Het jy psigoterapie nodig of nie? ‘n Paar punte om te oorweeg wanneer jy terapie oorweeg

© Jorgan Harris. jorganharris.co.za

Miskien sit jy ook met die tergende vraag of jy vir psigoterapie moet gaan of nie. Miskien was jy nog nooit in terapie nie. Dalk weet jy nie wat om te verwag nie. Miskien weet jy nie wat om te sê of wat om nie te sê nie. Is terapie werklik nodig? Kan jy dalk self die probleem oplos? Het jy eerder medikasie nodig? Mors jy die sielkundige se tyd? Wat as hy gaan dink jy is van lotjie getik?

As jy met hierdie vrae sukkel, is hierdie artikel vir jou geskryf. Ek hoop dit kan sekere tergende vrae rondom terapie vir jou antwoord en jou te help om jou keuse te maak.

Hier is 15 punte waaroor terapie gaan en wat dit vir jou kan beteken, wat jy in ag kan neem indien jy terapie oorweeg, maar onseker is of jy dit regtig nodig het.

Hierdie artikel bestaan uit drie hoofpunte:

  1. Is terapie regtig nodig en hoe kies ek ‘n terapeut?
  2. Hoe sien terapie jou?
  3. Wat kan jy verwag van terapie?

1. Is terapie regtig nodig en hoe kies ek ‘n terapeut?

1.1 Is terapie regtig nodig?

Miskien moet jy, voordat jy ʼn terapeut kies, vir jouself besluit of terapie regtig nodig is. Wat is psigoterapie? Is dit maar net ʼn duur manier om iemand te kry om vir jou te luister?

Terapie is veel meer as om net te luister. Terapie is veel meer as om met jou hond te praat of om in die natuur rond te gaan stap om vrede in jou hart te kry of om vir ʼn maand in ‘n huis in die woud te gaan bly.

Terapie is ‘n aktiewe vorm van luister om objektief en empaties ‘n idee te kry van dit wat jou hinder, anders as wat ‘n vriend of ‘n familielid na jou sal luister.

Terapie is ook veel meer as om net oor jou probleme te praat. Terapie is ‘n getuienis-gebasseerde wetenskap en ‘n kuns wat vaardigheid en kreatiwiteit vereis. Terapie gaan daaroor om jou te help om nuwe insigte te kry, om dit wat pla beter te bemeester en om beter te funksioneer.

Terapie is nie net ‘n luister en verstaan nie, maar ook ‘n leiding om jou te help om jou probleme te oorkom.

Terapie is objektief. ‘n Terapeut sal nie jou kant kies of enige iemand se kant kies nie. ‘n Terapeut sal bloot sê wat hy of sy waarneem en altyd sy of haar waarnemings objektief weergee.

Terapie het nie noodwendig al die antwoorde nie. Terapie is wel ‘n reis op soek na die antwoorde. ‘n Sielkundige weet dat jy reeds al die antwoorde in jouself het. Dit is die terapeut se taak om deur jou (of saam met jou deur jou) eie geskiedenis, jou pyn, trauma, vrees, ens. te werk en jou te lei om self by die regte antwoord uit te kom. Die terapeut sal soms voorstelle aan jou maak, maar dit bly jou keuse om te besluit of sy of haar voorstelle vir jou sal werk of nie.

1.2 ‘n Sielkundige of ‘n psigiater?

Jy het ‘n uitdaging. Moet jy ‘n sielkundige of ‘n psigiater gaan sien? Ek hoop die volgende kan jou hiermee help.

Die ooreenkoms tussen ‘n sielkundige en ‘n psigiater is dat albei psigopatologie ken en ewe goed weet hoe om ‘n diagnose te maak.

Die verskil is in die behandeling. ‘n Psigiater is ‘n mediese dokter wat in psigiatrie spesialiseer en jou probleem medies sal behandel. Hy sal dalk vir jou sekere advies kan gee en jou op sekere van jou gedragspatrone kan uitwys, maar sy klem lê daarop om vir jou die regte medikasie te gee.

