Emotional Abuse emosionele misbruik

Gasverligting en vasgevang in Stockholm – emosionele mishandeling

© Jorgan Harris

1. Inleiding

Slagoffers van emosionele mishandeling wonder gewoonlik wat fout met hulle is. Jy het hierdie wonderlike man of vrou ontmoet – navorsing wys daarop dat deesdae net soveel vroue as mans emosionele mishandelaars is. Hierdie persoon se sjarme het jou voete onder jou uitgeslaan. Kort nadat julle saam intrek, verloof of getroud is, begin die mishandeling. Die nuus is vol van emosionele mishandelaars wat gewelddadig raak en hulle maats aanrand of vermoor. Daar is ook die subtiele vorme van mishandeling waar jy geen fisiese wonde sien nie, maar daar is diepe emosionele wonde wat nie gesien kan word nie. Jy glo dat die fout by jou is, want hierdie persoon is perfek en wonderlik. As jy ander mense wat hom of haar ken hiervan vertel, gaan hulle jou in elk geval nie glo nie. Jy is ʼn slagoffer van emosionele mishandeling.

2. Gasbeligting (Gaslighting)

Gasbeligting is ʼn vorm van emosionele misbruik waarin die misbruiker die situasie herhaaldelik manipuleer om die slagoffer te kry om sy of haar eie geheue en persepsies te wantrou. Dit laat die slagoffer alles waarop hulle hul hele lewe staat gemaak het bevraagteken en maak hulle onseker van alles. Gasbeligting sal heel waarskynlik veroorsaak deurdat die slagoffer alles sal glo wat die misbruiker vir hom of haar vertel, ongeag sy of haar eie ervaring van die situasie. Gasbeligting gaan dikwels ander tipes emosionele misbruik vooraf aangesien die slagoffer van gasbeligting ook geneig is om in ander misbruikte situasies te bly.

In 1938 het die verhoogstuk, “Gas Light” die lig gesien.  In hierdie verhoogstuk probeer die man sy vrou mal maak deur van ʼn verskeidenheid tegnieke gebruik te maak om haar in haar eie geestesgesondheid en persepsies te laat twyfel. Die man  verdof die res van die huis se ligte terwyl hy gebruik maak van lanterns om na skatte in die solder te soek. Wanneer sy vrou dit agterkom dring hy daarop aan dat dit nie waar is nie, maar slegs haar verbeelding is. Hierdeur probeer hy sy vrou en ander mense oortuig dat sy kranksinnig is en dinge verkeerd onthou. Dit is omdat sy nie die ware realiteit kan sien nie en sodoende begin sy haar eie oordeel wantrou. Sy begin dan ook glo dat dit haar fout is. Die vrou word te bang om enige kwessie te opper, omrede sy vrees dat sy “verkeerd” mag wees of dit nie reg onthou nie. Sy sal dan “gehelp” word om dinge reg te onthou.

3. Wat het in Stockholm gebeur?

ʼn Aantal werkers van ʼn bank in Stockholm is tussen 23 Augustus en 28 Augustus 1973 aangehou deur bankrowers, tydens ʼn bankroof wat skeef geloop het, terwyl die rowers met die polisie onderhandel het. Gedurende hierdie tyd het die slagoffers emosioneel geheg geraak aan die rowers en het hulle selfs bystand van die regering geweier- selfs die rowers verdedig nadat hulle bevry was van hulle ses-daagse beproewing.

Die slagoffers het lojaal teenoor hul vyande geraak. Hulle was afhanklik van hierdie rowers vir toestemming tot kos, medisyne en selfs om die badkamer te gebruik. Hulle het lojaal teenoor die rowers geraak, aangesien die rowers die mense was wat hulle ‘gehelp’ het teen die ‘vyand’ (die polisie). Een van die vroue het later verloof geraak aan een van die misdadigers. ʼn Ander vrou het ʼn fonds gestig om die misdadigers  te help met hulle regskoste. Hierdie gyselaars het ʼn emosionele band met hulle aanhouers gevorm.

