Die hel is ander mense (en hulle opinies) – die oorsaak van menige sielkundige probleme

© Jorgan Harris. jorganharris.co.za

Inleidend

In 1944, net voor die einde van die Tweede Wêreld-oorlog, toe die wêreld in ‘n staat van hel verkeer het, het ‘n verhoogspel van die Franse Eksistensiële filosoof, Jean-Paul Sartre die verhoog getref.

Die oorspronklike titel van die verhoogspel was getiteld: In Camera, wat verwys na die regsterm waar ‘n private gesprek agter geslote deure plaasvind.

In hierdie spel gaan dit oor die hiernamaals waar drie karakters wie gesterf het gestraf word deurdat hulle vir ewig in ‘n vertrek opgesluit is.

Hierdie drie verdoemde siele, Joseph Garcin, Inès Serrano en Estelle Rigault word vir ewig opgesluit in dieselfde vertrek in die hel. Hulle het ewige pyniging en ‘n helse vuur verwag, maar in plaas daarvan bevind hulle hulself in ‘n heel netjiese vertrek. Aanvanklik wil nie een van hierdie drie karakters erken hoekom hulle verdoem is nie. Joseph beweer dat hy tereg gestel is omdat hy ‘n passifis was. Estelle hou aan deur te sê dat sy ‘n fout gemaak het. Inès is die enigste een wat daarop aandring dat hulle ophou lieg en hulle morele misdade bely. Sy weier om te glo dat hulle almal per toeval in dieselfde vertrek op geëindig het en sy besef dat hulle in dieselfde vertrek beland het met net een doel: om mekaar miserabel te maak. Sy besef hulle is mekaar se martelaars.

Joseph stel voor dat hulle mekaar alleen los en om stil te wees. Maar Inès begin toe sing oor ‘n teregstelling en Estelle soek net ‘n ydele spieël om te sien hoe sy lyk. Inès probeer om vir Estelle te verlei deur aan te bied om haar “spieël” te wees, deur haar te alles te vertel wat sy sien, maar sy maak vir Estelle meer bang as enigiets anders. Dit word binnekort duidelik dat Inès aangetrokke tot Estelle is. Estelle is weer aangetrokke tot Joseph en Joseph is nie lus vir enige iets nie.

Na lang argumente besluit hulle om hulle wandade te bely sodat hulle weet wat om van mekaar te verwag. Joseph het sy vrou mishandel, Inès het haar neef se vrou verlei terwyl sy saam met hulle gebly het. Estelle het ‘n affair gehad, swanger geword en die kind vermoor, wat op sy beurt tot gevolg gehad het dat die kind se pa homself gedood het.

Ongeag hierdie belydenisse, het hulle steeds op mekaar se senuwees gewerk. Joseph begin ingee op Estelle se verleiding en dit maak Inès van haar kop af. Joseph smeek Estelle om vir hom te vertel dat hy nie ‘n lafaard was om van sy land te vlug tydens die oorlog nie. Intussen vertel Inès vir Joseph dat Estelle net voorgee dat sy tot hom aangetrokke is om net by ‘n man te wees, enige man. Joseph op sy beurt, probeer om te ontsnap.

Hy probeer herhaaldelik om die deur oop te maak.  Skielik maak die deur oop, maar hy kom nie so ver om uit te stap nie.  Selfs die ander twee kies om in die vertrek te bly.

Hy wil daar bly totdat hy oortuig is dat Inès hom kan vertrou. Sy weier egter, sê dat hy ‘n lafaard is en belowe om sy lewe vir ewig hel te maak. Joseph maak die afleiding dat die hel ander mense is en dat dit erger is as enige marteling of fisiese straf is.

Intussen probeer Estelle steeds om vir Joseph te verlei, maar hy kan nie hieraan toegee terwyl Inès toekyk nie.

Estelle, woedend, begin Inès verwoed te steek met ‘n papiermes. Aangesien hulle reeds almal dood is, is hierdie aanval futiel en Inès begin selfs halfhartig haarself te steek, maar begin om te lag.

Estelle besef hulle is almal hier vir ewig vasgevang en lag ook maar net. Almal begin lag totdat Joseph finaal besef: “Eh bien, continious”. Rofweg vertaal as, “Ag wat, kom ons gaan aan”.

Dit kan nogal erg raak, as dit vir ewig en altyd so aan moet gaan. Die hel is om vir ewig met iemand saam te leef wat jou teen die mure uit dryf, terwyl jy in hierdie lewe skaars vyf minute dit met hulle sou uithou. Of dit ‘n huweliksmaat, ‘n vriend, of ‘n kollega by die werk, hul irriterende gewoontes, simpelheid, sinisme, onnoselheid en voorkeure wat so met joune bots, is die hel.

1. Ander mense, dis die hel

Sartre se idee dat ander mense die hel is, word soms misverstaan. Hy het nie noodwendig bedoel dat ander mense hel, wreed of sleg is nie.

Sartre se idee was eerder dat wanneer ons oor onsself dink, dat ons kennis wat ander oor ons het, gebruik. Ons gebruik die oordeel van ander mense as bevestiging van wat ons in elk geval van onsself dink. Ons laat toe dat ander mense ons hel word. Ons luister na wat ander mense vir ons sê of oor ons te sê het en dan oordeel ons onsself of grond van hulle opinie.

