Vry van rook – die angsvrye weg

© Jorgan Harris.

Belangrike nota:

Voordat jy ʼn afspraak skeduleer om vry van rook te word, is dit van uiterste belang dat jy eers onderstaande artikel en die artikel oor hipnose op my webtuiste bestudeer, aangesien ons reeds, anders as in ander gevalle, met hipnose in ons eerste sessie begin.

1. Wil jy vry wees van rook?

Wil jy deel word van die drie miljoen mense wat wêreldwyd elke jaar losbreek van rook, maklik en sonder enige inspanning?

Die idees wat ek hier met jou deel sal jou help om net soveel makliker van rook los te breek. Dit sal ons tussen een en drie hipnose-sessies neem om vir altyd en maklik van rook los te breek.

Wanneer jy vry van rook is, sal jy dadelik begin om:

  • skoon, vars lug in te asem;
  • meer ontspanne te raak;
  • meer energiek te voel;
  • gesonder te wees en voel;
  • beter te konsentreer;
  • dit te geniet om na openbare plekke te gaan;
  • ʼn beter geheue te hê;
  • vars te voel en ruik;
  • beter te lyk;
  • gesonder tande te hê;
  • minder angstig te voel en oor die algemeen beter oor jouself te voel;
  • meer in beheer van jou lewe te voel;
  • meer geld te hê om iets spesiaal daarmee te doen;
  • ʼn gelukkiger en gesonder gesin te hê.

Jy kan verwag dat wonderlike dinge gebeur vanaf die eerste paar minute vandat jy vry van rook is tot die jare wat volg, soos  jou liggaam homself blitsvinnig herstel.

Meeste rookstaak programme gebruik logiese, bewustelike en rasionele benaderings. Die Vry van rook – die angsvrye-weg, verskil van die meeste rookstaak programme in die sin van dat ʼn kragtige program van hipnose gebruik word.

Dit beteken dat ons nie van vervangingsterapieë soos medikasie, kougom, ens. gebruik gaan maak nie.

Jy kan los breek sonder:

  • enige onttrekking;
  • irritasie;

In Brittanje word die gebruik van hipnose as terapie vir rook erken deur die Britse Mediese Vereniging as die mees effektiewe hulpmiddel beskikbaar.

2. Neem ʼn besluit

Al wat jy hoef te doen is om daardie eenvoudige eerste stap te neem en te besluit jy wil los breek van rook. Die tyd om los te breek is NOU. Daar is nooit ʼn beter tyd nie.

Hipnoterapie is al wat jy hoef te doen om los te breek. Hierdie program is maklik en sonder enige inspanning.  Dit is ontwerp om jou te help al sou jy in jou eie vermoëns twyfel.

3. Hoekom is dit dan so moeilik om los te breek van rook?

Die antwoord hier is dat jy glo dat jy verslaaf is aan rook. Hierdie is die verste van die waarheid. Ek lig nou voorts hierdie persepsies uit:

3.1   Rook is nie ʼn verslawing nie

Anders as wat jou regering en tabakmaatskappye jou wil laat glo, is rook absoluut geen verslawing nie.

Jy word gekondisioneer om te glo dat jy ʼn verslaafde is, ʼn slagoffer sonder enige keuse. Jou “liefdevolle” regering en tabakmaatskappye het dit reeds reg gekry om jou te kondisioneer om te glo dat jy ʼn verslaafde is. Farmaseutiese maatskappye het ook op die lawaaiwa gespring en jou vertel dat jy vasgevang is en dat jy hulle magiese dwelm nodig het.

