‘n Duitse Herdershond is nie ‘n worshond nie

© Jorgan Harris.

1. Die Worshond en die Duitse Herdershond

As kind het my ouers vriende gehad wat op ʼn nabygeleë plaas geboer het. Oom Bertus het ʼn worshond, met die ironiese naam Pavlov, gehad. Regtig ʼn befoeterde dier wat die hele plaas regeer het en alles en almal letterlik afgeknou het. Later het oom Bertus ʼn nuwe baba-hondjie, ʼn Duitse Herdershond, gekry. Die Worshond het hierdie baba-hondjie ook afgeknou.

Die Duitse Herdershond het intussen groot geword en ʼn trotse, volwasse hond geword. Ironies genoeg, het die Worshond bloot voortgegaan om die Herdershond af te knou. Om een of ander rede het die Herdershond dit toegelaat.

Een nag was daar ʼn deurmekaarspul op die plaas. Sover ek dit het, het daar vreemde mense op die plaas aangekom en in die donker, sonder dat hy geweet het dis Pavlov, het die Herdershond die Worshond in die kake gekry en hom goed karnuffel.

Iewers het die Herdershond die Worshond herken en hom uitgelos.  Die Worshond het daarna nooit weer die Herdershond afgeknou nie.

Dit het hierdie Herdershond één oomblik, één ervaring gekos om te besef hy is ʼn Herdershond. In my ervaring is dit die keerpunt wanneer mense besef hulle is nie ʼn slagoffer nie, maar was en is nog altyd ʼn survivor. Jy het soms net daardie magiese oomblik nodig om tot die besef te kom dat jy ʼn oorwinnaar is.

2. Selfbeeld is veel meer as net selfvertroue

Self-esteem is veel meer as net selfvertroue. Die woord “esteem” kom van die Latynse woord aestimare wat letterlik beteken om ʼn waarde op te sit. Dit gaan dus oor die waarde wat jy op jouself as mens sit. Mense met ʼn hoë self-esteem het ʼn sterk sin van hulself, hulle hou van hulself en hulle kan hulle innerlike gevoelens herken en bestuur. Hulle het ook ʼn sterk sin vir sinvolheid, betekenis en doel in die lewe.

Self-esteem is ʼn manier van dink, voel en optree wat impliseer dat jy jouself aanvaar, respekteer, vertrou en in jouself glo.

Wanneer jy jouself kan aanvaar, kan jy gemaklik met jouself saamleef met jou sterk punte asook jou swak punte sonder om onnodig krities op jouself te wees. Wanneer jy jouself respekteer, erken jy jou eie waardigheid en waarde as ʼn unieke menslike wese. Jy behandel jouself op dieselfde manier as wat jy iemand behandel vir wie jy baie respek het. Wanneer jy jouself vertrou, is wanneer jy weet dat jy op jou onderbewuste staat kan maak om vir jou die dinge te doen wat jy gedoen wil hê. Om in jouself te glo, beteken dat jy voel jy verdien die goeie dinge in die lewe.

3. Hoe herken jy ʼn goeie self-esteem?

Mense met ʼn goeie self-esteem is mense wat hulself nie hoef te bewys nie. Veronderstel jy is by ʼn geselligheid waar jy na drie spesifieke persone kyk. Daar is die een wat in ʼn hoekie sit en wegkruip. Hy het duidelik nie ʼn goeie self-esteem nie. Dan is daar die een wat die hart en siel van die partytjie is. Hy is raserig en almal weet van hom. Hy het dalk ook nie ʼn goeie self-esteem nie, aangesien hy miskien agter hierdie masker van raserigheid mag skuil. Dan is daar die een wat jy van weet dat hy daar is. Hy sê nie veel nie, maar as hy praat, is mense geneig om te luister.

Dus is iemand met ʼn swak self-esteem geneig om:

  • groot te praat;
  • ander af te kraak;
  • vertonerig te wees;
  • mense te etiketteer;
  • gesprekke oor te neem;
  • te spog oor hulle prestasies.