Sartre ontken nie die feit dat die hemel ook ander mense, of dan ons reaksie op hulle en hulle opinies is nie. Maar vir die doel van die boodskap wat hy tuis wil bring, word daar op die hel-aspek gefokus.

2. Meer oor die “hel is ander mense”

Volgens Sartre is dit onmoontlik om opinies oor onsself via onsself te vorm. Ons kry dus ons opinies via ander. As ons onsself hoog ag, het ons waarskynlik daardie opinie gevorm na aanleiding van opinies van ander oor ons. Ons kon waarskynlik ook ‘n hoë agting oor onsself ontwikkel na aanleiding van terugvoer wat ons van ander mense kry as ons sukses behaal het. Die teenoorgestelde sal natuurlik geld vir mense wat negatiewe gedagtes oor hulself koester.

Sartre sluit nie noodwendig egoïsme en narcissisme hierby in nie en hy postuleer dat dit veroorsaak kan word deur opinies en fantasieë wat ons oor onsself “vervaardig” na aanleiding van die opinies van andere.

Ons is dus gedoem om ander mense nodig te hê, of ons dit nou wil hê of nie. Hoe vry ons ookal van die opinie van ander mense wil wees, kan ons nie. Ons is vasgevang. Al wil jy vir die wêreld vertel dat jy nie omgee wat ander mense van jou dink nie – jy gee steeds om. Jy gee baie om. Ons is verslaaf aan die goedkeuring van ander. Ons wil so graag hê dat mense ons lief moet hê, respekteer en bewonder vir wie ons is.

(Bogenoemde staan nogal in skrille kontras met meeste sielkundige denkskole wat ‘n “interne lokus van beheer” propageer, waar mense hulle eie meesters is en nie die slagoffer is van ander mense se opinies nie). Meer hieroor later.

Of ons nou daarvan hou of nie, ander mense is daarop uit om ons op een of ander manier te gebruik. Al is dit nou jou werkgewer wat jou in diens neem om vir hom of haar geld te maak, vriende wat jou vir geselskap gebruik of ander mense wat op een of ander manier iets wat jy kan bied, nodig het. Dit kan ook tot jou eie voordeel (of nadeel) wees.

Stel jouself vir ‘n oomblik ‘n wêreld voor waar jy ander mense respekteer, bevriend en liefhet vir wie hulle is en nie vir hul geld, status, mag, suksesse, besittings, voorkoms, persoonlikhede, kennis of bydraes wat hulle tot jou lewe mag maak nie. ‘n Wêreld waar jy mense respekteer, bevriend of liefhet bloot omdat hulle fantasties is.

3. Tussenspel

Sartre laat ons inderdaad in ‘n wurggreep van ‘n dilemma. Sy idee van die hel wat ander mense is, kan nie weggewens word nie. Sartre los egter vir ons ‘n skuiwergat om onsself uit hierdie dilemma te wikkel deur die idee dat ons altyd keuses het. Dat ons dit toelaat. Dalk is ons maar net ons eie hel. Ek het nie noodwendig oplossings hiervoor nie, maar kan ‘n paar gedagtes deel.

4. ‘n Eksterne lokus van beheer

Ons beoordeel mense dadelik op grond van hulle kleredrag, motors, voorkoms, ras, opvoeding, sosiale status … ag die lys is eindeloos.

Ons beoordeel onsself ook op die bogenoemde, maar ook op grond van hoe ander ons beoordeel of sou beoordeel in ons interpretasie van hoe hulle ons beoordeel.

Ons skep vir onsself eintlik hierdie hel. Ons dink maar net ander mense skep dit vir ons.

Die sielkunde noem dit ‘n eksterne lokus van beheer (external locus of control). Ons het volgens die vader van hierdie teorie, Jullian B. Rotter twee lokusse: intern of ekstern. ‘n Interne lokus van beheer is waar jy glo jy jou eie lewe beheer. ‘n Eksterne lokus van beheer is waar jy glo dat jou besluite en jou lewe beheer word deur faktore in die omgewing waaroor jy geen beheer het nie. As jy met iets misluk het, sal die persoon met ‘n interne lokus van beheer net homself blameer. Mense met ‘n eksterne lokus van beheer sal ander mense of faktore blameer. Ons lewe meer met ‘n eksterne lokus van beheer. Ons blameer omstandighede, die regering, ekonomie, onvoorsiene omstandighede en ander dinge vir ons probleme. Selfs al sou dit waar kon wees dat dit hulle skuld is, gaan dit niks aan jou gevoelens verander nie.

Ons soek ewige jeug, rykdom en roem. Ons sal nie dood buite gesien word sonder mooi klere, presiese grimering en ons beste glimlag nie. Ons photoshop ons foto’s voor ons dit op sosiale media plaas. Ons koop boeke of tydskrifte wat die fokus daarop plaas om ander mense te beïndruk. Almal vertel ons hoe om jonger te lyk, langer te leef, mooier te lyk, die beste gadgets te hê, die mooiste motor te ry, hoe om geld te maak of te spaar en so kan ek aangaan. Ons plaas foto’s van hoe oulik ons is op Facebook en Instagram. Ons beïndruk mense met ons mooi huise en suksesse. Ons spandeer so baie van ons swaar verdiende geld, net om by die Vannermerwes by te hou. Net om aanvaar te word. Ons vang onsself vas in hierdie hel van ander mense. Of dan die hel wat ons vir onsself skep deur te dink wat hulle van ons sou dink.

