Anxiety & Panic Attacks

Die vreesaanjaende koue pampoen

© Jorgan Harris.

1. Net ‘n pampoenspook

ʼn Paniek-of angsaanval is seker een van die aakligste ervaringe wat mens maar kan beleef. Dit is seker die een enkele sielkundige versteuring wat die ergste van alle versteurings voel. Dit voel of jy dood gaan. Dit kan voel of jy ʼn hart-aanval, ʼn asma aanval, ʼn beroerte, ʼn dodelike siekte kry. Dit kan voel of jy jou kop gaan verloor of dit voel of jy enige tyd dood kan gaan.

Die goeie nuus is egter – hoewel dit die een sielkundige probleem is wat die ergste voel, is dit die minste gevaarlike sielkundige probleem en is dit baie maklik om te behandel.

Dit waarvoor jy vrees, is eintlik net ʼn koue pampoen.

ʼn Pampoenspook is ʼn uitgeholde pampoen met gate wat oë, neus en ʼn mond voorstel en wat gewoonlik ʼn kers binne-in het om dit spookagtig te laat lyk. In die donker kan so ʼn pampoenspook vreesaanjaend vertoon. Veral as dit uit die bloute aan jou verskyn. Selfs in antieke Brittanje was daar ʼn bygeloof onder die Kelte dat die siele van mense wat die vorige jaar gesterf het, op 31 Oktober (Halloween) in verskillende gedaantes verrys het. Hulle het dus vuur gemaak deur ʼn kers binne ʼn pampoen op te steek om hierdie gedrogte af te skrik. Dit sou dus hierdie gedaantes laat skrik en padgee. Maar dit bly ʼn koue pampoen. Die gate om die neus, mond en oë moes eintlik net die hitte laat ontsnap.

Dis presies wat angs en paniek is. Dit is ʼn pampoenspook waarvoor net pampoene skrik. Dit kom aanvanklik as so vreesaanjaend voor dat selfs spoke daarvoor sou skrik, maar dit is op sigself so weerloos dat as daar nie gate gemaak word vir die illusie van ʼn spook nie, die pampoen self uit sou brand.

Hoewel angs en paniek erg voel, is dit net ʼn simpel pampoenspook wat jou die skrik op die lyf jaag. Hierdie pampoenspook kan egter maklik behandel word. Hipnose sal jou help om te ontspan, om die oorsake van die angs en paniek te vind en om dit effektief te behandel. Hipnose, tesame met inligting oor die versteuring, is bevind as een van die mees effektiewe behandelings vir paniek en angs.

2. Wat is paniek- en angsversteuring presies?

Wanneer jy paniek of angs ervaar, ervaar jy kort episodes van intense vrees gepaard met veelvoudige fisiese simptome (soos hartkloppings, duiseligheid, naarheid, tintelende sensasies, uitasem en borspyne) wat herhaaldelik en soms onverwags gebeur. Hierdie “paniekaanvalle”, wat die kenteken van paniekversteuring is, gebeur wanneer die brein se normale meganisme in reaksie op ʼn bedreiging – die sogenaamde “veg of vlug” reaksie verkeerdelik geaktiveer word. Meeste mense met paniekversteuring voel ook angstig oor die moontlikheid om nog ʼn paniekaanval te kry en vermy situasies waarin hulle glo hulle hierdie aanvalle sou kry. Angs oor nog ʼn aanval en die vermyding van wat dit veroorsaak, kan lei tot ʼn paniekversteuring. Sommige mense raak selfs paniekbevange oor die paniek vir nog ʼn paniek-aanval!

3. ʼn Senuwee-ineenstorting?

Ek het nog altyd gewonder wat ʼn senuwee-ineenstorting is. Dit klink nogal dramaties. Dis net jammer dat ek daardie vraag op universiteit mis “gespot” het. Dit klink vir my soos wanneer iemand soos ʼn gebou na ʼn dinamiet-inploffing net ineen stort, amper asof hulle soos ʼn ballon afblaas. Wees gerus, daar is nie iets soos ʼn senuwee-ineenstorting nie. Dis net ʼn angs- of paniekaanval.

4. Wat is die simptome en verloop van paniek- en angsversteuring?

ʼn Paniekaanval voel asof dit “uit die bloute” verskyn en dit gebeur terwyl jy besig is met alledaagse aktiwiteite soos bestuur van ʼn motor of om werk toe te stap. Jy word skielik getref met ʼn vloed van skrikwekkende en ongemaklike simptome wat jou laat glo dat hier iets ernstigs fout met jou is.