‘n Sielkundige is ‘n geesteswetenskaplike wat jou probleem aanspreek deur op jou gedagtes en jou optrede te fokus. Hy het sekere kennis oor medikasie, maar sy klem lê daarop om jou te help om jou probleem te bowe te kom.

Die verskil word goed geïllustreer deur hulle verskillende sieninge oor iets soos depressie. Depressie is die gevolg van ‘n gebrek aan produsering van serotonien in jou brein. ‘n Psigiater sal vir jou ‘n anti-depressant voorskryf om te help om jou serotonien-produksie aan te help om sodoende die depressie te oorwin. ‘n Sielkundige sal reken dat jou brein te min serotonien produseer omdat jy negatief dink. Wanneer jy weer rasioneel begin dink sal jou brein outomaties meer serotonien vervaardig.

Die psigiater sal voorts fokus op genetika en wil uitvind of daar ‘n genetiese probleem is. As jy ‘n familiegeskiedenis van depressie of angs het, mag jy ‘n foutiewe geen binne jou hê. Aan die ander kant mag die sielkundige reken dat dit aangeleerde gedrag is.

Aangesien jou oupa depressief was omrede hy tydens die Groot Depressie grootgeword het, het hy jou pa gekondisioneer dat die wêreld ‘n slegte plek is. Jou pa het dit geglo en ook aan depressie gely. Hy het jou weer gekondisioneer dat die wêreld alles net sleg is. Jy het dus ook so groot geword tot jy geleer het dat die wêreld inderdaad nie so sleg is nie en letterlik afgeleer het om depressief te wees en letterlik jou siening oor die wêreld verander het en afgeleer om depressief te (wil) wees.

In my praktyk word die klem dus gelê op die sielkundige hipotese, maar ek is nie gekant teen chemiese behandeling nie. Chemiese behandeling kan soms help om jou beter te laat voel om jou probleme meer doeltreffend te kan aanspreek. Maar ek sal altyd poog om jou op die lang termyn van medikasie af te kry.

1.3. Maar wat as ek nie veel in gemeen met my terapeut het nie?

As jou terapeut dalk nie getroud is nie, of nie kinders het nie, of nie self aan angs of depressie ly nie, beteken nie dat hy jou nie verstaan nie. Dit kan selfs tot jou voordeel wees, aangesien hy nie jou probleem kan reduseer tot sy eie nie. Dit kan selfs tot jou voordeel wees, aangesien hy nie jou probleem kan reduseer tot sy eie nie en dus objektief kan bly.

ʼn Goeie terapeut behoort, ongeag sy eie voorkeure, ouderdom of kultuur, sy eie voorkeure op die agtergrond te plaas en hom of haarself kan transendeer na jou wêreld. As voorbeeld het ek al, ongeag my eie siening van die realiteit, vir ʼn tradisioneel Afrika-kliënt voorgestel om ʼn bees aan die voorvaders te slag, vir ʼn Moslem-kliënt voorgestel om sy Imam te gaan spreek, selfs ʼn siener voorgestel indien hulle wil kommunikeer met mense wat ons op aarde verlaat het.

Al is die verskille ook soveel, bly daar steeds een ding in gemeen: ons het altyd steeds ʼn behoefte om gehoor en verstaan te word.

1.4 Wat is ʼn goeie terapeut?

Hoe weet jy dat jy ʼn goeie terapeut sien?

Meer en meer mense gaan vir terapie. Juis omdat die stigmas en vooroordele teenoor psigoterapie aan die afneem is, voel meer mense vrymoedig om vir terapie te gaan. Die rede hiervoor is dat terapie werk.

Dit is wel waar dat ʼn goeie terapeut aan ʼn goeie universiteit studeer het. ʼn Goeie terapeut se kwalifikasies is dalk goed en belangrik. ʼn Goeie terapeut mag dalk gepubliseer het en wyd aangehaal word. ʼn Goeie terapeut mag van hoogs effektiewe tegnieke gebruik maak, maar dit alleen is nie genoeg nie.