Net soos ons drie karakters in Sartre se toneelspel, is ons almal in dieselfde vertrek – om mekaar miserabel te maak. Ons steek, soos die drie karakters in Sartre se In camera, ons ware self vir ander weg. Ons verdedig ons gedrag en as ons nie kan nie, skuil ons agter die feit dat ons ‘n fout gemaak het.  Al waarin ons egter belangstel is, soos Estelle, om goed te lyk. Wanneer ons nie goed genoeg voel, of soos Inès, in ons liefde verlaat voel, maak ons die ander een vir wie ons eintlik lief voel, se lewe hel.  Ons doen dit eintlik as gevolg van ons eie kwessies en nie noodwendig omdat die ander persoon iets verkeerd gedoen het nie. Ons is mekaar se martelaars.

Dit is dus nie vreemd dat toetse gewys het dat mense met ‘n eksterne lokus van beheer gedoem is om ongelukkig te wees nie.

Ekskuus tog vir die onderbreking. Ek moes gou op Facebook gaan kyk wie het ‘n inskrywing wat ek gemaak het, ge-like. Ek voel goed oor iemand wat goeie kom-mentaar gelewer het op wat ek gesê het, maar daar is ook iemand wat negatiewe kommentaar gegee het.

Dalk is Sartre tog reg. Hoekom ontstel die negatiewe kommentaar my meer as die genot wat die positiewe kommentaar my gegee het?

Dit is seker idealisties om te dink dat mense net fokus op ‘n interne lokus van beheer. Ons is eerder iewers op ‘n kontinuum tussen die twee.

5. Jy is altyd in beheer

Miskien moet ons, soos mense met ‘n goeie ideaal en ‘n interne lokus van beheer, eers die fout by onsself soek. Natuurlik is daar mense wat opinies oor ons het en hierdie mense het hulle eie issues. Ons gaan in die volgende afdeling hierna kyk.

Laat jy hierdie mense en hulle opinies toe om jou te laat skuif na ‘n eksterne lokus van beheer? Net soos dit gebeur het met ons vriende in Sarte se In camera.

Is die hel inderdaad ander mense of is die hel dit wat ons vir onsself veroorsaak deur hoe ons ander mense en hulle opinies interpreteer?

Jy is die hele tyd in beheer van jou lewe aangesien jy altyd keuses het. Jy is altyd ‘n oorwinnaar. As jy nie beheer van jou lewe neem nie, gaan ander mense dit vir jou beheer. Dit is nooit iemand anders se skuld nie. Jy is in beheer van jou lewe en dinge gebeur soos jy dit toelaat, al dan nie.

Om iemand anders te blameer is om daardie persoon in beheer van jou lewe te plaas. “Mense word beter as jy beter word”, is ‘n bekende aanhaling van Brian Tracey. Dis wanneer jy besef dat jy in beheer van jou lewe is en dit nie verder sal toelaat nie,  dat mense sal begin om jou anders te behandel. Maar die eerste verandering moet by jou begin.

Hoe meer jy verander, hoe meer verandering sal jy ervaar.

Moet dus nie voortgaan om iemand anders in beheer van jou lewe te plaas deur hom of haar te blameer en sodoende jouself te ontmagtig van beheer oor jou eie lewe nie.

6. Wie de hel is hierdie mense wat die hel is, in elk geval?

Die hel word immers deur onsself veroorsaak, maar ons het steeds ook ‘n eksterne lokus van beheer. Dit mag jou help om meer van hierdie mense, wat die hel vir jou “veroorsaak”, te verstaan.  Hierdie opinie-vormers:

7. Is oningelig

Oorweeg gerus die volgende aanhalings:

“Hoe minder die feite, hoe sterker die opinies” – Arnold H. Glasow.

“Jy is nie geregtig op jou opinie nie. Jy is geregtig op jou ingeligte opinie. Niemand is daarop geregtig om onkundig te wees nie” – Harlan Ellison.

“Een dag sal jy ontdek dat die opinies van waardelose mense, waardeloos is” – Piers Anthonh, A Spell for Chameleon.

Dit is inderdaad die maklikste ding om ‘n opinie oor iemand of oor enige iets uit te spreek. Mens hoef nie te dink nie. Gewoonlik kan hierdie mense nie dink nie, aldus Carl Gustaf Jung.

“Opinie is die laagste vorm van menslike kennis. Dit vereis geen verant-woordelikheid of begrip nie. Die hoogste kennis is empatie, want dit vereis ons dat ons ons ego’s in die agtergrond plaas en onsself in die ander persoon se wêreld plaas. Dit gaan oor ‘n groter sin vir betekenis en sin in die wêreld”.

Ten slotte het Carl Gustaf Jung ook gesê: “Thinking is difficult, that’s why most people judge”.

7.1  Het hulle eie minderwaardigheidskwessies

Hulle voel hulle kan hulself nie ophef tot waar jy is nie. Aangesien hulle nie in hulself glo om tot jou standaard te styg nie, sal hulle eerder probeer om jou af te trek na hulle standaard.

Ek dink nou aan iemand saam met wie ek in die koshuis gebly het tydens my universiteitsjare. Ek het die informele geneigdheid om iemand se intelligensie te meet aan sy of haar vermoë om skaak te speel. As ek hier my eie ego kan streel, met ‘n goeie eksterne lokus van beheer, ek is ‘n baie goeie skaakspeler! Daarom dink ek dat ek baie intelligent is, maar ek kon nooit skaak teen *Gerrit wen nie. Natuurlik was Gerrit intelligenter as ek. Maar hoe was dit moontlik dat Gerrit intelligenter as ek was, as ek reeds besig was met ‘n nagraadse kwalifikasie, terwyl Gerrit steeds besig was met eerste-jaar vakke?

