© Jorgan Harris
Bestaan die werklikheid, soos ons dink ons dit ken werklik, of is dit net ‘n idee in ons kop? Reeds in die beginjare van filosofie het ‘n vader van die filosofie, Plato dit gestel daar waarskynlik nie iets soos ‘n werklikheid bestaan nie, maar dat dit alles net ‘n idee is. Dit kan nogal skrikwekkend wees as jy daaraan begin dink. Bestaan die werklikheid soos ons dit sien, regtig? Of is dit net ‘n skepping of ‘n verbeelding in ons kop?
Sê nou maar jy besef een oggend dat alles om jou soos jy dit ken, nie regtig is nie, maar dat dit net ‘n skepping in jou brein is? Dat niks anders bestaan nie. Dat ander mense nie bestaan nie. Dat realiteit nie bestaan nie. Dat niks bestaan nie, want al wat bestaan is dit wat jy in jou kop opmaak. Dat dit dalk net alles net ‘n idee in jou kop is.
Dat die lewe dalk net soos een groot droom is. Of self ‘n droom is. In jou drome is daar werklik ander mense, daar is ‘n omgewing, daar is ‘n konteks en daar is werklike gebeure. Maar wanneer jy wakker word, besef jy dat dit glad nie bestaan nie. Dit is net skeppinge in jou brein wat jy as werklik ervaar het. Wat as die hele lewe maar dalk net een groot droom is, en dat dit wat jy as werklik ervaar, toe nooit bestaan het nie, en soos ‘n droom is alles net skeppinge in jou brein? Wat as ons hele lewe ‘n droom is, en ons dalk Eendag wakker word en besef dat niks wat ons ervaar het nie “real” was nie, maar net ‘n droom? Wat as die dood dalk net ‘n Groot Ontwaking is? Dat die lewe dalk net ‘n baie lang droom is. ‘n Lewenslange droom. Of dalk net ‘n nagmerrie? Dit mag nogal ‘n skrikwekkende idee wees.
Ek meen ek haat pampoen. Ek kan dit nie oor my lippe kry nie. Jy mag dalk mal wees oor pampoen. Die werklikheid is is dat pampoen pampoen is. Hoekom haat ek dit en jy mag dalk daarvan hou? Is dit die interpretasie wat ons in ons koppe daarvan maak wat van pampoen maak wat dit maak, of is dit die pampoen se skuld?
En dit is dalk gelyk aan dieselfde probleem waarmee ons sit met mense wat aan angs ly. Hulle maak in hulle koppe vir hulself sekere werklikhede op wat hulle onderbewuste dan as die werklikheid ervaar. “Wat as ander mense my gaan verneder?” En die oomblik wat jy “wat as denke” gebruik, gebruik jy dieselfde deel van jou brein as wat jy sou gebruik indien die werklike gebeurtenis reeds plaasvind. En in jou brein gebeur hierdie gebeurtenis werklik, en ontwikkel jy angs, bloot as gevolg van ‘n gedagte in jou kop wat dink dat dit die werklikheid is wat reeds gebeur.
Ek meen dit is Aristoteles wat met dieselfde probeem gesit het. Aristoteles het gewonder oor die Skepping. Het God ‘n idee gehad oor hoe die Skepping moet lyk in Sy kop, en toe die werklikheid geskep met die idee van hoe dit in Sy kop sou moes lyk? Of het God die Skepping geskep, en toe Hy eers sien hoe dit lyk, het Hy betekenis daaraan geskep. Wat was eerste, die idee of die werklikheid?
Is dit alles dus realiteit, of is dit alles net ‘n idee?
As ek vir ‘n oomblik net hedendaags mag gaan en ‘n Stephen Spielberg, ‘n Guiseppe Tornatore of ‘n Stephen King en selfs ‘n Leon Schuster gelyk aan ons filosowe moet stel, het hulle een ding in gemeen: hulle skep ‘n realiteit, en daardie realiteit wat hulle skep, word ons werklikheid (in ons verbeelding) as gevolg van dit wat ons met ons sintuie waarneem.
