© Jorgan Harris

 

Die Dunning-Kruger effek

 

1. Inleidend

Het dit al ooit gebeur dat jy in ‘n argument met iemand betrokke raak waar jy weet jy is reg, maar die ander persoon, wat oningelig is, sit ten spyte van sy of haar onkunde vir jou ore aan?  Dit word die Dunning-Kruger effek genoem.

Ons het almal al iemand ontmoet wat hul eie kennis oorskat ten spyte van die feit dat hulle nie veel van die onderwerp weet nie.  Hierdie mense weet nie eens hoe min hulle weet nie en jy wonder: “hoe op aarde kan hierdie persoon so – wel – onnosel wees”? Tog kan jy nie jouself of jou argument teen hulle verdedig nie.  Hulle is jou net heeltyd een voor, ongeag hoe kundig jy mag wees.

Die Dunning-Kruger effek kom daarop neer dat briljante mense hulself altyd onderskat en in hulself twyfel.  Onkundige mense, aan die ander kant, dink weer hulle is briljant en oorskat hul kennis oor ‘n bepaalde onderwerp.  Die Dunning-Kruger effek veronderstel dat die hoogs vaardige mense aanvaar dat dit wat vir hulle maklik is, ook vir ander maklik hoort te wees. Verder is die veronderstelling dat die minder vaardige mense so oningelig is dat hulle hul eie insigloosheid nie kan raaksien nie.

Jy besef hul argumente is onsinnig, maar steeds kan jy jouself nie verdedig nie. Jy verloor óf die argument óf jy bly maar net stil en wonder hoe op aarde dit gebeur het.

Kyk gerus na die volgende skematiese voorstelling: 

Miskien het jy dit al by die werk of in jou sosiale lewe met vriende ervaar: iemand met ‘n baie beperkte kennis oor ‘n onderwerp gee voor dat hulle baie daarvan weet.  Dit mag selfs voorkom asof hierdie persoon ‘n kundige is.

Hierdie verskynsel is egter niks nuuts nie.  Dit is eers onlangs bestudeer en gedokumenteer.

David Dunning en Justin Kruger het in 1999, in die Journal of Personality and Social Psychology, data bymekaar gesit wat filosowe soos Sokrates en Plato al lankal van kennis gedra het en in hul stellings genoem het, naamlik dat die ware wysheid lê in die wete dat jy niks weet nie.

Charles Darwin het in 1871 besef dat onkunde meer selfvertroue voortbring as kennis. Om dit eenvoudig te stel: onbevoegde mense dink hulle weet meer as wat hulle werklik weet en is geneig om meer daaroor te spog.

Veral Dunning was geskok oor hierdie resultate.  Hy was veral verras oor die feit dat die oningeligde mense vas oortuig was dat hulle net soveel, indien nie meer nie, van ‘n onderwerp “geweet” het as die kundiges.

Die vraag bly egter steeds wat gebeur as die onbevoegdes onwillig is om hul tekortkominge te erken? Is hulle so seker van hulself dat hulle nie hulself kan of wil verbeter nie? Dit mag dalk nie as ‘n verrassing kom nie, maar Dunning se opvolg navorsing het ook bevestig dat die swakste presteerders ook die mense is wat nie kritiek duld nie. Dit is ook hulle wat nie as mens groei nie.

Volgens die Dunning-Kruger effek is mense wat niks van ‘n saak af weet nie, geneig om ‘n veel groter kans te hê om swak of verkeerde besluite te neem. Hul onvermoë veroorsaak dat hulle nie hul foute kan raaksien nie. Hulle dink hul weet van beter, maar hulle doen nie.  Dit terwyl die mense wat wel van beter weet, hul eie vermoëns onderskat en selfs minderwaardig mag voel.

Oningeligte mense besef nie eens hoe min hul werklik weet nie. Daardie mense op sosiale media, as ‘n voorbeeld, wat voorgee dat hulle kenners oor ‘n bepaalde aspek is, is meer dikwels nie die kenners wat hulle voorgee om te wees nie. Terwyl mense wat wel weet waarvan hulle praat, juis die mense is wat dit nie wys of met hul kennis te koop loop nie.