Navorsing bewys dat terapie, meer as enige iets anders, ʼn terapeutiese verhou-ding is, dat dit ʼn interpersoonlike verhouding is. Selfs hipnose word gedefinieer as ʼn vertrouensverhouding meer as enige iets anders.

ʼn Goeie terapeut is warm, gee om, is empaties, respekvol, het kennis, is eg, met onvoorwaardelike aanvaarding en konkreet. ʼn Goeie terapeut sal nooit ʼn oordeel fel nie en ek gaan later weer na hierdie punt terugkeer.

Ook in my praktyk val die klem op hierdie beginsels. Dis vir my ook belangrik om ʼn probleem so gou en effektief as moontlik op te los, sonder om in die haasgat van simpatie af te sak en om jou mediesefonds onnodig uit put nie. Hoewel die klem op resultate lê, word die waarde van die verhouding van vertroue tussen twee mense nooit onderskat nie.

1.5 Hoe veilig is ek in die proses?

Dalk het jy teen hierdie tyd besef dat jou veiligheid ʼn groot prioriteit is. Jy moet veilig kan voel om te wees wie jy is, te sê wat jy wil en dat daar vertroulik en respekvol met jou en die inligting wat jy vir my gee, omgegaan sal word sonder dat jy ooit voel dat jy ge-oordeel sal word. Dis net swak terapeute wat oordeel en dink dat jy by hulle waarde-sisteme in moet pas.

Sou dit gebeur dat ek ʼn verslag vir jou moet skryf, of inligting met ʼn derde party moet deel, sal jy altyd volledig kennis daarvan dra, moet ek jou toestemming vra en jy het altyd die reg om die deel van inligting te weier.

In die geval van ʼn verslag, sal die verslag geskryf word en aan jou voorgelê word vir goedkeuring. ʼn Finale verslag sal in jou hande gegee word sodat jy presies weet wat daarin staan.

Dit mag soms gebeur dat die hof my kan verplig om te moet getuig. Dit het nog net by twee geleenthede met my gebeur. Selfs in die hof sal ek alles in my vermoëns doen om jou vertroulikheid te beskerm.

Dit is nie beloftes wat ek aan jou maak nie. Jy word beskerm deur die wet. Jou vertroulikheid word deur die wet gewaarborg. Jy is welkom om by ons Ontvangs ʼn kopie van die Etiese Kode aan te vra.

Daarbuite is baie beraders, lewensafrigters, terapeute, hipnotiste en nog meer. Sou jy besluit om een van hulle te gaan sien en baie van hulle doen wonderlike werk, het jy steeds nie noodwendig wetlike beskerming om vertroulikheid en etiese optrede nie.

Aan die einde van elke sessie word jou lêer en inligting in my liasseerkabinet toegesluit. Dit bly daar tot ons volgende afspraak. Indien jy my ooit in ʼn winkelsentrum sou raakloop, sal ek verby jou loop sonder om jou te groet – want daarbuite bestaan ek nie vir jou nie. As jy veilig genoeg voel om my te groet en te gesels, doen ek dit natuurlik met groot graagte.

2. Hoe sien terapie jou?

2.1 Jy is nie jou diagnose nie

Sou dit gebeur dat ek ʼn verslag vir jou moet skryf, of inligting met ʼn derde party moet deel, sal jy altyd volledig kennis daarvan dra, moet ek jou toestemming vra en jy het altyd die reg om die deel van inligting te weier.

In die geval van ʼn verslag, sal die verslag geskryf word en aan jou voorgelê word vir goedkeuring. ʼn Finale verslag sal in jou hande gegee word sodat jy presies weet wat daarin staan.

Dit mag soms gebeur dat die hof my kan verplig om te moet getuig. Dit het nog net by twee geleenthede met my gebeur. Selfs in die hof sal ek alles in my vermoëns doen om jou vertroulikheid te beskerm.