4. Wat is emosionele mishandeling?

Emosionele afknouery of mishandeling (abuse) behels dat iemand ʼn ander persoon onder sy of haar beheer probeer kry, deur mag en beheer. Daar word gepoog om mag oor jou te verkry deur van ʼn verskeidenheid tegnieke gebruik te maak, soos vrees, vernedering, intimidasie, skuldgevoelens, manipulasie, dwang, konstante kritiek en selfs fisiese aanranding om jou te onderwerp aan hom of haar

Emosionele mishandeling is ʼn tipe  breinspoeling, wat sistematies die mishandelde se selfvertroue en sin vir selfwaarde afbreek. Die mishandelde verloor mettertyd selfver-troue. Emosionele mishandeling is wanneer jy konstant moet hoor hoe sleg jy, jou vriende, jou familie, jou werk, jou waardes en alles wat vir jou belangrik is. Dit veroorsaak dat die mishandelde nie meer glo in hom­- of haarself nie, al spreek die feite die teendeel en al weet jy ten diepste die teendeel.  Jy hoor hierdie dinge oor en oor.  Later begin jy dit (teen alle rasionele feite) te glo – dit is gasbeligting.

ʼn Professor in sielkunde wou eendag vir sy studente demonstreer hoe kondisionering werk. Die studente moes een persoon op kampus identifiseer. Elke keer as hulle hierdie persoon op kampus gesien het, moes hulle vir hom sê dat hy bleek lyk en hom vra of hy nie dalk siek, naar voel of  dalk diarree het nie. Dit terwyl hierdie student niks makeer het nie. Hy het op daardie betrokke dag hierdie stellings soveel keer gehoor dat hy, as gevolg van die herhaling daarvan, dit begin glo het. Dit was ook presies wat met hom gebeur het.  Sonder enige rasionele redes, het hy begin opgooi en diarree kry. Dit is wat met die mishandelde gebeur. Hy of sy begin later glo dat dit hy of sy is wat verkeerd is of iets verkeerds gedoen het. Dat dit alles sy of haar skuld is, al het hy of sy niks daarmee te make gehad nie. Dit kom alles daarop neer dat dit die mishandelde se skuld is en dat hy of sy iets verkeerd gedoen het

  • Jy word in alle vorme geïntimideer, selfs met fisiese skade aan jouself, of die kinders, jou familie en vriende, jou troeteldiere en eiendom.
  • Die afkraking van jou familie en vriende is ʼn poging om jou te vervreem van jou ondersteuningstrukture, om sodoende eksklusiewe beheer oor jou emosies te verkry.
  • Daar word van jou verwag om die mishandelaar se emosies te verstaan, maar daar is geen poging om joune te verstaan nie.
  • Jou probleme of kwessies word as onbelangrik afgemaak.
  • Die mishandelaar se belange kom altyd eerste – joune tel nie.
  • Jy loop op eiers om hulle nie te ontstel nie – indien jy sou, is dit jou skuld.
  • Hulle emosies en gevoelens bly altyd die middelpunt van aandag.
  • Hulle neem nooit verantwoordelikheid vir die seermaak van ander nie. Dit bly altyd jou skuld. Die argument sal altyd so verdraai word, dat jy die blaam daarvoor dra.

Hierdie dinge gebeur oor tyd. Aanvanklik is die mishandelaar aantreklik, sjarmant en hy of sy oorweldig jou geheel en al. Stadig maar seker begin hierdie sjarmante persoon se gedrag te verander. Jy word letterlik in hierdie aantreklike web ingetrek soos ʼn insek wat ʼn spinnekop se web aanloklik mag vind en dan subtiel vasgevang word in hierdie web. Jy word stadig maar seker ontmag. Dit mag bewustelik of onbewustelik wees, maar dit gebeur stadig en subtiel oor ʼn periode van tyd.

5. Die effek van emosionele mishandeling

Emosionele mishandeling kan lei tot langdurige sielkundige probleme. Emosionele mishandeling vind meestal in liefdesverhoudinge plaas, maar dit mag ook in ander kontekste gebeur soos in die werksomgewing of selfs met vriende en ook tussen ouers en kinders.

