Dankie onderbewuste – wat hipnose is en nie is nie

©Jorgan Harris

1. Inleiding

Hipnose is ‘n baie kragtige instrument om genesing, groei en transformasie te bevorder. Dit werk deur ‘n kreatiewe staat te skep waar nuwe leergeleenthede in die liggaam en verstand kan gebeur met groot effektiwiteit en feitlik sonder enige inspanning. Dit kan ons help met die kennis en energie wat nodig is om suksesvol in die lewe te wees en om ons te help om nuwe oortuigings te bou en om aandag te fokus. As ons ons oortuigings kan verander, kan ons oortuigings ons verander.

In hierdie praktyk word hipnose in die volgende velde gebruik:

Angs en stres

Hipnose blyk ongelooflik suksesvol te wees met ‘n Kognitiewe Gedragsbenadering om alle vorme van angs, veral paniekaanvalle te behandel. Hipnose is ook al bewys om suksesvol te wees om feitelik enige fobie, obsessiewe kompulsiewe versteuring of oormatige vrees te oorwin, soos verhoogvrees.

Depressie

Depressie word dikwels genoem “woede sonder entoesiasme” en wanneer hierdie woede hanteer is, tesame met kognitiewe herstrukturering, wil dit voorkom of die depressie tot ‘n groot mate verlig word.

Trauma

Hipnose is bewys om geweldig effektief te wees in die hantering van trauma, spesifiek Posttraumatiese  stresversteuring.

Verskeie ander emosionele versteurings

Ander emosionele versteurings in die werksveld van ‘n sielkundige word ook in hierdie praktyk aangespreek, spesifiek self-esteem en probleme met selfvertroue asook rousmart.

Eetversteurings en verslanking

Hipnose is ook baie waardevol om mense te help om te verslank. Dit is soms nodig om eers onderliggende probleme aan te spreek voordat mense kan verslank, maklik en sonder enige inspanning.

Rook

Groot sukses word met rook behaal wanneer iemand werklik wil ophou rook. As iemand nie werklik wil nie, is die suksessyfer swakker. Lees asseblief my artikel oor rook op my webtuiste voordat jy ‘n afspraak maak.

Gewoontes

Hipnose is ook suksesvol in die hantering van ander gewoontes, soos naelbyt, neuskrap, ens.

Voorbereiding vir operasies en nasorg

Hoewel die persoon onder narkose is tydens ‘n operasie, bly die onderbewuste steeds wakker en aktief en ervaar dit die operasie as traumaties. Hipnose kan help om die onderbewuste voor te berei vir die operasie om die sogenaamde “veg-of-vlug” reaksie te elimineer. Dit help ook met die herstelproses, om bloeding te beheer en om pyn na die operasie te verminder. Dit kan selfs help om letsels te verminder aangesien letsels ‘n onbewustelike herinnering is aan trauma. Dit kan ook suksesvol gebruik word om die tandarts te help tydens tandprosedures. In hierdie konteks, kan hipnose ook waardevol wees om te help met geboorte-opleiding en voorbereiding vir die kraamproses.

Akademiese/atletiese/sportprestasie

Hipno-opleiding word gebruik waar die kliënt self-hipnose geleer word om te help met konsentrasie, angs, begrip, motivering en onthou. Indien daar enige negatiewe verbintenis of negatiewe persepsie is wat die kliënt verhoed om te presteer, sal dit eers aangespreek word.

Herwinning van geheue

Soms is dit nodig om te weet waar ‘n probleem vandaan kom. Mens kan selfs dinge onthou wat gebeur het voordat hy of sy gebore is. Mense kan selfs onthou wat gebeur het terwyl hulle bewusteloos was.

Psigo-neuro-immunologie (PNI)

PNI is ‘n opwindende nuwe veld in die wêreld van hipnose. Kortliks beteken dit dat enige mediese probleem ‘n sielkundige oorsprong kan hê. Deur die probleem met hipnose te behandel, kan die geneesheer bygestaan word om die probleem of versteuring te behandel. Sukses is opgeteken met veral dermatologiese probleme, outo-immuun versteurings, kanker, pyn en meer.

