Jou brein en jou emosies - © Jorgan Harris

Jou brein en jou emosies

Die probleem met psigoterapie

Hoe dikwels ervaar jy ‘n uitdaging wat net nie sin maak nie?  Hoe dikwels is jy te verleë om jou uitdaging met enigiemand te bespreek juis omdat dit so belaglik klink? Hoe dikwels kan jy steeds hierdie uitdagings nie oorwin nie? 

Hoe dikwels moet jy soms vir jare gaan vir terapie en voel dat dit nie help nie?  Hoe dikwels gaan jy sessie vir sessie na ‘n terapeut om net oor jou uitdagings te praat, met geen oplossing of positiewe uitkomste nie? Jy gaan vir terapie vir maande, selfs jare en al wat jou terapeut doen is om jou gevoelens in ander woorde vir jou te herhaal en hoogs empaties te vra: hoe laat dit jou voel? Hierdie denke kom van die Persoon Gesentreerde Terapie, of dan Person Centered Therapy (PCT) van Carl Rogers, wat tot vandag beskou word as die mees aanvaarbare vorm van psigoterapie.

Daar word hierdie grap vertel oor Rogers.  Volgens die grap sit Rogers in sy konsultasiekamer in ‘n toring-gebou in New York met ‘n kliënt.  Die kliënt sê vir Rogers dat hy depressief voel. Rogers reflekteer dan sy gevoelens deur te sê: jy voel teneergedruk.  Ja, sê die kliënt, ek voel of ek myself dood kan maak. Sjoe, sê Rogers; jy voel so af dat dit vir jou kan voel asof jy jou eie lewe kan neem. Ja, sê die kliënt, dit voel of ek deur daardie oop venster kan spring.  Sê Rogers: jy voel so desperaat dat jy voel dat jy deur daardie oop venster gaan spring.

Ja, sê hy, ek spriiiiiiing.

Lig Rogers sy kop, kyk na die oop venster en sê: plomp!

Nou-ja, ‘n perfekte voorbeeld van gevoelsreflektering.  Of dit werk, is ‘n ander vraag.  So is die ou toe by die venster uit en Rogers kon ten minste sy lêer toemaak. 

Dan is daar ook ‘n ander leidende skool vir psigoterapie.  Hierdie denkskool is die veld van die Kognitiewe Gedragsterapie (Cognitive Behavioural Therapy – CBT). Hierdie denke vertel vir jou dat jy angstig of depressief is aangesien jy bloot irrasioneel dink. Jy kan dus, aldus CBT jou uitdaging oorwin deur rasioneel daaroor te dink.

Jou logiese brein vertel vir jou dat hierdie uitdaging net nie sin maak nie.  Al besef jy dit, bly dit steeds daar, ongeag hoe jy probeer om anders daaroor te dink.   Trouens, dit bly egter eskaleer.

Tradisionele psigoterapie help jou om oor jou uitdaging te praat en op ‘n logiese vlak ‘n oplossing daarvoor te kry.  Na vele sessies leer jy om anders oor jou uitdaging te dink, maar dit laat jou nie beter daaroor voel nie. 

Of dalk word daar hoogs empaties vir jou gevra: 

... en hoe voel jy daaroor?

Ek is persoonlik daarvan oortuig dat tradisionele terapie nie effektief is nie.  Deur net daaroor te praat of om op jou gevoelens te fokus, of om anders oor jou uitdaging te dink, verander steeds nie jou gedrag, uitdaging en gevoelens nie.  

Hierdie terapeutiese sisteme spreek jou logiese brein aan, jou sogenaamde neo-korteks, sien die verduideliking hieronder.  Jou uitdagings lê egter nie in hierdie deel van jou brein nie en daarom is die uitkoms van tradisionele psigoterapie wisselvallig.  Die uitdaging lê eerder in jou oerbrein, oftewel jou reptielbrein en derhalwe lê die oplossing ook in hierdie deel van jou brein.

Die modaliteite wat in hierdie praktyk gebruik word, is juis daarop ingestel om met hierdie deel van jou brein te werk. 

Om die bogenoemde beter te verstaan, moet ons eers die samestelling van jou brein verduidelik. 