Sommige navorsing beweer dat nikotien die verslawendste middel is, blykbaar so verslawend soos heroïen en dat nikotien die vinnigste dwelm in die wêreld is. Maar hierdie navorsing vertel nie vir ons presies wat ʼn verslawing is en hoe dit werk nie. Ons hoor deesdae van soveel verslawings, soos onder andere dobbelverslawing, koopverslawing, internetverslawing en soveel meer, waar daar geen substanse by betrokke is nie. Voorts word ook nie vir ons vertel hoeveel van ʼn sogenaamde verslawing fisies en hoeveel sielkundig is nie. Dr Hans Eysenck (1916-97) beroemde Duitse sielkundige, soos soveel ander navorsers, het daarop aangedring dat rook nie ʼn verslawing kan wees nie, want die term verslawing het geen wetenskaplike betekenis nie. Interessant genoeg het die mense wat afstand moes doen van hulle nie-chemiese verslawings soos dobbel, rekenaarspeletjies ens. baie dieselfde simptome ervaar as rokers wanneer hulle stop, simptome soos woede, angs, kompulsies, smagtings, gevoelens van deprivasie, ge-irriteerdheid, depressie en paniek: in kort ʼn gevoel van om soos ʼn slagoffer te voel.

Hoe kan jy ooit “verslaaf” wees aan iets wat vir jou giftig en sleg is? Jou liggaam kan nooit verslaaf raak aan dit wat dit doodmaak nie. Inteendeel, jou liggaam herstel self binne dae sy eie ekwilibrium en jou endorfiene begin vanself weer te vloei.

Daar word vir ons vertel dat nikotien na 40 minute uit ons sisteem is waarna dit vervang moet word, anders gaan sogenaamde onttrekkingsimptome intree.

As nikotien dan so verslawend was, hoe is dit moontlik om vir ure in ʼn nie-rook restaurant te sit sonder om te wil rook, om vir ses tot agt ure per nag te slaap, sonder om elke 40 minute wakker te word om eers jou nikotienvlakke te herstel? Hoe is dit moontlik om vir ure op ʼn vliegtuig te sit na eksotiese bestemmings sonder om die vliegtuig te probeer skaak? Of om vir nege maande swanger te wees sonder die drang na ʼn sigaret, om net weer na kraam voort te gaan om te rook?

As dit dan ʼn verslawing aan nikotien sou wees en jy wil regtig ophou, behoort Nikotien Vervangings Terapieë dan mos genoeg te wees. Dan kan ʼn pilletjie, plakkertjie of ʼn kougompie mos al die nikotien in jou liggaam verplaas en jy sal geen behoefte hê om ooit weer te rook nie. Natuurlik nie.

Daar is absoluut geen bewys dat ʼn sigaret “mind-altering” is nie. Inteendeel, ek is bewus van ʼn dwelm-afhanklike wat enige dwelm wat hy in die hande kry, misbruik, maar glad nie sigarette rook nie.  Hy reken dat ʼn dwelm darem iets vir jou moet doen en ʼn sigaret het absoluut niks vir hom gedoen nie. Volgens hom is daar niks in ʼn sigaret wat vir hom ʼn “kick” gee nie. En hy is reg, daar is niks in ʼn sigaret wat ʼn “kick” gee nie.

Jou sogenaamde verslawing is bloot sielkundig en daar is geen ander verklaring daarvoor nie. Al wat by die sogenaamde verslaafde gebeur, is wanneer hulle dink dat hulle ʼn slagoffer, ʼn verslaafde is en dat daar iets of iemand anders is om te blameer.

Jou regering, kapitaalkragtige sigaretmaatskappye en farmaseutiese maat-skappye wil almal geld uit jou maak deur jou te laat glo dat jy ʼn hulpelose en swak verslaafde is. Hierdie sogenaamde onttrekking-simptome lyk so realisties, dat dit maklik met werklike onttrekking verwar kan word. Soos wat ek later sal verduidelik, is hierdie onttrekking niks anders as angs nie.

As nikotien dan nie die verslawing is nie, bly die tergende vraag wat dit is wat ons so afhanklik van rook maak…

3.2   Jou regering baat by jou rook

Jou regering bring gesondheidswaarskuwings op jou sigaretpakkie aan om jou te waarsku teen die gevare van rook.

Jou regering baat by jou rook in die dermiljoene wat hulle op hulle belasting op sigarette verdien. Elke jaar, met elke begroting, word die roker net nog meer belas en vul die arme rokers meer en meer die staatskas.