Diagnostiese kriteria vir paniek/angsaanvalle volgens die DSM 5:

ʼn Paniekaanval is:

ʼn Diskrete periode van intense vrees of ongemaklikheid, waarin vier (of meer) van die volgende simptome skielik ontwikkel en ʼn toppunt binne 10 minute bereik word:

Watter van hierdie simptome ervaar jy?

  • Hartkloppings of ʼn versnelde hart tempo
  • Sweet
  • Bewerigheid
  • Gevoel van kortasem en uitasem
  • Gevoel van versmoring
  • Borspyn of ongemak in die bors
  • Naarheid of ongemak in die maag
  • Gevoel van duiseligheid, onsekerheid, lighoofdigheid of floute
  • Derealisasie (gevoelens van onrealiteit) of depersonalisasie (ʼn gevoel van buite jou liggaam wees)
  • Vrees om beheer te verloor of om mal te raak
  • Vrees om dood te gaan
  • Paresthesia (liggaamlike doodse gevoelens [numbness] of tintelinde sensasies)
  • Koue rillings of warm gloede

As jy vier of meer het, ly jy aan paniek/angsaanvalle.

Die verskil tussen ʼn paniekaanval en ʼn angsaanval:

Die simptome is presies dieselfde.

Die enigste verskil is:

  1. ʼn Paniekaanval:Jy kry hierdie simptome uit die bloute uit
  2. ʼn Angsaanval:Jy kry hierdie simptome net in ʼn spesifieke konteks, bv. wanneer jy ʼn kar bestuur, of wanneer jy in ʼn hysbak of in ʼn winkelsentrum is, ens.

Hierdie vloed van simptome duur gewoonlik ʼn paar sekondes, maar mag vir ʼn paar minute aanhou. Die simptome vervaag geleidelik binne ʼn uur. Mense wat al paniek of angs ervaar het, kan getuig van die geweldige ongemak wat hulle gevoel het en ook die vrees wat hulle gehad het vir ʼn verskriklike, lewensbedreigende siekte of dat hulle besig sou wees om “mal te raak” of om selfs dood te gaan. Dit gebeur baie dat mense tydens ʼn paniekaanval hulp by die ongevalle eenheid van ʼn hospitaal gaan soek en dan dink die dokter weet nie wat hy doen as hy of sy vertel dat daar niks fout met jou is nie.

Meeste van die tyd glo mense wat paniek/angsaanvalle kry hulle is:

  • besig om dood te gaan;
  • besig om ʼn hartaanval te kry;
  • besig om mal te raak;
  • besig om ʼn asma aanval te kry;
  • besig om ʼn beroerte te kry;
  • besig is om ʼn verskriklike siekte te ontwikkel wat al die dokters miskyk.

Die goeie nuus is:

Niemand het nog ooit een van die bogenoemde toestande ontwikkel as gevolg van angs of paniek nie. ʼn Angs- of paniekaanval voel verskriklik, maar dit is nie. Meer hieroor later.

ʼn Paniekaanval kom uit die bloute. Hierdie onvoorspelbaarheid is een van die redes hoekom dit so verskriklik voel.

Mense wie paniek-aanvalle kry wys dalk nie altyd simptome van ongemak nie en meeste mense sal dit nie eens agterkom nie, maar die gevoelens wat hulle ervaar is so oorweldigend en vreesaanjaend dat hulle glo hulle gaan dood, word mal of gaan heeltemal in die verleentheid gestel word. Hierdie rampspoedige gevolge gebeur nooit nie, maar dit lyk heel moontlik vir die persoon wat ly aan ʼn paniek-aanval.

5. Meer oor paniek- en angsversteuring.

In paniek- en angsversteuring kom paniekaanvalle herhaaldelik voor en jy ontwikkel ʼn intense vrees vir nog ʼn aanval. Soos vroeër getoon, is die vrees (ook genoem antisiperende angs of vrees vir vrees) meeste van die tyd teenwoordig en meng ernstig in met die persoon se lewe, al is die paniekaanval nie in swang nie. Iemand wat byvoorbeeld ʼn paniekaanval gehad het terwyl hulle besig was om te bestuur, ontwikkel ʼn vrees om weer agter die stuurwiel in te skuif, selfs om net kafee toe te ry.