Jou brein bestaan uit drie dele:

 

Skematies lyk jou brein so:

⦁ Jou nuwe brein (neokorteks)

Hierdie deel van jou brein word ook jou dinkbrein genoem. Jou neokorteks is die analitiese deel van jou brein. Dit is ook die deel van jou brein waarmee jy uitdagings deursien, logies dink, redeneer en persepsies vorm.

⦁ Jou emosionele brein (limbiese sisteem)

Hierdie deel van jou brein is jou gevoelsbrein of emosionele brein (limbiese sisteem), wat die alarmsentrum van jou brein is. 

Die belangrikste deel hier is die amigdala wat daarvoor verantwoordelik is om alle inkomende inligting te skandeer vir moontlike gevaar (ook vir plesier). Indien dit enige potensiële gevaar registreer sal dit onmiddellik die veg, vlug of vries reaksie in jou reptielbrein  aktiveer. So ʼn reaksie het weer ʼn geweldige (sien hieronder) uitwerking op die eerste deel, jou dinkbrein of dan jou neokorteks), wat dan heeltemal oorweldig kan word en oorreageer.

⦁ Jou reptielbrein (serebellum, laer brein en breinstam)

Hierdie deel van jou brein, wat bestaan uit jou serebellum, laer brein en breinstam, is ook die oudste, instinktiewe deel van jou brein – ook bekend as die primitiewe- of reptielbrein. 

Hierdie is die deel van jou brein wat primêr verantwoordelik is vir oorlewing.  Dit beheer jou hartklop, asemhaling, bloeddruk ens. Dit is ook die deel van jou brein wat jou instinkmatig gereed maak om te veg of vlug, of selfs te vries in gevaarsituasies. Hierdie deel tree feitlik outomaties op sonder dat jy hoef te dink, want oorlewing is die primêre taak van hierdie deel van jou brein.  

As ‘n taxi skielik voor jou inswaai, gaan jy beslis nie jou dinkbrein gebruik nie.  Jy gaan nie die situasie eers evalueer en dink: 

sal ek rem, of;
sal ek uitswaai, of:
het ek enige ander opsie?

Teen hierdie tyd is jy al lankal in die taxi in. Jou reptielbrein neem onmiddellik oor, jy produseer adrenaline en pluk aan die stuurwiel sonder om logies te dink.  Nege uit die tien keer doen jy die regte ding en so oorleef jy. 

Wanneer jou denke en gevoelens in konflik verkeer

Kliënte sal dikwels vir my sê dat hul uitdaging belaglik klink, maar dat dit vir hulle realisties voel.

In teenstelling met jou neokorteks is die taal van jou limbiese sisteem  en jou reptielbrein: gevoelens, emosies en oorlewing.  Hierdie twee dele van jou brein is primitief en verstaan nie taal of logika nie.  Hierdie deel van jou brein is egter ook die kragtigste deel van jou brein.

Wat volgende gebeur is dat jou dinkbrein ‘n irrasionele gedagte ontwikkel.  Dit is terloops die oorsaak van angs – die sogenaamde irrasionele gedagtes of vrese wat jy letterlik uitdink wat die meeste van die tyd in elk geval nooit gebeur nie.  Ek noem angs die sogenaamde wat as siekte. Angs is die gevolg van jou gedagtes en vrese oor dit of dat wat mag gebeur, wat katastrofies sal wees indien dit wel sou gebeur (sien my artikel oor Algemene Angsversteuring op hierdie webtuiste). 

Hierdie sogenaamde irrasionele gedagte stuur nou ‘n boodskap van gevaar van jou neokorteks na jou limbiese sisteem en reptielbrein.  

Soos jy reeds weet, verstaan hierdie twee dele van jou brein nie taal of logika nie.  Hierdie twee dele van jou brein registreer jou denke as ‘n letterlike, fisiese gevaar; asof jou lewe werklik bedreig word.  In  hul primitiwiteit tree die oorlewingsinstink in en begin hierdie dele van jou brein dadelik adrenaline en kortisool af te skei vir die sogenaamde veg-of-vlug-of-vries reaksie. Jy ervaar angs en paniek, aangesien hierdie deel nie besef dat dit nie ‘n werklike gevaar is nie, maar bloot ‘n produk van jou denke is.

Daarom is jy permanent gespanne en gereed om jouself te beskerm ten einde te oorleef teen ‘n gevaar wat nie eens bestaan nie.  

