wat aan ʼn persoonlikheidsversteuring ly, per definisie ʼn swak prognose het en selde werklik verander. Die beste wat met hulle bereik kan word, is dat hulle ophou met hulle molesteringsgedrag. Van ʼn permanente persoonlikheidsverandering is daar nie werklik sprake nie.

Sommige molesteerders is despoties, regeer hulle huise met ʼn ysterhand, domineer hulle vrouens, kan as outoritêr en streng beskryf word en is ingestel op dissipline. Molestering van ʼn dogter kan dan beskou word as ʼn uitvloeisel van hierdie behoefte om te heers, te domineer en te regeer. Die dogter is sy besitting op wie hy sy stempel kan afdruk.

Ander molesteerders is ontoereikend, passief en het nie die vermoë om hulself te handhaaf nie. Hulle voel minderwaardig teenoor ander mense en het min mag by die werk. Dit is verbasend hoe dikwels hierdie eienskappe by molesteerders aangetref word. Die man voel minderwaardig by die werk en by die huis en wend hom dan na ʼn kind om te probeer opmaak vir sy magteloosheid. Soos verkragting, is molestering dikwels eerder ʼn daad van aggressie as die vervulling van seksuele behoeftes. Die molesteerder is dikwels nie gedepriveer op seksuele gebied nie en kan ʼn normale seksuele verhouding met ʼn vrou hê.

Molesteerders rasionaliseer gewoonlik hulle dade en kla dat hul vrouens koud is, dat hulle huwelike ongelukkig is, dat die kind uitlokkend en verleidelik is, dat dit “net ʼn speletjie” was, dat hy finansiële stres gehad het, sy vrou vir ʼn lang tyd siek was, dat alkohol die skuld moet kry en eindelose ander verskonings. Dit is altyd iets buite die molesteerder self, iets in sy omstandighede wat die oorsaak van sy optrede is. Hulle aanvaar selde verantwoordelikheid vir hulle dade.

Meeste molesteerders:

  • Is self gemolesteer as kind.
  • Hang rond in plekke waar kinders bymekaar kom.
  • Kan nie ʼn normale verhouding met ʼn vrou hê nie en wend hom na kinders wat nie nee kan sê nie.
  • Raak betrokke by enkel-vroue met kinders.
  • Is onseker van homself.
  • Erken nie dat daar iets verkeerd met hulle is nie.
  • Het misluk in beroeps- of sosiale funksionering.
  • Is ontoereikend in seksuele funksionering. Ek het nog nooit enige sukses met ʼn molesteerder gehad nie. Die molesteerders waarmee ek gewerk het het geen intensie om te verander nie. Hulle selfinsig is net te beperk.

Naskrif

Ek het in hierdie dokument baie sterk staatgemaak op:

  • My eie kennis en ervaring.
  • Die Boek: Praat daaroor deur Nico Roos. Indien jy meer wil weet oor molestering, is dit beslis die moeite werd om dit aan te skaf. Dis beskikbaar by enige toonaangewende boekhandelaar.
  • “Dis ek, Anna” is ʼn ander boek waarop ek staatgemaak het, deur Elbe Lotter. In hierdie boek beskryf sy haar eie verhaal. Dis ontstellend, maar die moeite werd om te lees. Te koop by enige toonaangewende boekhandelaar.