Ek het hom een aand hieroor gekonfronteer en vir hom gevra hoe dit moontlik is om sy vakke te druip. Sy antwoord aan my was: “Ek druip my vakke omdat ek nie leer nie”. Op my vraag hoekom hy nie leer nie, was sy antwoord: “Ek druip omdat ek nie geleer het nie.  Ek kan altyd sê ek het gedruip omdat ek nie geleer het nie, maar wat as ek leer en steeds druip?

7.2   Is self gewonde siele

Hurt people, hurt people – Will Bowen

Mense maak ander mense seer as gevolg van hulle eie innerlike konflik en pyn. Moenie glo hulle is bloot net sleg nie. Hulle is gewond en verdien medelye. Hierdie mense wie jou so seer maak, het hulle eie pyn. Jy kan verseker wees dat hulle seergemaak is en hulle eie trauma het. Hulle het gewoonlik trauma in hulle eie kinderjare of in hulle latere lewe ervaar. Jy kan maar na hulle geskiedenis gaan kyk: hulle is self net seerkry-siele wat hulle pyn uitleef deur ander seer te maak, sonder dat hulle dit noodwendig bedoel. Hulle het hulle eie pyn van gevoelens van minderwaardigheid en skuil agter ‘n masker van selfver-sekerdheid.

7.3   Het self nie veel in die lewe bereik nie

Dieselfde Gerrit sou altyd almal in die koshuis se meisies kritiseer en menings oor hulle uitspreek, terwyl hyself nooit ‘n meisie gehad het nie. Mense wat nie iets in die lewe bereik het nie, sal diegene wat wel iets bereik het, altyd kritiseer. Dit is as gevolg van hulle eie seerkry.

7.4   Het nie self-respek

Iemand wie nie respek vir ander mense het nie, het nie respek vir hulself nie. Soos iemand dit eenmaal gestel het: “Ek hou nie van ander mense nie, want ek hou nie van myself nie”. As jy nie iets goeds in jouself kan sien nie, gaan jy ook nie goed in ander mense kan sien nie. Gelukkige mense soek altyd die goed in ander mense, of dit nou mense is wat die hoogste sport bereik het en of dit nou Bergies is. Hulle sal die goeie in enige mens vind. Ongelukkige mense soek altyd die sleg in ander mense en vind dit altyd ook aangesien dit ‘n refleksie of projeksie is van hulle eie ongelukkigheid met hulself.

7.5   Is jaloers

In een van die fabels van Aesopus sien ’n vos ’n tros ryp, uitgeswelde druiwe wat aan ’n wingerdloot hang. Hy spring boontoe om die druiwe te gryp, maar vind dat hy nie kan bykom nie. Hy probeer weer en weer, maar hy kry dit nie reg nie. Uiteindelik, moeg en gefrustreerd, oortuig hy homself dat die druiwe klein en nog groen is en waarskynlik suur smaak. Ons praat hoeka van ”suur druiwe” wanneer iemand iets verkleineer wat hy graag wil hê, maar nie kan kry nie!

Dalk is dit reeds duidelik waarom hulle jaloers op jou sou wees en jou sal probeer afbreek omdat hulle nie voel dat hulle op jou vlak kan kom nie, maar jou eerder sal wil aftrek na hulle vlak. Hulle sal egter nie hulle eie jaloesie raaksien nie, want min mense wil hulle gevoelens van minderwaardigheid erken. Hulle verkies soos Inès en Estelle om eerder kwaad te voel.

Jealousy makes you nasty. Hulle het self nie veel bereik nie en daarom is hulle jaloers op jou en die beste manier om hul jaloesie te hanteer, is om jou af te kraak. Jy kan maar gaan kyk: dis juis mense soos Gerrit wat niks bereik het nie, wat die meeste te sê het oor diegene wat iets bereik het.

7.6   Sien hulle eie skadu-beeld nie raak nie

Carl Gustaf Jung, een van die vaders van die sielkunde, praat van die skadu of die mense se skadu-beeld.

Jou skadu is letterlik daardie deel van jou waarvan jy nie hou nie.  Daardie deel wat jy nie raak wil sien  nie, wat jou onderbewuste letterlik vir jou wegsteek sodat jy nie van hierdie onaanvaarbare deel van jou kan sien nie.

Volgens Jung is die skadu instinktief en irrasioneel en is geneig om raak gesien te word in sogenaamde projeksie, wat in die volgende punt aangespreek word.

7.7   Gebruik projeksie as verdedigingsmeganisme

‘n Verdedigingsmeganisme is onbewustelike gedragspatrone wat ‘n persoon gebruik om hom- of haarself te beskerm teen gevoelens van angs, verleentheid, minderwaardigheid of skuldgevoelens en te keer dat hierdie gevoelens tot hulle bewustheid deurdring.

Projeksie is waar iemand op ‘n onbewustelike vlak sy of haar eie skadu, dit wil sê onaanvaarbare wense, trekke, tekortkominge, houdings of subjektiewe gevoelens aan ander toeskryf. So glo byvoorbeeld die kwaad persoon dat ander kwade gevoelens teenoor hom koester.