Wil hulle werklik hê dat jy moet ophou rook? Wil hulle regtig jou belasting-geld verloor as jy nie meer sigarette koop nie?

3.3   Rook is nie ʼn gewoonte nie

As rook nie ʼn verslawing is nie, moet dit seer sekerlik ʼn gewoonte wees. Rook kan ook nooit ʼn gewoonte wees nie. ʼn Sogenaamde gewoonte is wanneer jy ʼn bepaalde gedrag oor en oor herhaal, ten spyte van die negatiewe gevolge. Dit bly egter elke keer jou keuse wanneer jy ʼn sigaret opsteek. Hierdie keuse raak later onbewustelik wanneer jy vir die soveelste keer ʼn sigaret opsteek. Jy begin nou dink dat dit ʼn gewoonte is, maar dit is elke keer ʼn keuse, selfs al raak dit onbewustelik. Nou word dit ʼn “verslawing” genoem.

Jy is altyd in beheer. Jy maak altyd ʼn keuse om te rook.

3.4   Rook het geen voordele nie

Miskien rook jy omdat jy glo jy is verslaaf en dat jy nie kan ophou nie. Miskien glo jy dat rook sekere voordele vir jou inhou. Kom ons kyk nou na die mistastings van die sogenaamde voordele wat rook inhou:

3.4.1   Rook laat my ontspan

Meeste rokers is van mening dat ʼn sigaret hulle laat ontspan. ʼn Sigaret laat jou nie ontspan nie. Inteendeel, dit veroorsaak eintlik net nog meer spanning!

Een of beide van twee dinge gebeur hier:

Jy steek ʼn sigaret op en jou onderbewuste registreer rook (soos die rook van ʼn veldbrand). Rook is gevaarlik vir die mens want mens kan sterf van rook-inaseming. Rook is onnatuurlik vir mens en dier. Wanneer jy ʼn sigaret rook, reageer jou sisteem op presies dieselfde manier as wanneer jy blootgestel sou word aan ʼn vreesaanjaende ervaring. Die outomatiese verdedigingstelsel wat ons ken as die ‘veg-of-vlug’ reaksie word ge-aktiveer. Wanneer dit gebeur, is jou liggaam in ʼn japtrap gereed om maksimum krag en inspanning te gebruik om of weg van moontlike gevaar te hardloop of om te stop en te veg. Jou hart klop dan vinniger, jou asemhaling versnel om bloed na die belangrike spiere en na jou brein toe te pomp. Adrenaline en noradrenaline gaan deur jou sisteem om spierkrag tot die uiterste te versterk. Jou brein het meer suurstof nodig om sy vermoë te verhoog om die situasie te rasionaliseer en om te reageer op ʼn manier wat die beste sou wees om die krisis te oorleef. En so verhoog rook spanning.

Benewens die veg-of-vlug reaksie, is daar ook die vries-reaksie. Sou jy vir so ʼn dag lank nie rook nie en jy steek dan ʼn sigaret op, gaan jy daardie hoenderkop gevoel kry. Hierdie gevoel kan as ontspannend geïnterpreteer word, hoewel dit eintlik ʼn geweldige traumatiese reaksie is waarin jy vries, soos sommige mense soms vries in traumatiese omstandighede. Dit werk soos die reëlaar (governor) van ʼn vinnige kar. Wanneer jy die kar se revolusies te hoog laat gaan, skop die reëlaar in en skop die enjin geen krag meer uit nie om te keer dat die enjin uitbrand totdat jy stadiger ry of na ʼn ander rat oorskakel.

Op die langer duur werk die hart van ʼn roker net soveel harder. Dit slaan tot 10 000 ekstra slae per dag soos wat dit ʼn verbete stryd voer om bloed deur die liggaam te pomp aangesien die are geblokkeerd, vernou en verstop geraak het. Die oorwoë effek is ʼn verhoogde risiko van hartsiektes en beroertes.