Slaapversteurings

Aangesien hipnose ‘n staat van diep ontspanning is, kan dit baie waardevol wees om te help met slaapversteurings, op voorwaarde dat enige trauma wat die versteuring veroorsaak, aangespreek is.

Seksuele disfunksie en verhoudingsprobleme

Hipnose kan help met probleme soos kilheid, seksuele trauma, impotensie en premature ejakulasie. Dit kan ook help met kwessies soos vertroue.

Spirituele probleme

Hipnose kan ook help om die kliënt in nadere aanraking met God te bring of die “Hoër Mag” en die Innerlike Wysheid om die kliënt deur die lewe te help. Soms het baie sielkundige probleme ‘n spirituele oorsprong en is dit soms nodig om spirituele kwessies hier aan te spreek. Skuldgevoelens en die gevoel dat die persoon iets verkeerd gedoen het, word deur baie sielkundiges gesien as die wortel van baie sielkundige probleme.

Die voorafgaande gebruike van hipnose is maar net die punt van die ysberg. Hipnose is letterlik die sleutel wat enige deur wat jy wil oopsluit, kan oopsluit. Die enigste beperkings van hipnose is die beperkinge wat die persoon self daarstel. Jou verbeelding is jou enigste beperking!

Daar is egter soveel misverstande rakende hipnose. Om te verstaan wat hipnose regtig is, moet ons eers verstaan wat dit nie is nie.

2. Wat hipnose nie is nie

Is jy al ooit gehipnotiseer? Meeste mense se antwoord is “nee”. Hulle dink dat hulle nog nooit gehipnotiseer is nie. Hulle dink hipnose is ‘n tipe slaaptoestand waarin hulle van niks bewus is nie en dat hulle totaal onder die invloed van die hipnotis is. Voordat ons kan verduidelik wat hipnose regtig is, moet ons eers verstaan wat dit nie is nie:

Hipnose is nie ‘n vraag- en antwoord sessie nie

Die grootste misverstand is dat mense wil weet wat die terapeut vir hulle in hipnose gaan vra. Jou terapeut gaan vir jou niks vra nie. Wat die terapeut van jou wil weet, sal gevra word tydens die kliniese onderhoud. Die terapeut gaan terapie doen en suggesties vir jou laat, of vir jou vra om sekere dinge in jou kop te doen sonder dat jy hom of haar enigsins iets daarvan hoef te vertel.

Die enigste keer wat vrae gevra mag vra, is om jou te help om sekere dinge te onthou wat jy dalk nie mag onthou nie. Soms is mense onseker oor iets wat met hulle in die verlede gebeur het en hulle nie kan onthou nie en vir hulp vra om hulle te help onthou.

Hipnose is nie gevaarlik nie

Die hipnotiese trans is nie gevaarliker as ‘n slaaptoestand nie en in geheel gesien, is daar geen gevare aan hipnose as dit deur etiese en gekwalifiseerde praktisyns beoefen word nie.

As hipnose gevaarlik was, sou ons onsself moes vertel om nie in ‘n ander staat van bewussyn in te glip nie, om nie te dagdroom nie, om nie diep te konsentreer nie en nie totaal geabsorbeer te raak in dinge wat ons diep interesseer nie.

Dink daaraan: om na ‘n haarkapper toe te gaan, is een van die mees gevaarlike ervaringe wat daar maar kan wees. Sy werk met ‘n gevaarlike wapen, ‘n skêr en dit so na aan jou nek. Een steek en jy is dood! Moet dan nooit weer na ‘n haarkapper toe gaan nie. Hipnose is ‘n kragtige wapen, maar word tog eties beoefen.

Mense in hipnose is nie in ‘n slaaptoestand nie

Die woord hipnose is afgelei van die Griekse woord “Hypnos”. Hypnos is die god van die slaap. Niks is verder verwyderd van die waarheid nie. Hipnose is alles behalwe slaap.

