Studeer is intellektuele ontspanning – ‘n alternatiewe manier van studeer

©Jorgan Harris. jorganharris.co.za

1. Inleiding

Stefan* is ʼn baie bekwame en intelligente leerder. Stefan het redelik presteer van graad 1 tot graad 3. Stefan het ook ʼn onderwyser gehad wat streng was, maar wat sy leerders toegelaat het om hul eie ding te doen. Die onderwyser het ʼn ander pos aanvaar. In sy plek is ʼn voormalige hoërskoolhoof wat ʼn tyd lank uit die onderwys was, aangestel. Hy het die leerders vir ʼn tyd lank elke dag ʼn onvoorbereide blitstoets laat skryf.

Stefan was later so angstig oor hierdie toetse, dat hy sy pa daarvan vertel het. Hy het sy toetse gedruip. As daar egter vrae in die klas gevra was, kon Stefan elke vraag beantwoord. Sy pa het egter die onderwyser daaroor gaan spreek en daar is bevind dat Stefan aan disleksie ly en dat hy die pas nie kon volhou nie. Stefan is na ʼn spesiale klas oorgeplaas. Hy het die res sy laerskoolloopbaan, hoogs verveeld, hier deurgebring. Stefan het begin om negatief te dink oor homself en sy studies.

Daar bestaan nie iets soos slim of dom mense nie. Daar bestaan net briljante mense wat hulle hulpbronne gebruik en briljante mense wat nie hulle hulpbronne gebruik nie. Briljantheid is daar. Altyd daar. Dit is vir ons almal beskikbaar om te gebruik. Dit maak van elkeen van ons ʼn potensieel goeie leerder.

2. Ons stres te veel

Pieter* het in matriek begin om wiskunde te druip. Hoe meer gespanne hy oor sy wiskunde geword het, hoe meer het hy gedruip. Hy het my kom sien kort voor die matriek eindeksamen. Ons het toe besluit dat hy wiskunde nie deur hoef te kom ten einde matriek te slaag nie. Dit sou ook nie ʼn negatiewe invloed op sy planne na skool hê nie. Ek het die volgende voorstel aan hom gemaak: “Aanvaar dat jy wiskunde nie deur gaan kom nie, maar leer steeds daarvoor.  Stel vir jou ʼn persoonlike uitdaging van hoe na aan ‘slaag’ jy kan kom, maar aanvaar dat jy dit nie gaan slaag nie”. Met hierdie druk van hom af het Pieter se spanning rondom wiskunde verdwyn. Pieter het 65% vir sy wiskunde tydens die eindeksamen gekry!

Om te leer of te studeer is so maklik soos wat die lewe is. Mense sê te maklik dat dit moeilik is om te leer of te studeer. Jy moet konsentreer. Jy moet baie tyd insit en jy moet keer op keer deur jou werk gaan. Maar dan gaan kyk jy ʼn fliek. Jy is ontspanne, eet jou springmielies, jy sit terug in jou sitplek en jy ontspan. Kom jy by die huis, kan jy na net een kyk van die fliek die hele storie vir iemand oorvertel! Is dit nou so moeilik om te leer?

Het jy al ooit gewonder hoekom daar mense is wat min studeer of goed doen? Dis juis omdat hulle ontspanne is. Wanneer jy gespanne is, verloor jy dadelik soveel konsentrasie en geheue dat dit net nie die moeite werd is nie. Gaan kyk gerus na my artikel oor algemene angsversteuring op my webtuiste: jorganharris.co.za.  Jy sal sien dat jou aandag en konsentrasie dadelik geaffekteer word as jy angstig is.

Dis in elk geval nou nie asof jy die blou draad en die rooi draad moet pas om ʼn kern-oorlog te vermy nie. Dis maar net nog ʼn eksamen. Die toekoms van die mensdom hang nou nie van jou uitslae af nie!.

Dis eerder moeilik om níé te leer nie. Dink net hoe moeilik dit is om jou vyf sintuie toe te maak en hulle toe te hou. Om jou oë en ore toe te maak vir dit wat jy dalk per ongeluk mag leer. Dink aan al die moeite wat dit verg om vir jouself te vertel dat jy dom is en dan nog die moeilike gevoelens daarby van ʼn lae selfbeeld as jy nie leer nie. Indien jy nooit leer loop het nie sou jy nogsteeds gekruip het. Dit is inderdaad moeilik om nie te leer nie!

3. Kenmerke van ʼn goeie leerder

ʼn Briljante leerder:

  • glo in hom of haarself;
  • is nie gepla oor wilskrag nie. ʼn Goeie leerder doen dit net op ʼn natuurlike manier;
  • sien sy of haar leer-ervaring as relevant;
  • fokus op wat hy of sy regtig graag wil doen of bereik;
  • is gefokus in die hier-en-nou;
  • is nie gepla oor die verlede of die toekoms nie. Dit gaan oor wat hulle nou ervaar en leer;
  • is ontspanne wanneer hulle studeer;
  • glo dat die lewe maklik is. ʼn Mens neem soveel meer in wanneer jy ontspanne is.

Dis wanneer jy gespanne is dat jy soveel breinkrag en konsentrasie verloor;
stel belang in die werk wat hy of sy leer. Navorsing het daarop gewys dat:

  • belangstelling die grootste maatstaf van sukses is;
  • geniet sy of haar studies;
  • maak van al hulle sintuie gebruik in die leerproses;
  • kry ʼn beloning vir sy of haar pogings;
  • wens hom of haarself geluk met elke sukses wat hy of sy bereik het;
  • dink in terme van sukses;
  • het slegs sukses in die agterkop;
  • druk hom of haarself nie te hard nie. Wees net jouself en ontmoet jou behoeftes in die hier-en-nou. En geniet die leerervaring;
  • slaap genoeg en ontspan genoeg.

