mind over matter

Jou denke kan jou siek maak, of dit kan jou genees – ‘n gevalle-studie van ‘n ongelooflike genesing van ‘n ongeneeslike siekte.

© Jorgan Harris.

1. Inleiding

Ek het in 2005 ʼn internasionale referaat aangebied tydens die Internasionale Kongres van Hipnose in Krakow, Pole oor hipnose en outo-immuun siektes. Ek het die geval van Jeanne voorgedra wie na my verwys was met ʼn uiters skaars siekte, genaamd scleroderma. Sy is in 1998 na my verwys vir depressie, aangesien sy net twee jaar gegee is om te lewe.

Ek het op daardie stadium niks van scleroderma geweet nie en ek moes eers navorsing daaroor gaan doen.

In ons eerste sessie het ek vir haar gesê: “hoekom moet ek jou vir depressie behandel? Jy het rede om depressief te wees. Jy gaan in elk geval dood gaan”. Dit was immers die realiteit. “Hoekom werk ons nie eerder met jou siekte nie?” Sy was aanvanklik geskok in my reaksie en het tog ingestem om met haar siekte te werk

Maar ek moes eers agterkom wat scleroderma is.

2. Scleroderma is ʼn outo-immuun siekte

Mense het nooit ʼn siekte nie, hulle ervaar net iets as ʼn siekte of ʼn ongemaklikheid. (disease teenoor dis-ease).

Scleroderma is ʼn outo-immuun-siekte (soos Lupus, Gewrigsrumatiek, Veelvuldige Sclerose en Vigs). Hierdie ervaring behels ʼn buite-beheer immuunstelsel waar die liggaam foutiewelik sy eie gesonde selle begin aanval en vernietig. Met ander woorde die liggaam verloor sy eie vermoë om te onderskei tussen sy eie selle en die dreigende indringers.

Die primêre funksie van die outo-immuunstelsel is om vreemde substanse te identifiseer en hulle te keer om ons enige skade aan te rig. Dit behels die vermoë om onsself teen enige invalle te beskerm; maar dit behels ook die bewustheid van die verhouding tussen die binnekant en die buitekant, tot watter mate ons beïnvloed word deur hierdie verhouding en die vermoë om te diskrimineer tussen dit wat ons is en dit wat nie-ons is – dis tussen die self en die nie-self. Wanneer die immuunstelsel ooraktief optree teen eksterne antigene soos bakterieë of stuifmeel, kan daar ʼn allergie ontwikkel. Indien dit onderaktief optree, kan ʼn infeksie ontwikkel.

Dit gaan oor die fisiese uitdrukking van die liggaam se vermoë om te kan onderskei wat die verskil tussen self en nie-self is. Met ander woorde, wanneer die immuunstelsel behoorlik werk, behoort dit te kan onderskei tussen die selle en chemikalieë wat joune is en dit wat nie joune is nie. Dit is veronderstel om jou liggaam te beskerm en enige iets wat nie-self of nie joune is, aan te val, soos byvoorbeeld gifstowwe. Outo-immuun siektes kan letterlik verstaan word as die self wat die self aanval op ʼn immunologiese vlak.

Die woord ‘toleransie’ word gebruik om hierdie diskriminasie tussen die self en die nie-self te beskryf en val net die nie-self substanse aan. ‘Intoleransie’ is die onvermoë om te onderskei wat skadelik is en wat nie, waar die nie-self ditself voorhou as die self. Soos byvoorbeeld dwelms wat voorgehou word as aangenaam, maar in wese skadelik is. Die proses van diskriminasie is ʼn belangrike komponent in ons sin vir identiteit. Die vermoë om beheer te neem, self te besluit  oor ons gedagtes en gevoelens teenoor om maklik deur andere beïnvloed te word.

3. Wat is scleroderma regtig?

Die term ‘scleroderma’ kom van twee Griekse woorde: “sclero” wat hard beteken en “derma” wat vel beteken. Hierdie spesifieke woord word gebruik aangesien die verdikking van die vel een van die mees sigbare manifestasies van hierdie siekte is.