Jou spysverteringstelsel is feitlik onnodig wanneer jy jouself voorberei om te veg of om van gevaar af weg te hardloop. Dit sluit binne sekondes af en die vermoë om voedsel te verteer en voedingstowwe in te neem, hou dan op.

Jou liggaam is steeds in ʼn verhoogde staat van gereedheid en nou word jou immuunstelsel onderdruk. As jy sou voortgaan om te rook, sal die ensieme wat geproduseer is nie gebruik kan word soos wat dit bedoel is nie en bly nou in die vesels oor as gifstowwe.

Rook hou jou polsslag kunsmatig hoog. Dit sal die moeite werd wees om jou polsslag voor en na ʼn sigaret na te gaan.

Binne ʼn uur of twee na die laaste sigaret, sal jy fisiese simptome ervaar wat jy kan toeskryf aan die afwesigheid van nikotien. Jou harttempo neem toe en jy voel angstig en gespanne. Jy ervaar “cravings” vir nikotien wat verlig word wanneer jy jou volgende sigaret opsteek.

Maar daar is ook ʼn derde ding wat kan gebeur:

Jy glo dat rook jou laat ontspan. Jy glo jy sal nie ontspan daarsonder nie.

Ironies genoeg, lê die ontspanning in rook in die diep asemteug wat die roker neem wanneer hy of sy ʼn sigaret aansteek en nie die sigaret self nie.

3.4.2   Rook laat my konsentreer

Rokers glo dat rook hulle laat konsentreer. Selfs lank nadat rokers rook laat gaan het, glo hulle steeds dat hulle ʼn sigaret nodig het om te fokus. Maar dis nie die sigaret wat jou beter laat fokus nie, inteendeel is die fokus van rokers soveel swakker. Die progressiewe blokkasie van jou are, ontneem jou brein van suurstof. Die helderdenkende vermoë van ʼn roker is verminder met tot soveel as 23%. Navorsing bewys dat rokers ʼn laer IK het, juis omdat hulle brein besoedeld is en nie hulle brein volledig kan benut nie.

3.4.3   Rook veroorsaak selfvertroue

Die ouer garde kan dalk nog die rook-advertensies onthou. Heroïese figure wat voorgestel word waar hulle al die genot van die ryk en beroemdes geniet, waar hulle net gemaklik deur elke situasie gaan met daardie skynsel van selfvertroue en sukses wat die aantreklike man of die pragtige vrou aantrek. Rokers is voorgestel as glansryke, gesofistikeerde en elegante mense. Hulle het alles gesimboliseer wat elke mens wou wees: selfversekerd, aanloklik, onweerstaanbaar… met ʼn tikkie gevaar.

Maar inderwaarheid gee rook vir jou geen selfvertroue nie. Dit beeld jou uit as ʼn afhanklike en swak mens wie gyselaar gehou word deur ʼn sigaret.

3.4.4   Rook help met verveling

Jy rook omdat jy verveeld is. Hoeveel beter sou jy daardie rooktyd kon benut?

Allen Carr sê dan ook tereg dat daar niks interessants is aan ʼn sigaret nie.

Rook het inderdaad niks ooit interessanter gemaak nie!

Daar bestaan bloot nie iets soos onttrekkingsimptome nie. Dit kan nie, want jy is nooit verslaaf nie. Dit is net ʼn onsekere leë gevoel soos wat Allen Carr dit beskryf.

Daardie sogenaamde erge onttrekkingsimptome wat hulself voordoen as ʼn verskriklike onttrekking, is maar net eenvoudige angs simptome.

Hierdie simptome is maar net:

  • woede;
  • geïrriteerdheid;
  • moegheid;
  • gemoedskommelinge;
  • hiperaktiwiteit;
  • angs;
  • rusteloosheid;
  • probleme met konsentrasie;
  • depressie;
  • oormatige eet;
  • gebrek aan slaap;
  • obsessie met rook.