Mense met ʼn goeie self-esteem:

  • hou van hulself;
  • het ʼn sterk sin van hulself;
  • het ʼn duidelike sin vir doel in hul lewe;
  • kan hulle interne staat herken en bestuur;
  • het ʼn stille selfvertroue;
  • soek nie vir komplimente nie, maar weet tog hoe om komplimente te hanteer;
  • is redelik nederig;
  • sien gereeld ander mense se suksesse raak en is geïnteresseerd daarin;
  • het nie nodig om erkenning van ander te kry nie;
  • is bly met ander oor hulle prestasies.

4. Jy is in beheer van jou lewe

Jy is die hele tyd in beheer van jou lewe, aangesien jy altyd keuses het. Jy is nog altyd ʼn oorwinnaar. Jy het al soveel probleme en krisisse ondervind, maar jy is steeds hier. Waarom sal jy nie toekomstige probleme oorkom nie?

Maar ons voel te veel soos slagoffers. Dit is altyd iemand anders se skuld. As jy nie beheer van jou lewe neem nie, gaan ander mense dit vír jou beheer. Dit is nooit iemand anders se skuld nie. Jy is in beheer van jou lewe en dinge gebeur soos wat jy dit toelaat al dan nie.

Om iemand anders te blameer, is om daardie persoon in beheer van jou lewe te plaas. Mense word beter as jý beter word. Mense voel te veel soos slagoffers. Hulle voel dat mense hulle misbruik, dat mense of omstandighede of gebeure hulle ongelukkig maak. Sodra jy eers besef dat jy in beheer van jou lewe is en dit nie verder toelaat nie, begin mense jou anders behandel. Maar die eerste verandering sal by jou moet begin.

5. Denke word dinge

Wat jy dink, is wat jy glo en wat jy glo, is wat jy sal wees. As jy glo jy is minderwaardig, dom en lelik, is dit presies wat jy sal wees.

Een van die beste bewyse hiervoor is die sogenaamde skynswangerskappe. Daardie vrou glo so vas dat sy swanger is, dat haar liggaam die vorm van ʼn swanger vrou begin aanneem. Haar maag swel, borste word groter en selfs haar menstruele siklus staak. Dis die krag van verbeelding.

Die skoonheid hiervan is dat wanneer jy glo jy is selfversekerd, is wanneer jy dink jy is selfversekerd. Sodra jy dink jy is selfversekerd, sal jy selfversekerd begin optree. Wanneer jy so optree, herversterk dit die gevoel van selfversekerdheid en sien ander mense jou as selfversekerd. Dit is so maklik soos dit.

6. Maar dinge word ook denke en gevolglik ook gevoelens (fisiologie)

Dinge kan egter ook denke raak. Jou gevoel of liggaamlike sensasies – met ander woorde jou fisiologie kan ook jou denke en jou oortuigings beïnvloed.

Doen gou die volgende oefening: Soos wat jy daar sit, span nou jou boude, jou bene en jou hele liggaam. Maak jou liggaam nou gespanne en verbeel jou dat jou liggaam gespanne is. Na ʼn rukkie sal jy besef jy begin negatiewe gedagtes en bekommernisse ervaar. Uit  die bloute begin jy jouself bekommer!

Doen nou die teenoorgestelde. Ontspan jou boude, jou bene en jou hele liggaam. Kom jy dalk agter dat jy meer begin ontspan en minder bekommer?

Jy kan ook jou fisiologie inspan om anders te voel.

7. Voel goed, lyk goed

Wat was dan eerste: die hoender of die eier? Moet jy eers goed voel om goed te lyk, of moet jy goed lyk om goed te voel? As jy goed voel, is jy in ʼn beter gedagteraamwerk om jouself goed te laat lyk. Wanneer jy goed lyk, voel jy goed. Hierdie twee state vul mekaar konstant aan. As jy beter voel, word jy meer aantreklik.

