© Jorgan Harris

In breathing, there are two blessings drawing breath,
releasing it again,
the one pressurises us,

the other refreshes us,
so wonderfully mixed is life – Goethe

1. Inleidend

Spiritualiteit, soos hipnose, het alles te make met asemhaling.
diep asem te haal, sal jy soveel meer in kontak met jou spiritualiteit kom en instaat wees om asem te haal soos wat jy moet, soos ‘n baba, soos wat dit bedoel was om te wees toe God sy Asem in die mens en jou ingeblaas het.

2. Diep asemhaling

Wanneer jy diep asem haal, neem jy suurstof in en asem koolstof-monoksied en ander besoedelde stowwe uit. Wanneer jy vlak asem haal, blaas jy nie die negatiewe goed genoeg uit nie en dit kan jou vaak en sleg laat voel. Dit is wel bekend dat asemhaling jou fisiese sowel as emosionele gesondheid verhoog. Asemhaling is ook die kern van hipnose. Asemhaling laat jou liggaam meer effektief werk, dit verbeter jou postuur en gevolglik ook jou self-esteem, verminder stres, verhoog spysvertering en verhoog jou energie-vlakke. Dit laat jou gesonder en gelukkiger voel.

3. Genesing is in asemhaling

Jy kan jou asemhaling gebruik om genesing na areas van jou liggaam wat pyn ervaar, of dit nou fisies of psigies is, te stuur. Maar jy kan “in die pyn in” asem haal om jou pyn, fisies of emosioneel te verlig. Asemhaling verlig weerstand, spanning en die intensiteit van pyn. Asemhaling help om fisiese pyn te skei van jou emosionele spanning. Stel jouself dus voor asof jy deur jou vingerpunte inasem. Jy trek die lug deur jou hande, arms, bors en abdomen tot diep in jou maag. Met elke teug wat jy uitasem, asem jy uit jou maag uit, tot in jou pelvis, jou bene, jou voete en gemaklik by jou tone uit. Haal asem met jou hele liggaam, soos ‘n baba of ‘n dier doen.

Of jy kan jouself verbeel dat jy soos die see is. Branders kom in en uit. Met elke teug wat jy inasem, is dit soos die brander wat uittrek, elke teug wat jy uitasem, is die brander wat breek op die strand. Miskien kan jy wonder hoe ver die volgende brander op die strand uit sal spoel soos wat jy uitasem.

Konsentreer dat jy jou asem stuur na die fisiese dele van jou wat jy as ongemak ervaar. Stuur jou asemhaling daarheen. Stel jouself voor dat die ongemak, fisies of spiritueel, soos ‘n rooi pynvolle plek in daardie deel van jou liggaam is. Stel jouself nou voor dat die lug wat jy inasem, ‘n stralende, bekende, genesende blou lig is. Haal daardie blou lug in en asem die rooi lug van pyn uit. Sien hoe daardie deel met elke teug wat jy neem, stelselmatig begin verander van rooi na blou. Hoe dit aanvanklik pers word en geleidelik al hoe blouer word, totdat dit net blou is. Terselfdertyd verhoog jy die vloei van suurstof in jou liggaam in.

Asem waagmoed en vreesloosheid in en blaas daardie vrees uit. Maak jou maag sag deur asemhaling. Die Engelse praat van soft belly. As jy bang is, word jou maag letterlik hard, deur asem te haal, maak jy daardie area sag en verminder so jou spanning, angs en gevoelens van minderwaardigheid.

Wanneer jy nou teruggaan na die kwessie van oorlewing, word ‘n kort en vlak asemhaling geassosieer met jou liggaam se reaksie op stres en ‘n gevoel van minderwaardigheid. Dit hou jou liggaam weer in ‘n vorm van paniek wat gepaard gaan met ‘n vinnige, vlak asemhaling, vinnige hartklop, koue of sweterige hande en nek spasmas. Paniek is die direkte gevolg van chroniese woede, angs of skuldgevoelens, wanneer jy kortisol vrystel. Dit veroorsaak die sogenaamde veg-of– vlug reaksie, die reaksie om te oorleef. Dis hierdie wrede siklus wat gebreek moet word.

Met diep asemhaling kan jy weer leer om te lewe en hierdie verstopte lewenskwessies oorkom. Terwyl jy diep asemhaal en kalmte ervaar is dit wanneer jy die korrekte inligting aan jou senuweeselle stuur vir ‘n objektiewe analise. Die gety van die see kom natuurlik in en uit. Dit gebeur bloot natuurlik. Wat in, moet uit.

Dis wanneer jy diep asemhaal wanneer die Gees van God in jou kom. Terwyl jy diep asemhaal en ontspan, is wanneer jy die Gees van God ervaar en ontspan na Sy beeld.

Ons raak so gespanne oor ons gewaande sekuriteit en oorlewing dat ons hiperventileer as ‘n onmiddellike reaksie op stress, die gevoel dat ons nie goed genoeg is nie en ons raak uit voeling met die objektiewe wêreld. Ons fokus op bedreigings, vyande, oorsake van stres en probleme van buite, terwyl ons hiperventileer om net ons aardse teikens soos hoër verkope of om vooropgestelde teikens te behaal.