  • Die mishandelde se selfbeeld en selfvertroue word so afgekraak dat hy of sy nie net dink dis sy of haar skuld nie, maar bly vaskleef aan die mishandelaar.Die mishandelde word mooi laat verstaan dat sy of haar behoeftes onbelangrik is.
  • Die mishandelde sukkel met probleme soos angs, kroniese depressie, seerkry, vrees, woede, huil, onttrekking, lae selfbeeld, slaapversteurings, siektes, verou-dering, afhanklikheid, onderprestering, onvermoë om te vertrou en ʼn gevoel van hulpeloosheid.
  • Hy of sy word so oortuig oor hoe waardeloos hy of sy is, dat hy of sy later glo dat niemand hom of haar ooit sal wil hê nie en dus vasklou aan wat hy of sy het. Sy of haar grootste vrees is om alleen te wees en hy of sy word daarvan oortuig dat hy of sy alleen sal wees, aangesien niemand hom of /haar sal wil hê nie en dat hy of sy nêrens het om heen te gaan nie  As gevolg hiervan bly hy of sy die mishan-delaar en moet jy hy of sy dankbaar wees dat hy of sy nog steeds daar sal wees vir  hom of haar.
  • Hy of sy mag selfs ʼn tipe Posttraumatiese stres ontwikkel.
  • Dit wat verkeerd loop, is alles die mishandelde se skuld en dit dra by tot gevoelens van waardeloosheid, nutteloosheid en self-blaam. Die mishandelde glo later dat dit sy of haar skuld is, hoe belaglik dit ookal mag klink. Dit is die gevolg van kondisionering, soos die eksperiment van die professor van wie ek jou vroeër vertel het.
  • Alles wat die mishandelde doen is verkeerd en hy of sy word gekritiseer van sy of haar voorkoms tot sy of haar kleredrag.
  • Die mishandelde vereensaam net al hoe meer, voel skaam en hou hierdie mishandeling geheim.
  • Die mishandelde raak gewoond daaraan en dink dis maar hoe dit hoort te wees. Dis waarskynlik die ergste effek.
  • Die mishandelde begin al hoe meer alkohol of middele soos pille of selfs dwelms gebruik om die spanning te verdoof.

Indien jy op die meeste van die bogenoemde positief kan antwoord, is jy gasbelig.

6. Is daar verskillende vorme van mishandeling?

Volgens die literatuur bestaan daar verskillende vorme van mishandeling.

  • Fisiese mishandeling, bv. fisiese aanranding, selfs verkragting en moord.
  • Verbale mishandeling, beledigings en afkrakings.
  • Sielkundige mishandeling, bv. manipulasie, die afdreiging van die vrou waarin sy vertel word dat sy haar kinders gaan verloor of haar finansiële sekuriteit. Volgens ʼn regsgeleerde sal dit slegs in ekstreme gevalle wees waar ʼn vrou haar kinders mag verloor.
  • Emosionele mishandeling, bv. die totale beheer oor die ander een.
  • Jaloesie, dat jy gereeld beskuldig word van ander verhoudings wat jy het of moontlik mag hê.

Wanneer jy mooi na hierdie tipes kyk, kan jy hierdie tipes in twee kategorieë verdeel:

  1. Overte mishandeling: Overte mishandeling is wat jy kan raaksien. Dis duidelik. Jy kan sien dat die ander persoon jou fisies aanrand of verbaal sleg maak.
  2. Koverte mishandeling of Gasbeligting: Koverte mishandeling is egter so subtiel dat jy dit nie met die blote oog en oor kan optel nie. Jy word subtiel gemanipuleer en daar word subtiel beheer oor jou hele lewe geneem.

Wanneer jy egter na hierdie twee tipes kyk, kom dit daarop neer dat alle tipes mishan-deling eintlik ʼn koverte element bevat. Beide tipes laat jou voel of daar iets verkeerd is met jou, dat jy iets verkeerd doen, dat jy sleg is en dat jy ontneem moet word van jou interaksie met ander mense.

Op die ou einde gaan dit daaroor dat daar iets fout is met jou en dat alles wat in hierdie verhouding verkeerd gaan, jou skuld is. Of jy geslaan, verbaal mishandel of bloot subtiel laat verstaan word dat jy verkeerd is en alles jou skuld is – dit kom alles op dieselfde beginsel neer: jy word emosioneel mishandel.

Op watter manier jy ookal mishandel word, die diepste doel van mishandeling is om jou onder die mishandelaar se beheer te kry sodat hy of sy jou letterlik kan beheer, jou lewe en jou doen en late kan beheer. Die rede hiervoor sal jy later sien.