Dit is alles bloot net angs en depressie simptome en het niks te make met fisiese onttrekking nie. Dis is so goed om te weet dat jy glad nie onttrek nie, maar dat jou liggaam in ʼn staat van angs of depressie gaan wat die begin van die genesingsproses, wat dadelik plaasvind, is. Hierdie simptome sal ook weggaan soos jou liggaam begin herstel.

Moet dus nie te veel bekommerd wees as jy erge angs simptome begin beleef soos hartkloppings, sweet en bewe nie. Dit is heeltemal natuurlik en normaal. Dis ook natuurlik om tydelik depressief te voel. Dit sal ook verbygaan.

3.5   Dit vat geen wilskrag nie

Jy hoef nie jou lewe te verander nie.

Wilskrag kan eenvoudig net nie hou nie. Iewers gaan jou wilskrag ingee. Wilskrag is soos om aan ʼn tak te hang. Jou arms gaan iewers moeg raak en ingee. Jou liggaam is eenvoudig nie ontwerp vir wilskrag nie. Jou liggaam is geprogrammeer om spontaan te reageer. Jy dink nie oor asemhaling, spysvertering ens. nie.

Jy gaan losbreek van rook sonder enige moeite of wilskrag. Niks gaan verander nie, behalwe dat dit net meer pret gaan wees.

3.6   Jy hoef nie op te hou rook nie

Rook is nie onwettig nie. Niemand verbied jou nie. Daar is geen rede hoekom jy moet nie. Dit is jou keuse. Rook mag wel al mense dood gemaak het, of dalk bygedra het tot hulle dood, maar dit het ook al mense nie dood gemaak nie. Daar is rokers wat jonk gesterf het en daar is rokers wat baie oud geword het.

Niemand hou daarvan om voorgeskryf te word wat om te doen nie. Veral nie as jy aan jouself voorskryf nie. Hoeveel keer het jy gehoor dat jy iets moet doen of nie mag doen nie, om agter te kom dat jy net uit beginsel die teenoorgestelde sal doen.

Hoe harder jy probeer om nie aan daardie sigaret te dink nie hoe meer sal jy daaraan dink en hoe aantrekliker raak daardie sigaret.

Dink eerder aan die lekkerte om jou rook onder sy jis te skop en te fokus op jou vryheid daarvan. Om los te breek van rook, beteken nie die verlies van jou vryheid om te rook nie. Dit beteken nie jy is gedepriveerd van rook en uiteindelik nie lewe nie. Dis juis hierdie gevoelens van “ek moet” en “ek kan nie” wat gevoelens van deprivasie veroorsaak. Hierdie gevoelens veroorsaak gevoelens van woede, verwyt, verlies, frustrasie en selfbejammering omdat jy mag voel dat jy iets wat jy graag wil hê, nie mag kry nie.

3.7   Om vry van rook te wees is geen big deal nie.

Sekere skrywers beklemtoon dit dat jou vryheidsdag ʼn groot dag in jou lewe is. Jy moet almal vertel daarvan. Dit gaan egter net meer stres op jou sit en jou laat voel dat jy aan verwagtinge sal moet voldoen. Dit veroorsaak angs.

Daar is nie so iets soos die regte dag nie. Daardie dag kan enige tyd, sommer nou wees en dit is op sigself ook geen big deal nie.

Netso is jou laaste sigaret nie ʼn big deal nie. Dit is net nog ʼn sigaret. Elke keer as jy ʼn sigaret dooddruk, het jy in elk geval opgehou rook. Dit gaan dus nie daaroor om daardie laaste sigaret dood te druk nie – dit gaan eerder daaroor om nie weer ʼn sigaret op te steek nie.

As jy dan so ʼn groot kwessie wil maak van jou laaste sigaret, kan jy eerder daarvan bewus raak van hoe dit jou keel krap, hoe dit jou harttempo opjaag en hoe dit ʼn smaak van verroeste metaal in jou mond veroorsaak.

Dit is belangrik vir jou om te besef dat die dag wanneer jy vry van rook raak dat dit nie ʼn big deal is nie en dat dit nie die mees belangrike dag van jou lewe is nie en dat dit net nog ʼn dag is.