Slaap mag ook versteur word wanneer paniekaanvalle snags plaasvind, wat veroorsaak dat die persoon wakker skrik in ʼn toestand van vrees. Party mense is selfs bang om aan die slaap te raak omdat hulle vrees dat die verskriklike drome weer mag gebeur. Die ervaring is so hartverskeurend dat sommige mense wat nagtelike paniekaanvalle kry, bang raak om te slaap en aan uitputting ly. Selfs al is daar nie nagtelike paniekaanvalle nie, mag slaap steeds versteur word weens chroniese paniek-verwante angs.

Baie mense met paniekversteuring bly intens bekommerd oor hulle simptome, selfs al het ʼn besoek aan ʼn dokter geen aanduiding van ʼn lewensbedreigende toestand getoon nie. Hulle mag ʼn reeks dokters besoek op soek na mediese behandeling vir wat hulle glo hartsiektes of asemhalingsprobleme is. Of hulle simptome mag hulle laat dink dat hulle ʼn neurologiese versteuring of ʼn ernstige gastro-intestinale toestand het. Sommige pasiënte sien baie dokters en ondergaan ʼn reeks duur en onnodige toetse in ʼn poging om uit te vind wat die oorsaak van hulle simptome is.

6. Dis toe al die tyd net ʼn pampoenspook

Niemand het ooit een van die bogenoemde toestande tydens ʼn angs- of paniek-aanval ontwikkel nie. ʼn Paniek- of angsaanval, hoewel dit voel of jy dood kan gaan, is net ʼn koue pampoenspook wat vreesaanjaend lyk, maar so skadeloos soos ʼn pampoen-spook is.

Nogtans betrap paniekaanvalle jou heeltemal onverhoeds. Hierdie onvoorspelbaar-heid is een rede hoekom hulle so verskriklik voel.

Die goeie nuus is: ʼn paniek-of angsaanval is net ʼn vrystelling van adrenaline. Ons deel dieselfde senuweestelsel as diere. Wanneer ʼn dier in gevaar is, het hy net een van twee reaksies. Hy veg of hy vlug (die sogenaamde veg-of-vlug-reaksie). Om hom in staat te stel om te veg of te vlug, stel sy liggaam adrenaline vry en het hy meer krag tot sy beskikking as normaalweg om sterker te kan veg of om vinniger weg te kan hardloop. Die dier se hart klop byvoorbeeld vinniger om bloed vinniger deur sy liggaam te laat vloei, die dier se liggaamstemperatuur word warmer om harder te veg of om vinniger weg te kom, asemhaling versnel in hierdie staat van gereedheid en sweet tree in om sy liggaam weer af te koel. Sien jy die paniek-simptome hier?

Nadat die gevaar verby is en die dier gewen het of suksesvol weg gekom het, gaan slaap die dier om sy adrenaline op te bou.

By die mens is dit presies eenders en tog soveel anders. Daar is ʼn gevaar. Ons is eenders as diere in die sin dat ons net soos diere, adrenaline opbou en ons hartklop neem ook toe. Ons asemhaling raak vinniger om ons in ʼn staat van gereedheid te plaas om harder te veg of om vinniger te vlug en ons sweet om ons liggaam weer af te koel. Maar in ons samelewing kan ons nie veg of vlug nie. Jy kan nie ʼn stok of ʼn klip vat en die Ontvanger van inkomste se kop in mekaar slaan nie. Jy kan ook nie jou tekkies aantrek en van jou bankbestuurder af weg hardloop nie. Ons kan nie hierdie adrenaline gebruik nie en dit bly daar vasgevang in ons liggaam.

As jou stres na die aanvanklike veg of vlug respons egter voortgaan, volg daar ʼn volgende fase. Gedurende hierdie fase neem die aktiwiteit van jou simpatiese senuweestelsel af en die uitskeiding van adrenaline verminder, maar die uitskeiding van kortisool (jou hormone wat fisiese en emosionele pyn onderdruk) bly dieselfde. As jou stres tydens hierdie fase voortgaan en jou liggaam nie instaat is om dit te hanteer nie, is daar ʼn goeie kans dat jou liggaam vrystelling van adrenaline en nor-adrenaline in jou brein sal laat vasvang, wat lei tot angs en paniekaanvalle.

