handhaaf-jouself

Sis, maar moenie byt nie

© Jorgan Harris

1.Inleiding

Mense vind dit meer as dikwels baie moeilik om “ja” te sê vir wat hulle wil hê, maar vind dit selfs moeiliker om “nee” te sê vir wat hulle nie wil hê nie.

Ek hoop die volgende kan jou help om juis dit te bereik: om in staat te wees om vir jou eie regte op te staan.

Dit word “assertiwiteit” genoem- ‘n aanvaarbare Afrikaanse woord vir “selfhand-hawing”.  Assertiwiteit is ‘n houding en ‘n wyse van optrede in enige situasie waar jy nodig het om:

  • jou gevoelens uit te spreek
  • te vra vir wat jy wil hê
  • om “nee” te sê vir wat jy nie wil hê nie

Om in staat te wees om assertief te wees, mag jy dalk nodig hê om jou self-esteem te verhoog.  Jy mag dalk ook hoër angsvlakke of depressie ervaar.  Indien dit die geval is, mag dit help om met ‘n sielkundige te konsulteer.

2. Verskillende gedragstyle

Assertiwiteit is ‘n manier van optrede wat ‘n balans vind tussen twee ekstreme:  aggressie en onderdanigheid.

Non-assertiewe of onderdanige gedrag behels dat jy jou onderwerp aan die voorkeure van andere terwyl jy jou eie regte en behoeftes op die agtergrond skuif.  Jy sê nie wat jy voel en lig ander nie in oor wat jy wil hê nie.  Die resultaat is dat hulle nie weet wat jou gevoelens of behoeftes is nie.

Aggressiewe gedrag behels dat jy op ‘n manier kommunikeer wat aandringerig, bombasties en selfs vyandig teenoor ander is.

Assertiewe gedrag behels om te vra vir wat jy wil hê (of om nee te sê) in ‘n eenvoudige, direkte manier wat nie enige iemand te na kom, aanval of manipuleer nie.  Jy kommunikeer jou gevoelens en behoeftes op ‘n eerlike en direkte manier terwyl jy respek en konsiderasie vir ander behou. Jy staan op vir jou regte sonder om verskoning te bied of om skuldig te voel. In essensie beteken assertiwiteit om verantwoordelikheid vir jou eie behoeftes te neem op ‘n manier wat die waardigheid van ander mense verseker.  Ander mense voel gemaklik met jou wanneer jy assertief is, want hulle weet waar hulle met jou staan.  Hulle respekteer jou eerlikheid en die feit dat jy reguit is.

Skematies kan dit so lyk: 

 

Hoe word behoeftes aangespreek

3. Om meer assertief te word

“Ek is groot gemaak om aangenaam (‘nice’) te wees. Dit is in orde so, behalwe dat “aangenaam” wees beteken dat jy nooit sê wat jy wil hê nie en nooit nee sê nie. Dat jy nooit ‘n opinie het wat van ander verskil nie, jy ‘n opinie het wat van ander mense verskil nie.  Ek het gedink dat die enigste manier om assertief te wees is om te skel en gil en rooi in die gesig te raak. Dit het my ‘n ruk geneem om te leer dat ek steeds eerlik en myself kan wees en tog steeds as aangenaam gesien te word”.

Assertiwiteit is veel meer as om in staat te wees om jou klagtes te laat hoor.  Dit is ‘n stel kommunikasievaardighede wat jou sal toelaat om respek en omgee vir jouself en ook vir andere te betoon. Dit beteken dat jy dit wat jy wil sê, kan sê wanneer dit die regte tyd is om dit te sê en steeds okay voel om dit te doen. Assertiewe vaardighede kan nuttig wees wanneer jy affeksie of ongelukkigheid uit wil druk.

Wat beteken dit om assetief te wees? Die tabel hieronder, aangepas uit die werk van Dr. Lynn Alden (Paterson, McLean, Alden en Koch 1996), vergelyk assertiwiteit met onderdanigheid en aggressie. Soos jy deur die blokke lees, kyk watter kolom pas die beste by jou. Maak regmerkies in die blok wat jou die beste beskryf. Wanneer jy klaar is kyk watter kolom het die meeste regmerkies.