3.8   Jy sal nie smag na ʼn sigaret nie (cravings)

Ek wonder of jy al stories gehoor het soos: “rook gaan sit vir sewe jaar in jou sisteem”. Of: “Ek het al 30 jaar terug opgehou rook en ek smag steeds elke dag na ʼn sigaret”? Sulke stellings hoort enige roker dadelik na ʼn sigaret te laat gryp en dit sluit aan by die wanpersepsie dat jy verslaaf is.

ʼn Smagting hou egter net sowat een tot drie minute en daarna hou slegs jou kop dit in stand. Daar is nie iets soos ʼn fisiese smagting nie.

Allen Carr noem ʼn smagting slegs ʼn leë onsekere gevoel. Carr het dit baie goed raakgevat met die woord onsekere. Daar is nie iets soos ʼn smagting na ʼn sigaret nie, maar ʼn sogenaamde craving is eerder ʼn angstigheid of stres of selfs ʼn depressie.

Die waarheid is egter dat na die doodmaak van elke sigaret, jou liggaam begin om homself te genees.

3.9   Jy hoef nie jou lewe te verander nie

Die slegte nuus is dat dit nie vir jou gaan voel of jou lewe radikaal anders gaan wees soos wat die groot guru’s vir jou vertel nie. Jy gaan wel gesonder wees, makliker asemhaal, meer energie hê ens., ens., ens., maar jy gaan dit nie juis agterkom nie.

Die goeie nuus is dat jy jou lewe nie hoef te verander nie. Jy hou per slot van sake net op met rook – dit is nie asof jy jouself bekeer of jou lewe radikaal omkeer nie. Jy hoef nie die oog om die hoek te vermy nie, jy hoef nie wilde partytjies en roker-vriende te vermy nie. Behalwe dat jy nie hierdie situasies kan vermy nie, kom ons ou vriend: “watookal jy weerstaan, sal sterk staan”, weer in die prentjie. Dit klink net na hopeloos te veel moeite!

3.10   Jy sal NIE vet word as jy vry van rook is nie

Dit is nou as jy die laat gaan van rook as ʼn wilskrag-manier benader en jou rookgedrag met ander dinge wil vervang. Dit is nou te sê indien dit kos is wat jou enigsins vet maak. In my boek, Dink slank, word slank, het ek aangetoon dat dit juis negatiewe emosies is soos angs en stres wat vet maak.

Wat wel waar is, is dat jou smaakpapille weer hulle sensitiwiteit terug sal kry wanneer jy los breek van rook. Dit is wel waar dat jou kos en ook drank lekkerder mag smaak. Jy hoef dit nie te beperk nie, maar jy kan dit inteendeel nog meer geniet.

3.11   Jy hoef nie jou drankie te laat staan nie

Jy hoef nie op te hou drink nie of jou drankies te tel nie.

Sou jy met wilskrag ophou rook, verminder alkohol jou “op jou hoede wees” en maak dit moeiliker om die aanslag van sigarette en veral die aanslag van die wrede ou rokers, wat tog so jaloers is omdat jy nie meer rook, te weerstaan.

Jou smaaksensasies sal terugkeer en jy kan jou drankie selfs meer geniet, sonder die verdowende effek van rook op jou smaakpapille.

3.12   Jy hoef nie kunsmatig vry te word van rook nie

Daar is soveel Nikotien-vervangingsterapieë soos pille, plakkers, kougom, neussproei, e-sigarette en inhaleerders wat jou kan help om rook te laat gaan.

Navorsing wys egter dat daar net ʼn 10% suksessyfer is met hierdie terapieë. Jy het nie die nikotien nodig nie. Jy hoef dit nie te vervang nie. Jy is nie verslaaf aan nikotien nie. Jy is immers nie ʼn hulpelose slagoffer van nikotien nie. Die oplossing hier is selfs nog makliker as dit. Ander skrywers wys die gebruik van Nikotien-vervangingsterapieë af omdat dit jou harttempo en jou adrenalien opjaag, jy mag simptome soos naarheid en slaapprobleme ervaar en dit mag jou ʼn spul geld kos. Maar dit is ten minste beter as rook, die 10% van kere dat dit wel werk!

