PTSD

Op koers van hel op aarde na ‘n geskenk van die gode – Posttraumatiese Stresversteuring (PTSV)

© Jorgan Harris

1. Wat is posttraumatiese stresversteuring?

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) word ook bomskok, gevegsuitputting, ongeluk-neurose of post verkragting sindroom genoem.

Posttraumatiese stres veroorsaak ʼn ongemak en ʼn inmenging in jou daaglikse lewe. Dit gebeur gewoonlik na ʼn traumatiese gebeurtenis. So ʼn persoon word dikwels gekwel deur voortdurende en vreesaanjaende herinneringe rondom ʼn traumatiese gebeurtenis.

In die woorde van Peter A. Levine is trauma hel op aarde. Opgeloste trauma is ʼn geskenk van die gode.

2.  Wie word geraak deur PTSV?

Daar word gereken dat tot tien persent van die populasie geraak word deur PTSV. Aanvanklik is gedink dat hierdie versteuring net voorkom by oorlogsveterane, maar hierdie versteuring kan voorkom by enigiemand wat betrokke was in ʼn betekenisvolle traumatiese gebeurtenis.

3.  Wat is die simptome van PTSV?

Simptome van PTSV kom gewoonlik binne drie maande na die trauma voor, maar soms kan die toestand eers na vore kom maande, selfs jare na die gebeurtenis.

Kom ons kyk eers wat ʼn Posttraumatiese stresversteuring werklik is soos beskryf in die DSM 5.

Nota: Die volgende kriteria is van toepassing op volwassenes, adolessente en kinders ouer as 6 jaar.

A. Blootstelling aan werklike of ʼn dreigende dood, ernstige besering, of seksuele geweld in een (of meer) van die volgende maniere:

  1. ʼn Direkte ervaring van die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
  2. Om direk waar te neem wanneer dit met iemand anders gebeur.
  3. Wanneer die traumatiese gebeurtenis met ʼn nabye familielid of met ʼn nabye vriend gebeur. In die geval van ʼn werklike of bedreigde dood, was die gebeurtenis gewelddadig of ʼn ongeluk.
  4. Wanneer jy herhaaldelik of verskriklik blootgestel word aan details van die gebeure (bv. wanneer jy menslike oorskot bymekaar moet maak of polisie-manne wat herhaaldelik blootgesel word aan detail van kindermisbruik).

Nota: Kriterium A4 geld nie vir blootstelling deur elektroniese media, televisie, foto’s, films of prente nie, behalwe as die blootstelling werksverwant van aard is.

B.  Die teenwoordigheid van een (of meer) van die volgende indringende simptome wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin nadat die traumatiese gebeurtenis/gebeure gebeur het:

  1. Herhalende, onwillekeurige en indringende ontstellende herinneringe aan die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
  2. Herhalende ontstellende drome waarin die inhoud en/of die gevoel van die droom verband hou met die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
  3. Dissosiatiewe reaksies (bv. terugflitse) waarin die individu voel of optree asof die traumatiese gebeurtenis/gebeure weer gebeur. (Sulke reaksies mag op ʼn kontinuum plaasvind met die mees ekstreme ervaring ʼn totale verlies aan bewustheid van alles in die individu se omgewing).
  4. Intense of voortdurende sielkundige ontsteltenis by blootstelling aan interne of eksterne leidrade wat ʼn aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure simboliseer of verteenwoordig.
  5. Kenmerkende fisiologiese reaksies by interne of eksterne leidrade wat ʼn aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure simboliseer of verteenwoordig.

C.   Voortdurende vermyding van stimuli wat met die traumatiese gebeurtenis/ gebeure geassosieer word, wat begin na die gebeurtenis/gebeure, soos bewys deur een of beide van die volgende:

  1. Vermyding van of pogings tot vermyding van ontstellende herinneringe, gedagtes of gevoelens oor of soortgelyke assosiasies met die traumatiese gebeurtenis/gebeure.
  2. Vermyding of pogings tot vermyding van eksterne herinneringe (mense, plekke, gesprekke, aktiwiteite, objekte, situasies) wat ontstellende herinneringe, gedag-tes of gevoelens van die gebeurtenis/gebeure of iets soortgelyk aan die gebeur-tenis/gebeure opwek.