7. Tipes gasbeligtings

Aggressie

  • Fisiese aggressieis die mees overte vorm van aggressie waar daar fisies aggressief opgetree word. Waar jy of jou besittings verinneweer word, jou kinders, selfs jou troeteldiere aangerand of selfs vermoor word.
  • Verbale aggressie – soos etikettering (name-calling), sarkasme, beskuldig-ings, blamering, dreigemente, verkleinering, kritiek en bevele. Die mishande-laar plaas hom of haarself in ʼn meerderwaardige posisie en eien hom of haarself die reg toe om jou te kritiseer. Verbale aggressie kan ook meer koverte vorme inneem soos advies, analisering, verkleinering en ondervra-ging. Dis egter net meer subtiele maniere om jou minderwaardig te laat voel, hoewel dit soos hulp lyk. “Ek weet van beter en jy kan nie sonder my nie”.
  • Subtiele aggressie – eintlik is alle mishandeling verskillende vorme van aggressie. Dit sal vir jou duideliker raak soos ons aangaan.

Ontkenning en miskenning

  • Jou persepsie en mening van dinge word as minderwaardig geag. Jy word as mens en in jou opinie ontken en miskien sou jou mening enigsins van hulle mening verskil. Jou gevoelens word ook ontken en dit lei tot die verlies aan selfvertroue.
  • Ontkenning kan ook beteken dat die mishandelaar, wanneer jy hom of haar konfronteer, ontken dat hy of sy dit ooit gesê het of jou gevoelens ontken.
  • Weerhouding is ʼn ander vorm van ontkenning. Weerhouding behels die weiering om na jou te luister, met jou te kommunikeer, selfs emosionele onttrekking, beter bekend as die sogenaamde “silent treatment”.

Minimalisering

  • Minimalisering is ʼn minder ekstreme vorm van ontkenning en miskenning. Wanneer jy sê hoe jy oor iets voel, kan jy stellings hoor, soos: “Jy is te sensitief; jy oordryf nou; jy ruk dit buite verband.” Jou gevoelens word as minder belangrik afgemaak.
  • Trivitialisering is waar die mishandelaar jou gevoelens van onbelangrik (trivia) afmaak.
  • Jou self-esteem word in die proses geminimaliseer of afgebreek. Jou gevoelens is eintlik onbelangrik of simpel.

Konstante chaos

Die mishandelaar begin berekend raak met argumente en is in konstante konflik met die mishandelde en mag selfs verslaaf wees aan drama, aangesien dit opwinding skep. Konflik is ten minste opwindend.

Dominering

Die mishandelaar wil beheer hê oor elke faset in jou lewe – wil alles weet wat jy doen, waar jy is, wie jy sien ens., terwyl die mishandelaar al die vryheid het om te doen wat hulle wil en jy mag geen vrae vra nie.

Emosionele afpersing

Die mishandelaar misbruik jou eie vrese, skuldgevoelens, medelye en waardes om te kry wat hy of sy wil hê. Hy of sy sal jou byvoorbeeld dreig met die beëin-diging van die verhouding, jou totaal verwerp, vir jou die koue skouer gee, jou afdreig met ander mense wat in hom of haar belangstel. Alles speletjies om jou bang te maak vir die verlies van hierdie persoon.

Onvoorspelbare reaksies

Daar is drastiese en skielike gemoedsverandering, of skielike woede-uitbarstings wat uit die bloute kom. Jy sien dit nie kom nie, verwag dit nie. Wat vandag reg of aanvaarbaar is om te sê of te doen, mag môre om een of ander rede nie aanvaarbaar of reg wees nie. Jy weet nooit wat vir jou wag nie, jy is altyd gespanne en waaksaam om nie die verkeerde ding te doen of te sê nie uit vrees vir daardie woede. Dit veroorsaak vrees, selfs angs by jou en bly jy vrees om nie die verkeerde dinge te doen of te sê nie.

Verwerping

Jou teenwoordigheid, waardes of selfwaarde word verwerp. Jou sienings word as onbelangrik afgemaak.