Ons kyk na ‘n film. Ons weet dat dat dit net ‘n film is wat gemiddel sowat twee ure duur. Maar in hierdie twee ure mag ons werklike gevoelens, sensasies en emosies ervaar soos spanning, vrees, woede, empatie, verligting en dalk nog meer. En ons ervaar hierdie emosies en gevoelens letterlik in ons liggaam. Ons voel die spanning, ons voel die emosie van hartseer of opwinding of wat ookal ons ervaar. Al is die stimulus van ons gevoelens nie werklik nie, maar net ‘n skepping in ons kop, meestal as gevolg van die film.
En so is ons hele realiteit ook net ‘n idee, wat ons in ons kop daarvan maak. Ons hele realiteit berus op ‘n idee wat ons in ons kop daarvan maak. En die hele wêreld kan verander wanneer jy jou idee of jou waarheid verander.
Kwantum fisika wys dan ook vir ons dat die wêreld nie ‘n soliede en onveranderbare entiteit is nie. Dit is alles net ‘n gedagte of ‘n illusie.
Ons fisiese liggaam, as ‘n fisiese voorbeeld, bestaan uit verskillende sisteme, en elke sisteem bestaan uit vesels en organe. En vesels en organe bestaan uit selle. En selle bestaan weer uit molekules, en molekules bestaan uit atome. Atome bestaan uit sub-atomiese deeltjies, en hierdie sub-atomiese deeltjies bestaan uit niks anders as energie nie.
Ons gedagtes, gevoelens, intensies en verwagtinge is niks anders as golwe van energie wat op ‘n sekere energie-vlak vibreer nie. Op die einde van die dag is ek en jy net energie. Bewegende energie. Denke en gevoelens is niks anders as energie nie. En ons fisiese wêreld is niks anders as net die manifestasie van energie nie.
Nie net bestaan ons as mense ten diepste uit energie nie. Die hele heelal bestaan uit energie, van die grootste galaksie (en ja, dit is ‘n erkende Afrikaanse woord vir galaxy) tot die kleinste stofdeeltjie. Die hele heelal is ‘n eindelose vloei van energie. Selfs die mees soliede objekte soos staalpype of sementmure is molekules in beweging wanneer jy daarna kyk onder ‘n kragtige mikroskoop.
En as ons die dag dood gaan, gaan alles dood behalwe die energie. Hoewel alle vesels, organe, molekules, atome en sub-atomiese deelties dood mag gaan, kan energie egter nie doodgaan nie. En daardie energie keer terug na die Hoofbron van energie. ‘n Ewige en liefdevolle energie. God.
As ek hier myself in die rede mag val. In die Evangelie van Johannes (Johannes 1:1) word daar gesê dat daar in die begin die Woord was. En die Woord was by God, en die Woord was self God. En in Genesis 1 word die hele hemel en aarde geskep deur Woorde. God het gespreek. Woorde is die energie.
Ek kan seker nie genoeg praat oor die krag van woorde nie. Woorde kan maak of breek. Woorde het die hele heelal geskep. Maar woorde kan dit ook vernietig. Jakobus 3:6 noem dat die tong ‘n vuur is, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, and die brand. Woorde maak of breek.
God is liefde (sal ons soveel keer in die Bybel lees). God is volgens my liefde, en liefde is die hoogste vorm van energie. En ons is almal volgens hierdie beeld geskep. God se beeld.
Wanneer ons pyn en chaos skep beteken dit nie noodwendig dat ons sleg is of ‘n negatiewe intensie het nie, maar dat ons tydelik uit voeling geraak het met wie ons werklik is. Ons het uit voeling geraak met liefde. Maar ons het altyd ‘n keuse: ons kan saam met hierdie energie vloei of ons kan dit weerstaan. Om energie te weerstaan veroorsaak vir ons probleme, angs en ongemak.