D.   Negatiewe veranderinge in kognisies en gemoed wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin of versleg nadat die traumatiese gebeurtenis/gebeure gebeur het, soos bewys deur twee (of meer) van die volgende:

  1. Onvermoë om ʼn belangrike aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure te onthou.
  2. Voortdurende en oordrewe negatiewe denke of verwagtinge oor die self, ander, of die wêreld (bv. “ek is sleg”, “niemand kan vertrou word nie”, die wêreld is heeltemal sleg”, “my hele senuweestelsel is permanent geruïneer”).
  3. Voortdurende, versteurde kognisies oor die oorsaak of gevolge van die traumatiese gebeurtenis/gebeure wat daartoe lei dat die individu homself of haarself of andere blameer.
  4. Aanhoudende negatiewe emosionele toestand (bv. vrees, gruwel, woede, skuld, of skaamte).
  5. Kenmerkende verminderde belangstelling of deelname in betekenisvolle aktiwiteite.
  6. Gevoelens van afgetrokkenheid of vervreemding van andere.
  7. Voortdurende onvermoë om positiewe emosies te beleef (bv. onvermoë om geluk, bevrediging of liefdevolle gevoelens te beleef).

E.   Kenmerkende veranderinge in opwekking en reaktiwiteit wat met die trauma- tiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin of versleg het na die traumatiese gebeurtenis/gebeure gebeur het, soos bewys deur twee (of meer)   van die volgende:

  1. Geïrriteerde gedrag en woede-uitbarstings (met min of geen uitlokking) wat tipies uitgedruk word as verbale of fisiese aggressie teenoor mense of dinge.
  2. Hiper-waaksaamheid
  3. Roekelose of selfvernietigende gedrag.
  4. Oormatige skrikreaksie.
  5. Probleme met konsentrasie
  6. Slaapversteuring (bv. probleme om aan die slaap te raak, om aan die slaap te bly, of rustelose slaap).

F.   Durasie van die versteuring (Kriteria B, C, D en E) is meer as 1 maand.

G.  Die versteuring veroorsaak klinies betekenisvolle ongemak of verlamming in sosiale- werks-, of ander belangrike areas van funksionering

H.   Die versteuring kan nie toegeskryf word aan die fisiologiese effekte van ʼn substans nie (bv. medikasie, alkohol) of ʼn ander mediese toestand nie.

Mense wat aan PTSV ly, her-ervaar die gebeurtenis of gebeurtenisse op verskillende maniere. Hulle kry soms skielike herinneringe aan die gebeurtenis asof dit in die hier-en-nou weer gebeur. Dit kan gebeur in die vorm van ʼn terugflits  of drome. Hierdie herinneringe kan ook gesneller word wanneer die persoon blootgestel word aan leidrade wat hom of haar aan hierdie gebeurtenis mag herinner. Ek dink nou spesifiek aan ʼn kliënt wat in ʼn bekende kettingwinkelgroep in ʼn rooftog ʼn slagoffer was. Hy is voor die loop van ʼn pistool gehou deur ʼn man met ʼn geel T-hemp aan. Elke keer as hy ʼn winkel van hierdie groep sien of selfs net ʼn advertensie van hierdie groep sien, ʼn pistool   of enige persoon met ʼn geel T-hemp aan gewaar, kry hy erge sielkundige en fisiese ongemak soos wat ek in die paragraaf hier onder die beskryf.

So ʼn persoon sal sulke leidrade ten alle koste probeer vermy. Dit beïnvloed ʼn persoon se verhoudinge met die mense naaste aan hom of haar. So iemand vermy ook nabyheid met mense na aan hom of haar. Emosies word erg onderdruk, soms so erg dat die getraumatiseerde dit soms nie kan voel nie.

PTSV lyers probeer situasies vermy wat hulle aan die trauma mag herinner, aangesien die simptome mag vererger as hulle aan snellers (triggers) blootgestel mag word wat hulle aan die trauma mag herinner. Wanneer hulle blootgestel word aan sulke situasies, beleef hulle sielkundige ongemak soos angs en spanning of onaangename emosies. Hulle mag ook fisiese simptome beleef soos sweterigheid, vinniger hartklop, bewerigheid, naarheid ens.

Oor ʼn tyd mag die persoon so bevrees word, dat sy of haar lewe gekenmerk word deur pogings om hierdie situasies te vermy. Hulle kan soms belangrike aspekte van die trauma nie onthou nie en het ʼn verminderde belangstelling of deelname in betekenisvolle aktiwiteite.

Mense wat aan PTSV ly, sukkel dikwels met slaap. Hulle sukkel om aan die slaap te raak of te bly en het dikwels rustelose nagte. Hulle is dikwels geïrriteerd en het dikwels probleme om te konsentreer of probleme met hulle korttermyn geheue. Hulle is dikwels hiper-waaksaam en dit is asof hulle die heeltyd oor hulle skouer kyk. Daar is dan ook die oormatige skrikreaksies waarin hulle oormatig sal skrik vir enige geluid wat hulle aan die trauma mag herinner soos ʼn harde slag wat hulle herinner aan ʼn geweerskoot.

Kan jy dink wat gebeur met iemand as hulle weer en weer aan hierdie leidrade blootgestel moet word? Al hierdie simptome stapel op en met gereelde blootstelling kan die simptome vererger word.