Die persoon in hipnose is BEWUS van hom of haarself en van sy/haar omgewing. Jy verloor nie vir ‘n enkele sekonde bewussyn nie en hoewel jy in ‘n diep trans mag wees, sal geluide en stoornisse in jou omgewing so veraf klink vir hulle dat dit jou nie sal pla nie, solank dit nie bedreigend is nie. Wanneer iets bedreigends gebeur, sal jy eenvoudig uit trans uit kom om die nodige stappe te neem om jouself te beveilig.

Hipnose is nie soos slaap nie

Studies het gewys dat daar ‘n verskil tussen hipnose en slaap is. Studies oor breinaktiwiteit het getoon dat hoewel daar kenmerkende eienskappe van breinaktiwiteit tydens slaap teenwoordig is, is dieselfde nie waar met hipnose nie. Hipnose mag dalk vir ‘n buitestaander lyk soos slaap, omdat suggesties oor ontspanning oor die algemeen gegee word as ‘n deel van die hipnotiese roetine, maar gehipnotiseerdes is in ‘n staat wat gelyk is aan wakkerheid.

Hipnose is nie soos narkose nie

Die gehipnotiseerde persoon is bewus van geluide, aanraking, reuke, smake en visuele insette. Iemand kan selfs praat in hipnose. Jy sal altyd na ‘n trans wakker kan word. Jy kan nie permanent in ‘n trans bly nie. Al wat jy nodig het op wakker te word, is ‘n besluit en wanneer hierdie besluit eens geneem is, sal die gehipnotiseerde persoon wakker word.

Hipnose is nie die werk van die duiwel nie

Soos almal op aarde al ‘n trans beleef het in die vorm van dagdroom, is dit ‘n natuurlike Godgegewe talent, wat positief gebruik kan word in die persoon se beste belang. Soos enige iemand anders, kan onopgeleide praktisyns ook hipnose misbruik.

Party mense dink dat die duiwel ‘n vatkans kry wanneer jy gehipnotiseer is. Dit is bloot onmoontlik. Die Bybel vertel ons dat God ons ten alle tye beskerm. Hoe kan die duiwel dan sterker as God wees in iets soos hipnose?

“Swak mense” is nie die mees vatbares vir hipnose nie

Inteendeel, mense met ‘n sterk wil, sowel as intelligente en kreatiewe mense is beter kandidate vir hipnose as sogenaamde “swak” mense. Daar is ‘n foutiewelike oortuiging dat net “swak” mense hipnotiseerbaar is en dat ‘n hipnoterapeut daarom onbeperkte beheer oor die persoon het, terwyl die feit is dat die gehipnotiseerde persoon altyd in beheer is. ‘n Persoon besluit om dit toe te laat of nie. ‘n Persoon besluit selfs hoe diep in trans hy/sy wil gaan. So, die persoon is nooit onder die beheer van die hipnoterapeut nie. Die persoon is eintlik meer in beheer van die sessie en van hulself as gewoonlik.

Mense in ‘n hipnotiese trans sal nie geheime uitlaat of dinge sê waaroor hulle later spyt sal wees nie

Die persoon in trans bly altyd in volle beheer. Wanneer jy “verhooghipnose” op televisie sien, wanneer die lede van die gehoor op en af spring en soos hoenders kekkel – onthou dat hulle ingewillig het om dit te doen met die volle medewete dat daar van hulle verwag word om iets simpels aan te vang. Hipnose word soms gebruik met die doel om onderdrukte herinneringe of inligting te verkry. Persone wie hipnose ondergaan vir daardie redes, kies om ‘n dieper trans te bereik as wat ons normaalweg in hipnose gebruik. Hulle is regtig geïnteresseerd om die onderdrukte inligting te onthou. ‘n Hipnoterapeut kan niemand dwing om enige inligting teen hulle wil bekend te maak nie.

