General Anxiety Disorder

Die wat as probleem – algemene angsversteuring

© Jorgan Harris

1. Inleiding

Die meeste van die mense wat met algemene angsversteuring gediagnoseer word is altyd verbaas oor hulle diagnose. Dit is juis die mense wat altyd rustig en kalm is wat aan angs mag ly. Tog maak mense met algemene angsversteuring meer as die helfte van my praktyk uit.

2. Ly jy aan ‘n algemene angsversteuring?

ʼn Algemene angsversteuring word gekenmerk deur chroniese stres wat vir ten minste ses maande teenwoordig is, maar sonder die gepaardgaande paniekaanvalle, fobies of obsessies. Jy ervaar eenvoudig net voortdurende stres en bekommernisse.

Om ʼn diagnose van algemene angsversteuring te kry moet jou angs en bekommernisse fokus op twee of meer stresvolle lewensgebeurtenisse (soos byvoorbeeld finansies, verhoudinge, gesondheid of werk – of skoolprestasie) vir die meerderheid van dae in ʼn ses-maande periode. Dit is algemeen dat wanneer jy met ʼn algemene angsversteuring te make het, jy baie bekommernisse het en dat jy baie tyd aan jou bekommernisse spandeer. Jy vind dit moeilik om veel beheer oor jou bekommernisse uit te oefen. Maar meer as dit, is die intensiteit en die frekwensie van die bekommernisse altyd buite proporsie met die moontlikheid dat hierdie dinge werklik sal gebeur.

Diagnostiese kriteria van ʼn algemene angsversteuring volgens die DSM 5 (Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders Edition 5).

Oormatige angs en kommer (waarin jy net die ergste verwag), vir ten minste 6 maande oor ʼn aantal gebeure of aktiwiteite. Dis vir jou moeilik om die angs te beheer. Die angs en kommer word geassosieer met drie (of meer) van die onderstaande ses simptome:

  • Word maklik uitgeput
  • Probleme om te konsentreer of jou verstand wat net leeg raak
  • Geïrriteerdheid
  • Spierspanning
  • Slaapversteuring (probleme om aan die slaap te raak, of om aan die slaap te bly, of ʼn rustelose onbevredigende slaap).

Jy mag dalk sukkel om te ontspan. Jy voel die heeltyd onrustig. Jy kan nie dwarsdeur ʼn fliek op televisie stilsit sonder om kort-kort op te spring om eers iets anders te gaan doen nie. Teen die middel van die middag mag jy reeds uitgeput wees en voel om te slaap. Jy mag dalk begin om byvoorbeeld ʼn tydskrif te lees en na die eerste of tweede paragraaf besef dat jy nie ʼn idee het waaroor hierdie artikel gaan nie. Sommige mense in hul laat middeljare begin glo dat hulle begin om ʼn vorm van demensie soos Alzheimer-siekte te ontwikkel. Dit mag dalk net angs wees. Jy voel maklik geïrriteerd en veral geraas mag jou eindeloos frustreer.  Jy mag moontlik spierspanning ervaar, veral in jou skouers en nek. Jy mag dit dalk toeskryf aan die feit dat jy die heeldag agter jou rekenaar sit, maar dit is egter nie die geval nie. Laastens mag jy dalk ʼn insomniac wees. In kort, jy staan bekend as ʼn control freak. Jy ly waarskynlik net aan ʼn algemene angsversteuring.

Jou angs, bekommernisse of selfs fisiese simptome veroorsaak ʼn klinies betekenis-volle probleem in jou sosiale, beroeps- of ander belangrike areas van funksionering.

3. Hoe Algemene Angsversteuring werk

In die algemene omgangstaal staan ʼn algemene angsversteuring bekend as stres. Streng sielkundig gesproke, bestaan daar egter nie ʼn term soos stres nie. Dit is algemene angs.