Hulle projekteer dus hul eie kwessies op jou.

Hierdie verskynsel is ook bekend as blaamverskuiwing (blame shifting) waar hierdie mense hulself verdedig teen hulle eie ongaangename impulse deur te ontken dat hulle hierdie impulse het deur dit aan ander mense toe te dig. So mag die vroueslaner jou beskuldig dat jy aan vroue slaan.

As ons weer na ons vriende in ons toneelspel gaan kyk, sien ons hier ‘n warm patat sindroom”. Soos jy seker weet, kan ‘n patat hel-warm word. As jy so ‘n patat in jou hand het en dit jou brand, gaan jy dit in die lug gooi of na iemand anders gooi en hulle blameer. Dit is veel makliker om woede te voel as om skuldig te voel. Iemand het eenmaal gesê dat sommige mense voorgee dat jy ‘n slegte persoon is, sodat hulle nie skuldig hoef te voel oor die dinge wat hulle aan jou gedoen het nie.

Dit veroorsaak dat mense gemakliker in hulself voel omdat hulle dink hulle trekke is dieselfde as die van ander mense.

Wanneer jy besluit het dat die ander persoon nie van jou hou nie, verdedig jy net eintlik jou eie besluit om nie van hom of haar te hou nie. So vervul jy ‘n selfvervullende professie, aangesien meeste mense nie van mense hou wie nie van hulle hou nie.

Dit waarvan hulle jou beskuldig, is dus hulle eie kwessie en jy het steeds die keuse of jy jou daaraan gaan steur of nie.

 

7.8   Besef waarskynlik nie eers hulle maak jou seer nie

In die meeste gevalle besef hierdie mense nie eens dat hulle jou seer maak nie.  Hulle mag dalk uit hul eie self-esteem probleme wonder waarom mense hulle vermy. Wanneer jy dit besef en self nie oordeel nie, is wanneer jy die lewe vir jouself makliker gaan maak.

Moenie dat jou eie woede jou gesonde oordeel bewolk nie. Hierdie mense is te besig met hulle eie kwessies om te besef dat hulle ‘n invloed op jou het (as jy dit sou toelaat).

8. Hoe om hierdie mense te hanteer

 

8.1   Dink anders daaroor

Soos wat jy in die vorige punt gesien het, is hierdie negatiewe dinge wat hulle vir jou sê, hoogswaarskynlik hul eie kwessie en kan jy dit ook in daardie lig sien.

Besef dan dat deurdat jy hulle stellings aanvaar, jy aan hulle sekere magiese kragte gee. Wie is hulle in elk geval om hierdie goed van jou te weet? Is hulle so oulik dat hulle jou gedagtes kan lees? Het hulle al die antwoorde? Hoe weet hulle hoe en wat jy is? Hulle kan nie in jou siel in kom nie.

Ek het jare lank sielkunde bestudeer, net om agter te kom – hoe meer ek van sielkunde weet, hoe minder verstaan ek die mens.  Die mens wat dink dat hy of sy in ‘n ander mens se siel in kan sien, is bloot net naïef.

Mense wat gelukkig in hulself is, gaan net die positiewe dinge in ander mense sien. Mense wat ongelukkig in hulself is, gaan weer net negatiewe dinge in ander mense sien. Dink maar aan jouself: as jy goed voel oor jouself, is jy geneig om positiewe dinge in ander mense raak te sien, nie bedreig te voel deur hulle prestasies en suksesse nie, maar om saam met hulle bly te wees as hulle iets goed gedoen het. Maar wanneer jy nie goed oor jouself voel nie, is wanneer jy jaloers, afgunstig en bedreig voel deur ander se suksesse. So geld dit vir mense wat bedreig voel deur jou. Gesels maar met mense wat dit regtig ver in die lewe gebring het – hulle het net goeie goed oor ander te sê. Dan gaan praat jy weer met iemand wat soos ‘n mislukking voel en jy sal agter kom dat hulle niks goeds oor ander te sê het nie.

Indien jy steeds hiermee sukkel, kan jy dit oorweeg om hulp te gaan soek om jou te help met jou self-esteem. Dit mag dalk ou idees, wat jy oor jouself het, of wat ander mense soos jou ouers of onderwysers op jou gehad het as kind, sneller.

A lion never loses sleep over the opinion of sheep – Booth Brothers.

Besef dat jy altyd in beheer is, soos ons dit in die vorige afdeling bespreek het.

Anthony Hopkins het dit so treffend gestel: “My filosofie is dit: dit is nie my besigheid oor wat ander van my sê of dink nie. Ek is wat ek is en ek doen wat ek doen. Ek verwag niks nie en aanvaar dit alles. En dit maak die lewe soveel makliker”.

 

8.2   Doen eers self-ondersoek

Maak eers seker dat jy nie dalk self die ander mens is wat die hel is nie. Jy mag dalk jou eie mag oor ander mense onderskat. Almal soek aanvaarding. Jy mag  selfs verbaas wees dat juis daardie persoon wat jou hel is, dalk ook jou aanvaarding soek.

Maak seker of jy nie ‘n hoë opinie het oor die mense wat jy ag ‘n hoë opinie te hê nie. Oordeel jy dalk mense wat jou oordeel? Het jy nodig om reg te wees oor mense wie dalk nodig het om reg te wees?