4. ʼn Alternatiewe idee

Volgens die Neuro-linguistiese Programmering (NLP) kan mense rofweg in drie kategorieë geplaas word – die Visueles, die Ouditiewes en die Kinestetieses. (Lees meer hieroor op my webtuiste: jorganharris.co.za). Die Visueles beleef hulle wêreld in beelde. Hulle onthou in prentjies en jy kan sommer hoor hoe hulle hulle wêreld in terme van beelde beskryf. Dan is daar die Ouditiewes wat hulle wêreld in terme van klank beleef en hulle sal sterk reageer op hoe jy iets vir hulle sê. Dan is daar die Kinestetieses wat hulle wêreld beleef op hoe hulle voel oor ʼn saak. Hulle beleef hulle wêreld in terme van gevoelens, wat hulle fisies ervaar, asook in reuk en smaak.

Hoe het jy nog altyd gestudeer? Hoe is jy geleer? Dink terug aan die klaskamers waarin jy skool gegaan het. Dit was dalk vol pragtige opvoedkundige plakkate. Dit help ongelukkig net die mense met ʼn Visuele voorkeur. Soms word daar videos en DVD’s vertoon en dit help die mense met ʼn Visuele voorkeur nog meer, asook diegene met ʼn Ouditiewe voorkeur. Maar daar word nie veel voorsiening gemaak vir die mense met ʼn Kinestetiese voorkeur nie en (haal komma uit) dit is interessant dat die meeste leerprobleme juis by mense met ʼn Kinestetiese voorkeur voorkom. Hoe leer jy iemand op ʼn gevoel of ʼn reuk of ʼn smaak?

4.1   Die Visueles

Diegene met ʼn Visuele voorkeur leer die beste deur hulle oë. Hulle reageer dus die beste op wat hulle sien en leer dan ook deur vir hulself prentjies in hulle koppe te maak.

Hulle reageer goed op vloeikaarte en diagramme en herroep kleure en vorme baie maklik. Hulle leer ook vinniger aangesien ʼn prent meer werd is as ʼn duisend woorde.

Hulle leer beste deur hulle oë op te beweeg. Mense met ʼn Visuele voorkeur se sukses kom daaruit dat hulle die taak sien en daarvoor gaan. Hulle sien geleenthede rondom hulle raak en is so gefokus op die doel wat hulle sien, dat hulle jou nie eers sal hoor wanneer jy hulle op gevare probeer wys nie.

Voorstelle vir leer by diegene met ʼn Visuele voorkeur:

  • maak gebruik van kleurryke prentjies en diagramme;
  • hou jou materiaal bokant ooghoogte;
  • sit regop.

4.2   Die Ouditiewes

Diegene met ʼn Ouditiewe voorkeur leer die beste deur hulle ore. Hulle reageer dus die beste op wat hulle hoor en sal dinge vir hulself hardop of in hulle koppe herhaal.

Hulle onthou dus die beste deur hulle oë in die rigting van hulle ore te beweeg en dan te hoor hoe die antwoord klink. Hulle reageer goed op CD’s en enige inligting in ʼn Ouditiewe vorm.

Voorstelle vir mense met ʼn Ouditiewe voorkeur:

  • hou jou materiaal voor jou op oorhoogte verkieslik ietwat links van jou;
  • herhaal dit wat jy lees hardop vir jouself;
  • speel barokmusiek. Nie net stimuleer dit Ouditiewes nie, maar Ouditiewes kan ook maklik afgelei word deur agtergrondgeraas wat deur die musiek kan uitskakel kan word;
  • sit gemaklik sodat jy jou liggaam kan wieg op die ritme wat jy vorm van die materiaal wat jy leer.

4.3   Die Kinestetieses

Diegene met ʼn Kinestetiese voorkeur leer die beste deur hulle liggame. Hulle reageer dus die beste op wat hulle voel en aanvoel en sal ʼn gevoel oor die vraag kry. Hulle sal eers regs af kyk voordat hulle vir jou ʼn antwoord op ʼn vraag gee.

Hulle onthou dus die beste deur hulle oë na die dominante hand toe te beweeg en dan te voel hoe die antwoord voel.

Voorstelle vir mense met ʼn Kinestetiese voorkeur:

  • sorg dat jou liggaam gemaklik is. Baie Kinestetieses sal dalk verkies om op hulle bed te lê en studeer;
  • maak seker dat die omgewing gemaklik is, ʼn gemaklike stoel, die regte temperatuur, ensovoorts;
  • hou jou materiaal onder ooghoogte sodat jy die gevoel van die werk kan kry;
  • wanneer jy leer, kry net ʼn gevoel waar en wat jy voel as jy besig is om iets te bestudeer.

So, jy het nie goed gedoen op skool nie? Miskien is jou voorkeurmodaliteit nie aangespreek nie. Wat het jou laat glo dat jy nie ʼn goeie leerder of student is nie? Wat het jou laat glo dat jy nie so slim is nie?

5. Ten slotte

Stefan het meer in homself begin glo. Hy het van hierdie negatiewe sieninge oor homself ontslae geraak. Hy het gestudeer op ʼn manier wat vir hom pas en hy het genoeg tyd gemaak vir ander aktiwiteite en homself nie dood geleer nie. Hy het matriek met 65% gemiddeld geslaag en is deesdae ʼn student by ʼn bekende instelling.

* Nie hulle regte name nie