Dit is gewoonlik nie jou omstandighede wat stres of angs veroorsaak nie, maar eerder hoe jy daaroor dink. Hierdie denke begin altyd met: “Wat as…?” “Wat as dit gebeur?” of “wat as ek dit doen of nie doen nie?”

As kind het ek ‘n hond gehad.  Hierdie hond was veral erg op katte.  Eendag het my hond ‘n kat in ‘n hoek vasgepen. Wat my arme hond nie mee rekening gehou het nie, was dat hierdie kat ‘n Siamese kat was.

Bobbel het nog hierdie kat in ‘n hoek gevange gehou, toe die kat skielik begin blaas het, sy rug krom gemaak het, sy spiere saamgetrek het, hare gestaan het en sy naels begin wys het. Ek het gedink dat hierdie kat kwaad is, maar eintlik was hierdie kat nie kwaad nie, maar was gestel op oorlewing.

Die kat het in ‘n oogwink vir Bobbel gestorm, hom op die neus geslaan dat die bloed spat en oor ‘n muur gespring hoër as wat ek ooit gedink het ‘n kat oor sou kon spring.

Wat het hier gebeur? In die natuur sal ʼn dier, wanneer hy in die moeilikheid is, adrenaline en nor-adrenaline afskei om hom in staat te stel om te veg of te vlug. Vandaar die sogenaamde veg-of-vlug respons. Die dier se hart begin vinniger klop, spiere span saam, asemhaling word vinniger en vlakker ens Alles om hom in staat te stel om om harder te baklei of vinniger weg te kan hardloop. Wanneer die gevaar verby is, gaan slaap die dier om weer sy adrenaline-vlakke te herstel.

Daar is sekere ooreenkomste en verskille tussen ons en diere. Die ooreenkoms is dat ons en diere min of meer dieselfde sentrale senuweestelsel het.  Wanneer ons voel ons is in gevaar, produseer ons adrenaline en nor-adrenaline, net soos die kat om die probleem af te weer, sonder om noodwendig te dink.

As ‘n taxi voor jou sou inswaai, sou jou serebellum, laer brein en breinstam (dit is daardie deel van jou brein wat gefokus is op oorlewing), oftewel jou oerbrein, jou kleinbrein of jou reptielbrein, intree.  Jy gaan nie op daardie stadium jou neokorteks (daardie deel van jou brein wat te make het met logiese denke, taal en logika) gebruik nie.  Jy gaan nie dink: a) moet ek uitswaai? b) moet ek rem trap, of c) is daar dalk ‘n alternatiewe opsie nie?  Teen daardie tyd was jy al in ‘n groot ongeluk.  Dit is asof jou instink intree, jy dink nie – jy tree net op.

Die ooreenkoms tussen ons en diere is dat ons limbiese sisteem intree en verrassend genoeg (sonder om te dink) die regte ding doen om die ongeluk te vermy en agterna verbaas terugkyk hoe jy outomaties oorgeslaan het na auto-pilot en instiktief net die regte ding gedoen het het en instinktief die regte ding gedoen het.

Daar is ook belangrike verskille tussen ons en diere.  Ons kan nie altyd op die instinkte van ons limbiese sisteem reageer nie.

As mens, kan ons nie altyd ons adrenaline gebruik soos ʼn dier nie. Ons kan nie daardie moeilike kollega by die werk gaan, of van die ontvanger van inkomste weghardloop nie.  Daardie adrenaline bly dus vasgevang in ons liggaam en dra by tot ‘n gevoel van angstigheid. Daardie adrenaline is geproduseer, maar nooit gebruik nie.

Daar is egter ook ʼn verdere verskil hier tussen mense en diere. Soms ervaar ons verkeerdeliks iets as ʼn bedreiging deurdat ons op ʼn irrasionele manier daaroor dink. Wanneer ons dink dat iets ʼn bedreiging is, gebruik ons dieselfde deel van ons brein (die serebellum, laer brein en breinstam) wat ons gebruik wanneer daar wel ʼn fisiese bedreiging is. Jou liggaam kry die boodskap dat daar gevaar is en begin om adrenaline af te skei vir die veg-of-vlug reaksie.