Simptome van scleroderma kan gesien word aan die vel, maar simptome is ook onsigbaar waar die interne organe aangetas mag wees

Dit is welbekend dat die liggaam, in die geval van scleroderma, ʼn oorproduksie van kollageen lewer. Kollageen is ʼn belangrike proteïne wat die vesels in die liggaam aan mekaar hou. Die oorproduksie van kollageen veroorsaak egter ʼn verdikking en verharding van die vel, probleme met organe en gewrigte, beperkte beweeglikheid, velsere, sowel as moontlike long en hartprobleme.

Die self probeer om die individu te beskerm teen die nie-self deur te veel kollageen te produseer om dikvellig te wees. Om die self teen die buite-wêreld te beskerm. Maar hierdie oorproduksie maak die individu dood – dit maak die self dood teen die nie-self.

4. Analoog-denke

Jy is die outeur van jou eie siekte.

Analoog-denke is waar ʼn simboliese betekenis van ʼn woord letterlik word in die onderbewussyn en verteenwoordig ditself dan op ʼn fisiese vlak.

Analoog denke is waar ons abstrakte denke in die onderbewussyn letterlik word.

Dink aan die volgende:

  • ʼn persoon wat ʼn uitslag het, jeuk om deur die beperkinge te breek wat hulle beperk;
  • mense wat dinge nie wil sien nie, is geneig om probleme met hulle sig te ontwikkel;
  • mense wie voel dat hulle nie regop kan staan in die lewe nie, mag probleme met hulle rug ervaar;
  • mense wie voel dat daar geen soetheid (sweetness) in hulle lewe oor is nie, mag probleme met diabetes ontwikkel;
  • ek het op ʼn keer ʼn onderwyseres gesien wat doof begin word het. Sy het my vertel dat sy nie meer die geraas in haar klaskamer wil hoor nie. Sy het hulle ʼn dowe oor begin gooi. Analoog denke verstaan dit as om fisies doof te begin word;
    kanker vreet aan jou. Jy het al dikwels gehoor mense sê: “dit vreet soos kanker aan my”;
  • as jy nie ontslae kan raak van die “spreekwoordelike k*k” in jou lewe nie, mag jy probleme met konstipasie ontwikkel;
  • die vel is die laaste grens tussen die persoon en die wêreld om die persoon. Mense met ekseem, ʼn baie jeukerige probleem, mag jeukerig of geïrriteerd voel teenoor ander mense of mag jeuk om iets te doen.

5. Analoog-denke en scleroderma

Die nie-joune in die geval van ʼn outo-immuun siekte hoort aangespreek te word. Wat is dit wat die persoon syne of hare gemaak het wat nie veronderstel is om syne of hare te wees nie? Dit gaan oor die persoon se oortuigings wat iets aangeneem het as “goed vir hom of haar”, maar eintlik nie goed vir hom of haar is nie. ʼn Stad met hoë mure beskerm homself nie net teen vyande nie, maar sny homself ook van inkomende voorrade af.

Definieer grense: die vel

Ons vel is ons kontakpunt met die wêreld om ons. Ons vel word rooi van woede of skaamte, dit bloos van liefde of verleentheid, word wit van skok, slaan uit in hoendervel in koue of verwagting, sweet tydens vrees of inspanning. Elke emosie se reaksie kan in die vel gesien word.

Die vel is die fisiese uitdrukking van ons diepste innerlike: ons maak kontak en kommunikeer met ander mense deur ons vel. Dit verteenwoordig ons uiterlike beperkinge. Dit vorm ook ʼn grens tussen ons en die wêreld om ons. Velprobleme word daarom dikwels geassosieer met kommunikasieprobleme, spesifiek as kommunikasie van enige aard ons grense bedreig in enige opsig.

Aanraking breek deur hierdie beperkinge, dit steek ons grense oor deur letterlik ons gevoelens aan te raak. Aanraking is die mees basiese vorm van kommunikasie, die oordra van liefde, teerheid, genesing, sekuriteit, vertroue, veiligheid en passie. ʼn Baba kan selfs doodgaan as dit nie genoeg aangeraak word nie, terwyl volwassenes geestesversteurings en trauma kan ontwikkel sonder menslike kontak, asof hulle verdor binne hulle dop.