Die rol wat jou amigdala in angs speel

Jou amigdala is die paniekknoppies in jou brein wat gesetel is in jou reptielbrein.  Die amigdala se emosionele impulse kan jou neo-korteks (jou dinkbrein) heeltemal oorweldig, kaap en oorneem.  Jy oorreageer heeltemal tydens ‘n situasie en almal wonder hoekom jy so oorreageer op so ‘n klein dingetjie.

Jou reaksie is nou meer emosioneel as rasioneel. Jy reageer op impulse van oorlewing (jou oerbrein).  Wanneer jou neokorteks weer normaalweg funksioneer, mag jy later skaam of spyt wees oor jou optrede. Hierdie praktyk fokus primêr op jou oerbrein en jou limbiese siteem en die rol wat hierdie twee dele van jou brein in jou gedrag speel.

Kom ons bekyk die rol van jou amigdala bietjie van nader, aangesien dit ons reaksie op ons gevoelens kan verduidelik. Ons is geneig om trauma egter meer met gevoelens, eerder as gedagtes te ervaar. Jou denke mag dalk ‘n trauma onderdruk of jou selfs laat vergeet van wat werklik gebeur het, maar jou liggaam onthou die trauma altyd in die vorm van amigdala kaping.

Wat is amigdala kaping?

Amigdala kaping is ʼn onmiddellike, oorweldigende emosionele reaksie met die latere besef dat dit ‘n onvanpasde, sterk oorreaksie was met betrekking tot die sneller. Daniel Coleman het die term amigdala kaping saamgestel na aanleiding van die werk van die neuro-wetenskaplike Joseph LeDoux. LeDoux het aangetoon dat emosionele inligting soms direk van die talamus (emosies) na die amigdala oorgedra word, sonder om die neokorteks (dinkbrein) te betrek. Die talamus reageer soos ʼn verkeerskontroleerder wat moet besluit waarheen die emosionele impulse gestuur behoort te word. In noodsituasies word die dinkbrein dan as’t ware oorgeslaan en daar word kortpad gevat van die talamus direk na die amigdala. Hierdie pad is 80 000 keer vinniger as die langer, vooropgestelde pad deur die dinkbrein. Dit veroorsaak onmiddellik ‘n sterk emosionele reaksie sonder om te dink – dus sonder rasionele- of logiese denke vooraf. Die dinkbrein word dus gekaap, aflyn gestel, of afgeskakel.

Kyk gerus na die volgende voorstelling:

 

Kortlikse feite:

  •  amigdala is die alarm van die brein;
  •  ligging: deel van die limbiese sisteem of emosionele brein aan die eindpunt van die hippokampus (die hippokampus word beskou as die sentrum van emosies, lang-termyn geheue en die outonome senuwee sisteem);
  •  funksie: dit is verantwoordelik vir emosionele reaksies en herinnering van emosies, veral vrees, angs, woede en spanning.

Die amigdala, wat amper soos ‘n amandel lyk, is verantwoordelik vir jou veg, vlug, of vries-reaksie. Dit beheer ook die manier waarop jy reageer op sekere stimuli, of ‘n gebeurtenis of gebeurtenisse wat ‘n emosie veroorsaak, wat jy as potensieel bedreigend of gevaarlik beskou. Woede (veg), vrees (vlug) en angs (vries) is tipiese emosionele reaksies van die amigdala.

Angs en langdurige stres kan later omsit in depressie as gevolg van kortisol en adrenalien streshormone in die liggaam.

Interessante navorsingsbevinding

ʼn Rot klim oor ʼn kat se rug sonder vrees. As jy baie mooi kyk, kan jy die rot in die agtergrond op die kat se rug tussen die kat se stert en die kat se kop sien.

Talryke studies is uitgevoer waar navorsers die amigdala van rotte verwyder het (of beseer het sodat dit nie kon funksioneer nie). Hierdie rotte het alle vrees verloor, ook hulle natuurlike vrees vir katte en het selfs oor die katte geklouter sonder enige teken van vrees. 

Ons het dus ‘n mate van angs nodig vir oorlewing. Indien ons geen angs het nie, sou ons nie eerste links of regs gekyk het voordat ons ‘n straat sou oorsteek nie. Indien ons weer te veel angs het, sou ons nooit ‘n straat kon oorsteek of geen kanse gewaag het om êrens in ons lewe te kom nie.

Scroll to Top