Sulke denke begin gewoonlik met “wat as?”. Ek noem angs die wat as siekte. Ons martel onsself met vrae oor moontlike katastrofiese gevolge. En dan gebeur die meeste van ons vrese nooit eers nie!

Jou serebellum, laer brein en breinstam of dan oerbrein of reptielbrein verstaan nie dat dit net jou denke is nie.  Hierdie deel is te primitief en dit verstaan nie taal nie.  Daardie deel dink dat jou ‘wat as’-denke realiteit is en berei jou dan voor vir ‘n veg-of-vlug reaksie.

As jy weer na die simptome van angs kyk soos ek dit hierbo beskryf het, maak dit sin hoekom jy dalk rusteloos is, maklik uitgeput raak, konsentrasieprobleme ervaar, geїrriteerd raak, spierspanning het of sukkel om te slaap. Jou liggaam is in konstante gereedheid vir jou verbeelde gevare.  Geen mens kan ontspan, konsentreer of slaap as die spreekwoordelike Bobbel jou in ‘n hoek vaspen nie.  Jy is gereeld moeg, want jou adrenaline is op.  Slaap help jou om weer daardie adrenaline op te bou en dan sukkel jy dalk nog om te slaap ook.  Opsigself sal dit ook nie veel help met jou konsentrasie en geheue nie.

4. Jy mag ook die volgende ervaar:

Mense wat aan ʼn algemene angsversteuring ly, mag moontlik meelopend sekere van die volgende ervaar:

‘n Sogenaamde senuwee-ineenstorting

Miskien is dit goed vir jou om te weet dat daar nie iets soos ‘n senuwee-ineenstorting bestaan nie.  Dit was dalk net ‘n erge angs-of paniekaanval. Kyk na die volgende hofie.

Angs-en paniekaanvalle

Besoek asseblief my webtuiste jorganharris.co.za.  Klik op Terapie en gaan dan na Angs- en Paniekaanvalle. Hier mag jy dalk agterkom dat jy nie besig is om mal te word nie (al voel dit so);

  • jy nie besig is om ‘n hartaanval te kry nie;
  • jy nie ‘n asma-aanval sal kry nie;
  • jy nie besig is om dood te gaan nie;
  • jy nie ‘n beroerte kry nie;
  • dat jy nie besig is om ‘n lewensgevaarlike siekte te kry wat dokters nie raak kan sien nie.

Obsessief kompulsiewe versteuring (OCD)

Hoewel dit waar is dat daar ‘n OCD persoonlikheidsversteuring bestaan, is die meeste OCD net die gevolg van angs. Jy mag dalk een of meer van die volgende ervaar:

  • OCD van “checking” – Jy mag dalk oormatig seker maak dat jou deure gesluit is, of dalk dat jy oormatig seker wil maak dat die ketel afgeskakel is ens.
  • OCD van “washing” – Jy mag dalk oormatig bad of jou hande oormatig was.
  • OCD van “counting”. Jy mag dalk alles rondom jou wil tel en jy mag dalk ‘n obessie ontwikkel dat al jou syfers ‘n bepaalde telling moet ontwikkel.
  • OCD van “perfection”. Alles moet ten alle koste perfek weees. Geen skildery mag skeef hang nie. Alles moet perfek op hulle plek wees. Dit is natuurlik daardie vrees vir mislukking wat jou so hard laat werk om perfek te wees.
  • OCD van “hoarding” (opgaring). Jy kan niks weggooi nie. Jy bly goed opgaar. 

Woede

In hierdie praktyk word daar nie woede hantering (anger management) gedoen nie.  Hoekom moet jy jou woede hanteer as jy net bloot daarvan ontslae kan raak? Jy hoef dit nie te hanteer nie.