Dit is nie beloftes wat ek aan jou maak nie. Jy word beskerm deur die wet. Jou vertroulikheid word deur die wet gewaarborg. Jy is welkom om by ons Ontvangs ʼn kopie van die Etiese Kode aan te vra.

Daarbuite is baie beraders, lewensafrigters, terapeute, hipnotiste en nog meer. Sou jy besluit om een van hulle te gaan sien en baie van hulle doen wonderlike werk, het jy steeds nie noodwendig wetlike beskerming om vertroulikheid en etiese optrede nie.

Aan die einde van elke sessie word jou lêer en inligting in my liasseerkabinet toegesluit. Dit bly daar tot ons volgende afspraak. Indien jy my ooit in ʼn winkelsentrum sou raakloop, sal ek verby jou loop sonder om jou te groet – want daarbuite bestaan ek nie vir jou nie. As jy veilig genoeg voel om my te groet en te gesels, doen ek dit natuurlik met groot graagte.

Hoe sien terapie jou? Jy is nie jou diagnose nie

Dit bring ons by ’n baie belangrike begrip. Hierdie begrip handel oor sogenaamde “etiketterings”. Wanneer jy ’n naam aan iets gee, is jy geneig om jou eie opsies te beperk en jou uitkoms te beperk.

Wanneer ek jou diagnoseer, kan jy gerus weet dat dit net ʼn rigting-aanduider vir my is waarmee om te werk. Sou ek jou byvoorbeeld met depressie diagnoseer, beteken dit dat jy depressie het en nie depressief is nie. Jy bly steeds ʼn gesonde persoon met ʼn probleem wat opgelos moet word, maar in jou wese kan jy nooit ʼn “depressiewe mens” of “ʼn angstige mens” wees nie.

Die wêreld van die NLP (Neuro-linguistiese Programmering) verwys hierna as “etiketterings”. ʼn Etikettering is enige iets wat mens nie op ʼn kruiwa kan sit nie. Enige iets wat jy nie op ʼn kruiwa kan sit nie, bestaan dus nie. Jy kan nie depressie, angs, ʼn swakkeling, ʼn verloorder of wat ookal op ʼn kruiwa sit nie en daarom bestaan dit nie.

Jy bly steeds ʼn volmaakte Godgeskape mens wat iewers op die pad van die lewe ʼn probleem opgetel het. Dit maak van jou nie ʼn probleem nie. Jy HET bloot net ʼn probleem.

Jy kan gerus verder hieroor gaan lees op my webtuiste: jorganharris.co.za. Gaan kyk op my blad na die artikel genaamd: “Prinse word paddas”, wat my siening rakende “diagnoses” is.

2.2 Niemand is swak of siek nie

Jy kom nie vir terapie omdat jy swak of siek is nie. Jy sal ook nooit as swak of siek gesien word nie. Jy is inderdaad die sterk een wat besluit het om jou lewe te kom verbeter. Jy is die sterk een wat besluit het om jou probleme in die oë te kyk.

Elke mens beskik oor eindelose hulpbronne en talente. Sommige van hulle is net onder die maatemmer versteek. Soms moet jy net die maatemmer oplig, sodat jy kan sien wat daar onder weggesteek is. Jy mag dalk dinge van jouself ontdek wat jy nie eens gedink het moontlik is nie.

Jy het ʼn hele gereedskapskis waarmee jy self jou probleme kan regmaak. ʼn Goeie terapeut sal jou help om jou eie gereedskapskis so effektief moontlik te gebruik. In plaas daarvan om syne te gebruik, help hy jou om joune meer effektief te gebruik. Tot op hede het jy nog altyd ʼn spyker met ʼn tang ingeslaan. Dit het gewerk (met groot moeite), maar die terapeut weet dat jy ʼn hamer het en sal jou help en leer om jou eie hamer te gebruik om die spyker op die kop te slaan.