Dit is duidelik dat sulke mense na ʼn traumatiese insident ontlont (ge-debrief) moet word. Dit gebeur ongelukkig nie altyd nie. Daar moet ook in gedagte gehou word dat nie noodwendig die bedreiging van jou eie lewe nie, maar ook die aanskouing  van ʼn gebeurtenis waar iemand anders se lewe bedreig of geneem is, PTSV tot gevolg kan hê. Hoe meer gebeure hulle onbehandeld moet ervaar, hoe meer en sterker raak die snellers (of die leidrade) en hoe moeiliker raak dit om hiervan te herstel hoe erger raak die PTSV. Studies het gewys dat mense wat dadelik ontlont word, ʼn beduidende minder kans het om PTSV te ontwikkel.

Hierdie probleem word vererger deurdat ʼn PTSV nie onmiddellik na ʼn trauma ontstaan nie, maar eers ongeveer na weke, selfs maande en jare later kan ontstaan. Die individu mag voel dat hy of sy niks makeer nie en makeer inderdaad ook nie veel nie. ʼn Klinikus sal ook bitter min indien enige van hierdie simptome aanvanklik raaksien. En wanneer die simptome wel toeslaan, mag die individu nie verstaan waar dit vandaan kom nie.

Die effek op die getraumatiseerde persoon se lewe kan juis gesien word in die simptome van PTSV.

Dit is werklik moeilik om met so iemand hieroor te praat, om te hoor wat hulle voel, want soos jy in die kriteria van PTSV kon agter kom, wil hulle nie hieroor praat nie. Die “terapie” wat tans bestaan, is dat Cowboys nie huil nie, dat ʼn glas of te veel alkohol, dit verder weg drink, grappe daaroor maak en môre is dit vergete. En hulle gaan net aan. Daardie inprenting van die gebeurtenis bly egter in die onderbewuste.

Wat hier gebeur, is dat ons verskillende verdedigingsmeganismes het om ons teen sulke herinneringe te verdedig. Een van die beste verdedigingsmeganismes wat in PTSV gebruik word is suppressie (oftewel onderdrukking). Wat letterlik hier gebeur, is dat daar ʼn groot “betonblok” op hierdie emosies geplaas word en dit word letterlik onderdruk. Hierdie onderdrukte emosies druk egter terug, dis nou emosies van trauma, woede en depressie. Dan is daar ʼn stryd: die woede en die trauma druk op en die verdedigingsmeganisme druk af. Hierdie teenwigte veroorsaak ʼn angstigheid (of stres in algemene terme). Stres in die letterlike sin van die woord is wanneer daar druk van twee teenoorgestelde kante uitgevoer word. Met hierdie pynlike ervaringe dreig om deur die oppervlakte te breek.

Alkohol laat jou ontspan en onderdruk angs. Die gebruik van alkohol is ook ʼn poging om ontslae te raak van hierdie pynlike ervaringe en te vergeet. Die alleenheid en die angs kan met alkohol of ander verdowingsmiddels onderdruk word, hoewel net tydelik. Wanneer so ʼn persoon onder die invloed is, kom hierdie onderdrukte emosies, veral woede, na vore, wat meeste van die kere op die mense na-aan hulle op daardie stadium uitgehaal word. In die meeste gevalle word die woede uitgereageer tuis op hulle wederhelftes en kinders in die vorm van gesinsgeweld, selfdood, of selfs gesinsmoord. Moord en selfdood is die uiterste vorm van woede wat op die uiteinde teen die mense naaste aan die getraumatiseerde persoon en hom- of haarself gerig word.

Daarmee saam kan daar gevolge wees van depressie, angs en ook sosiale onttrek-king.

Daar is hierdie idee, veral onder polisiemanne en soldate dat PTSV net met “swak” mense gebeur. Die waarheid is dat PTSV met die sterkste van ons kan gebeur. Daar gebeur ʼn chemiese reaksie in jou brein, soos met almal van ons. Dit kan met enige een van ons gebeur en het niks te make met swak of sterk nie. Dis in hierdie opsig net soos kanker. Kanker kan met ʼn sieklike gebeur of met ʼn fikse sterk rugbyspeler. PTSV diskrimineer nie. Van kinders tot sterk soldate kan PTSV kry.

Om hulp te soek is nie ʼn swakheid nie, maar ʼn sterk punt wanneer jy besef jy het hulp nodig, die waagmoed het om ʼn probleem te erken en hulp te gaan soek.