Jy mag dalk dink dat die kat in ons verhaal kwaad is.  Die kat is egter nie kwaad nie, maar hy is net gereed vir die moontlike gevaar wat vir hom wag. Dus kan jou woede dalk net die gevolg wees van onderdrukte angs.

Iemand het eenmaal gesê dat jou woede versteekte hartseer is. Ons sal eerder probeer om jou onbewuste hartseer deur te werk, as om op die woede te fokus.

Mense met angs is ook geneig om hulle woede te onderdruk.  Dit is letterlik soos ‘n groot sementblok wat hulle oor hul vulkaan van woede plaas.  Hierdie sementblok staan bekend as sielkundige verdedigingsmeganismes.  Die vulkaan druk op en die verdedigingsmeganismes druk af en die spanning tussen die twee, is hoe angs lyk.

‘n Ander metafoor is dat jy soos ‘n bottel is.  Iemand maak jou kwaad en dit is soos gas wat in die bottel ingepomp word.  Maar jy kan dit hanteer (contain).  Dan word daar nog gas ingepomp en jy hanteer dit ook.  Die bottel kom nou egter onder druk want daardie gas gaan nêrens heen nie.  Tot een dag waar iets klein gebeur en jy verloor dit. Daardie bottel ontplof.  En dan sê mense nog vir jou: “dit is dan net ‘n klein dingetjie wat gebeur het, hoekom oorreageer jy so?”  Natuurlik is dit nie die klein dingetjie nie, dit was genoeg om die bottel wat sterk onder druk was, te laat ontplof.

Alkohol-misbruik en verslawings

Kom ons erken dit openhartig teenoor mekaar.  Alkohol, dagga asook ander dwelms help vir angs, al is dit net om al hierdie gedagtes te onderdruk.  Alhoewel net op die kort termyn, maar dit help. Die langer termyn gevolge is ‘n ander storie. Jy is bes moontlik nie ‘n alkoholis nie, maar jy mag dalk te veel drink. Jou oormatige inname van alkohol mag dalk afneem wanneer jy jou angs onder beheer het en nie meer “nodig” het om so baie te drink om te kalmeer nie.

Ander mense sal aggressief raak onder die invloed van alkohol.  Alkohol verslap natuurlik die greep van daardie sementblok (sielkundige verdedigings-meganismes) en dan kom daardie gevoelens na vore en mag so ‘n persoon aggressief of bakleierig raak.  Dit help nie om jou alkoholinname te verminder nie, want dit werk gewoonlik nie.  Die woede, of dan die onderliggende angs, moet verwerk word.

Lae self esteem

Streng gesproke bestaan daar nie in die sielkunde konsepte soos lae self esteem, lae selfbeeld, swak selfvertroue of watookal nie.

‘n Sogenaamde lae selfbeeld is bloot die gevolge van die negatiewe dinge (genoem irrasionele denke) wat jy dink oor jouself en vir jouself sê.  Dit is daardie negatiewe gedagtes wat vir jou vertel dat jy dinge nie kan doen nie, of dalk nie goed genoeg is nie.

As jy mooi daaroor dink, is dit eintlik die vrees vir mislukking wat jou keer om iets te probeer.

Sosiale fobie

Eintlik hou ek nie van die term “sosiale fobie” nie en kies om eerder van sosiale vrees te praat.  Daar bestaan, volgens my, ook nie ‘n term soos sosiale fobie nie.  Jy mag bloot bang wees vir verwerping, of bang wees vir mense se opinies of vir wat hulle dink van jou.  “Wat as…?”

Jy is dalk ook bang vir die opinie van ander mense.  Wat gaan ander mense van my dink of sê?  Geen wonder nie die Franse filosoof Jean Paul Sartre het eenmaal gesê: Die hel is ander mense (en hulle opinies). Mits jy dit natuurlik toelaat (in my opinie).