Isolering

Isolering is die einddoel van emosionele mishandeling. Jy word totaal afgesny van jou ondersteuningsmeganismes wat jou dalk mag vertel dat daar niks verkeerd is met jou nie. Jy word afgesny van mense wat moontlike bedreigings vir hom of haar kan wees op die gebied van die liefde. Jy word geïsoleer van potensiële nuwe maats.  Jy word selfs geïsoleer van jou familie, vriende en enige persoon wat jou dalk net anders mag oortuig. Jy word van alles geïsoleer, selfs van jou eie finansies, sodat jy totaal in sy of haar mag is en glad nie daaruit kan kom nie. Die einddoel is om te verseker dat jy so alleen en van alles ontneem is, dat hierdie persoon alles in jou lewe word. Sodoende raak jy so afhanklik van hom/haar dat jy so afhanklik raak, dat jy hom of haar nooit sal kan of wil verlaat nie.

Die mishandeling raak nooit beter nie, maar word progressief toe. Dit beïnvloed net jou selfbeeld negatief en jy begin glo dat niemand jou ooit sal wil hê nie. Jy glo dat dit beter sal raak, maar dit raak nooit beter nie. Soveel mense glo dat ʼn huwelik en kinders die probleem sal oplos. Dit los nie die probleem op nie, dit eskaleer net die probleem.

8. Kenmerke van die mishandelaar

Die mishandelaar sukkel ironies genoeg met dieselfde kwessies waarmee jy nou sukkel. Dis amper asof hierdie persoon se kwessies op jou afgesmeer het. Die mishandelaar is net ʼn mens met sy of haar eie kwessies. Hierdie persoon wat so selfversekerd en oortuigend voorkom, is ten diepste ʼn erg onseker siel.  Die mishande-laar is jaloers, besitlik en kruis-ondervra sy of haar maat gereeld.

  • Die mishandelaar beheer sy of haar maat se hele lewe: met wie sy of haar vriende mag wees of nie, wat hy of sy  mag aantrek of nie, wat hy of sy mag doen of nie, selfs sy of haar finansies word deur die mishandelaar beheer.
  • Die mishandelaar kan vriende bekom soos polisiemanne, regsmense, selfs die mishandelde se eie familie om hom of haar in die moeilikheid te laat beland sou hy of sy “verkeerd” optree.
  • Die mishandelaar breek in op die mishandelde se privaatheid, soos om deur sy of haar wagwoorde te breek en op sy of haar Facebook, Twitter of e-pos in te gaan om sy of haar private boodskappe te lees.
  • Die mishandelaar het heel waarskynlik groot geword in ʼn emosioneel mishandel-de omgewing. Mishandelde kinders toon as volwassenes meer vyandelike- en aggressiewe gedrag, maar is ironies genoeg ook geweldig afhanklik van hulle maats wie hulle juis mishandel.
  • Hulle het negatiewe opinies rakende hulself en hul vermoëns.
  • Hulle het oor die algemeen ʼn negatiewe persepsie oor die wêreld om hulle.
  • Die mishandelaar sukkel heel waarskynlik met depressie, angs, Posttraumatiese stres en woede.
  • Hy of sy leer dat mishandeling ʼn manier is om hulle eie gevoelens van jaloesie, gemoedskommelings, swak selfbeeld, magteloosheid, vrees, seerkry en woede te hanteer.
  • Die mishandelaar is gevolglik aangetrokke tot wie hulself sien as hulpeloos, wie nie hul eie gevoelens, persepsies of sienings na waarde ag nie.

9. Wat jy kan doen

Jy wou nooit in so ʼn verhouding wees nie. Jy het nie gevra hiervoor nie. Enigiemand sou met so ʼn persoon in ʼn verhouding betrokke raak en jy het. Hierdie mense is net te ongelooflik aanvanklik, net te wonderlik. Dat dit gevoel het dat dit goed was om waar te wees. Jy het toe ontdek dat dit wel te goed was om waar te wees.  Erken eerstens jou gevoelens van magteloosheid, seer, vrees en woede – sê vir jouself dis hoe jy nou voel.