Die Franse vroue se styl is sonder enige inspanning en tog foutloos. Hulle lyk net altyd gemaklik in hulle eie vel. Ikoniese voorbeelde is die mode-ontwerper Coco Chanel en aktrise Catherine Deneuve, wie nou nie juis klassiek mooi was nie, maar tog gereken is onder die mees verleidelike, aantreklike en bekoorlike vroue in die wêreld – vroue wat baie mans gebroke gelaat het, selfs in hulle herfsjare. Dit het niks met hul DNA te make nie, maar bloot hul absolute geloof en vertroue in hulself het en in hul eie styl. Die Franse en ook Franse vroue waardeer en valideer vroue as lieflik en interessant. Veroudering is vir hulle nie ʼn vervaging van hulle lieflikheid nie, maar slegs ʼn teken van volwassenheid, intelligensie en ervaring wat hulle selfs meer bekoorlik maak.

Die meeste van ons het ook al iemand ontmoet wat glad nie mooi is nie, maar net daardie “iets” het wat hierdie persoon vir jou ongelooflik aantreklik of onweerstaanbaar maak.

Super selfvertroue is dus nie in jou voorkoms nie, maar in jou houding. Aantreklikheid word geskep deur “states of mind”, nie deur duur klere of haarstyle nie, maar deur die gebruik van jou verbeelding. As jy jou verbeelding gebruik, gebruik jy dieselfde deel van jou brein as wanneer dit regtig gebeur.  Jy KAN hierdie selfde houding modelleer.

Dink aan iemand wie jy dink aantreklik is. Dit kan vriende of persoonlikhede wees wie jy op televisie of in films sien. Hou hulle gedrag noukeurig dop.

Hulle versterk hulle aantreklikheid:

  • met hulle postuur en sal regop staan of sit;
  • deur hulle oë groot oop te maak;
  • met hulle glimlag;
  • met die gemaklike en selfversekerde manier waarop hulle kommunikeer.

Wanneer hulle dit doen, begin hulle goed oor hulself te voel en begin hulle goed te lyk en begin jy om hulle as goed en aantreklik te sien.

Wanneer hulle dit doen, gebeur die volgende fisiologiese reaksies:

  • hulle vel verhelder;
  • hulle lyk gesond en
  • hulle lyk meer aantreklik.

Hoe beter hulle voel, hoe beter lyk hulle. Hierdie siklus gaan voort om ʼn beeld te skep wat ander as aantreklik sien.

Doen nou vir ʼn oomblik dieselfde. Dink aan ʼn persoon wie jy as aantreklik en selfversekerd sien. Verbeel jou (denke word dinge) dat jy jouself nou in hierdie persoon se liggaam sit en verbeel jou net dat jy doen wat hierdie persoon doen:

  • sit of staan regop;
  • maak jou oë groter oop;
  • glimlag;
  • verbeel jouself dat jy op ʼn maklike en selfversekerde manier kommunikeer. Wat kry jy? Voel jy dadelik sommer meer selfversekerd?

Dit is omdat jy jou selfvertroue kan beheer deur jou fisiologie.

8. Jy kan ook jou fisiologie beheer deur die volgende:

Hoe jy praat:
Jou fisiologie kan ook jou gevoel beheer in hoe jy praat. Dit kan selfs jou selfversekerdheid bepaal.

Praat

  • Sagter
  • Stadiger
  • met ʼn laer stemtoon en voel hoe jy meer in beheer van ʼn situasie is. Raas, skree en skel en jy ervaar hoe jy buite beheer voel.

Oogbewegings:
Wanneer jy ʼn onaangename emosie ervaar, kan jy bloot jou emosies met jou oogbewegings verander. Kyk op na bo. Wanneer jy dit doen, sal jy agter kom dat dit onmoontlik is om emosioneel te voel.

9. Terapie

Die volgende terapeutiese tegnieke kan jou help om jou selfvertroue te bou:

  • Hipnose en NLP sal jou help om jou selfvertroue te verhoog.
  • BWRT en hipnose jou kan help om daardie gebeure wat jou selfvertroue gebreek het, deur te werk, terwyl.
  • Sielvolheid (Mindfulness) jou sal help om in die oomblik te leef.