Miskien begin jy besef dat hipnose eintlik ‘n toestand van breinkrag (“mind power”) is. ‘n Kliënt het my eenmaal gebel om te sê: “Ek dink my man verneuk my. Sal jy asseblief die waarheid uitvind?” My antwoord aan haar was: “As hy nou al so goed die waarheid kan verdraai, dink net hoe hoed gaan hy dit in hipnose kan doen!” Aangesien hipnose ‘n toestand van breinkrag is, kan hy sy verstand nog beter gebruik om selfs beter te jok!

Geen hipnotis kan jou dwing om enige iets te doen wat bots met jou morele of etiese waardes nie.

Jy kan nie teen jou wil gehipnotiseer word nie

Alle hipnose is eintlik self-hipnose. Jy moet gehipnotiseer wil wees voordat jy in trans in kan gaan. Daar is egter metodes om iemand wel in trans (diep ontspanning) te kry wie weerstandig is; maar selfs hierdie metodes sal nie effektief wees as jy nie gehipnotiseer wil wees nie.

Dit is baie belangrik. Die hipnotis kan jou nie hipnotiseer nie. Dit is jou eie vermoë om jouself te hipnotiseer met die hulp van die hipnoterapeut. Om gehipnotiseer te word is die vermoë van die kliënt, nie die van die hipnoterapeut nie.

So, jy kan nie gedwing word om enige iets te doen in hipnose wat jy nie wil doen nie. In hipnose sal jy beheer behou oor jou vermoë om op suggesties te reageer, alhoewel indien jy jouself toelaat om op ‘n suggestie te reageer, sal dit voel asof die gevolge vanself gebeur.

Jy kan nie vasgeval raak in hipnose nie

Daar is geen bewyse dat iemand in hipnose vasgevang kan raak nie. Die ergste wat kan gebeur is dat jy aan die slaap kan raak – en ongehipnotiseerd wakker kan word! Daar is ‘n studie onderneem waar die deelnemers gehipnotiseerd raak waarna die hipnotis die vertrek verlaat onder die voorwendsel dat daar ‘n probleem is waaraan hy aandag moet gee. Die deelnemer is dan vir sy reaksie dopgehou (sonder sy medewete) om te sien wat gebeur. Die resultate in al hierdie gevalle was dat die deelnemers spontaan wakker geword het.

Jy sal nie niks na die tyd onthou nie

Jy sal alles na die tyd onthou omdat jy al die tyd wakker is. Daar is mense wat sekere dinge nie onthou nie, doodeenvoudig omdat hulle gedagtes afgedwaal het tydens die trans. En dit is ook goed so, want ons praat met die onderbewuste, nie die bewuste nie. Jy is vry om jou gedagtes te laat dwaal soos ons gaan. Sommige mense raak aan die slaap wat ook goed is sou dit gebeur.

Dit gebeur baie selde dat kliënte niks na die tyd onthou nie. Die enigste rede hiervoor is dat die materiaal waarmee ons werk vir hulle te traumaties is en die onderbewuste kan kies dat jy dit eerder nie onthou nie. Indien dit die geval is, vra sulke kliënte nooit na die tyd wat gebeur het nie. Dit is omdat hulle dit nie wil onthou nie.

Dit het niks te make met ‘n diep trans of nie. Diep transe is nie eens nodig nie. Ons kan enige iets in ‘n ligte trans doen.

Niks gaan “uitkom” nie

Dit is belangrik om hierdie kwessie aan te spreek. Baie mense is bang oor wat mag uitkom terwyl hulle in hipnose is. Eerste van alles: die dae van teruggaan na die trauma en om dit te herleef, is verby. Deesdae het ons tegnieke om die trauma deur te werk sonder om die kliënt te hertraumatiseer. Indien die kliënt wel die trauma beleef het, is dit belangrik om te weet dat die trauma verby is en dat dit net ‘n herinnering is. Hierdie keer is dit net ‘n herinnering en jy is ouer, wyser, meer ervare en jy is nie alleen nie. Dit kan nooit so erg wees as toe dit regtig gebeur het nie.