Jy is dalk ook so bang vir verwerping, dat jy eerder ander mense sal verwerp of uit jou lewe uitsny voordat hulle dit kan doen en so saboteur jy jouself.

Uitstel (Procrastination)

Aansluitend hierby, bestaan daar ook nie ‘n ding soos procrastination nie.  Jy is bloot te bang om iets te doen vir die vrees dat dit te moeilik is, of dat jy sal misluk, dat jy “verkies” om dit uit te stel of om eerder ander dinge te doen as die taak wat jy aan moet pak.

Gebrek aan assertiwiteit

Dalk is ‘n gebrek aan selfhandhawing ‘n beter Afrikaanse woord.  Gaan kyk gerus na my artikel oor Assertiwiteit op jorganharris.co.za

Kortweg is daar drie vlakke van assertiwiteit:

  • Onderdanige gedrag
  • Assertiewe gedrag
  • Aggressiewe gedrag.

Assertiewe gedrag beteken om vriendelik maar ferm te sê wat jy wil hê en nie wil hê nie.  Meeste angslyers is geneig om onderdanig te wees en hulself te laat misbruik.  Jy is te bang om ander mense se gevoelens seer te maak, of te bang vir verwerping indien jy hulle nie “please” nie.  Jy wil net aanvaar word en wil hê dat mense van jou moet hou. Maar dit frustreer jou van tyd tot tyd en mag hulle van onderdanige gedrag, dwarsdeur assertiwiteit tot in aggressiewe gedrag bars, wat dan weer tot skuldgevoelens lei.  Meer oor skuldgevoelens later.

Beheervraat

Daar bestaan ook nie ‘n term soos ‘n beheervraat nie.  Beheervrate is reeds die mense wat nie in beheer voel nie, of bang is hulle verloor beheer.  Sulke mense mag ook sogenaamde manipuleerders wees.  ‘n Sogenaamde manipuleerder mag dalk net iemand wees wat bang is hulle verloor beheer en wil mense en dinge dwing om dit die angslyer se manier te laat gebeur net om beter te voel en nie so buite beheer te voel nie.

Skuldgevoelens

Mense met angs sukkel ook met oormatige skuldgevoelens.  Jy bly jouself onnodig kasty oor wat jy verkeerd gedoen het, of dalk nie gedoen het nie. Sodra jy daaroor dink, is skuldgevoelens die mees nuttelose emosie wat jy ooit kan ervaar.  Dit bring jou nêrens.  Skuldgevoelens het ten diepste te make met vrees, al is die vrees ‘n vrees vir die wraak van Karma of om in die sogenaamde hel te beland vir die slegte mens wat jy was.

Gewigstoename

Onlangse navorsing het ook gewys dat stres en angs die grootste oorsaak is van gewigsprobleme.

Eenvoudig verduidelik werk dit so: Jy eet kos.  Kos gaan na jou maag vanwaar dit na al die dele en organe van jou liggaam wat dit nodig het vir oorlewing.  Die oormaat of onnodige kos wat jy eet gaan in een van twee rigtings: dit gaan na jou uitskeidingskanale of word opgeneem in jou liggaam se vetselle.

Die vraag ontstaan hoekom die kos eerder in vet opgeneem word as om uitgeskei te word.

Die antwoord lê in jou serebellum, laer brein en breinstam, oftewel die oer- of reptielbrein. Hierdie deel van jou brein het net een funksie:  oorlewing.  Hierdie deel is so primitief dat wanneer jy angstig is,  weet hy nie jy is angstig oor jou baas by die werk jou weer probleme gee nie.  Hierdie deel interpreteer angs in terme van oorlewing.  Hy dink daar is ‘n leeu wat jou jaag of daar is hongersnood.  Jou limibiese sisteem sal dan sorg dat jy meer eet en jou kos in vetselle stoor vir energie om te veg vir oorlewing.

