SELFDOOD

Selfdood – jy wil nie regtig dood wees nie – jy wil net nie so seer kry nie

© Jorgan Harris

1. Inleiding

Selfdood is waarskynlik ʼn meer toepaslike term as die term selfmoord. Die term selfmoord dui op ʼn misdaad en vorm ʼn onnodige stigma aan die daad van om jouself dood te maak.

Om jouself te dood, is so onnodig en ontydig. Die persoon wat hom of haarself dood, ontneem nie net hom of haarself van soveel geleenthede nie, maar laat soveel pyn, vrae en stigma agter.

In ʼn poging om hierdie tragiese onnodigheid te voorkom, deel ek hierdie artikel in twee dele op. Eerstens poog ek om die geliefdes van die persoon wat selfdood wil toepas, in te lig sodat hulle die tekens van ʼn moontlike selfdood betyds kan identifiseer en betyds hulp te gaan kry.  Tweedens, rig ek ʼn ope brief aan die persoon wat voel dat daar geen hoop meer oor is nie, om weer te dink.

Vir die geliefdes van iemand wat moontlik selfdood toe wil pas, kyk uit vir die volgende tekens en soek dadelik hulp.

2. Tekens vir moontlike selfdood:

  • Die persoon is behep met die dood, het ʼn spesifieke plan vir ʼn selfdood-poging, die middele en vasberadenheid om dit deur te voer.
  • Daar is verskeie selfdood-dreigemente, notas of herhaalde stellings oor sy dood en daar was al voorheen ʼn selfdood-poging. Hy of sy kan nie ophou praat oor ʼn geliefde wat selfdood gedoen het nie en tref finale voorbereidings, soos om besittings weg te gee, ʼn testament op te stel en verhoudings in orde te kry.
  • Die persoon is geneig om ou kennisse op te soek en om mense te groet.
  • Die oënskynlik skielike oplossing van probleme bring ʼn onnatuurlike kalmte mee wat selfdood as die ideale uitweg aandui.
  • Hy of sy het dalk redelik onlangs ʼn swaar verlies gely, hetsy deur dood, egskeiding of vervreemding, of het iets baie dierbaar, soos ʼn troeteldier, verloor
  • Die persoon het dalk sy werk verloor of ʼn drastiese verandering in finansiële sekuriteit of status beleef of moes skielik verhuis of van werk verander.
  • Hy of sy beleef ernstige siekte en/of chroniese pyn.
  • Die persoon toon merkbare veranderings in motivering en gedrag en sy of haar werk en prestasievermoë ly daaronder.
  • Hy of sy kom gereeld laat of is afwesig sonder verskoning.
  • Daar is ʼn merkbare afname in sosiale aktiwiteite en die persoon onttrek homself of haarself doelbewus van ander mense.
  • Die persoon steur hom of haarself nie aan stokperdjies of ander belange nie en is aggressief, buierig, gespanne, senuweeagtig en rusteloos.
  • Konsentrasievermoë is swak en hy of sy kom verstrooid voor.
  • Fisieke skendings en self-toegediende beserings is sigbaar en hy of sy raak roekeloos of misbruik dwelms of alkohol.
  • Daar is ʼn besliste verandering in seksuele gedrag en die persoon kom verslons voor weens ʼn gebrek aan belangstelling in persoonlike higiëne en voorkoms.
  • Hy of sy wil geen toekomsplanne maak nie.
  • Daar is ʼn merkbare verandering in persoonlikheid en die persoon sê gereeld hy of sy haat homself haarself of dat hy of sy niks beteken nie.
  • Die persoon voel wanhopig, hulpeloos, verontreg en meen niemand waardeer hom of haar nie.
  • Daar is tekens van akute depressie en die lewe word as te moeilik en pynlik beskou.
  • Hy of sy huil maklik en vind geen plesier in enige iets nie.
  • Fisieke simptome is waarneembaar in sy aptytverlies, veranderde slaappatroon, permanente moegheid en gebrek aan energie.
  • Anders as ʼn persoon wat impulsief pille drink, of hom of haarself sny, het die persoon ʼn besliste plan oor hoe om dit te doen.
  • Selfdood-pogings deur te dreig om hom of haarself te skiet, te vergas of op te hang moet altyd meer ernstig opgeneem word as metodes waar daar dalk net aandag gesoek word.
  • Ernstige selfdood word goed beplan en die persoon sal seker maak dat hy of sy nie gevind word nie, eerder as die selfdood wat seker maak dat hy of sy gevind sal word, wat ʼn kreet om hulp is.

As jy dan regtig selfdood aan jouself toe wil dien, is jy seker welkom en is daar niks wat ek of enige iemand anders kan doen om dit te keer nie. Om jouself te dood is seer sekerlik jou reg en jy mag dit doen. Niemand kan jou keer nie. Ek moet erken – selfdood is ʼn oplossing. Dit is ʼn manier om van jou probleme ontslae te raak. Ek weet dat jy nie so seer wil kry nie en ek weet ook dat jy nie regtig dood wil wees nie. Maar daar is beter oplossings.

In ʼn desperate poging om die persoon wat hom of haarself wil dood te oortuig dat daar ander oplossings bestaan en dat selfdood nie die enigste uitweg is nie, het ek in 2005 ʼn ope brief aan julle in Huisgenoot gepubliseer. Ek publiseer dit hieronder met die vriendelike vergunning van Huisgenoot.

ʼn Ope brief aan die persoon wat selfdood wil doen

Die idee van selfdood kan selfs jou lewe red!

3. Ter afsluiting: Miskien is die idee van selfdood nie net negatief nie.

Jy het altyd keuses en jy kan kies om soos ʼn slagoffer te voel, of jy kan kies om uitkomste te sien. Indien  jy voel jy het nie ʼn keuse nie, is dit omdat jy nie jou hulpbronne gebruik om verder te sien nie. Daar is nie iets soos mislukking nie, net keuses. Jy het altyd ʼn keuse.

Selfdood is ook ʼn keuse- dit is ʼn uitkoms, ʼn oplossing. Ons kan dit nie ontken nie, maar dis eers wanneer jy besef dit is nie die beste oplossing nie, dat jy na beter alternatiewe kan begin kyk.

Die eksistensiële sielkundige Rollo May het eenmaal gesê dis die idee van selfdood wat al soveel lewens gespaar het. As jy daaraan dink dat jy soveel beheer het, dat jy selfs jou lewe kan neem, hoeveel beheer het jy dan nie oor jou lewe nie? As jy môre moet sterf, wat sal jy nog wil doen? Dis dan wanneer jy besef hoeveel waarde daar in die lewe is en hoeveel jy het om te doen. Anders leef ons net van dag tot dag.