 

Die volgende tabel vergelyk assertiwiteit met onderdanigheid en aggressie:

4. Sleutelpunte oor assertiwiteit

  • Assertiwiteit gaan oor wat jy doen, nie wie jy is nie. Sommige mense voel hulle kan nie assertief wees nie, aangesien hulle nie die persoonlikheid daarvoor het nie.  Assertiwiteit is egter ‘n vaardigheid en nie ‘n persoonlikheidseienskap nie. Dit mag vreemd voel aan die begin, soos wat dit maar is wanneer jy ‘n nuwe vaardigheid leer.  Dit word geleidelik makliker soos soos jy dit bemeerster.  Nes dit tyd neem om te leer fietsry, neem dit tyd om gemaklik te raak om assertief te wees, neem dit tyd om gemaklik te raak om assertief te wees.
  • Begin eenvoudig. Miskien is daar een persoon in jou lewe met wie dit regtig baie moeilik is om assertief mee te wees. Indien dit die geval is, moet dan nie op hulle begin oefen nie.  Begin eerder by mense wat ‘n bietjie minder bedreigend is. Soos jy beter raak met assertiwiteit kan jy moeiliker mense en situasies aanpak.  Bêre die moeilikste persoon vir laaste.
  • Jy hoef nie die heeltyd assertief te wees nie. Sommige situasies vra vir minder assertiwiteit as ander. Miskien moet jy maar ‘n koppie tee van Tannie Anna aanvaar, selfs al het jy gesê dat jy nie koffie wil hê nie. Dit mag ook dalk onveilig wees om assertief met iemand te wees wie jy weet gewelddadig kan raak. Wanneer dit egter veilig is en die kwessie op die tafel belangrik genoeg vir jou is, sal assertiwiteit beslis beter resultate vir jou hê as die alternatiewes.
  • Vra vir tyd. Party mense dink aan die regte ding om te sê nadat die gesprek verby is. Hulle laat hulself ompraat en is dan later spyt daaroor.  Wanneer jy dan in ‘n gesprek betrokke is en jy besef dat jy meer assertief moet wees, maar jy kan nie op daardie stadium dink wat om te sê nie, vra vir meer tyd.  Gebruik frases soos: “Ek kan jou nie nou antwoord nie”.  Of jy kan dalk sê: “Ek sal jou teen Dinsdag laat weet”. Dit sal jou meer tyd gee om oor die situasie te dink. Soos assertiwiteit ‘n gewoonte raak, sal jy gouer kan dink aan die antwoorde wat jy wil gee.

5. Jy het basiese regte

Voordat jy assertief kan wees is dit nodig om sekere idees in gedagte te hou.

As volwasse mense het ons almal basiese regte.  Om assertiwiteit te ontwikkel behels dat jy, net soos enige iemand anders, ‘n reg het tot al die dinge wat hieronder in die Persoonlike Handves van Regte gelys word.

 

Persoonlike Handves van Regte

6. Foutiewe aannames en nuwe herbevestigings

As voorbeeld: Al is dit soms selfsugtig om my behoefes voor ander te stel, mag ek myself soms maar eerste plaas

7. Om assertief te wees

Om assertief te wees en te vra vir wat jy wil hê en om (“nee” te sê vir wat jy nie wil hê nie, kan jy die volgende stappe volg.

 Evalueer jou regte met die situasie voor jou

Gaan kyk weer na jou Persoonlike Handves van Regte.  Wat is jou regte in hierdie situasie?  Hoekom kan jy vra vir iets wat jy wil hê en “nee” sê vir iets wat jy nie wil hê nie?

Voordat jy assertief kan wees, vra jouself die volgende drie vrae:

As ek assertief is:

  • Wat is die ergste wat kan gebeur?
  • As dit sou gebeur, hoe erg is dit in elk geval?
  • Wat is die kanse dat dit sal gebeur? (aangesien die meeste dinge waarvoor ons bang is in elk geval nooit gebeur nie).

Bepaal ‘n tyd om jou behoeftes te bespreek

Spreek ‘n tyd met die betrokke persoon af om die probleem te bespreek. Moenie hierdie sake bespreek  as die ander persoon met iets ander besig is nie.  Sê vir die ander persoon:  “Ek wil iets met jou bespreek.  Wanneer sal dit jou pas?”  Dit is ‘n goeie idee om teenoor mekaar te sit by ‘n tafel as ‘n voorbeeld.

Hou jou stemtoon:

  • Sagter
  • Stadiger
  • Laer

Dit sê so lekker in Engels:  “keep your tone of voice softer, slower, lower”. Wanneer jy skel en skree, sal jy net dieselfde gedrag in die ander persoon ontlok. ‘n Skreeu-geveg het nog nooit iets opgelos nie.  Wanneer jy skel en skree, aktiveer jy net die ander persoon se “veg-of-vlug” reaksie. Jy kry ‘n verhoogde lading (toevloei) van adrenalien in die bloedstroom. Dit ontlok gevoelens van baklei of weghardloop. Alle rasionaliteit is dan verlore.  Wanneer jy op ‘n ontspanne manier praat sal die ander persoon geneig wees om jou meer ernstig op te neem en ook rasioneel te reageer.