Ons is egter ook, tot ons nadeel, anders as diere in die sin dat wanneer ons ʼn traumatiese gebeurtenis herroep of wanneer ons daaraan dink (wanneer ʼn prentjie van die traumatiese gebeurtenis in ons kop kom of wanneer ons dink wat as dit weer gaan gebeur) ons brein presies dieselfde deel gebruik as wat dit gebruik wanneer die trauma wel gebeur. Wanneer ons dus aan ʼn traumatiese gebeurtenis in ons lewe dink, of met ons gedagtes die vrees ontwikkel van wat as dit weer gaan gebeur, teken jou brein dit op as ʼn realistiese gevaar en stel jou brein adrenaline en nor-adrenaline vry en die veg of vlug reaksie tree weer in.

Maar jy kan niks daaraan doen nie en kan die vrysgestelde adrenaline nie gebruik word nie. Hierdie adrenaline bly dus in jou sisteem. Daarom kry jy paniek- en angs-aanvalle.

Die waarheid is dat dit net jou natuurlike veg-of-vlug reaksie is. Hierdie simptome is skadeloos en jy is medies veilig en daar kan absoluut niks verkeerd met jou gaan nie.  Jy sal nie doodgaan nie, jy sal nie ʼn hart-aanval of ʼn beroerte kry nie. Jy sal nie flou word nie. Jy sal nie mal word nie. Dit voel net soos doodsake, maar dit is nie.

Net soos wat jy jouself besimpeld skrik wanneer jy skielik ʼn pampoenspook sien of jou dalk verbeel dat jy een gesien het, is dit net ʼn pampoenspook en wanneer jy besef dit is net ʼn pampoenspook, sal al hierdie simptome van angs binne ʼn minuut of drie heeltemal verdwyn. Net so vinnig sal dit verdwyn soos wanneer jy geskrik het en besef het dat daar geen gevaar is nie.

7. Kennis is mag

Om jou angs en paniek te oorwin, neem kennis van die volgende:

ʼn Paniekaanval kan nie hartversaking of ʼn hartaanval veroorsaak nie.

Vinnige hartkloppings en hoë polsslag gedurende ʼn paniekaanval kan skrikwekkende sensasies veroorsaak, maar dit kan nie gevaarlik wees nie. Jou hart is saamgestel uit baie sterk en digte spierweefsels en kan baie meer weerstaan as wat jy dink. ʼn Gesonde hart kan 200 slae per minuut klop vir dae aaneen– selfs weke – sonder om enige skade op te doen. So, as jou hart begin om te jaag, laat dit net toe om dit te doen en vertrou dat dit geen skade kan doen nie en dat jou hart binne minute sal bedaar.

ʼn Paniekaanval sal nie veroorsaak dat jy ophou om asem te haal of versmoor nie.

Dit is algemeen gedurende ʼn paniekaanval om te voel dat jou bors toe gaan trek en jou asemhaling ingeperk gaan word. Dit mag die gevolg hê dat jy skielik vrees dat jy gaan versmoor. Onder stres sal jou nek- en borsspiere begin om styf te trek en verminder jou longvermoë. Wees gerus dat daar geen fout met jou asemhaling of longe is nie en dat die spanning sensasies verby sal gaan. Jou brein het ʼn ingeboude refleks-meganisme wat jou uiteindelik sal dwing om asem te haal as jy nie genoeg suurstof kry nie. As jy dit nie glo nie, probeer om jou asem vir ʼn minuut in te hou en kyk wat gebeur. Op ʼn sekere punt sal jy ʼn sterk refleks ervaar om meer lug in te asem. Dieselfde sal gebeur tydens ʼn paniekaanval as jy nie genoeg asem kry nie. Jy sal outomaties snak na asem en ʼn groot asemteug neem voordat jy die punt bereik waar jy flou sou raak as gevolg van ʼn tekort aan asem. (En selfs as jy flou sou raak, sal jy onmiddellik begin asem haal!) Samevattend; verstikking en sensasies van sametrekking gedurende paniek is onaangenaam, maar nie gevaarlik nie.

ʼn Paniekaanval kan nie veroorsaak dat jy flou word nie.