Jy hoort gewig te verloor wanneer jy jou angs oorwin en jou serebellum, laer brein en breinstam nie meer die impuls kry om te veel te eet of om die kos te stoor nie.

5. Moontlike oorsake van GAD

Natuurlik kan daar ‘n legio van oorsake wees van GAD.  Ons is nie soseer geïnteresseerd in die oorsaak van GAD nie.  GAD word eerder veroorsaak deur die toekoms (of ‘n vrees vir die toekoms).  Ons fokus val dan ook op die vrese vir die toekoms.  Sou ons in die verlede moet gaan delf vir potensiële oorsake vir GAD is hier ‘n paar moontlike oorsake (onthou egter dat die dit nie alle oorsake is nie):

Trauma

Trauma is dit wat vir jou traumaties is. Jy mag dalk ‘n trauma of meer in jou lewe ervaar  het.  Trauma kan enigiets wees van ‘n gebeurtenis waar jou lewe bedreig was tot so klein soos iets wat jou negatief oor jouself laat voel het.

Jou ouers

Dit mag gebeur dat een of beide van jou ouers aan angs ly en jy hierdie beeld van die wêreld, wat ‘n gevaarlike plek is, jou eie gemaak het. Perfeksionistiese ouers of ouers wat hoë verwagtinge aan jou stel, mag ook ‘n invloed hê.

Jou geboorte-orde

Oudste kinders is meer geneig om angs te ontwikkel as jonger kinders in die gesin, aangesien hulle meer verantwoordelikhede dra en van hulle meer verwag word in die gesin as die jonger kinders.

Daaglikse stres.

Spanning oor geld, werk, familie, siekte ensovoorts kan angs veroorsaak.

Ander faktore

Daar mag veel ander faktore wees wat ons kan ondersoek, maar ek glo glad nie in genetiese of biologiese faktore nie.  Daar is geen bewys daarvoor nie. Daarom is ek nie ‘n groot voorstander van medikasie vir angs nie.

Die moontlike oorsake soos hierbo genoem, is baie oppervlakkig bespreek en jou eie unieke situasie sal in meer diepte ondersoek word tydens konsultasie.

6. Die slegte nuus is:

Dat jy dink die lewe hoort so te wees. Dit is hoe jy is en dit is hoe jy aanmekaar gesit is.  Mense met algemene angs dink hulle is die malste van die hele lot, maar:

7. Die goeie nuus is:

Dat dit nie deel is van jou persoonlikheid nie! Jy is nie so gebore nie.  Dit is ook nie geneties nie.  Dit is bloot die gevolg van jou denke en aangleerde denke. Bloot omdat jou ouers angs gehad het en hulle ouers angs gehad het, beteken nie dat dit in jul gene loop nie.  Dit is omdat jy van kleins af af gekondisioneer is dat die wêreld ‘n slegte plek is aangesien jou serebellum, laer brein en breinstam van kleins af ten volle ontwikkeld is, maar jou neokorteks nie. Om hierdie rede sal jy glo dat die wêreld ‘n slegte plek is, ondanks die bewyse van die teendeel daarvan.  Ek noem Algemene Angs die gesofistikeerde mens se probleem.  Jy moet ‘n hoë intelligensie hê om al hierdie irrasionele gedagtes uit te dink.  ‘n Bedelaar dink net aan oorlewing en ervaar nie angs nie.  Dit gaan net oor oorlewing vir hom of haar.

Algemene angs, nog meer as depressie wat as die “siekte van ons tyd” gereken word, is veel meer algemeen as selfs depressie.

Eintlik is dit die mees eenvoudige probleem om op te los.  Aangesien dit so algemeen is, is daar soveel navorsing daaroor gedoen.  Dit is ‘n versteuring wat ons baie goed verstaan en baie maklik op kan los. Dalk is jy meer as ‘n Siamese kat as wat jy besef!

8. Wenke om angs te hanteer

In terapie sal ons al die aspekte van jou angs aanspreek.  Vir nou kan dit help om net drie dinge te doen:

Haal diep asem.