Aanraking is ʼn natuurlike deel van intimiteit, maar fisiese kontak is nie altyd aange-naam nie. Dit kan ook ʼn sneller vir vrees, seerkry of ook ʼn gevoel van blootstelling en kwesbaarheid wees. ʼn Vrees vir aanraking kan dui op ʼn dieper vrees om onsself te deel met ander, moontlik as gevolg van ʼn onaangename aanraking in die verlede, veral as dit ʼn aanranding was. Daar mag gevoelens ontstaan soos vuil of lelik. Daar mag ook gevoelens van skaamte of skuldgevoelens teenwoordig wees.

Dik of harde vel

Wanneer daar areas van ʼn dik of harde vel teenwoordig is, mag dit ʼn aanduiding wees dat emosies soos vrees of vooroordeel die persoon mag verhard, onbeweegbaar maak of selfs vasvang. Om jouself te verhard, of dan om jou hart te verhard, is om hard te raak of om niks te voel nie. Wanneer ons te veel kollageen vervaardig en ons vel te dik raak, verdoof dit ons vermoë om te voel en om geraak te word deur ander mense. Dit is soos ʼn beskermende muur wat enige vertroue uithou asook oop kommunikasie met ander. Die persoon word hard en onsensitief. Die persoon sluit hom of haarself af van ander en beskerm sodoende hom of haarself teen sy of haar eie teerheid.

Gewrigte

Gewrigte maak ons beweegbaar en buigbaar, letterlik buigbaar. Menigte van die simptome wat die gewrigte affekteer is inflammasie via pyn, wat op sy beurt lei tot beperkings in bewegings en selfs tot ʼn totale verstokking. Wanneer die gewrigte verstok, word ʼn verstokte of rigiede houding ingeneem teenoor iets of iemand. ʼn Verstokte gewrig verloor sy funksionaliteit. Dink nou aan die volgende idiome: “om te ver te strek”, “om te ver te gaan”, “om iemand onder druk te sit”, of “om oorspanne te raak”. “Om opgeskroef te raak”.

6. Die storie van Jeanne

Jeanne het die volgende simptome van scleroderma gehad:

  • Dik vel;
  • Verstopping van are en kliere;
  • Verstopte traankliere en droë oë;
  • Stywe gewrigte;
  • Bloeiende vingers;
  • Wonde wat septies begin word het (die gevolg van ʼn te-vinnige genesing) met geen operasie-littekens nie;
  • ʼn Onvermoë om haar mond oop te maak (ook as gevolg van die styfheid van haar vel);
  • Hoë bloeddruk.

Van ʼn perspektief van analoog denke, het ek vir myself die volgende vrae gevra:

  • Is sy dikvellig?
  • Is sy besig om die vloei van die lewe te blokkeer deur haar are en kliere?
  • Het haar oë droog geword? Hoekom huil sy nie meer nie? Het haar trane opgedroog?
  • Het sy te styf en rigied geword in haar denke, met min of geen buigbaarheid? Die verslag van haar huisdokter wys dat sy “te vinnig genees” (’n wanbalans). As sy haar oorbelle uithaal vir 48 uur, sal die gaatjies in haar ore reeds toe wees.
  • Wat beteken die vingers? Aanraking, vashou, hou, hantering, of ʼn houvas verkry? Wat beteken die woord “seer of sweer”? Is daar ʼn sweer wat oop wou bars?
  • Wonde raak septies (die gevolg van ʼn genesing wat te vinnig plaasvind) en geen littekens na ʼn operasie nie. Is sy so op die uitkyk dat sy haarself nie eens die pyn toelaat nie? Probeer sy op ʼn onderbewustelike vlak te vinnig genees van haar (onderbewustelike) pyn?
  • Hoekom kan sy nie haar mond oopmaak nie? Is daar iets wat sy nodig het om te sê, maar sy kan nie, of wil nie. Kan sy nie vir haarself praat nie? Dit is insiggewend om op te merk dat Jeanne ʼn sagte stem gehad het. Wat jaag haar bloeddruk op? Kook haar bloed?