Die sensasie van lighoofdigheid wat jy mag voel met die aanvang van paniek kan ʼn vrees vir flou word veroorsaak. Wat gebeur is dat die bloedsirkulasie na jou brein liggies verminderd is en word hoogs waarskynlik veroorsaak omdat jy vinniger asem haal. Dit is nie gevaarlik nie en kan verlig word deur stadig en gereeld in te asem vanuit jou maag, verkieslik deur jou neus. Dit kan ook help om ʼn bietjie rond te stap met die eerste kans wat jy kry. Laat toe dat die gevoel van lighoofdigheid op en af gaan sonder om daarteen te baklei. Omdat jou hart harder pomp en eintlik jou sirkulasie verhoog, is dit hoogs onwaarskynlik dat jy flou sal val.

ʼn Paniekaanval kan nie veroorsaak dat jy jou balans sal verloor nie

Soms mag jy duiselig voel wanneer paniek kom. Dit mag wees dat spanning besig is om die semi-sirkulêre stelsel in jou binne-oor te affekteer, wat jou balans beïnvloed. Vir ʼn paar minute mag jy duiselig voel of dit mag selfs voel dat dinge rondom jou rondtol. Hierdie gevoel sal verseker verby gaan. Dit is nie gevaarlik nie en dit is onwaarskynlik dat jy jou balans sal verloor. As die gevoel van sterk duiseligheid vir meer as ʼn paar sekondes aanhou, mag jy dalk ʼn dokter gaan sien vir enige infeksies, allergieë, of ander versteurings wat jou binne-oor mag affekteer.

Jy sal nie omval of nie meer kan loop wanneer jy “lam in die knieë” voel gedurende ʼn paniekaanval nie.

Die adrenaline wat vrygestel word gedurende ʼn paniek-aanval kan die are in jou bene laat rek wat veroorsaak dat bloed in jou beenspiere ophoop en nie heeltemal sirkuleer nie. Dit kan ʼn gevoel van swakheid of “jelliebene” veroorsaak, wat jou sal laat dink dat jy nie meer sal kan loop nie. Wees gerus dat hierdie gevoel net dit is – ʼn gevoel – en dat jou bene nog altyd sterk is en jou kan dra soos altyd. Hulle sal nie ingee nie! Laat net hierdie bewerasies en gevoel van swakheid verby gaan en gee jou bene die kans om jou te vat waar jy wil wees.

Jy kan nie “mal raak” gedurende ʼn paniekaanval nie.

Verminderde bloedvloei na jou brein gedurende ʼn paniekaanval is die gevolg van ʼn slagaar-vernouing, ʼn normale gevolg van vinnige asemhaling. Dit kan gevoelens van verwarring veroorsaak en ʼn gevoel van onrealiteit wat skrikwekkend kan wees. As hierdie gevoel begin kom, herinner jouself dat dit net veroorsaak is deur ʼn ligte en tydelike vermindering en vernouing in die are in jou brein en het niks te doen met “mal word” nie, ongeag hoe erg dit mag voel. Niemand het ooit mal geraak van paniekaanvalle nie, hoewel die vrees so algemeen is. So erg soos dit mag voel, sal die gevoelens van ʼn vreemde realiteit uiteindelik verby gaan en is dit totaal skadeloos.

Dit mag ook help om te weet dat mense nie “mal word” op ʼn skielike of spontane manier nie. Geestesversteurings behels gedrag wat as “mal” geëtiketteer word en ontwikkel geleidelik oor ʼn periode van jare en kom nie skielik van paniekaanvalle nie. Niemand het ooit begin hallusineer of stemme gehoor gedurende ʼn paniekaanval nie (behalwe in buitengewone gevalle waar paniek veroorsaak is deur ʼn oordosis van sogenaamde ontspanningsdwelms soos LSD of kokaïen). In kort, ʼn paniekaanval kan nie lei tot “malheid” nie, maak nie saak hoe ontstellend of ongemaklik jou simptome voel nie.

 ʼn Paniekaanval kan nie veroorsaak dat jy “beheer oor jouself verloor” nie

As gevolg van die intense reaksies wat deur jou liggaam gedurende paniek gaan, is dit maklik om jouself te verbeel dat jy dit “heeltemal kan verloor”. Maar wat beteken dit om dit heeltemal te verloor? Om heeltemal verlam te raak? Is dit om beheer te verloor en mal te raak? Ek is nie bewus van enige opgetekende gevalle van sulke gebeure nie. Gedurende paniek word jou sintuie en waaksaamheid verhoog met net een doel: ontsnap. Om weg te hardloop of om te probeer weghardloop is die enigste maniere wat jy dit sou uitleef terwyl jy paniek ervaar. Om heeltemal beheer te verloor gedurende ʼn paniekaanval is net ʼn mite.