3. Wat hipnose regtig is

Het jy al ooit ‘n lang afstand bestuur en na die tyd gewonder: hoe het ek hier gekom? Het jy al ooit ‘n fliek gekyk sonder om eens iemand te hoor wat agter jou praat? Is jy nou, soos jy hier lees bewus van agtergrondgeluide as jy nie daarop konsentreer nie? Dit is hipnose!

Breedweg gesproke is hipnose ‘n veranderde bewussynstoestand wat met elke mens gebeur net voordat hy/sy aan die slaap raak. Dit is hoekom hipnose gewoonlik gepaard gaan met ontspanning wat die ontspanne liggaamsposisie simuleer. In terapeutiese werk, verleng ons net hierdie kort tydjie van ontspanning, sodat ons in hierdie toestand met die kliënt kan werk.

In kort: na ons eerste hipnose sessie, gaan jy nie glo dat jy hoegenaamd in hipnose was nie. Kliënte sê altyd vir my: “Maar ek dink nie ek was in hipnose nie. Ek was heeltyd van alles bewus. Ek het heeltyd geluide binne en buite die gebou gehoor. Ek was nie “onder” nie”. Dit is hipnose. Jy sal alles hoor en weet. Dit is egter ook waar dat hoe meer hipnose sessies ons doen, hoe dieper sal jy met elke sessie in trans ingaan.

Hipnose is niks anders nie as net ‘n diep staat van ontspanning wat ‘n toestand van breinkrag tot gevolg het. Niks meer nie, niks minder nie. As jy dit verstaan, verstaan jy hipnose! Jy sal nie eens glo dat jy enigsins gehipnotiseerd was nie!

Een van die beste voorbeelde van hipnose is die volgende: was jy al ooit in ‘n kerk en die predikant het gebid? En die gebed is so “vervelig”. Jy sit daar met jou oë toe en dink aan alles en nog wat behalwe die gebed en soms raak jy aan die slaap! Maar die woord “Amen” hoor jy helder en duidelik. Jy was in ‘n hipnotiese trans! Jy het nie aan die slaap geraak nie (hoop ek)  en tog het jy elke woord gemis. Maar jy het nie die woord “Amen” gemis nie. Dit word ‘n gekondisioneerde respons genoem. “Amen” in hierdie konteks beteken dat hy nou klaar is en jy kan jou oë oopmaak. Jou onderbe-wuste het alles geregistreer en was in nabye kommunikasie met God.

Daar word ook na hipnose verwys as hipnoterapie of hipnotiese suggestie. Dit is ‘n trans tipe toestand. Dit word normaalweg behaal met die hulp van ‘n hipnoterapeut en verskil van jou alledaagse bewustheid in die volgende opsigte:

  1. Jou aandag is meer gefokus.
  2. Jy is diep ontspanne en kalm.
  3. Jy is meer ontvanklik vir suggestie en minder krities en wantrouig.

Die doel van hipnose is om jou te help om meer beheer te kry oor jou gedrag, emosies en fisiese welsyn.

Ek verkies dit om na hipnose te verwys as ‘n vertrouensverhouding. In so ‘n verhouding is feitlik enige iets moontlik. As daar nie vertroue is nie, sal hipnose nie suksesvol wees nie.

Ons is nie seker hoe hipnose presies werk nie. Hipnoterapeute sê dat hipnose ‘n diep ontspanning skep en die gedagtes stil maak. Wanneer jy gehipnotiseer is kan jy intens fokus op ‘n spesifieke gedagte, herinnering, gevoel of sensasie terwyl jy afleidings van buite uitskakel. Jy is dan meer as normaalweg oop vir suggesties en dit kan gebruik word om jou gedrag te verander en om jou gesondheid en welsyn te verbeter.

4. Verhooghipnose

Hou nou die bogenoemde beginsels in jou agterkop.