Kort geskiedenis:

Jeanne is in 1944 gebore as die jongste van twee susters. Sy was sedert haar geboorte verwerp, aangesien haar ma ʼn seun wou gehad het. Sy was 3 of 4 jaar oud toe haar pa oorlede is. Sy het haar ma beskryf as grof, koud en dominerend.

Sy het haarself begin onttrek en was kronies siek. Sy het haar eerste septiese vinger gehad op die ouderdom van 13 en teen die ouderdom van 23 is sy gediagnoseer met ʼn Karpale Tonnel Sindroom. Teen ouderdom 33 was haar hande feitlik nutteloos. Sy sê, “my verlies aan voel was nou baie duidelik”.

In 1996, ouderdom 52, was sy finaal gediagnoseer met scleroderma. Sy skryf: “Ek was nou finansieël kruppel asook in my gesondheid. Ek wou net doodgaan en het verval in ʼn diep depressie en het my medikasie, wat ek nie kon bekostig nie, gestaak”

Ons het met hipnose begin. Gedurende haar eerste sessie het sy begin om te huil. Na hierdie sessie het sy my meegedeel dat dit die eerste keer in agt jaar is wat sy trane kon huil. Sy het haarself gesien in haar veilige plekkie waar sy gesond en heel was. Tydens hierdie proses het ek haar beter leer ken, waaroor sy passievol voel, wat betekenis in haar lewe gee, al was dit op daardie stadium slegs oorlewing – fisies en finansieël, sowel as emosioneel.

Teen hierdie tyd het ek opgemerk dat sy meeste van die tyd blou klere dra. Toe ek daaroor navraag doen, vertel sy my dat haar ma altyd vir haar blou klere gekoop het en rooi klere vir haar suster. Toe sy haar ma daarom vra, was haar ma se reaksie: “Rooi is vir die mooi, blou is vir jou”. Behalwe dat dit haar self-esteem seer gemaak het, het dit ook gelei tot ʼn rolverwarring, want sy moes ʼn seun wees – ʼn nie joune.

Ons het begin ondersoek wat haar siekte haar kon leer. Hier was nog ʼn belangrike deurbraak. Ek het vir haar gesê dat sy nie besig was om dood te gaan nie, maar dat sy besig was om ʼn selfdood te pleeg. Sy het besef dat sy haar eie siekte veroorsaak en dit beteken het dat sy in beheer is van haar eie lewe en dat sy dit kan genees. Sy het begin besef dat genesing moontlik was. Dalk wou sy tog leef.

Hoe kan haar scleroderma‘n seëning wees? Uiteindelik het ek haar gevra: “Is jy dikvellig?” Toe ek haar hierdie vraag vra, was dit asof haar hele geskiedenis voor my ontvou het. Sy het my vertel van haar ma, ʼn traumatiese huwelik en ander vorme van misbruik waar sy net eenvoudig dikvellig moes wees om te oorleef. Sy het letterlik hard, onbeweeglik en vasgevang geraak. Sy het geen insae in haar lewe toegelaat nie. Haar beskermende mure het te dik geraak. Dit was weerstand. Haar onder-bewuste het haar begin beskerm deur haar vel te verhard of te verdik, maar dit was eintlik besig om haar dood te maak. Haar immuunstelsel het verward geraak in ʼn poging om die nie-joune aan te val (sy is soos ʼn seun behandel), maar het begin om die joune aan te val (die sagtheid van haar vrou-wees). Daarom kon sy nie meer huil nie. Sy het letterlik haar trane geblokkeer, want “seuns huil nie”.

Na ʼn tydperk kon ek haar met hipnose terug neem na haar kindertyd. Ek het haar gevra om vir haar ma te sê wat ookal sy wou sê, maar nooit kon nie en om aan haar ma te doen wat ookal sy sou wou doen. Sy het geweier om enige iets te sê (wat haar krimpende mond kan verduidelik). Ek het haar gevra of sy haar ma wil slaan. Sy het begin om in die lug in te slaan. Van hier af was daar bykans geen keer in haar genesingsproses nie. Selfs haar gewrigte het losser geraak. Sy was buigbaar genoeg om te kon slaan! Teen hierdie tyd het sy begin om rooi klere te dra.