Die eerste stap om te leer hoe om paniekaanvalle te hanteer, is om te besef dat hulle nie gevaarlik is nie. Omdat die liggaamlike reaksie wat saam met paniek gaan so intens voel, is dit maklik om jouself te verbeel dat dit gevaarlik is. Die realiteit is dat daar geen gevaar bestaan nie. Die fisiologiese reaksies onderliggend tot paniek is natuurlik en beskermend. In werklikheid is jou liggaam ontwerp vir paniek sodat jy vinnig kan wegbeweeg van situasies wat jou oorlewing regtig bedreig. Die probleem wat voorkom, is dat die natuurlike, lewensreddende reaksie buite die konteks van enige onmiddellike of sigbare gevaar gebeur. Wanneer dit gebeur, kan jy paniek bemeester deur te leer om nie jouself gevaar te verbeel wanneer dit nie bestaan nie.

Jy sal nie ʼn beroerte of asma-aanval kry nie.

Niemand het nog ooit ʼn beroerte of asma-aanval gekry tydens ʼn angs of paniek-aanval nie.

Niks kan ernstig wees of verkeerd loop nie.

Niks kan ooit verkeerd loop nie. Niks is ernstig nie. Jy het geen siekte wat ongeneeslik is nie, al voel dit so. Selfs al voel dit so en jou mediese toetse het niks opgelewer nie, is jou dokter nie oningelig nie. Die waarheid is dat daar niks fout met jou is nie. Jy skei bloot net te veel adrenaline en nor-adrenaline af wat jou verskriklik laat voel.

8. Oorwin hierdie pampoenspook vir ewig

Jy kan die volgende wenke gebruik om jou te help om hierdie pampoenspook vir ewig te oorwin. Psigoterapie sal jou verder daarmee help.

Jy kan bloot net die volgende stappe volg en alle angs sal binne ʼn minuut tot drie heeltemal weg gaan, totdat jy later agter kom dat jy vanself sonder om te dink hierdie stappe gevolg het, totdat jy agter kom dat dit nie eens meer gebeur nie

  • Onthou dat alhoewel jou gevoelens en simptome baie skrikwekkend voel, dit nie gevaarlik of skadelik is nie. Dit is net jou liggaam se natuurlike afskeiding van adrenaline en nor-adrenaline vir die veg-of vlug reaksie wat nie tot uiting kan kom soos by diere of antieke tye nie.
  • Verstaan dat wat jy ervaar net ʼn oordrywing van jou normale liggaamlike reaksies tot stres; die sogenaamde “veg of vlug” reaksie is.
  • Hoe meer jy jou angs en paniek beveg, hoe meer adrenaline en nor-adrenaline skei jy af en hoe meer angstig sal jy raak. Jy kan maar net in gedagte hou dat hoe meer jy jou vrees vir hierdie pampoenspook beveg, hoe meer mag gee jy aan hierdie spook. Hierdie spook is egter magteloos, gaan eventueel homself uitbrand. Jy kan egter ook dink: “O, wat ʼn kinderagtige spook. Dit wil my bang maak want dit wil aandag soek. Dit is desperaat om my te herinner aan die siele wat gesterf het. Dit is inderdaad net ʼn koue pampoen wat my bang wil maak ter wille van ʼn nuttelose mite”. Jy kan dit mag oor jou laat verloor deur te besef dat dit maar net jou liggaam se natuurlike veg-of-vlug reaksie is.

As jy teen paniek probeer baklei, maak jy jouself net nog meer gespanne, wat jou net nog meer angstig maak. As jy presies die teenoorgestelde houding inneem en ʼn houding van net laat gaan en om jou liggaam bloot net toe te laat om sy reaksies te hê (soos die hartkloppings, die borspyne, sweterige hande, duiseligheid ensovoorts), sal jy vinniger en makliker deur die angs beweeg. Die sleutel hier is om in staat te wees om net te kyk (soos mens na ʼn fliek kyk) na jou liggaam se fisiologiese opwekking, maak nie saak hoe ongewoon of ongemaklik dit voel nie,  sonder om met verdere vrees of angs daarop te reageer.