Jy weet reeds dat jou rook nie ʼn verslawing aan nikotien is nie

3.13   Dit hoef nie moeilik te wees nie

Jy maak dit moeilik vir jouself omdat jy glo dat jy iets opgee. Dat jy iets verloor. Jy maak dit net vir jouself moeilik as jy die volgende doen:

Rook minder en minder

Ons wil ook nie minder en minder rook nie. Dit klink in die eerste plek na net te veel moeite, maar dit maak jou ook uitsien na die volgende sigaret. En dan word daardie sigaret selfs lekkerder, meer kosbaar en jy gaan al hoe minder wil ophou. Jy gaan ook daardie sigaret sterker wil intrek. In hierdie proses wil ons aanhou rook, tot ons op die punt kom om die sigaret net neer te sit en nie weer op te wil tel nie. Ons wil nie hê dat die sigaret op enige manier vir ons enigsins ʼn beloning word nie.

Rook ligter sigarette

Net soos by die vorige punt, sal ʼn ligter sigaret jou net soveel harder wil laat intrek. Daar bestaan inderdaad nie iets soos ʼn ligter sigaret nie. Ligter sigarette het dieselfde teerinhoud as ander sigarette. Die filter is net minder dig as dié van ʼn ander sigaret. Jy moet dus nou net harder trek (lees inasem) om dieselfde “effek” te verkry. Die ironie hier is dat dit juis die roker van die ligter sigaret is (soos die roker wat min rook) wat dit moeiliker maak om rook te laat gaan. Hulle moet juis dieper intrek, harder rook en meer dikwels opsteek om dieselfde effek te verkry. Navorsing het ook getoon dat jou kanse vir rookverwante siektes geensins minder is met sogenaamde “ligter” sigarette nie.

Hoe langer jy rook, hoe moeiliker is dit

Daar is min dinge wat verder van die waarheid af kan wees as dit. Hoe langer jy rook, hoe makliker is dit om rook te laat gaan. Hoe langer jy rook, hoe meer voel jy die effekte en gevolge van rook. Jonger mense mag dit moeiliker vind om op te hou rook,  aangesien hulle (net soos mense wat minder rook, of ligter sigarette rook) nog nie die negatiewe effekte van rook ervaar het nie.

Hoe duurder dit raak, hoe groter is die kans dat jy rook sal laat gaan

Dit is bloot net nie waar nie. Mense sal eerder geld op ander dinge besnoei as op hulle sigarette. Die behoefte aan sigarette word op dieselfde vlak as kos gereken. Dit is deel van vaste uitgawes. Aangesien dit nie gaan oor ʼn verslawing nie of oor nikotien nie, is daar bewyse dat daar in Engeland meer en meer sigarette gerol word uit ander stowwe om kostes te vermy. Dit herversterk ook die idee meer dat dit inderdaad oor iets meer as net nikotienverslawing gaan.

3.14   Maar ek het al soveel keer probeer

Jy het al ʼn paar keer probeer om los te breek van rook, maar elke keer sonder sukses. Dit het jou oortuig dat jy ʼn slagoffer is en nie los kan breek nie. Daarby het die gemiddelde roker tussen vyf en sewe keer al probeer om los te breek van rook. Genoeg om jou moed te breek. Jy besef dis omdat jy nie ʼn fout gemaak het nie en dat jy nie ʼn slagoffer is nie, maar dat jy net ʼn ander keuse kan maak. Jy kan inderdaad met die eerste probeerslag volkome vry van rook wees.

Wat jy kan doen

Nie net sal hipnose jou help om vry van rook te word nie, maar jy sal ook leer om self-hipnose te doen om jou verder te help. Die kern van hipnose is ontspanning en die kern van ontspanning lê in jou diep asemhaling. Sodra jy ontspanne is, kan jy jou gedagtes verander. Dit is wat ons met hipnoterapie gaan doen.