As ek vir ‘n oomblik weer af kan dwaal. In 1 Korinthiërs 12:12 word daar gepraat van die ligaam wat ‘n eenheid is met baie lede. Maar al die lede vorm een liggaam. Ons is almal een, gedeel deur die energie van God. Elke een met sy eie funksie om die liggaam perfek te laat funksioneer. Energie.
En as ek vir ‘n oomblik nog verder af kan dwaal, is dit presies wat gebeur wanneer ‘n outo-immuun siekte ontstaan. Outo-immuum siektes kan letterlik verstaan word as die self wat die self aanval op ‘n immunologiese vlak. Daar ontstaan ‘n konflik in die liggaam. Die lede van die liggaam wat veronderstel is om saam te staan in liefde, begin om mekaar aan te val en op die einde word die hele liggaam sieker totdat die liggaam sterf, ongeag die verskillende antigene se positiewe intensie om die liggaam te beskerm teen eksterne gevare soos infeksies en siektes.
Ek vermoed dat dit die rede is hoekom ek rassisme, klassisme, seksisme en alles wat met ‘n –isme eindig nooit sal verstaan nie. Ons beveg mekaar so omdat ons elkeen glo dat ons die waarheid het wat die Liggaam sal laat oorleef, en so sterf ons die hele liggaam. Wanneer ons haat of kwaad is, verwyt of dinge teen ander mense hou, is ons maar net besig om onsself te vernietig. Nie net op immunologiese vlak nie, maar ook op energie-vlak. En hier tree die probleme, angs en ongemak in.
Net ‘n laaste kant-aantekening: iemand het eenmaal gesê om te vergewe is die mees selfsugtigte ding wat mens ooit kan doen. Want as jy nie kan vergewe nie, is dit maar net jy wat met al die pyn, seer, haat, vertwyfeling en wroeging sit. Die ander persoon weet heel waarskynlik nie eens dat jy kwaad is vir hom of haar nie. En so vernietig jy net jouself, en niemand anders nie. Die persoon vir wie jy kwaad is, weet heel waarskynlik nie eens of jy vir hom of haar kwaad is nie. En dit is hier waar jy KIES om jou energie weg te gee. Vir niks.
En om nou terug te keer na die punt. Ons is nooit veronderstel om verwyderd te wees van wie ons regtig is nie. Ons is nie veronderstel om verwyderd van ons energie te wees nie. Ons is almal deur energie op ‘n manier tot mekaar verbind. Ons is almal deel van een Liggaam. Deur mekaar te beveg, beveg ons maar net onsself. Met haat, nyd, bitterheid, verwyt en wrok teenoor ons medemens vernietig ons net onsself, soos die liggaam ditself kan vernietig deur verdeeldheid op ‘n immunologiese vlak . Ek meen dit is die Sotho-mense wat ‘n spreekwoord het van: “’n mens is ‘n mens deur mense”.
(En dit laat my nou vrae vra oor verdelers soos ‘n Steve Hofmeyr, ‘n Julius Malema, ‘n Sunette Bridges, ag en soveel meer).
Ons is almal deel van die Groot Gedagte. Die Groot Familie. God. Liefde. Ons is almal aan dieselfde kant.
Die keuse is altyd ons s’n. Jy skep jou eie realiteit deur die keuses wat jy maak.
Die keuse bly altyd joune. Maar dit is ook goed om te weet dat die Ewige Energie altyd daar is om ons te help om hierdie keuse te maak.
Of dalk is ons hele bestaan net een lang droom. ‘n Droom van ‘n ander werklikheid wat ons sal besef nadat ons na ons droom wakker geword het in die Ware Realiteit. Die Ewige Lewe vasgevang in ‘n gedagte, ‘n droom, in energie.
Het ek maar net gewonder.