Wat presies gebeur op die verhoog?

Eerstens sal die verhooghipnotis nooit deelnemers uitroep nie. Hy sal iets sê soos: “Enige vrywilligers, kom na die verhoog”. Daar is jou eerste leidraad. Almal weet hy gaan snaakse goed met jou aanvang. Die feit dat jy gewillig is om dit te doen, beteken dat jy dit sal doen omdat jy wil en daarom sal hy dit kan regkry. As jy nie gewillig is nie, sal die mense vir die hipnotis lag!

Tweedens – en dis wat jy nie op die televisie sal sien nie – hy sal eers met hulle gesels. Dit is om te bepaal of daar vertroue is al dan nie. Indien hy sou vermoed dat jy nie van hom hou nie, of nie vertrou nie, of vice versa, sal hy jou terugstuur na die gehoor. Indien hy besef dat jy oorkrities is, sal hy jou ook terugstuur.

En dan die oomblik van waarheid – hy klap sy vingers en sê: “Slaap”. En hulle slaap! Teen die tyd weet jy reeds dat dit nie slaap is nie. Maar hoe is dit moontlik vir hom om net sy vingers te klap en dan is hulle gehipnotiseerd? Dit beteken dat hy hulle voorheen al gehipnotiseer het.

Dit beteken dat die verhooghipnotis bekend is met sy subjekte en weet dus wie gewillig sal wees om saam te speel.

Soos voorheen genoem: hipnose is ‘n staat van breinkrag. Byvoorbeeld – jy is op die verhoog en die hipnotis suggereer aan jou om soos ‘n ballerina te dans. Jy sal eerstens dit met jou interne morele sisteem nagaan of dit in orde vir jou is om dit te doen al dan nie. Indien dit in orde is, kan jy jou breinkrag gebruik om byvoorbeeld ‘n televisie uitsending te onthou waar jy ‘n ballerina sien dans het. Jy sal die bewegings kan onthou en jy sal dit kan namaak. Jy kan selfs van jou breinkrag gebruik maak om op die punte van jou tone te dans deur jouself byvoorbeeld te verbeel dat jy ‘n staalpyp het van jou tone tot jou bene. Maar as die hipnotis iets teen jou beginsels suggereer, sal jy dadelik uit hipnose uitkom, aangesien jy al die tyd ten volle in beheer is.

Wanneer hy klaar is, sal hy jou “wakker maak”. Soos reeds genoem, sal jy altyd uit hipnose uit kom. Na die tyd sal jy onthou wat gebeur het. Party mense is na die tyd verras. Wel, jy sal ook verras wees wanneer jy besef hoe werklik dinge gevoel het.

5. Die hipnose proses

Hipnose is nie net ‘n eenmalige ervaring nie. Gemiddeld neem hipnose tussen vier en agt sessies om deur ‘n probleem te werk. Dit mag meer of minder wees, afhangende van die probleem. Dit is moeilik om presies te voorspel hoeveel sessies nodig sal wees.

Hipnose word gewoonlik gedoen met ‘n sewe-dae interval, aangesien die onderbe-wuste sewe dae neem om suggesties te prosesseer. Jy sal eers na sewe dae weet wat die effek van die vorige sessie was.

Die eerste sessie

Daar sal nooit hipnose tydens die eerste sessie gedoen word nie. Aangesien hipnose ‘n vertrouensverhouding is, word die eerste sessie gebruik om vertroue te bou en om aan die kliënt die geleentheid te gee om te sien of hy of sy gemaklik is met die terapeut en hipnose. Die eerste sessie word ook deur die terapeut gebruik om vas te stel wat die probleem is en hoe die dele van die legkaart in mekaar pas (om die psigodinamiek van die probleem vas te stel). Daar is egter enkele uitsonderings soos rook, waar hipnose reeds in die eerste sessie begin word.

Daar word vervolgens ook seker gemaak dat die kliënt wel bewus is van wat hipnose is en wat dit nie is nie ten einde hulle vrese, vooroordele en moontlike valse verwagtinge uit die weg te ruim.