 

8.3   Besluit eers of jy nodig het om hierdie gedrag te konfronteer

Het jy dit nodig om hierdie gedrag te konfronteer? Is dit dalk maar net hulle eie sirkus, hulle eie narre? Is dit hulle eie self-esteem probleme wat niks met jou te make het nie?

Ek het eendag gesien hoedat ‘n Maltese poedel ‘n Duitse Herdershond bestorm. Hierdie Herdershond kon verseker met een hap die Maltese poedel middeldeur byt. Tog het die Herdershond “gevlug” van die Maltese poedel en hom nie gekonfronteer nie. En hoekom nie?

Hierdie Herdershond het, anders as mense, nie nodig om homself te bewys nie. Dis nie vir hom nodig om te bewys wie die sterkste is nie.

Jy het nie nodig om deel te neem aan elke geveg waartoe jy uitgenooi word nie. Jy gaan slegs aan so ‘n geveg deelneem:

  • as jy bang voel,
  • as jy kwaad is, of
  • as jy voel jy het iets om te verdedig.

Hoekom sal jy die uitnodiging tot so ‘n geveg aanvaar indien dit nie nodig is nie? Jy hoef nie toe te laat dat ander mense se eie kwessies en konflikte joune hoef te raak nie. Jy hoef niks te sê nie.

Silence is the best reply to a fool – Imam Ali.

 

8.4   Vind meer uit oor hierdie mense

Jy gaan dalk verras wees om agter te kom dat jy nie die enigste persoon is wat deur hulle misbruik word nie, maar dat daar ander mense ook is. Dit sal jou laat besef dat jy nie regtig die probleem is nie.

Dalk besef jy hulle is ook net mense met hulle eie probleme en onsekerhede. Jy kan selfs empatie vir hulle ontwikkel.

 

8.5.   As jy nie anders kan nie en jy moet hierdie persoon konfronteer:

(Vir meer uitgebreide inligting oor onderstaande, kan jy gerus my webtuiste: jorganharris.co.za besoek en klik op huwelik en verhoudinge)

  1. Bepaal ‘n tyd om jou probleem te bespreek
  2. Hou jou stemtoon:
    • sagter
    • stadiger
    • laer
  3. Vat tyd af om jouself te ontlont
  4. Sê hoe jy oor die spesifieke situasie voel
  5. Rig jou versoek om die situasie te verander

Dit is die sleutelstap van assertief-wees. Jy vra eenvoudig vir wat jy wil hê (of nie wil hê nie) op ‘n reguit, direkte manier.

  1. Sê vir die persoon wat die gevolge is sou hulle hul samewerking gee al dan nie.

 

8.6   Bly besef jy het ‘n doel op aarde

Jy is op aarde geplaas met jou lewensdoel. Jy is hier geplaas om ‘n taak te voltooi. Getrou aan Sartre, Soren Kierkegaard, Karl Jaspers, Irvin Yalom en ander eksistensiële denkers se idees, is jy op aarde geplaas met jou Godgegewe doel. En geen mens in hulle poging om jou te verwoes, kan jou keer om jou lewenstaak te voltooi nie. Hulle kan jou op alle vlakke ruïneer, maar nie van jou lewenstaak nie. Dit is nie in hulle hande nie, maar in God se hande.

 

9. Ten slotte

Maar die hel bly steeds ander mense en hulle opinies. Net soos ons karakters in Sartre se In Camera, is dit die ontkenning van die ander mense oor hulle eie probleme. Die drie karakters in hierdie toneelspel wil nie erken hoekom hulle verdoem is nie. Hulle het almal ‘n verklaring vir hulle gedrag, maar hul goeie verklarings bly steeds hul eie kwessies.

So probeer hulle die hele tyd om mekaar se aanvaarding te verkry, maar dit maak hulle probleme net nog meer kompleks.

Is die hel ander mense? Ja, as jy dit toelaat. Maar jy is altyd in beheer en jy hoef dit nie toe te laat nie. Soos Sartre self erken – die hemel kan ook ander mense wees. Dit gaan alles oor keuses wat jy maak. Jy is in beheer van jou keuses.

Dalk is ‘n interne lokus van beheer maar tog die antwoord.

Jy het ten spyte van alles ‘n lewenstaak om te voltooi, ongeag die opinie van andere of nie. Jy is geval geskape met alles wat nodig is om jou taak hier op aarde uit te voer en jou foute, soos ons vriende in Sartre se toneelstuk, as ‘n leergeleentheid te sien.

Dis hoe jou hel jou hemel kan raak.

Ek dink tog ek gaan daardie persoon se negatiewe kommentaar op Facebook ignoreer…

* Nie sy regte naam nie

 

 

 

Is ons hele bestaan maar net verbeelding? Die wêreld van kwantum fisika (soos deur my oë)

7 September 2015/0 Comments/in Articles by Jorgan Harris English pll_560d137917c88 /by chief

© Jorgan Harris. jorganharris.co.za

 

Bestaan die werklikheid regtig soos ons dink ons dit ken, of is dit net ‘n idee in ons kop? Reeds in die beginjare van filosofie het ‘n vader van die filosofie, Plato, dit gestel dat daar waarskynlik nie iets soos ‘n werklikheid bestaan nie, maar dat dit alles net ‘n idee is. Dit kan nogal skrikwekkend wees as jy daaraan begin dink. Bestaan die werklikheid regtig soos ons dit sien? Of is dit net ‘n skepping, ‘n verbeelding in ons kop?