Die terapeut weet nooit van beter nie en gee daarom nie raad nie. Ek kan nooit in jou skoene staan nie. My hamer, spyker en muur is nie dieselfde as joune nie. Wat vir my werk mag dalk nie vir jou werk nie.

Terapie kan jou inderdaad help om jou eie sterkpunte en kreatiwiteit raak te sien.

2.3  Terapie het nie ʼn eind-doelwit nie

In ʼn perfekte wêreld behoort elke mens, vir een sessie ʼn week vir die res van sy lewe, in terapie te wees. Daar is ʼn plafon en daardie plafon kan nooit bereik word nie, aangesien ons in ʼn onvolmaakte werklikheid lewe. Daarom moet ons ʼn logiese punt bereik waarin jy goed genoeg voel om op jou eie met jou lewe voort te kan gaan. Jy sal egter ʼn punt bereik waarin jy instinktief sal weet dat jy op jou eie kan aangaan.

Terapie gaan jou ook nie help om die heeltyd gelukkig te wees nie. “Die lewe gebeur” en niemand kan keer dat pyn deel van die lewe is nie. Daar is nie iets soos ewige geluk nie, maar terapie kan jou help om nie bang te wees vir daardie dinge as dit gebeur nie. Terapie sal jou leer om “content” te wees met die lewe en dinge soos dit gebeur.

2.4 Dit is niemand se skuld nie

Die feit dat daar iets nie lekker is nie, is nie jou skuld nie. Dit is ook nie die skuld van enige iemand rondom jou nie. Dit is ook nie die skuld van jou verlede of mense in jou verlede nie. Skuldgevoelens is in elk geval die mees nuttelose emosie wat jy ooit kan beleef.

Terapie gaan eerder oor die hede, hoe jy daaroor dink en hoe jy die verlede interpreteer.

Jy mag maar in terapie vuil wasgoed kom was. Om vuil wasgoed te was is tog ʼn poging om jou wasgoed skoon te kry. Ek sal jou nooit veroordeel, ook nie ander mense veroordeel en probeer besef waar hulle vandaan kom nie.

2.5 Terapie is eintlik pret

Die lewe is eintlik maklik. Selfs die Bybel verwys meer as 360 keer daarna dat jy jouself nie hoef te bekommer nie.

Terapie raak pret sodra jy besef dat niks eintlik ooit so ernstig of verskriklik is nie.

Terapie raak groot pret wanneer ons kan lag oor en vir onsself en sien hoe absurd die lewe en sy probleme regtig is.

Ons spot nooit oor jou as mens nie, maar ons spot oor hoe maklik oplosbaar jou probleme aan die einde van die proses eintlik is.

Navorsing het die terapeutiese waarde van lag bewys, maar jy sal dit eers besef wanneer jy vir jou eie probleme kan begin lag en besef hoe simpel dit regtig is.

Daar is dus niks verkeerd met jou nie. Terapie kan net help om daardie probleme in jou lewe as uitdagings te sien.

Daar bestaan nie iets soos “mal” mense nie en die mense wat vir terapie gaan, gaan bloot om hulself beter te verstaan, om meer keuses uit te kan oefen om ʼn beter lewe te lei.

3. Wat kan jy van terapie verwag?

3.1 Jy moet net jouself kan wees

Dit is so belangrik dat jy in terapie veilig moet kan voel om jouself te wees en te sê wat jy ookal wil sê, hoe jy dit ookal wil sê.

In my kantoor is die atmosfeer ontspanne. Hier kan jy net jou eie unieke self wees. Sit met jou voete op die banke as jy wil, vloek as jy wil en kom in jou pajamas as jy wil. Vertel my jou malste geheime en drome as jy wil. Jy hoef nie alles te vertel nie en as jy wil, moet jy veilig voel om dit te kan doen. Jy hoef nie in detail in te gaan nie. ʼn Goeie terapeut hoort jou te kan help met die minimum inligting sonder dat jy in die kalklig hoef te voel.