Die tweede sessie

Normaalweg word daar in hierdie sessie met hipnose begin. Aangesien jy die gang van terapie bepaal, mag dit gebeur dat daar meer dinge is wat jy met jou terapeut wil bespreek en dat hipnose dalk nie moontlik mag wees nie. Hou in gedagte dat ons ten minste ‘n halfuur nodig het vir hipnose tydens ‘n sessie. Wanneer ons wel met ons eerste hipnose begin, mag daar in die eerste sessie nie veel gebeur nie, vir die volgende redes:

Jy sal aanvanklik nie maklik in ‘n hipnotiese trans ingaan nie. Enige mens gaan weerstand bied teen iets waarmee hulle nie bekend is nie en dit is goed so, want dit is natuurlik om versigtig te wees vir iets wat onbekend is.

Angstige kliënte mag dit aanvanklik moeiliker vind om te ontspan. Hoe harder hulle probeer hoe moeiliker word dit. Stel jouself ‘n slapelose nag voor. Hoe meer jy teen die slaaploosheid baklei, hoe meer ontwyk die slaap jou. Die oomblik wanneer jy ophou probeer, sal dit vanself gebeur. Presies dieselfde gebeur met hipnose.

Jy sal stelselmatig besef dat jy nie hoef te luister, te dink nie, saam te werk of selfs te konsentreer nie. Alles gebeur spontaan. Jy kan bloot jou gedagtes laat gaan. Stel jouself voor dat jy luister na ‘n vervelige toespraak, jou gedagtes dwaal af en dat jy selfs aan die slaap mag raak. Jou onderbewuste ontvang steeds die boodskap sonder dat jy eers bewus is daarvan.

Na ‘n hipnose-sessie sal jy huistoe gaan en dink dat niks verander het nie. Soos wat die tyd verby gaan sal jy stelselmatig begin om subtiele verande-ringe in jou verhoudings en daaglikse lewe agter te kom. Slegs dan sal jy die krag van jou onderbewuste waardeer. Die mense na aan jou sal hierdie veranderinge sien, selfs voor jou.

Jy sal besef dat:

Jy sal net gehipnotiseer kan word as jy wil. As jy nie wil nie, sal dit nooit moontlik wees om jou te hipnotiseer nie.

Hipnose gedefinieer word as ‘n vertrouensverhouding. Indien jy jou terapeut vertrou, is die meeste van die werk reeds gedoen. Indien nie, neem dit asseblief met jou terapeut op tot jou beste voordeel.

Enige iemand kan gehipnotiseer word. Daar bestaan nie so iets soos iemand wat nie gehipnotiseer kan word nie. Self-hipnose is iets wat op ‘n daaglikse basis met jou gebeur sonder dat jy dit besef.

Jou brein is jou gereedskap. Jou terapeut is bloot die sleutel wat jou onderbewuste oopsluit. Jy beskik oor elke hulpbron om elke droom te bewaarheid.

Die derde sessie en daarna

Eers tydens die derde of vierde sessie sal jy dieper transe begin behaal. Nou is die nuutjie en die weerstand verby en eers nou kan ons werklik begin werk aan jou probleem. Die diepte van jou trans is egter nie belangrik nie. Sommige sessies mag jou in ‘n diep trans inneem en sommige mag dalk nie. Dit is egter nie belangrik nie. Jou onderbewuste doen in elk geval al die werk vanself.

Van hier af kan ons nou vinnig en effektief werk.

6. Gevolgtrekking

Hipnose is ‘n onbewustelike proses. Meeste mense glo nie eens dat hulle gehipno-tiseer was nie en is onbewus van die verandering en herstel wat plaasgevind het.

Jy hoef absoluut niks te doen nie. Jou onderbewuste doen alles vir jou. Maklik, gemaklik en so sonder enige inspanning. Al wat jy hoef te doen is om te sê: “Dankie Onderbewuste!”