Sê nou maar jy besef een oggend dat alles om jou soos jy dit ken, nie regtig is nie, maar dat dit net ‘n skepping in jou brein is? Dat niks anders bestaan nie. Dat ander mense nie bestaan nie. Dat realiteit nie bestaan nie. Dat niks bestaan nie, want al wat bestaan is dit wat jy in jou kop opgemaak het. Dat dit dalk alles net ‘n idee in jou kop is.

Dat die lewe dalk net soos een groot droom is. Of selfs ‘n droom is. In jou drome is daar werklik ander mense, daar is ‘n omgewing, daar is ‘n konteks en daar is werklike gebeure. Maar wanneer jy wakker word, besef jy dat dit glad nie bestaan nie. Dit is net skeppings in jou brein wat jy as werklik ervaar het. Wat as die hele lewe maar net een groot droom is en dat dit wat jy as werklik ervaar, nooit bestaan het nie en soos ‘n droom is alles net skeppings in jou brein? Wat as ons hele lewe ‘n droom is, ons dalk Eendag wakker word en besef dat niks wat ons ervaar het “real” was nie, maar net ‘n droom? Wat as die dood dalk net ‘n Groot Ontwaking is? Dat die lewe dalk net ‘n baie lang droom is. ‘n Lewenslange droom. Of dalk net ‘n nagmerrie? Dit mag nogal ‘n skrikwekkende idee wees.

Ek meen ek haat pampoen. Ek kan dit nie oor my lippe kry nie. Jy mag dalk mal wees oor pampoen. Die werklikheid is dat pampoen, pampoen is. Hoekom haat ek dit en jy mag dalk daarvan hou? Is dit die interpretasie wat ons in ons koppe van pampoen gemaak het wat dit pampoen maak, of is dit die pampoen se skuld?

Dalk is dit gelyk aan dieselfde probleem waarmee ons sit met mense wat aan angs ly. Hulle maak in hulle koppe vir hulself sekere werklikhede op wat hulle onderbewuste dan as die werklikheid ervaar. “Wat as ander mense my gaan verneder?” Die oomblik wat jy “wat as” denke gebruik, gebruik jy dieselfde deel van jou brein wat jy sou gebruik het indien die werklike gebeurtenis reeds plaasvind het. In jou brein gebeur hierdie gebeurtenis werklik en ontwikkel jy angs, bloot as gevolg van ‘n gedagte in jou kop wat dink dat dit die werklikheid is wat reeds gebeur.

Ek meen dit is Aristoteles wat met dieselfde probleem gesit het. Aristoteles het gewonder oor die Skepping. Het God ‘n idee gehad oor hoe die Skepping moet lyk in Sy kop en toe die werklikheid geskep met die idee van hoe dit in Sy kop moes lyk? Of het God die Skepping geskep en toe Hy eers sien hoe dit lyk, het Hy betekenis daaraan geskep. Wat was eerste, die idee of die werklikheid?

Is dit alles dus realiteit of is dit alles net ‘n idee?

As ek vir ‘n oomblik net hedendaags mag gaan en ‘n Stephen Spielberg, ‘n Guiseppe Tornatore of ‘n Stephen King en selfs ‘n Leon Schuster gelyk aan ons filosowe moet stel, het hulle een ding in gemeen: hulle skep ‘n realiteit en daardie realiteit wat hulle skep, word ons werklikheid (in ons verbeelding) as gevolg van dit wat ons met ons sintuie waarneem.

Ons kyk na ‘n film. Ons weet dat dit net ‘n film is wat gemiddeld sowat twee ure duur. Maar in hierdie twee ure mag ons werklike gevoelens, sensasies en emosies ervaar soos spanning, vrees, woede, empatie, verligting en dalk nog meer. Ons ervaar hierdie emosies en gevoelens letterlik in ons liggaam. Ons voel die spanning, ons voel die emosie van hartseer, opwinding of wat ookal ons ervaar. Al is die stimulus van ons gevoelens nie werklik nie, maar net ‘n skepping in ons kop, meestal as gevolg van die film.

So is ons hele realiteit ook net ‘n idee wat ons in ons kop daarvan maak. Die hele wêreld kan verander wanneer jy jou idee of jou waarheid verander.

Kwantum fisika wys dan ook vir ons dat die wêreld nie ‘n soliede en onveranderbare entiteit is nie. Dit is alles net ‘n gedagte of ‘n illusie.

Ons fisiese liggaam, as voorbeeld, bestaan uit verskillende sisteme en elke sisteem bestaan uit weefsel en organe. Weefsels en organe bestaan weer uit selle. Selle bestaan weer uit molekules en molekules bestaan uit atome. Atome bestaan uit sub-atomiese deeltjies en hierdie sub-atomiese deeltjies bestaan uit niks anders as energie nie.

Ons gedagtes, gevoelens, intensies en verwagtinge is niks anders as golwe van energie wat op ‘n sekere energie-vlak vibreer nie. Aan die einde van die dag is ek en jy net energie, bewegende energie. Denke en gevoelens is niks anders as energie nie. Ons fisiese wêreld is niks anders as net die manifestasie van energie nie.