  • Laat toe dat die tyd verbygaan. Paniek word veroorsaak deur ʼn skielike opwelling van adrenaline. As jy dit bloot net kan toelaat en deur jou liggaam se reaksies kan beweeg wat veroorsaak word deur hierdie opwelling, sal baie van hierdie adrena-line stabiliseer en binne drie tot vyf minute teruggaan in die liggaam. Wanneer dit gebeur, sal jy begin om beter te voel. Paniekaanvalle het ʼn tydsbeperking. In die meeste gevalle sal paniek binne net ʼn paar minute sy piek bereik en begin weggaan. Dit sal mees hoogswaarskynlik vinnig verby gaan as jy dit nie vererger deur teen dit te baklei of deur daarop met selfs nog meer vrees te reageer nie (wat sekondêre vrees veroorsaak) deur vreesaanjaende dinge vir jouself te sê.
  • Haal diep asem. Jy het altyd absolute beheer oor jou asemhaling, wat ʼn bewys is dat jy altyd in beheer is. Jy kan diep asemhaling doen asof jy tot in jou maag en in jou abdomen kan asem haal.
  • Ontspan jou liggaam. Met elke teug wat jy uitasem, kan jy jou liggaam vir spanning ondersoek en ontspan. Jy kan jou voorkop net glad laat raak en ontspan. Jy kan jou skouers en nek net laat ontspan. Jy kan jou abdomen en maag net dieper en dieper ontspan met elke teug wat jy uitasem. Jy kan die res van jou liggaam bloot net ontspan met elke teug wat jy uitasem.
  • Moenie teen jou gevoelens veg of om dit probeer weg wens nie. Hoe meer gewillig jy is om hulle in die oë te kyk, hoe minder intens sal hulle wees. Watookal jy baklei, sal bly; hoe meer jy daarteen veg, hoe sterker sal dit bly. Hoe meer jy vrees dat dit gevaarlik is, hoe erger sal die vrees raak, hoe meer sal hierdie pampoenspook dink dat hy beheer oor jou lewe het met sy gemanipuleerde kerse om jou bang te maak met simpel beelde van gister se gestorwenes. Hoe meer jy vrees vir die vrees, hoe meer sal jy vrees ontlok in jou en hoe meer sal jy in die vrees beland wat jy juis so graag wou vermy.
  • Vra jouself
  • “Wat is die ergste ding wat kan gebeur?”
  • “As dit gebeur, hoe erg sal dit in elk geval wees?”
  • “Wat is die kanse dat dit regtig sal gebeur?”

Die ergste wat kan gebeur is dat jy dood kan gaan. Hoe erg is dit in elk geval?

As jy gelowig is, is die dood nie erg nie, want jy gaan in ʼn staat van verhewendheid waar daar net vreugde en volkomendheid is. As jy nie gelowig is nie, is die dood net ʼn gevoel van geen gevoel, van niks wees nie. Dit is dan net soos wat dit was voor jy gebore was. ʼn Staat van geen gevoel of geen niks nie.

Hoe erg kan die dood dan in elk geval wees?

Indien hierdie dinge waarvoor ons vrees gebeur, hoe erg is dit in elk geval?

Meeste dinge wat ons vrees, gebeur in elk geval nooit nie. Dink aan die verlede en hoeveel keer jy bekommerd oor dinge was. Hoeveel van die dinge waaroor jy jou bekommer het ooit gebeur? Dit was nie so erg nie. Jy is nogsteeds hier en jy lewe nog. Inderdaad, niks is verskriklik nie.

Wat is die kanse in elk geval dat dit gaan gebeur?

Die waarheid is dat die dinge wat ons vrees in elk geval nooit gebeur nie en dat ons onsself miserabel maak vir niks nie.

En besef:

  • elke angs en paniek-aanval gaan verby.
  • dit kan en gaan nooit vir ewig aangaan nie.
  • dit gaan na ʼn paar minute heeltemal verdwyn.
  • niks snaaks sal met jou gebeur nie.
  • dit is inderdaad net ʼn koue pampoenspook wat dit geniet as jy skrik daarvoor

9. Meelopende toestande

Met angs en paniek mag jy dalk ʼn paar medelopende toestande ervaar. Algemene angs, depressie, obsessief kompulsiewe versteurings, fobies, ensovoorts mag deel wees van hierdie versteurings wees. Jy kan meer hiervan lees op my webtuiste.