Asemhaling is die kern van ontspanning. Haal asem asof jy dit tot in jou maag en abdomen inasem.  Jou asemhaling is die een ding waaroor jy altyd absolute beheer het.  Jy kan gerus meer hiervan lees in my artikel oor asemhaling op my webtuiste: jorganharris.co.za

Skandeer jou liggaam vir spanning.

Raak bewus van jou voorkop, maak dit glad en ontspanne met elke teug wat jy uitasem.  Ontspan dan jou kakebeen, en laat jou kakebeen los en ontspanne hang.  Raak bewus van jou skouers, laat ou skouers sak en ontspan.  Raak dan bewus van jou abdomen en laat jou maag dieper en dieper ontspan met elke teug wat jy uitasem.  Op hierdie manier kan jy die res van jou liggaam skandeer en ontspan.

Verander jou denke.

Daar is niks wat jy “moet” doen, of niks wat “moet” gebeur of nie “mag” gebeur nie. Vra jouself af:

  • Wat is die ergste wat kan gebeur?
  • Sou dit gebeur, hoe erg is dit dan regtig?
  • Wat is die kanse in elk geval dat dit gaan gebeur, aangesien 95% van dinge waaroor ons onsself bekommer, in elk geval nooit gebeur nie.

9. Die lewe hoef nie so te wees nie

Iemand het eenmaal gesê: Ontspan, jy is in elk geval nie in beheer nie!

Ons is in elk geval nie in beheer nie. Hoekom moet ons onsself so bekommer? Ons is gekondisioneer dat die wêreld ʼn gevaarlike plek is, dat ons heeltyd op ons hoede moet wees. Ons maak die lewe vir onsself moeilik. Selfs in die Heilige Geskrifte is hoeveel aanhalings wat daarop neerkom dat ons onsself nie hoef te bekommer nie, dat ons in elk geval niks gaan bereik deur ons te bekommer nie.

Die beste van alles is dat dit nie deel van jou persoonlikheid is nie of  Om alles te kroon, is dit nie deel van jou persoonlikheid nie.

10. Terapie

Ek is nie ‘n groot voorstander vir medikasie nie.  Medikasie mag jou help om daardie verskriklike simptome van angs te onderdruk, maar dit vat nie jou probleme of jou denke weg nie.  Dit mag jou dalk help op die korttermyn en ek mag dit selfs vir jou voorstel, maar daar is te veel newe-effekte.

Ek is ook nie ‘n voorstander van Kognitiewe Gedragsterapie (oftewel CBT) nie.  Om jou te help om anders te dink oor ‘n situasie, mag dalk jou denke in nou neokorteks (jou denkende brein) beïnvloed, maar jou serebellum, laer brein en breinstam verstaan nie taal nie en gaan nog steeds bedreig voel. Al sou jy jouself vertel dat daar geen rede vir stres is nie, sal jou serebellum, laer brein en breinstam steeds /of stres ervaar en gereed wees vir die veg-of-vlug reaksie.)

Daarom hou ek van tegnieke wat direk met die serebellum, laer brein en breinstam praat, soos hipnose en BWRT. Tegnieke wat die wat die neorkorteks dalk nie mag verstaan nie, maar wat jou serebellum, laer brein en breinstam wel verstaan.

11. Beck Anxiety Inventory (BAI)

Hierdie is ‘n self-toets vir angs

Items: 21

Die totale telling word bereken deur die totale telling van die 21 items bymekaar te tel.

‘n Telling van  0-21 = lae angs

‘n Telling van 22-35 = matige angs

‘n Telling van 36 en meer  = potensiële kommerwekkende vlakke van angs

 

Verwysing: Beck, A.T., Epstein, N. Brown, G., & Steer, R.A. (1988). An inventory for measuring clinical anxiety: Psychometric properties. Journal of Consulting and Clinical Psychology, 56,893-897.