4.  Terapie

Terapie vir PTSV kan eintlik so eenvoudig wees. Deur middel van BWRT, hipnose met die gebruik van NLP, kan so ʼn gebeurtenis of gebeure redelik vinnig gedesensitiseer word. Die dae is verby waar ʼn terapeut die kliënt terug neem na die ervaring en hom of haar dit herbeleef.  Dit word deesdae op ʼn “gedissosieerde” manier gedoen.  Die kliënt word teruggeneem na die gebeurtenis, maar hy of sy sien dit op ʼn TV-skerm, asof dit met iemand anders gebeur wat toevallig soos hy of sy lyk, toevallig dieselfde gebeurtenis ervaar het, toevallig dieselfde reaksies getoon het, maar dit is nie hy of sy nie. Kliënte ervaar minimale trauma en is verbaas wanneer hulle agter kom hoe maklik dit werklik is om van hierdie simptome ontslae te raak, sonder dat hulle enige iets daadwerklik hoef te doen. Die getraumatiseerde hoef nie te ly nie. Dis nie nodig om jou lewe te verwoes met hierdie spoke nie. Gebruik die hulp. Dit is daar. Dit is ʼn geskenk van die gode.

Toets jouself – ly jy aan PTSV?

Die Impact of Event Scale (IES) is ʼn kort stel van 15 vrae wat die hoeveelheid ongemak wat jy met ʼn spesifieke gebeurtenis assosieer, kan meet. Dit is in 1979 deur Mardi Horowitz, Nancy Wilner en William Alvarez ontwikkel.

Hierdie toets is dikwels nuttig om die impak wat jy ervaar na ʼn traumatiese gebeurtenis, te meet. Studies wys dat die IES nuttig is in die uitwysing van beide trauma en minder intense vorme van spanning. Dit toon ook aan hoeveel so ʼn traumatiese gebeurtenis jou tans steur.

Hier volg die vrae en instruksies vir die Impact of Event Scale.

Hieronder volg ʼn lys van opmerkings wat gemaak is deur mense na spanningsvolle lewensgebeurtenisse. Merk asseblief elke item om aan te toon presies hoe gereeld jy die volgende stellings ervaar het gedurende die laaste sewe dae.

Impact of Event Skaal (15 vrae):

Kies net een antwoord in elke ry.

Glad nie Skaars Soms Dikwels
1. Ek het daaraan gedink selfs al wou ek nie. 0 1 3 5
2. Ek het dit vermy om myself toe te laat om ontsteld te raak toe ek daaroor gedink het of daaraan herinner was. 0 1 3 5
3. Ek het probeer om dit uit my geheue uit te verwyder. 0 1 3 5
4. Ek het probleme gehad om aan die slaap te raak of om aan die slaap te bly omdat beelde of gedagtes hieroor in my kop bly terugkom het. 0 1 3 5
5. Ek ervaar golwe van sterk gevoelens hieroor. 0 1 3 5
6. Ek het drome hieroor gehad. 0 1 3 5
7. Ek het weg gebly van dinge wat my hieraan herinner het. 0 1 3 5
8. Ek het gevoel asof dit nie gebeur het het nie of asof dit nie regtig was nie. 0 1 3 5
9. Ek het probeer om nie hieroor te praat nie. 0 1 3 5
10. Beelde hiervan het in my gedagtes ingespring. 0 1 3 5
11. Ander dinge het my hieraan laat dink. 0 1 3 5
12. Ek was bewus daarvan dat ek steeds baie gevoelens hieroor het, maar ek het het dit nie hanteer nie (daarmee “gedeal nie”). 0 1 3 5
13. Ek het probeer om nie hieraan te dink nie. 0 1 3 5
14. Enige iets wat my hieraan herinner, het gevoelens hieroor na my terug gebring. 0 1 3 5
15. My gevoelens hieroor was soort van dood of dof of gevoelloos. 0 1 3 5

 

_____________________________________

TOTALE IES: ___________

Telling: Neem die totaal van elke kolom en tel dit op vir ʼn finale spannings telling.

Byvoorbeeld, elke item wat gemerk is in die “glad nie” kolom se waarde is 0. Elke item wat gemerk is in die “skaars” kolom se waarde is 1. In die “soms” kolom is die waarde 3 en in die “dikwels” kolom is die waarde 5. Tel die totale van al die kolomme op om die totale telling te verkry.

Die volgende afdeling sal jou help om die betekenis van jou telling te verstaan.

Wat beteken my telling op die Impact of Event Scale?

Die Impact of Event Scale is nuttig in hoe ʼn spanningsvolle gebeurtenis jou mag raak. Byvoorbeeld, op die oorspronklike 15-item Impact of Event Scale (IES), mag die tellings wissel van 0 tot 75.  Jy kan die IES tellings as volg interpreteer:

Interpretasie van die Original Impact of Event Skaal:

0 –   8     Geen betekenisvolle impak

9 – 25     Impak gebeurtenis – jy mag geraak wees.

26 – 43   Kragtige impak – jy is verseker geraak. Jy het dalk terapie nodig.

44 – 75   Ernstige impak – dit mag jou vermoë om te funksioneer ernstig beïnvloed. Terapie is verseker nodig.