Nie net bestaan ons as mense ten diepste uit energie nie. Die hele heelal bestaan uit energie, van die grootste galaksie (en ja, dit is ‘n erkende Afrikaanse woord vir galaxy) tot die kleinste stofdeeltjie. Die hele heelal is ‘n eindelose vloei van energie. Selfs die mees soliede objekte soos staalpype of sementmure is molekules in beweging wanneer jy daarna kyk onder ‘n kragtige mikroskoop.

Sou ons die dag dood gaan, gaan alles dood behalwe die energie. Hoewel alle weefsel, organe, molekules, atome en sub-atomiese deeltjies dood mag gaan, kan energie egter nie doodgaan nie.  Daardie energie keer terug na die Hoofbron van energie. ‘n Ewige en liefdevolle energie – God.

As ek hier myself in die rede mag val: In die Evangelie van Johannes (Johannes 1:1) word daar gesê dat daar in die begin die Woord was. En die Woord was by God en die Woord was self God. In Genesis 1 word die hele hemel en aarde geskep deur Woorde. God het gespreek. Woorde is die energie.

Ek kan seker nie genoeg praat oor die krag van woorde nie. Woorde kan maak of breek. Woorde het die hele heelal geskep, maar woorde kan dit ook vernietig. Jakobus 3:6 noem dat die tong ‘n vuur is, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand. Woorde maak of breek.

God is liefde (sal ons soveel keer in die Bybel lees). God is volgens my liefde en liefde is die hoogste vorm van energie. Ons is almal volgens hierdie beeld geskep. God se beeld.

Wanneer ons pyn en chaos skep beteken dit nie noodwendig dat ons sleg is of ‘n negatiewe intensie het nie, maar dat ons tydelik uit voeling geraak het met wie ons werklik is. Ons het uit voeling geraak met liefde. Maar ons het altyd ‘n keuse: ons kan saam met hierdie energie vloei of ons kan dit weerstaan. Om energie te weerstaan veroorsaak vir ons probleme, angs en ongemak.

As ek vir ‘n oomblik weer af kan dwaal: In 1 Korintiërs 12:12 word daar gepraat van die liggaam wat ‘n eenheid is met baie lede en al die lede vorm een liggaam. Ons is almal een, gedeel deur die energie van God. Elkeen met sy eie funksie om die liggaam perfek te laat funksioneer. Energie.

As ek vir ‘n oomblik nog verder af kan dwaal, is dit presies wat gebeur wanneer ‘n outo-immuun siekte ontstaan. Outo-immuun siektes kan letterlik verstaan word as die self wat die self aanval op ‘n immunologiese vlak. Daar ontstaan ‘n konflik in die liggaam. Die lede van die liggaam, wat veronderstel is om saam te staan in liefde, begin om mekaar aan te val en op die einde word die hele liggaam sieker totdat die liggaam sterf, ongeag die verskillende antigene se positiewe intensie om die liggaam te beskerm teen eksterne gevare soos infeksies en siektes.

Ek vermoed dat dit die rede is hoekom ek rassisme, klassisme, seksisme en alles wat met ‘n ”–isme” eindig nooit sal verstaan nie. Ons beveg mekaar so omdat ons elkeen glo dat ons die waarheid het wat die Liggaam sal laat oorleef en so sterf ons die hele liggaam. Wanneer ons haat of kwaad is, verwyt of dinge teen ander mense hou, is ons maar net besig om onsself te vernietig. Nie net op immunologiese vlak nie, maar ook op energie-vlak. En hier tree die probleme, angs en ongemak in.

Net ‘n laaste kant-aantekening: iemand het eenmaal gesê om te vergewe is die mees selfsugtigste ding wat mens ooit kan doen. Want as jy nie kan vergewe nie, is dit maar net jy wat met al die pyn, seer, haat, vertwyfeling en wroeging sit. Die ander persoon weet heel waarskynlik nie eens dat jy kwaad vir hom of haar is nie. So vernietig jy niemand anders as jouself en dit is ook hier waar jy KIES om jou energie gratis weg te gee.

Om nou terug te keer na die punt. Ons is nooit veronderstel om verwyderd te wees van wie ons regtig is nie. Ons is nie veronderstel om verwyderd van ons energie te wees nie. Ons is almal deur energie op ‘n manier tot mekaar verbind. Ons is almal deel van een Liggaam. Deur mekaar te beveg, beveg ons maar net onsself. Met haat, nyd, bitterheid, verwyt en wrok teenoor ons medemens vernietig ons net onsself, soos die liggaam homself kan vernietig deur verdeeldheid op ‘n immunologiese vlak. Ek meen dit is die Sotho-mense wat ‘n spreekwoord het wat lui: “’n mens is ‘n mens deur mense”.

(Dit laat my nou vrae vra oor verdelers soos ‘n Steve Hofmeyr, ‘n Julius Malema, ‘n Sunette Bridges, ag en soveel meer).

Ons is almal deel van die Groot Gedagte. Die Groot Familie. God. Liefde. Ons is almal aan dieselfde kant.

Die keuse is altyd ons s’n. Jy skep jou eie realiteit deur die keuses wat jy maak.

Die keuse bly altyd joune. Maar dit is ook goed om te weet dat die Ewige Energie altyd daar is om ons te help om hierdie keuse te maak.

Of dalk is ons hele bestaan net een lang droom. ‘n Droom van ‘n ander werklikheid wat ons sal besef nadat ons uit ons droom wakker geword het in die Ware Realiteit. Die Ewige Lewe vasgevang in ‘n gedagte, ‘n droom, in energie.

Het ek maar net gewonder.