Onthou, ek meen dis Mark Twain wat gesê het dat jy ʼn vark moet slag as jy kwaad is, maar as jy baie kwaad is moet jy vloek!

Ons spreek mekaar op voornaamterme aan. Ek is nie ʼn ‘dokter’, ‘meneer’ en vir kinders ʼn ‘oom’ nie. Hoewel ek ʼn spesialis in sielkunde is, is jy ʼn spesialis in jouself. So min aswat jy van sielkunde af weet, net so min weet ek van jou. Daarom is ons, anders as by ʼn dokter, twee spesialiste in die kantoor. Ons raak op ʼn sekere manier selfs kollegas.

Terapie gaan dus oor die verhouding. Omdat jy jouself die beste ken, is dit ook jou volste reg om vir jou terapeut te sê waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie. Jy mag dus kla sou ek iets doen waarvan jy nie hou nie of wat jou ongemaklik of onseker laat voel.

Hier gaan dit nie oor die terapeut se gevoelens nie, maar oor joune. In dieselfde asem sal jy ook instinktief weet wanneer terapie verby is. Jy mag dalk beter voel, of voel jy kry nie meer iets uit die terapie nie, of net instinktief weet, sonder dat jy dit noodwendig kan verduidelik wanneer terapie verby is. Daarom kan jy terapie termineer wanneer ookal jy gereed is daarvoor.

3.2 Jy sal nooit ge-oordeel word nie

Dit kan intimiderend wees om met ʼn totale vreemdeling jou mees intieme probleme te bespreek. Ek wil egter graag hê dat jy moet weet dat jy vry kan voel om net jouself te wees in ʼn sielkundige se spreekkamer.

Vir dieselfde rede dat ons mure, hamers en spykers van mekaar verskil, kan die terapeut jou nooit oordeel nie. Enige terapeut wat oordeel plaas jou in sy eie skoene en jy kan nooit in my skoene staan soos wat ek nooit in joune kan staan nie.

Dis net ʼn swak terapeut wat oordeel, aangesien hy of sy nie die insig het om die persoon as ʼn goedgeskape mens voor hom sien nie.

Dan is daar die groot vraag oor wat “normaal” in elk geval is. Ons weet nie wat “normaal” is nie. Die antwoord hier is dat ons almal uniek verskillend is. Ons word egter van kleintyd geleer oor wat ons moet doen en moet wees en nie moet doen en moet wees nie. So laat ons toe dat ander mense vir ons besluit wat reg en verkeerd is. Wat vir my waar is, is nie noodwendig vir jou waar nie en jy het die keuses en vryheid om te doen wat ookal vir jou reg voel.

Dalk is jy ietwat betotteld (dis Afrikaans vir weird) en dit is wat jou uniek maak. “Normale” mense is vervelig. Persoonlik geniet ek betottelde mense, want hulle is kreatief en intelligent.

Terapie kan dit selfs waardeer wanneer jy ʼn spyker met ʼn skroewedraaier inslaan. Ten minste is jy kreatief en dit is nooit verkeerd nie. Hoe hanteer ʼn mens dit wanneer die spyker dalk op so ʼn hoek lê dat ʼn hamer net glad nie daarby uit sal kom nie? Moenie bang wees dat jy selfs jou terapeut ʼn ding of twee kan leer nie. Ek leer elke dag nog by my kliënte!

3.3 Jy sal altyd gerespekteer word

My taak is nie om jou te oordeel nie, want dan het ek ʼn etikus of ʼn predikant geword. My taak is om jou te help om daardie hulpbronne, wat ek weet jy het, te ontdek en te gebruik.

Jy behoort steeds met die mees absolute respek behandel te word.

Dit is essensieel dat jy altyd ten volle gerespekteer sal word as ʼn persoon en dat daar ʼn goeie rede is hoekom jy ʼn spyker op die kop kan slaan met ʼn maatband!