2. Wat is die Dunning-Kruger effek nou regtig?

Die Dunning-Kruger effek is ‘n kognitiewe oortuiging waarin mense wat nie so vermoënd is nie glo dat hulle ‘n illusie van meerderwaardigheid het.  Hulle glo verkeerdeliks dat hul ‘n meerderwaardigheid het en dat hulle slimmer is aswat hulle werklik is. Hulle sien hul eie tekortkominge bloot nie raak nie.  Laat selfs die mense wat werklik kennis van die onderwerp het, in hulself twyfel.

Aan die ander kant is daar presteerders wat ten volle bewus is van die grootsheid en die kompleksiteit van die veld waarin hulle werk.  Hulle weet hoeveel hulle nie weet nie en onderskat dikwels hulle eie talente, potensiaal en vermoëns in die area waarin hulle werk.

In kontras met hierdie presteerders, leer swak presteerders nie uit terugvoering wat hulle kry of voorstelle wat gegee word oor hoe om hul prestasies te kan verbeter nie. Hulle mag ook die neiging hê om nie uit hul eie foute te leer nie, bloot omdat hulle glo hulle weet alles.

Die wysgeër, Plato, het hoeka gesê: ek weet dat ek niks weet nie.  Daarom weet ek al iets en dit is dat ek niks weet nie. Ander mense weet nie eens dat hulle niks weet nie!

3. Wat die wysgere te sê gehad het

Hoewel die Dunning-Kruger effek eers in 1999 geformuleer is, is hierdie idee van ‘n illusie van meerderwaardigheid reeds lankal in die geskiedenis opgeteken:

  • die filosoof Confucius het gesê dat ware kennis is om die omvang van jou eie kennis te bepaal;
  • die filosoof Sokrates het geglo dat hoe minder jy weet, hoe wyser was jy. Wanneer jy weet jy weet niks, weet jy reeds iets, naamlik dat jy niks weet nie;
  • William Shakespeare (1564–1616) het gesê: die onnosele dink hy is wys, maar die wyse weet hy is wys.
  • Alexander Pope (1688 – 1744) het geskryf dat om min inligting oor ‘n onderwerp te hê, kan eintlik gevaarlik wees.
  • Charles Darwin (1809-1882) het weer gesê: onkunde wek meer dikwels selfvertroue as kennis.
  • die filosoof, Friedrich Nietzsche (1844-1900), het in sy boek: Human, All Too Human geskryf dat oortuiginge meer gevaarlike vyande van die waarheid is as wat leuens is.
  • Die filosoof en wiskundige, Bertrand Russell (1872-1970) het gesê: “een van die mees pynlike dinge van ons tyd is dat diegene wat seker is, onnosel is en diegene wat verbeelding en begrip het, gevul is met twyfel en besluiteloosheid.”

4. Wetenskaplike studies

Die sielkundige verskynsel van illusionele meerderwaardigheid is geïdentifiseer as ‘n vorm van vooroordeel in Kruger en Dunning se 1999 studie: “Unskilled and unaware of it: how difficulties in recognizing one’s own incompetence lead to inflated self-assessments”.

Hierdie idee gaan terug na die kriminele saak teen McArthur Wheeler wat banke beroof het en sy gesig besmeer het met suurlemoensap.  Hy het geglo dat die veiligheidskameras hom nie sou kon sien nie.  Hy het geglo dat die chemiese samestelling van suurlemoensap soos onsigbare ink sou wees.

Dunning en Kruger het die hipotese van kognitiewe vooroordeel of illusionele meerderwaardigheid getoets met voorgraadse studente wat pas hul studies in sielkunde begin het. Dunning en Kruger het die studente se self-evaluering van hul eie intellektuele vermoëns ondersoek. Hierdie studente moes ook hul eie bevoegdheid evalueer.