Vat tyd af om jouself te ontlont

Wanneer jy begin om kwaad te voel, moet jy weet dat dit niks gaan oplos nie.  Neem eers tyd om af te koel. Dit word genoem: Tyd Uit (Time Out), waar jy eers wag totdat jy voldoende afgekoel het, voordat jy weer aan die saak aandag gee. ‘Tyd Uit’ word ook in sport soos rugby gebruik waar ‘n speler ‘n geel kaart kry en ‘n tyd lank langs die veld in die “koelkas” moet sit, voordat hy weer op die veld mag draf om met die spel voort te gaan.

Sê hoe jy oor die spesifieke situasie voel

Deur die ander mense te vertel hoe jy voel, laat jy hulle weet hoeveel hulle gedrag jou en jou reaksies raak.  Deur te sê hoe jy voel – maak seker dat jy verantwoordelikheid neem om jou gevoelens te lug eerder as om ander mense te blameer. Die beste manier hier is om altyd te onthou stellings oor jou gevoelens begin met “ek”, eerder as met “jou”. Met ek-stellings erken jy jou verantwoordelikheid vir jou gevoelens, terwyl jy-stellings die ander een beskuldig of veroordeel.  Wanneer jy dit doen, plaas jy ander mense op die verdediging wat dan kommunikasie belemmer. Begin ‘n sin met: “Ek voel dit of dat”, in plaas van om te sê: “Jy maak my kwaad”.

Rig jou versoek om die situasie te verander

Dit is die sleutelstap van assertief-wees.  Jy vra eenvoudig vir wat jy wil hê (of nie wil hê nie) op ‘n reguit, direkte manier.

Gebruik assertiewe nie-verbale kommunikasie

  • Kyk direk na ‘n persoon as jy met hulle praat
  • Gebruik kort, duidelike sinne. Stemtoon nie te hard of sag nie. Normale stem.
  • Hou jou liggaamsposisie oop.
  • Moenie terugstaan of te na aan die ander persoon beweeg nie.

Hou jou versoek eenvoudig

  • Bly kalm. Wanneer jy kwaad of opgewonde raak, vat tyd en gaan raak iewers anders van jou gevoelens ontslae voordat jy weer begin kommunikeer.
  • Wees spesifiek – vra presies vir wat jy wil hê.

 Sê die volgende:

  • “Ek sal daarvan hou as …”
  • “Ek wil …”
  • “Ek sal dit waardeer as …”

Maak beswaar teen gedrag, nie teen die persoon nie

  • laat hulle weet dat jy ‘n probleem het met iets wat hulle doen (of nie doen nie), nie met wie hulle as persoon is nie.

Moenie verskoning aanbied vir jou versoek nie

Rig versoeke, nie aandrange of bevele nie

Sê vir die persoon wat die gevolge sou wees mits jy hul samewerking kry (al dan nie)

  • Met nabye vriende of intieme genote, kan dit voordelig wees as hulle weet dat daar positiewe gevolge is vir hulle samewerking en dat dit ‘n eerlike aanbod is van gee-en-neem eerder as manipulasie.

8. Leer om “nee” te sê

 ‘n Belangrike aspek van assertief wees, is jou vermoë om “nee” te sê vir versoeke wat jy nie kan of wil nakom nie.  Om “nee” te sê beteken dat jy grense stel vir ander mense se aandrange op jou tyd en energie wanneer sulke aandrange met jou eie behoeftes en begeertes inmeng.  Dit beteken ook dat jy dit kan doen sonder om skuldig te voel.

In sommige gevalle, veral as jy mense moet hanteer met wie jy nie ‘n verhouding van enige aard wil vestig nie, kan net deur te sê: “nee-dankie”, of “nee, ek stel nie belang nie” op ‘n vriendelike dog ferm manier, genoeg wees. Maar as die ander persoon aanhou, kan jy net jou stelling kalm herhaal sonder om verskoning aan te bied.  Jy mag ook die “vasgehaakte-plaat” tegniek gebruik.  Onthou jy die dae van langspeelplate?  Wat gebeur as ‘n plaat vashaak… vashaak… vashaak… vashaak? Herhaal net jou: “Nee, ek stel nie belang nie”, oor en oor en gebruik dieselfde woorde en dieselfde stemtoon.  Gewoonlik stop mense na die derde poging.  Onthou ook dat jy nie enige verduideliking hoef te gee nie.  Laat jou “nee” net jou “nee” wees.  Indien nodig, maak jou stelling sterker en meer empaties.  Jy mag nodig hê om die volgende te doen:

  1. Kyk die persoon direk in die oë,
  2. Verhef die toon van jou stem ietwat en,
  3. Handhaaf jou posisie: “Ek sê – nee dankie”.

In baie gevalle – met kennisse, vriende en familie – mag jy dalk ‘n rede aan die ander persoon wil verskaf oor hoekom jy nie aan hulle versoeke wil voldoen nie.  Hier is dit dikwels raadsaam om ‘n drie-stap prosedure te volg:

  1. Erken die ander persoon se versoek deur dit te herhaal.
  2. Verduidelik jou rede hoekom jy dit afkeur.
  3. Sê “nee”.
  4. (Opsioneel). Indien toepaslik, maak ‘n alternatiewe voorstel wat in jou en die ander persoon se behoeftes sal voldoen.