Wanneer jy vergeet om in kontak met jouself te kom, is wanneer jou asemhaling vervlak, wanneer jy onstabiel raak en nie in aanraking met jou ware lewenskwessies kom nie.

Jy kom alleenlik in kontak met jouself wanneer jy stadig en diep asemhaal. Jy kan maar gaan kyk na gelukkige mense. Hulle haal stadig en diep asem. Kyk na ‘n gelukkige baba of jou troeteldier. Hulle haal rustig en diep asem. Hulle het nie nodig om oormatige kortisol te vervaardig nie.

Wanneer ons in ‘n krisis of in krisisse kom, of in ons verbeelding ‘n krisis aangesien ons krisisse maar net in ons verbeelding is, gaan ons in verskillende toestande in – ons gaan in die veg-of-vlug reaksie in (komende jou simpatiese senuweestelsel), of ons gaan in die rus of herstel fase in (komende van jou parasimpatiese senuweestelsel). Jy kan egter ook vries. Wanneer jy inasem, is dit samewerkend met jou simpatiese senuweestelsel – dis wanneer jy asem intrek ten tye van stres en soms asem ophou. Uitaseming loop gesamentlik met jou parasimpatiese senuweestelsel waar jy ‘n ontspanne respons kry. Gespanne mense blaas nie asem stadig en diep uit nie.

Wanneer jy dus vlak en vinnig asemhaal, word jou asemhaling beperk wat lei tot ‘n hiperwaaksaamheid, ‘n konneksie met jou Reptielbrein (die deel van jou brein wat gaan om oorlewing). Wanneer jy dus stadig en diep tot in jou abdomen asemhaal is jy ontspanne. Dit bring ontspanning teweë sodat jy uit hierdie oorlewingsinstink kan beweeg. Dit veroorsaak dat jou are meer oop raak sodat bloedtoevloei na jou brein en liggaam kan verhoog. Daar is weer ‘n vrylike vloei van energie regdeur ons hele sisteem.

Dit voel fantasties, selfs ekstaties. Om Geestelike liedere te sing, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Dikwels gaan hierdie liedere juis gepaard met lang note wat jou letterlik dwing om stadig en diep uit te asem terwyl jy die lang note sing.

Die probleem kom juis in wanneer jy in die vries reaksie ingaan. Hier vries jy en raak jy vasgeval in trauma. Jy raak los van jou liggaam, jy kan nie beweeg nie en jy voel jy voel buite jou liggaam. Jy is dus gedissosieerd.

Hou in gedagte dat oorlewing nie net fisiese oorlewing beteken nie, maar dat dit in jou onderbewuste ook gaan oor emosionele oorlewing. Ons word net so getraumatiseer deur kwessies soos verwerping, verraad, vernedering en om los van die wêreld te staan.

Wanneer jy dus diep asemhaal, het jy ‘n ontspanne fokus, ‘n kreatiewe fantasering, laterale denke, insigvolle probleemoplossing, ‘n heel-brein funksie, topprestasie, sowel as transformerende en transendentale ervarings.

4. Voordele van diep asemhaling:

  • Hipokapnie (lae suurstofvlakke) in die are word omgekeer. Jy kom dit eers agter wanneer jou hande warmer word.
  • Asemhaling word makliker en angs word verminder.
  • Die smaak in jou mond word verander na ‘n soeter smaak.
  • Spier-ontspanning wat daarmee gepaard gaan, gee jou ‘n gevoel van gemak enrustigheid in jou liggaam.
  • Diep asemhaling is ‘n anti-inflammatoriese agent wat jou immuunstelsel versterk.
  • Dit stabiliseer jou brein en senuweestelsel. Dit verlig angs, paniek, obsessief-kompulsiewe gedrag, geïrriteerdheid en slaapprobleme. Dit beteken dat jou asemhaling ongeveer sewe keer meer produktief is. Dit stimuleer die funksionering van jou limfkliere wat gifstowwe vinniger deur jou liggaam stuur en dus jou metabolisme verhoog. Hierdie diep asemhaling verlig stress, die gevoel van nie goed genoeg nie, werk slapeloosheid teen en verhoog energie-vlakke.
  • Dit help ook om spanning te elimineer. Dit help die parasimpatiese senu- weestelsel aan om te ontspan. Dit veroorsaak ‘n algemene gevoel van welsyn, ‘n gevoel van fisiese, verstandelike en ook spirituele welsyn.Dis juis jou asemhaling wat jou van die kern van jou fisiese welsyn neem na die vereniging met jou verstandelike en spirituele vermoëns. Dis wanneer jy God se asem in jou voel en net meer gebalanseerd bly lewe.

5. Ten slotte

Om net die belangrikheid van diep asemhaling te beklemtoon, word die endorfiene wat deur ‘n blote diep asemhaling vrygestel word, ‘n pynstiller wat meer effektief is as morfien. Watter manier is daar dan kragtiger om emosionele pyn te verlig teenoor middels? Dit het die vermoë om nie net fisiese pyn nie, maar ook emosionele pyn te verlig.