  • Jy kan tot die besef kom dat dit nie jou fout is nie.
  • Kyk miskien na die redes hoekom jy jouself nie na waarde ag nie. Het jy dalk, veral in jou kinderdae, boodskappe ontvang dat jy nie goed genoeg is nie? Het hierdie probleme dalk daar reeds ontstaan? Het jou ontkenning, isolasie, ontoepaslike skuld al hier begin en is dit hoekom jy onseker en nie goed genoeg voel nie? Navorsing toon dat tot soveel as 43% mishandeldes as kind reeds mishandel is.
  • Is dit die gevolg van jou eie onsekerheid met intimiteit, vertroue en commitment wat jou so onseker maak?
  • Is jy so desperaat vir liefde en goedkeuring, dat jy enige iets sal doen dat iemand van jou hou, jou aanvaar?
  • Dalk is jy so geïntimideer deur iemand anders se woede en kritiek.
  • Leer om jouself van waarde te ag. Jy kan besef dat jy, as mens perfek geskape is, toegerus met alles wat nodig is om suksesvol te wees. Besef dat daar in wese niks verkeerd is met jou nie.
  • Jy het sekere regte as mens en niemand verdien om emosioneel mishandel te word nie.
  • Jy kan agter kom wat die mishandelaar se eie emosionele kwessies is en jy gaan besef dat hierdie persoon iewers ʼn gevoel van intense verwerping of uiterste minderwaardigheid het. Deur jou ten alle koste te beheer en onder sy of haar duim/beheer te hou, probeer die mishandelaar hierdie gevoelens onderdruk. Die enigste manier om dit te vermy is om jou heeltemal onder sy of haar beheer te hou, ten alle koste.
  • Jy kan dalk nou besef dat die mishandelaar sy of haar kwessies op jou projekteer. Projektering of projeksie beteken dat die persoon jou beskuldig van swakhede wat hy of sy eintlik in hom of haarself sien.
  • Sien ʼn sielkundige om jou te help met die impak van emosionele mishandeling. So ʼn persoon kan jou ook help om gesonder maniere aan te leer om hierdie mishandelaars te hanteer, ook om mooier te kyk na jou eie behoeftes en om jou te help besef dat dit nie jou fout is nie.
  • Jy kan ook ʼn geregspad loop – in die wetskringe word mishandeling (fisies en emosioneel) as kriminele teistering gesien. Spreek jou prokureur hieroor.
  • Onthou – jy is nie alleen nie. Daar is baie soos jy en hulp is beskikbaar by jou sielkundige, psigiater, dokter, regsadviseur of selfs die polisie.

10.  Die reaksie van die mishandelaar

Wanneer die mishandelaar agterkom dat die mishandelde besig is om hom of haar  te verlaat, verwag die mishandelaar ʼn wonderwerk of probeer om sy of haar mishandelde te oortuig dat hy of sy op ʼn Damaskus-pad is, waar verandering radikaal is.

Hierdie persoon:

  • gaan spreek ʼn sielkundige of ʼn lewensafrigter (life coach) en hou radikale verandering voor
  • probeer sy of haar sielkundige of lewensafrigter oortuig dat daar radikale verandering is
  • probeer om die sielkundige of lewensafrigter te oortuig om die ander party te oortuig dat hierdie verandering wel plaasgevind het
  • skryf die mooiste liefdesbriewe of sê die mooiste liefdeswoorde
  • dink jy moet dit onmiddellik verstaan, glo en na hom of haar terugkeer
  • plaas jou onder druk om dadelik jou besluit te neem
  • wys vir almal, insluitende jou familie watter goeie persoon hy of sy is
  • gryp oordadig terug na sy of haar rol in die huwelik of gesin – of dit is om oordadig sy of haar deel te doen soos om die wasgoed te was of om gunste vir sy of haar maat te doen
  • gryp oordadig terug na Godsdiens. Skielik word daar kerk toe gegaan en huisgods-diens gehou of gepraat oor God
  • gee) oordadig tyd en aandag aan jou
  • neem kragtig beheer oor sy of haar lewe en ook oor jou lewe
  • is oormatig vroom en berouvol
  • maak beloftes van ʼn totaal veranderde lewe en verhouding
  • vat al die blaam vir alles wat verkeerd gegaan het en ontken selfs jou rol in wat verkeerd gegaan het
  • sê of doen dinge wat alles vir jou reg klink, maar om een of ander rede is dit te goed om waar te wees en jy het net ʼn onverklaarbare ongemaklike gevoel daarmee.