Gebruik Stap 4 net as jy ‘n gemaklike manier sien waarin jy en die ander persoon mekaar in die middel kan ontmoet.

9. ‘n Metafoor: Wat die slang jou kan leer as jy te aangenaam is

Die slang was verskriklik en gevaarlik.  Hy het die inwoners vreesbevange gelaat en die kinders gepik.  Op ‘n dag het ‘n wyse man die dorp binne gestap.  Hy het gesien watter chaos die slang se dade onder die inwoners van die dorp gebring het.

Omrede hierdie net ‘n storie is kon die wyse man met die slang praat. Nadat hy die uitgeworpe slang se vertroue gewen het, kon hy met die slang praat en het vir hom gesê: “Luister Slang.  Jy maak nie net die mense hier ongelukkig nie, maar jy is in jouself duidelik ook misrabel”.

“Oefen bietjie vriendelikheid en sagtheid om die lewe van almal hier makliker te maak en om ook jou eie lewe makliker te maak”.

So het die wyse man die volgende dag die plek verlaat.

Jare later het die wyse man toevallig weer deur dieselfde dorp gereis.  Tot sy verassing het hy gesien hoe die slang saam met die kinders speel.  Hy kon nie glo hoe die voormalige, aggressiewe slang met wie hy jare vantevore gepraat het, nou so lekker met die kinders speel nie.  Die slang kon homself bevry van sy vervolgers en inpas by die mense.

“Jou advies was ‘n ramp”, het die slang gesis.  “Om aangenaam te wees, het my misrabel gelaat.  Nou is ek net ‘n speelding, mense lag vir my en ek word as vanselfsprekend aanvaar. Ek was vantevore beter af!”

Die ou man het gereageer en gesê: “Jy het my raad te letterlik opgeneem. Ek het gesê jy moet nie byt nie, maar ek het nie gesê dat jy nooit mag sis nie.

 

10. Vraelys – hoe assertief is jy?

Verstaan jou tellings

Jy kan jou tellings interpreteer deur die volgende inligting te gebruik:

  • Die hoogste telling dui op jou oorheersende gedrag.
  • Die laagste telling mag ʼn aanduiding wees van gedrag wat jy die minste verkies.
  • Indien al jou tellings laag is, mag dit ʼn aanduiding wees van oorheersende passiwiteit, ‘n gebrek aan selfvertroue en twyfel in jou eie vermoëns terwyl jy die vrae beantwoord het.
  • Indien assertiewe en passiewe tellings na-aan mekaar is mag dit ʼn aanduiding wees dat jou assertiewe benadering sterker begin word. Dit beteken dat jy meer dikwels assertief optree, alhoewel ʼn oorheersende passiewe onsekerheid veroorsaak dat jy terugval na ʼn neiging om mense tevrede te probeer stel.
  • As die passiewe en aggressiewe telling na-aan mekaar is, mag dit ʼn aanduiding wees van ‘n lae selfagting en onsekerheid, wat onderliggend aan beide is. Jy mag byvoorbeeld jou gevoelens opkrop en dan uitbars as gevolg van frustrasie wanneer jy dit nie langer kan verduur nie. Daarna voel jy skuldig oor jou uitbarsting en keer weer terug tot ʼn passiewe standpunt.
  • Indien die assertiewe en aggressiewe tellings na-aan mekaar is, mag dit ʼn aanduiding wees van ʼn wanbalans tussen jou vermoë om jouself uit te druk en ʼn oorheersende gevoel van frustrasie. Hoe meer jy egter met assertiwiteit eksperimenteer, deur jouself duidelik uit te druk, hoe meer gaan jy daarin slaag om balans te verkry.

 

Hoe kan jy hierdie resultate gebruik tot jou voordeel? 

  • Die vraelys help jou om jou gedragspatrone beter te verstaan en jy kan verder bou op jou nuwe bevindinge.
  • Toets jou gedrag vir die volgende 2 weke na aanleiding van jou resultate van die vraelys. Praat met mense wat jy kan vertrou, vra hulle om hulle eerlike opinie, hoe hulle jou sien en wat dit is in jou gedrag wat vir hulle kenmerkend van jou is.
  • Kyk of jou gedrag anders by die huis is, as op ander plekke. As dit anders is, vra jouself af waarom dit so is en waarom jy op een plek (bv. by die huis) meer selfvertoue het as op ‘n ander plek.
  • Let op na spesifieke situasies of mense wat jou onseker en nie-assertief laat optree. Wat presies is dit in die sitausie of aan die persoon wat hierdie reaksie by jou uitlok?