Hulle het die volgende bevind:

  • die studente wat meer bevoeg was, het hulself ver onder hul eie vermoëns beoordeel;
  • die onbevoegde studente het hul bevoegdhede heelwat oorskat in verhouding met hul mede klasmaats;
  • die bevoegde studente was ook geneig om hul eie bevoegdheid te onderskat, omrede hulle verkeerdelik aanvaar het dat take wat vir hulle maklik was om uit te voer, moontlik ook vir ander maklik sal wees om uit te voer.

5. Hoekom minder bevoegde mense meer selfvertroue het

Die Dunning-Kruger effek vind nie net in die akademie plaas nie, maar feitlik in elke fasset en situasie in die lewe.  As jy mooi kyk, sal jy dit oral sien:

  • organisasies stel die mees selfversekerde mense aan na ‘n onderhoud, maar later blyk dit die mees onbevoegste persoon vir die posisie te wees;
  • glanspersoonlikhede dink hulle is oulik omdat hulle in die kollig is, terwyl wetenskaplikes, wat met hul ontdekkings veranderinge in die wêreld teweeg bring, geen media blootstelling kry nie;
  • ‘n vriend wat dink hy is die beste bestuurder of skaakspeler, is gewoonlik die mees onbevoegte;
  • iemand wat totaal onbevoeg is, word die president van ‘n land;
  • ‘n totale idioot trou met ‘n hoogs begaafde persoon en beheer sy of haar hele lewe.

Die dringende vraag hier is dus hoekom die mees onbevoegde mense gewoonlik diegene is met die meeste selfvertroue?

Ek meen, op universteit het ons iemand in die koshuis gehad wat altyd soveel kritiek gelewer het op die meisies wat ons koshuis toe gebring het, maar self het hy nooit ‘n meisie gehad nie.  Hy het met almal geredeneer oor sake waarvan hy min of geen kennis gedra het en gewoontlik die argumente gewen. Tog, met al sy “kennis en superioriteit,” het hy nooit sy graad verwerf nie.

Die mees onbevoegde persoon oorskat dikwels sy of haar vermoëns, want hulle het geen idee hoeveel hulle egter nie weet nie. Met ander woorde: swak presteerders glo dat hulle alles weet oor ‘n bepaalde onderwerp en hulle is oorselfversekerd daaroor.  As jy nie weet wat jy nie weet nie, sal jy nie weet dat jy dit nie weet nie!

Ware kennis is om die mate van jou eie beperkinge te ken.

6. Hoe om ‘n self-aangestelde kundige te herken

Volgens Wikipedia, sal self-aangestelde kenners:

  • hulle eie vaardighede oorskat;
  • die vaardighede in ander nie raaksien nie;
  • hul eie onbevoegdhede nie raaksien nie;
  • vaardige mense afbreek (as gevolg van jaloesie).

Diegene wat werklik weet waarvan hulle praat is merkwaardig nederig wanneer jy hulle vergelyk met diegene wat ‘n fraksie van hul ervaring en kennis het.

Laat maar net toe dat jou prestasies die werk vir jou doen.  As jy verdien om briljant te wees sal ander dit raaksien en jou dit gun sonder dat jy te veel hoef te probeer.

7. Gevolgtrekking

Ek sluit af met die volgende aanhaling:

Een van die pynlikste dinge van ons tyd is dat diegene wat seker van hulself voel, onnosel is en diegene met enige verbeelding en begrip, vol twyfel en besluiteloosheid is.” – Bertrand Russel

As iemand volgende keer vir jou vertel hoe onnosel en onbevoegd jy is, kan jy dalk, in plaas daarvan om jouself te verdedig of te probeer bewys, besef dat dit hul eie gevoelens van onbevoegdheid is.  Verder het hierdie saak niks met jou te doen nie en dat jy geensins daarop hoef te reageer nie.

In elk geval sal mense net weet wat hulle vir jou gesê het wanneer hulle jou reaksie daarop gesien het.  As jy geen reaksie toon nie, sal hulle nooit weet of hul woorde getref het, al dan nie.

‘n Biblioteek vol stilte praat net soveel meer as ‘n geraas van leë blikke.