Ek probeer geensins om jou hiermee te oortuig dat die mishandelaar nie kan verander nie. In my ervaring is daar baie mishandelaars wat werklik verander en hiermee volhou, maar daar is ook die mishandelaars wat weldra weer op hulle ou weë terug keer. ʼn Damaskus-ervaring is raar en dit vat tyd om deur hierdie dinge te werk. Daar is nie ʼn quick-fix nie. Dis eers na ʼn lang en aanhoudende proses waar die mishan-delaar werklik deur sy of haar kwessies werk, wanneer verandering kan plaasvind.

As die mishandelaar werklik so lief is vir jou soos wat hy of sy sê, sal hy of sy vir jou wag tot jy gereed is.

Indien dit werklik oor jou gevoelens gaan, as die mishandelaar werklik besorg is oor jou of jou welstand, sal hy of sy jou besluite aanvaar om te bly of te gaan. Indien nie, gaan dit maar net weereens oor sy of haar eie gevoelens en is dit nie liefde nie, maar ʼn obsessie en dan is ons maar net weer terug by sy of haar eie gevoelens en die ontkenning van jou gevoelens.

11.  ʼn Laaste woord aan die mishandelaar

Jy mag dalk dink dat jy jou maat onder jou beheer het. Indien jy so dink, is daar ontstellende nuus vir jou. Jy kan nooit jou maat se siel breek nie, hoe harder jy probeer, hoe meer vasberade sal dit jou maat maak om hiervan te ontsnap. Dit gebeur op die mees onverwagste tye.

Hiervoor is die mens in hom- of haarself net te sterk geskape as mens. Elke mens is perfek geskape met alles wat nodig is om hul lewe suksesvol te maak. Van hierdie feit kan geen mens ontneem word nie.?

Konfronteer eerder jou eie kwessies. Sielkundige speletjies werk nooit  –  jy sal iewers misluk.

Jou maat gaan hom of haar liewers hieruit onttrek.

Ek kan eindelose voorbeelde opnoem van waar die mishandelaar dink hy of sy het die mishandelde onder sy of haar beheer, om net agter te kom dat die mishandelde sommer net eendag die mishandelaar verlaat het, sonder enige waarskuwing.

Johan (skuilnaam) het sy vrou so mishandel. Sy het vir jare gesmeek dat hy haar beter moet behandel – sy het selfs gesmeek dat hy net eenmaal per maand saam met haar kerk toe moet gaan. Hy het haar onder sy beheer gehad en haar versoeke geïgnoreer. Sy het eendag besef dat genoeg genoeg is en het hom gelos. Johan het sy lewe omgekeer, alles en nog meer gedoen wat nodig was, maar dit was te laat. Sy kon nie meer oortuig word nie. Al het Johan betrokke geraak by die kerk, selfs tot bekering gekom en hom laat doop het, was dit steeds te laat.

Daar was John, wie se vrou hom emosioneel mishandel het. Alhoewel sy vir terapie gegaan het en deur haar probleme gewerk het, was dit vir John reeds te laat. Hy het op oujaarsdag besef hy is klaar en het genoeg gehad. Dit het nie saak gemaak hoeveel sy verander het nie. Hy het onverwags eenvoudig by die deur uit geloop en nooit weer terug gekeer nie. Ironies genoeg is die doel om jou maat se mag te breek, juis die breek van sy of haar mag wat veroorsaak dat hy of sy ook die mag verloor het om hierdie verhouding te probeer red. As jou maat die fase/plek bereik waar hy of sy nie meer omgee nie, dit is wanneer jy hom of haar finaal verloor het, want dan maak niks meer saak nie.

Jy kan misbruik en manipuleer soos jy wil – jy sal misluk. Erken jou eie probleem en werk daaraan.

Aan die ander kant is daar mense wat betyds agter gekom het wat hulle doen en betyds hulle kwessies aangespreek het. Nie net het hulle hul huwelik gered nie, maar dit het sterker geword as enige gemiddelde huwelik.

Wees eerlik met jouself. Wees eerlik met jou gevoelens. Werk dit eers deur en jy sal jou maat vir ewig onder jou beheer hê.  Op ʼn goeie, gesonde manier waarby albei wen, in wedersydse respek en vertroue.

Dis tog wat liefde is.