Niks is ooit belaglik nie. Niks is ooit simpel nie. Die tyd wat jy met jou terapeut spandeer is jou tyd waarvoor jy betaal en dit is jou reg om enige iets wat vir jou belangrik is, met jou terapeut te kan bespreek.

Mense is geneig om te dink hul probleme is te eenvoudig of te simpel om die tyd van ʼn terapeut in beslag te neem of om dit met ʼn terapeut te bespreek. Onthou, dit is jou tyd, jy het dit ‘gekoop’.

Ongeag of dit ʼn probleem wat jy met jou kollega by die werk het, die dood van ʼn troeteldier, of wat ookal – dit bly vir jou belangrik en omdat dit vir jou belangrik is, sal dit vir jou terapeut ook altyd van uiterste belang wees.

Die beginsel wat hier geld is dat daar geen universele waarheid is nie en dat jou eie waarheid vir jou die waarheid is. My waarheid is nie noodwendig jou waarheid nie, maar ʼn goeie terapeut hoort jou waarheid te kan verstaan en gemaklik daarin te kan beweeg.

3.4 Jy is in beheer van die proses

Soos jy reeds gesien het is die hele proses ʼn baie respekvolle een. Soos jy reeds weet is ons twee spesialiste in die vertrek. Ek spesialiseer in sielkunde en jy spesialiseer in jouself. Dus is ons ʼn span wat saamwerk om ʼn probleem op te los. Iemand het eenmaal hierna verwys as ʼn “therapeutic we-ness”.

Jy weet die meeste as enige ander persoon van jouself en daarom lei jy die proses, met die terapeut wat altyd die rigting vir jou aanwys.

ʼn Dokter sal jou ondersoek en vir jou vertel wat fout is en ook vir jou vertel watter medikasie om te gebruik en wat om te doen om gesond te word.

ʼn Sielkundige sal vir jou vra wat fout is en voorstelle aan jou maak. Jy sal self besluit wat gedoen moet word, met die hulp en ondersteuning van die terapeut natuurlik.

Ek sal ook nooit vir jou sê hoeveel sessies jy nog nodig het, of jy nog moet kom en of jy moet stop nie. Weereens is ek daar om vir jou ʼn aanduiding te gee, maar daardie besluit is joune.

Aangesien terapie jou instaat stel om weer op daardie diepste, innerlike, wyse deel van jou staat te maak, sal jy ʼn “gut-feel” hê of jy nog sessies nodig het of nie. Jy sal instinktief net weet.

3.5 Ten slotte – terapie is ʼn vertrouensverhouding

Ek hoop dat jy teen hierdie tyd besef dat jy in my kantoor totaal gemaklik kan voel. Jy kan vry voel om enige iets vir jou terapeut te sê sonder enige vrees dat jou terapeut sal dink jy is simpel, jou sal veroordeel of sal dink jy is mal.

Ek wil dit weereens beklemtoon dat die verhouding belangrik is. As jy enige vrae oor my het, vra asseblief.

Ek hoop dat jy gemaklik sal voel om alles met my te kan bespreek. Na meer as 20 jaar se ervaring is daar nie regtig iets wat ek nog nie gehoor het nie.

Of jy nou jou hond aan die dood afgestaan het, ereksie-probleme ervaar, gemolesteer is en in jou lewe permissief is of was, of jy dwelms gebruik, aan dobbel verslaaf is, pornografie kyk, of jou man verneuk, vroueklere aantrek, nie swanger kan raak nie, of jy fantaseer oor seks met ʼn robot, jy kan veilig voel om dit met jou terapeut te bespreek.

Aan die einde van die dag, is vertroue alles waaroor terapie gaan. Die terapeut hoort alles te sien in die lig van alle gedrag wat ʼn positiewe intensie het.

Indien daar enige onduidelikhede is wat vir jou belangrik is, maar nie in hierdie artikel aangespreek was nie, vertrou ek dat jy teen hierdie tyd genoeg vrymoedigheid het om dit met jou terapeut te bespreek en sodoende uitklaring/duidelikheid daaroor te kry.