Sy skryf: “Deur die maande het my vingers genees. My naels het behoorlik begin groei en my sensasies het terug gekeer. My tandarts het gesê dat my mond groter was en sy metings het gewys dat my mond se openingskapasiteit met 8 cm gegroei het. Toetse het gewys dat my longe en niere nou amper normaal is en ek het energie wat ek nooit geweet het bestaan het nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek gevoel of ek lewe! Beter nog, my pyn is weg”.

ʼn Paar sessies later kon sy finaal haar ma vergewe.

Jare later:

Ek het haar in Oktober 2011 ontmoet vir ʼn koppie koffie. Sy moes nou al vir twaalf jaar dood gewees het. Sy lewe steeds en is aan die gang. Sy gebruik geen medikasie nie. Sy is ook nie meer depressief nie. Sy werk in ʼn ouetehuis waar sy die invalides moet help. Sy moet baie beweeg en trappe klim. Daar is nie meer ʼn grens tussen haar en die wêreld om haar nie – sy is nie meer dikvellig nie.

Ek glo in sinchronisiteit. Dit was nie haar bedoeling om in ʼn ouetehuis te werk met invalides nie, maar dit het net gebeur dat sy met ou mense, gestremde mense, siek mense en sterwende mense moes werk.

In Jeanne se eie woorde:

Sover as wat ek kan onthou was my lewe altyd traumaties, onstabiel en mishandelend – van kindertyd tot in volwassenheid. Ek glo dit het begin toe ek ʼn baba was.

Die gevolg was dat ek seine uitgestuur het om mishandelende siele aan te trek en ek het dit aanvaar as my LOT in die lewe.

My huwelik in 1964 het soos ʼn seëning gelyk en soos ʼn kans op geluk, maar dit het net 16 jaar gehou. My man het na 14 jaar uit getrek en het my alleen gelaat met vier jong seuns.  Na twee jaar het hy terug gekom en tussen my en die ander vrou rond beweeg, totdat ek van hom geskei is in 1980.

Na baie jare van siekte is ek finaal gediagnoseer met scleroderma deur my huisdokter wat ook ʼn homeopaat was wat vir my ʼn boek gegee het om te lees: “You can heal your life” deur Louise Hay.

Nadat ek dit gelees het, het dit vir my iets aangebied om aan vas te klou (ʼn bietjie hoop).

Teen die tyd wat ek hipnose ondergaan het, is my mediese sorg verplaas na ʼn staatshospitaal as gevolg van my finansiële situasie. Die verpleeg-personeel was verstom deur my skielike vooruitgang, maar die dokter het my baie stupid genoem. Hy het vir my gesê dat ek moet die feite in die oë begin kyk dat daar GEEN genesing vir scledoderma bestaan nie en dat ek heel waarskynlik voor kersfees sou sterf aangesien daar GEEN kuur vir scleroderma bestaan nie.

Nou, teen die ouderdom van 68 en feitlik pynvry, voel die verlede op ʼn manier nie regtig nie. 15 jaar gelede het ek van voor af begin en het nog nooit weer terug gekyk nie. Ek trek nie langer mishandeling aan nie, maar ek leer steeds en hoop dat ek eendag ʼn betekenisvolle verhouding met iemand spesiaal kan begin!

Ek voel dat die verandering van my naam onder hipnose ʼn belangrike stap vorentoe was. Teen daardie tyd was dit nie vir my so belangrik nie, maar ek het intussen besef dit het my toegelaat om die pyn agter my te laat en om MYSELF te VIND.

[Nota deur Jorgan: vir een of ander rede het ek tydens hipnose haar per ongeluk Jeanne genoem, in plaas van Jean, haar regte naam. Sy het hierna die naam Jeanne aanvaar as haar nuwe naam.]

Ek het my mede-sclerodermalyers dopgehou en myself belowe dat ek NOOIT voor hierdie verskriklike siekte sal swig nie. Ek sal dit beveg met elke vesel van my wese.

My advies vir enige iemand wat stry teen ʼn lewensbedreigende siekte is om STERK genoeg te wees om te GLO. En VOLG JOU HART, selfs al beteken dit om tradisionele advies te systap.

ʼn Mediese geskiedenis is GEEN kompetisie vir ons psige nie!